Zaneli Muholi. Only half the picture. Michael Stevenson, 2006. ISBN 0 620361
46 8.
Resensent:
Joan Hambidge
Om gay/lesbies
te wees, maak jou deel van ‘n marginale groep, ‘n subkultuur, ‘n onsiende
bestaan, ‘n stereotiep. Van kleins af leer jy hoe dit is om anders te wees. Jy
weet wat Van Wyk Louw bedoel het, toe hy geskryf het van pyn wat oop en buite
bakens is.
In die VSA
word daar geweldig baie navorsing gedoen oor die queer-kind en oor elke aspek
van hierdie bestaan.
Die afgelope
vyf-en-twintig jaar het die gay-mens – veral in die Afrikaanse letterkunde –
van hom- en haarself laat hoor. Stephan Bouwer, Hennie Aucamp, Koos Prinsloo,
Johann de Lange en ander het die pynbakens geskuif. Dikwels tot die chagrin van
die establishment, wat lyk my, steeds nie die p-woord binne ‘n tekskonteks kan
verteer nie as ‘n mens die verontwaardiging op die hetero-Antjie Krog se
kragtige gedig in Verweerskrif moet
ernstig opneem.
Maar hoe is
dit om lesbies en swart te wees? Om dubbel-gemarginaliseer te wees?
Zanele Muholi
se fotoboek Only half the picture
word gepubliseer om saam met die
tentoonstelling beskikbaar te wees.
Verlede jaar
reis ek deur Frans-Kanada en op die eerste dag, is daar ‘n lesbiese OpeDag in
Toronto. Die vroue stap naak en halfgeklee deur die strate, vet, maer, mooi en
lelik. Swart en wit.Vroue met kinders in waentjies. Die hele santekraam word
hier aangetref met die boodskap: ons is hier.
Ek het eers na
die foto’s gekyk en toe die tekste gelees.
Die foto’s in
hierdie boek is behendig: dit vertel van al die fasette: die ID-krisis, ‘n
swart vrou met ‘n dildo, twee swart vroue wat soen. Aangrypend is die foto van
‘n saaknommer (met ‘n datum, stempel en telefoonnommer) waarin verkragting
aangemeld word. Twee sterk foto’s wys hoe dit lyk wanneer ‘n mens selfhaat oorleef
het...
Waarskynlik
sal kykers gru vir intimiteite wat ontbloot word, maar onthou die foto’s wil
die kyker deur ál die taboe-landskappe neem.
Die bekende
foto van die boomwortels wat soos ‘n vagina uitdy, is hier opgeneem (p. 54) en
vroue word in al hul vleeslikheid liefdevol afgeneem. Die lesbiese lyf is nie
altyd ‘n maer een nie, omdat die manlike “gaze” nie die liggaam in toom hou
nie.
“Reclining
figure” (p. 64) is uitgestal soos ‘n kunswerk en die kyker interpreteer dit
onbewustelik as ‘n ironisering van Manet se “Olympia”. Vir wie lê sy sy so naak
uitgestal, om Johann de Lange se gedig aan te pas.
Die insigryke
voorwoord van Gabi Ngcobo van die Iziko museum help die kyker om foto’s in
perspektief te plaas. Sy verwys na die betekenis van bloed (“touch my blood”)
in straatlingo, die transgressie van politieke bakens (ja, dit is ‘n politieke
posisie wat jy inneem wanneer jy openlik lesbies is) en in welke mate hierdie
foto’s die afwesigheid van eens nóu uit die weg vee.
Dit wat op ‘n
tyd nie moontlik was nie, kan nou gebeur. Natuurlik het groter opsigtelikheid
sy nadele: viktimisasie is moontlik en van die foto’s wys op die taal van
vernedering wat hierdie vroue moet/moes hanteer.
Die fotograaf
is ‘n politieke aktivis en Ngcobo verwys na die “history of its representation
as a body in exile from itself”.
Die boek is
eweneens relevant vir die puik analises van o.m. Pumla Dineo Gqola.
Die
belangrikste bydrae van hierdie boek is dat rassime en seksisme één word in die
representasie, om met die voorwoord saam te praat. En dat die onbekende
óópgemaak word: skokkend, pynlik, maar veral onthoubaar. Die pyn skryn dikwels
op die foto’s.
Sy is al by
geleentheid die Annie Leibovitz van Suid-Afrika genoem. (In die teks staan daar
Leibowitz.)
Ek sou haar
eerder ‘n vroulike Robert Mapplethorpe noem in die grensoorskrydende, woedende,
passievolle aanklag-foto’s in ‘n radikalisering van estetika. Charlene Smith
verwys na hierdie radikale estetika en dekonstruksie van gendernorme. Die taal
van hierdie foto’s is sterk en welluidend.
Gaan kyk na
die uitstalling en koop beslis die boek indien jy ‘n gendernavorser of –dosent
is. Dis belangrik dat stemloses stemhebbend word en dat al die foto’s in ‘n
gemeenskap ontwikkel word.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Litnet geplaas.]