David Mitchell. Black Swan Green. Sceptre, 2006. ISBN 0 340
83926 0.
Resensent: Joan Hambidge
David Mitchell is ‘n gerekende Britse
outeur wat onder andere met Ghostwritten
die Mail on Sunday/John Llewellyn Rhys-prys verower het. Sy number9dream het die kortlys van die
gesogte Booker gehaal en Cloud Atlas
was op die kortlys van die Man Booker. Dit het wel die Geoffrey Faber
Memorial-prys gewen, die South Bank Letterkunde-prys en die Richard & Judy
Best Read of the Year verower.
In Black
Swan Green stel hy ‘n jong kind aan die woord. Ek moet bely dit is my
eerste kennismaking met ‘n roman van hierdie skrywer en ek kon onmiddellik sien
waarom die Britte, wat ontsettende puik romans lewer, so gaande is oor hom. Hy
het daardie gawe om die leser onmiddellik te betrek by die verhaal-gegewe. Die
“un-put-downable”-kwaliteit, soos dit genoem word.
Hy stel hier ‘n jong kind aan die woord,
wat besondere eise aan die romanskrywer stel. En sodanige skrywer gaan altyd
(waarskynlik) vergelyk word met Salinger se Catcher in the rye en
Truman Capote se The grass is singing
en die vertellinge van Carson McCullers, om enkele name uit te sonder.
Die verhaal van Jason Taylor, ‘n
dertienjarige word verbeeld in die klein Worcestershire village, in Engeland
1982. Die Falkland-oorloë vorm die “backdrop” vir die kinders se ontdekking van
hul eie identiteit en grense. Rook, daardie eerste soen, die musiek van Duran
Duran, Moonraker, en ander
herinneringe en kodes, wat ons “down memory lane” neem, maak van hierdie roman
‘n nostalgiese ervaring. Mevrou Thatcher se ystervuis politiek het ‘n invloed
op ouer mans en jonger mans, wat sonder hul eie wil, deel word van ‘n oorlog.
Wanneer ‘n kind (of gestremde) verteller
aan die woord gestel word, is daar altyd ‘n dubbel-ironie aanwesig tussen wat
die ingeligte, vernugterde grootmens reeds weet en die kind al ontdekkende
leer. Dit bly altyd vir enige skrywer ‘n fyn balans tussen nie te veel weggee
nie en om terselfdertyd die karakter nie te slim of wysneusig te maak nie.
Hierin slaag Mitchell meesal skitterend – byvoorbeeld: soos die gesprek tussen die hoofkarakter
en die vrou in ‘n antiekwinkel wat ‘n gesprek word, onvermydelik of kinders
werklik omgee vir hul ouers (p. 234).
Die verhaal, gesitueer in die Britse
Midlande, is glo semi-outobiografies en die “coming-of-age”-verhaal is ‘n
besondere boeiende sub-genre in die letterkunde is iets waarmee alle lesers kan
identifiseer, omdat ons almal kinders was. Uitgelewer aan grootmense,
voorskrifte, dubbelspraak en die leuens van die volwasse wêreld.
Jason se storie speel oor een jaar af.
Vanaf Januarie wanneer hy sy oupa se duur Omega-horlosie per ongeluk breek en
dit eindig met Kersfees, daardie huldiging, ofskoon mities, van familie-eenheid
wat in hierdie roman, in stukke breek.
Boonop is Jason ‘n hakkelaar, met ‘n
norse suster, bitchy ma, bebliksemde pa, speelgrond-bullies, ensomeer. En tog
oorleef hy deur fantasie – in die afdeling “Bridlespath” ontdek hy ‘n tonnel
wat die Romeine gegrawe het om die Vikings te uitoorlê. Dit is hier waar die
krag van fantasie ontdek word – dikwels die enigste uitweg vir die sensitiewe
kind wat homself as ‘n outsider ervaar.
In die area Black Swan Green waar daar
geen swane is nie (p. 360).
Vir die Afrikaanse leser aktiveer
hierdie titel onbewustelik Elisabeth Eybers se wonderbaarlike gedig, “Twee
kleuters in die Vondelpark” en die romantiek wat aan swane gekoppel word.
Die roman bevat nota’s in handskrif om
die illusie van die werklikheid te versterk. Nota’s van die vader aan die kind
en skryfsels waarin hy homself verweer teen die skoolboelies.
Dit gee ‘n afwisseling tussen die kind
wat sien en die ouerwordende, siniese verteller/fokalisator wat interpetreer
vanuit ‘n agterna-perspektief. Die leser kan die semi-outbiografiese dimensie
“aanvoel”, veral wanneer die werklike outeur se biografie betrek word; bykans
soos in Jan Wolkers se roman, Terug naar
Oegstgeest waar die skoolrapport agterop geplak word.
Die gevaar van so ‘n tipe roman is dat
die insigte van die ouer persoon dikwels in die mond van die jong kind gelê
word:
“The world never stops unmaking what the
world never stops making. But who says the world has to make sense?” (p. 360).
Is dit die ouer-wordende skrywer wat hier buikspreek?
Of: "The world’s a headmaster who works
on your faults”(p. 367). Die jong verteller is sélf skrywer wat die ouers se
verwydering van mekaar en die aftakeling van hul affeksie vir mekaar eiehands
meemaak en probeer begryp.
Dit is ‘n pakkende roman, my klein
vraagtekens daargelaat.
Private ontdekkings, ontnugterings (en
oorwinnings) geplaas teen die groter, skuiwende werklikheid van politieke en
sosiale onsekerhede.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Volksblad geplaas.]