Ingrid de Kok. Seasonal
fires: New and Selected Poems. Umuzi, 2006. ISBN 1 4152 0018 1.
Resensent: Joan Hambidge
‘n Keur of seleksie uit ‘n
digter se oeuvre dui op ‘n persoonlike keuse, ‘n saambondeling van die bestes
of belangrikstes, dalk mees onthoubare
gedigte. Sodanige keur het tot gevolg dat gedigte in hierdie versameling ‘n
nuwe gesprek voer met ou en nuwe gedigte. Die verse word uit die bekende ruimte
van ‘n bundel gehaal en binne die keur (en hier het ons sowel die bekende verse
as ‘n handvol splinternuwes) word die leser opnuut bewus gemaak van herhalende
temas, beelde en tegnieke. En rypwording. Dalk soos wyn. ‘n Eerste oesjaar;
later ‘n wyn wat pryse en medaljes verower.
Daar word op die agterplat
verwys na die “small body of dense, intensely crafted work”. Dit is waar van
Ingrid de Kok se digkuns en dit word in wese al hoe waarder hoe langer sy dig.
Ek het die bundel met opset van agter na voor gelees, omdat ek bekend is met
haar gedigte.
Wat hierdie leser veral
opgeval het, is die gebruik van min woorde, die suggestie – in die eerste
bundel Familiar Ground (1988) is
daar alte dikwels nog verse waar die slot te uitgesponne en die gedigte dalk te
woordryk is. Dit is steeds goeie verse, maar gemeet aan De Kok se beste, is die
verse nog nie so oortuigend nie. Altans nie vir háár nie.
Uit die eerste bundel sal
die klassieke “Small passing” altyd bly imponeer. Die vrou wat geboorte skenk
aan ‘n stilgebore baba moet leef met die uitspraak van ‘n man wat haar maan dat
die dood van een wit kind niks is teen die ellende van swart vroue in hierdie
land nie. Die vers, wat ‘n mens aan die hart gryp, word ‘n opheffing van smart:
die digter praat namens hierdie vrou, vertroos haar deur die standpunt van die
swart vroue te stel. Hulle begryp haar pyn en wroeging; hulle sal aan haar ‘n
kind gee om te abba. Dis ‘n sterk feministiese en politieke stelling; ‘n gedig
waarin die digter ‘n buikspreker word vir diegene wat stemloos is in hulle pyn
en deur die onbegrip van ‘n manlike orde nie ‘n reg tot opstand het nie. Die
gedig speel eweneens ‘n belangrike spanning uit tussen politieke en private
leed.
“Al wat kind is” kry ‘n
ironiese trefkrag in die vers met sy spel tussen die Afrikaanse en Engelse
idioom; met die wete dat die Afrikaanse uitspraak sterker is. Hoe kinders in
die ‘struggle’-tydperk wederregtelik verwyder is deur die polisie, kom hier aan
bod. “To a would-be lover” sluit met die “vervoeging” van die liefde wat gaan
uitbly; iets wat later die digter se métier word, naamlik die slim woordspel en
treffende slot.
“Our Sharpeville” gee ‘n
blik op die jong kind se ervaring van politieke omwenteling en stereotipering
en waarskynlik is die jeugherinneringe ‘n soort sjabloon vir later gedigte.
Transfer
(1997) bevat eweneens genoeglike verse waarin die priemende pyn en verliese wat
dikwels onder die oppervlak skuilhou, ontgin word (“Aubade” en “Stay here”).
“What everyone should know about grief” is alreeds ‘n klassieke vers in die
letterkunde.
Met Terrestrial Things (2002) vind ons ‘n bundel wat op alle vlakke
oortuig. Dis ‘ n trefsekere boek geskryf teen die agtergrond van politieke
ongeregtigheid waaroor De Kok haar uitlaat, maar nêrens in die geykte beelde so
kenmerkend van vele “struggle”-digters nie. Die gedig “Body parts” (sterk
vertaal in Afrikaans deur Antjie Krog) is een van die belangrikste verse:
may the wrist turn in the
wind like a wing
the severed foot tread home
ground
the punctured ear hear the
thrum of sunbirds
the molten eye stars in the
dark
the faltering lungs quicken
windmills
the maimed hand scatter
seeds and grain
the heart flood underground
springs
pound maize, recognise named
cattle
and may the unfixable broken
bone
loosened from its hinges
now lying like a wishbone in
the veld
pitted by pointillist ants
give us new bearings. (p. 102)
Die vers oor Biskop Tutu bly
steeds ‘n persoonlike gunsteling en die vele reisverse in hierdie bundel (veral
“Lizards at San Michele”) praat weer met die verse in die jongste gerf,
“Sketches from a Summer Notebook”.
Naas Krog is Ingrid de Kok
die digter wat die WVK in al sy wanhoop beskryf (“How to mourn in a room full
of questions” en “The sound engineer”). Dit is wat my betref steeds De Kok se
sterkste bundel: die verse oor haar vader en William Kamanga se dood. Die
werker in hul huis was die getuie van ‘n politieke ongeregtigheid en ‘n stuk
familiegeskiedenis. Ingrid de Kok se vermoë om verdriet/verlies te beskryf, is
vir enige digter ‘n aanwysing van hoe om dit met afstand te doen sodat die
impak groter is.
Ek het veral gehou van die
ironiese “Bring the statues back” wat vra dat ons nie die standbeelde moet berg
nie, maar juis moet behou, sodat ons nooit die onregte kan vergeet nie. In “Pilgrimage” vra sy die leser om na plekke
van verwoesting te gaan, maar terselfdertyd is daar ook ruimtes wat buite
menslike haat en vernietiging bly staan. “Letter from childhood” is ‘n vernuftige
ars poetica wat terugspeel op al die jeugherinneringe en – waarnemings in
hierdie keur van ‘n perseptiewe, sensitiewe kind wat van vroeg af bewus was van
haar gawe. Die titel van die keur is dan opgesluit in hierdie vers...
“Will” verraai ‘n ander
kwaliteit van hierdie bundel, te wete ‘n ironiese blik op die lewe. Ook hierdie
gedig word ‘n soort testament wat teen sy aanwysings gelees kan word! “Time to
go” vra dat die dood ‘n “lingering lazy farewell” moet wees, terwyl sy uiters
skerp skryf oor ‘n begrafnis waar die hoë note ons ontglip...
“La Traviata”, uit die
laaste afdeling, is ‘n siniese blik op wat met die arme Violetta op die bus
gaan gebeur ná haar optrede.
Daar is gespekke met Auden,
met Yeats en ‘n gedig na Seferis. Dit is ‘n bundel wat uitwaaier na verre lande
en ander digters (Atwood by name) en terugkeer na hierdie land. Daar is baie om
oor na te dink – dis soos goeie wyn wat jy stadig, lekker in jou mond om en om
draai.
Daar is vele lofsange oor De
Kok se bundel (onder andere van Jeremy Cronin) en voeg gerus myne hierby.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Burger geplaas.]