Tuesday, December 30, 2014

My drie poësie-hoogtepunte vir 2014


Op versoek van Rapport het ek my 3 digkuns-hoogtepunte vir 2014 gekies:

​Antjie Krog: Mede-wete (Human & Rousseau)

Ongetwyfeld is Krog ’n hoogtepunt. Sy dig oor sowel die persoonlike as die politieke dimensie, en die volgehoue spel met Paul Celan en die ontginning van taal is verbluffend.

Krog in al haar kompleksiteit is hier aanwesig: woedend en teer; in praatvers en met sterk vormbeheer. Sy skryf in teen stilgemaakte swart stemme en aanwesige, gekanoniseerde digters. Dit is ’n vreeslose bundel, ’n bestekopname van ons land en ouer word. Die gesprek met sowel die moeder as vader is hier aanwesig. Dit open met ’n lykdig oor die vader, en die besit – die plaas gemetaforiseer as die werf – word ook onder die loep geneem. Daar is hartgrypende verse oor kleinkinders opgeneem.



Hierdie digter het ’n groot register.
Johann Lodewyk Marais: Nomade (Cordis Trust)

Hierdie reisboek karteer hoofsaaklik Afrika-reise. Afrika in al sy kompleksiteite – armoede, oorlog, misterie, verskillende godsdienste – kom aan bod. Die “politieke onbewuste” rig vele verse. Die landskap word beskryf, maar telkens afgekaats teen die waarnemer en die gebruik van vreemde Afrika- en Arabiese woorde gee iets eksoties aan hierdie bundel. Daar is kragtige verse soos die een oor Mandela.

Hierdie bundel is ’n diorama en die leser kan telkens ’n gesprek sien tussen ander verse in die digter se oeuvre.




Marlise Joubert (samesteller): In a Burning Sea (Protea Boekhuis)

Hierdie vertaalprojek gee lesers, sowel plaaslik as in die buiteland, ’n blik op die veelvoud van die Afrikaanse digkuns.

Telkens word die vertaling langs die oorspronklike teks geplaas en die vertalings van onder andere Johann de Lange, Charl J.F. Cilliers en Tony & Gisela Ulyatt laat die verse reis na nuwe bestemmings. ’n Mens sien hoe verse nuwe betekenisse aanstig.

Deesdae is vertaalprojekte en gesprekke oor vertaling hoogmode, waarskynlik omdat die wêreld finaal ’n global village geword het. Soos met enige antologie sou ’n mens ander verse wou sien of meer van ’n bepaalde digter, maar ’n mens moet Marlise Joubert loof vir haar harde werk om al die Afrikaanse digters in een boot te kry “in a burning sea”.

Wednesday, December 24, 2014

Chris Karsten - Die respektabele meneer Hartslief (2014)


Chris Karsten - Die respektabele meneer Hartslief. Human & Rousseau, 2014. ISBN: 9780798167840.

Resensie: Joan Hambidge

I

So word Chris Karsten se jongste roman opgesom:

Wanneer ’n nagklubbaas die katelknaap van sy minnares laat vermoor deur ’n huurmoordenaar, loop hy hom vas in die vermoorde se familie, die Hartslief-clan. Elie Hartslief is die brein; Antie Engel die hart; neef Boela die spiere; en die verfynde Moks die bek. Elie is deesdae amper respektabel en mnr. Morkel van Morkel Wealth se regterhand, maar sy broer se moord noodsaak dat die Hartsliefs laer trek. Maar hulle teenstanders is die Bogdan Petrescu en sy huurmoordenaar Lood – ’n man met ’n aanleg om mense op kreatiewe maniere dood te maak.

Hierdie roman het 'n besondere positiewe ontvangs beleef. Veral die skrywer se besondere taalvermoë is uitgesonder. Vir my is die mees uitstaande asapek van hierdie roman die nougesette navorsing: oor die saks (en die geskiedenis van die instrument); cuisine (96); klere (o.a. pasjmina vesels, 169) kuberboelies en forensiese oudits.

Die impak van moderne tegnologie en hoe foto's iemand se privaatheid binnedring, word uitstekend beskryf. Die skrywer verwys ook die leser na Nina Burleigh se artikel "Sexting, Shame and Suicide: A shocking tale of sexual assault in the Digital Age" wat 26 September 2013 in Rolling Stone verskyn het.

Ook die familiestruktuur word insigryk beskryf (soos op bladsy 70).

Nou onlangs kyk ek weer na Charlie Chaplin se City lights en in die nawoord oor hoe die film gemaak is, merk iemand op: Chaplin was die poppemeester van die pop, Charlie Chaplin.

By die lees van hierdie komplekse misdaadroman, Die respektabele meneer Hartslief, is die leser bewus van Karsten se enorme kennis en insig in die gemoedslewe van 'n psigopaat, naamlik die huurmoordenaar, Lood wat Bogdan Petrescu se bevele uitvoer. Op 'n besondere wyse word Elie Hartslief se forensiese ondersoek na bedrog en geldwassery onthul.

As liefhebber van speurverhale vind ek tog die volgende steurend. Speurder Kosile haal uit Sherlock Holmes aan? En die slot waar Elie, Lood en die Boef mekaar ontmoet, vra ongelooflike verbeeldingspronge van die leser. Soos die korrekte, suiwer Afrikaans wat booswig én weldoener besig. Deborah Steinmair se resensie ('n Bietjie tiemie by jou derms? Besoek 24 Desember 2014) het my aan die dink gesit.

Ons moet hierdie roman dalk as 'n parodie benader. Parodie nie in die sin van send-up of grap nie, maar as teks wat al die kenmerke en stylfigure van die misdaadroman wil uitlig op 'n self-bewuste manier. Die Hartslief-clan van Brixton versus die King of Sleaze. Nou is ons by Francis Ford Coppola se voortreflike Godfather-films (en ja, die films is beter as die roman van Mario Puzo) waar die rol van die familie, die Rooms Katolieke Kerk in opposisie geplaas word met geldgierigheid en boosheid. Al Pacino as Michael Corleone moet uiteindelik die hoogste prys betaal vir sý optrede wanneer sy dogter sterf as die offer vir sy oortredings. (The Godfather (1972) - Michael Corleone | Al Pacino Movies.  Besoek 24 Desember 2014)

Elie was eens 'n flentergat en as slim jong man raak hy betrokke by sy baas se dogter. Hy moet die orde herstel ná die dood van sy broer - wat koploos gelaat word - en die selfmoord van sy suster.

Karsten is 'n bedrewe skrywer en die slot meen ek dui daarop dat daar nie closure is nie, maar eerder 'n opvolg.

In hierdie roman skryf Karsten 'n teks wat die struktuur van die misdaadroman blootlê en lewer hy kommentaar op ons huidige geslag lesers se obsessie met speur- en misdaadverhale. Reeds die titel wat verwys na Meneer Hartslief is tong-in-die-kies. En die naamgewing is so reg in die kraal van Vladimir Propp se Morphology of the folktale (1928 / 1958) waar elke naam al beskrywend is: Antie Engel, kok, Moks, Lood (die huurmoordenaar) ...

'n Tatoeërmerk Dot?

'n Verwysing na Dracula?

In die wyse woorde van Umberto Eco:
"I think of the postmodern attitude as that of a man who loves a very cultivated woman and knows that he cannot say to her "I love you madly", because he knows that she knows (and that she knows he knows) that these words have already been written by Barbara Cartland. Still there is a solution. He can say "As Barbara Cartland would put it, I love you madly". At this point, having avoided false innocence, having said clearly it is no longer possible to talk innocently, he will nevertheless say what he wanted to say to the woman: that he loves her in an age of lost innocence." (Umberto Eco Quotes. Besoek 24 Desember 2014)
Om Deon Meyer te troef, moet 'n misdaad/speurskrywer die kodes op sy hart se mou dra.

Ns.


Die volgende twee resensies deur Cas van Rensburg (Meneer Karsten se stemmige afgryseen Deborah Steinmair ('n Bietjie tiemie by jou derms?) open eweneens interessante perspektiewe op die roman.

Monday, December 15, 2014

Bernardo Bertolucci

Bernardo Bertolucci
I

The sheltering sky (1990) met John Malkovich en Debra Winger in die hoofrolle is waarskynlik een van die mees sublieme films nog. In hierdie Bertolucci-rolprent word die spel tussen 'n verhaal van Paul Bowles en die filmteks besonder knap verbeeld.

Paul Bowles

Wat veral tref by elke herbesoek aan hierdie film is in welke mate Bertolucci le baptême de la solitude oordra. So Paul Bowles stel dit as volg:

“Immediately when you arrive in Sahara, for the first or the tenth time, you notice the stillness. An incredible, absolute silence prevails outside the towns; and within, even in busy places like the markets, there is a hushed quality in the air, as if the quiet were a conscious force which, resenting the intrusion of sound, minimizes and disperses sound straightaway. Then there is the sky, compared to which all other skies seem fainthearted efforts. Solid and luminous, it is always the focal point of the landscape. At sunset, the precise, curved shadow of the earth rises into it swiftly from the horizon, cutting into light section and dark section. When all daylight is gone, and the space is thick with stars, it is still of an intense and burning blue, darkest directly overhead and paling toward the earth, so that the night never really goes dark.
You leave the gate of the fort or town behind, pass the camels lying outside, go up into the dunes, or out onto the hard, stony plain and stand awhile alone. Presently, you will either shiver and hurry back inside the walls, or you will go on standing there and let something very peculiar happen to you, something that everyone who lives there has undergone and which the French call 'le bapteme de solitude.' It is a unique sensation, and it has nothing to do with loneliness, for loneliness presupposes memory. Here in this wholly mineral landscape lighted by stars like flares, even memory disappears...A strange, and by no means pleasant, process of reintergration begins inside you, and you have the choice of fighting against it, and insisting on remaining the person you have always been, or letting it take its course. For no one who has stayed in the Sahara for a while is quite the same as when he came.
...Perhaps the logical question to ask at this point is: Why go? The answer is that when a man has been there and undergone the baptism of solitude he can't help himself. Once he has been under the spell of the vast luminous, silent country, no other place is quite strong enough for him, no other surroundings can provide the supremely satisfying sensation of existing in the midst of something that is absolute. He will go back, whatever the cost in time or money, for the absolute has no price.”
Paul Bowles, Their Heads are Green and Their Hands are Blue: Scenes from the Non-Christian World.  Besoek 15 Desember 2014

II
Die film is gebaseer op die verhaal van Bowles uit 1949. Port Moresby (Malkovich), sy vrou Kit (vertolk deur Winger) en haar minnaar, George Tunner (Campbell Scott) se reis deur die Sahara word gekarteer. Hulle is ryk New Yorkers wat in 1947 in Tangiers aankom. Bowles is die verteller en kommentator van hierdie uitstaande film en sy aanwesigheid maak hiervan metafiksie.


Die film ondersoek die spanning tussen reisiger en toeris. Vir Kit is hulle inderdaad reisigers en hul lewens word dramaties verander deur hierdie reis. Port sterf aan tifus, Kit word waarskynlik aangerand ná haar redder, ‘n Bedoeïen by sy tuiste aankom en sy ander vroue jaloers op haar reageer.

Die Lyles – ‘n reisboekskrywer en haar seun, Eric – is die teenspelers in hierdie film. Kit en Tunner het ‘n affaire. Wanneer sy vrou sy seksuele toenadering verwerp, gaan hy een nag na ‘n prostituut wat probeer om sy beursie te steel.

Terwyl hy by die prostituut was, maak Kit sy beddegoed oop sodat dit Tunner laat dink hy het wel in die hotel geslaap. Maar Port verdink nou sy vrou van seks met Tunner weens die deurmekaar bed. Port reël dat Tunner met die Lyles vertrek, maar hulle wil hom nie saam neem nie. Port vertrek saam met die Lyles. Kit en Tunner vertrek op ‘n trein saam.

Port sorg dat Tunner uiteindelik met die Lyle’s vertrek na Messad sodat hy alleen kan wees met sy vrou. Hulle het seks een middag wanneer hulle alleen is buite en hy verduidelik wat die “sheltering sky” behels. Dat die lug hier alles toemaak en agter jou plaas wat dan ‘n premonisie is dat nooit weer sal terugkeer na die lewe wat hy eens ervaar het nie.

Hy ontdek in Bounoura dan dat Eric sy paspoort gesteel het wat ‘n belangrike kode is vir die verlies van identiteit. Die film aktiveer etlike redes vir sy siekte: die besoek aan die prostituut, ‘n tifus-plaag, besmette kos en water. (Kit weer merk op dat daar nêrens spieëls in die kamers is nie. Eers teen die einde het sy ‘n klein handspieëltjie en sy neem die veranderinge in haar gesig waar.)

Hoewel die paspoort opgespoor word deur polisiebeamptes, besluit Port om te vertrek na El Ga’a, omdat hy nie weer vir Tunner wil sien nie. Sake sou waarskynlik anders verloop het as Tunner by hulle gebly het.

Port sterf en Kit vertrek alleen dieper die Sahara in saam met Belqassim. Hy vermom haar as ‘n seun en sy is ‘n gevangene in sy huis waar hulle ‘n liefdesverhouding begin. Hulle word voortdurend afgeloer deur jong kinders.

Sy word aangerand, dalk ook verkrag, en verlaat die huis. In die hospitaal word sy deur ‘n Amerikaanse ambassade-personeellid opgespoor wat haar meedeel dat Tunner vir haar wag in die hotel in Tangiers.

Kit slaan egter op vlug en ontmoet die skrywer van die verteller wat dan met haar praat oor die transformasie wat sy meegemaak het. By implikasie oor dit wat met ‘n mens gebeur wanneer jy die Sahara ervaar …

Die film sluit met die volgende:

“Death is always on the way, but the fact that you don't know when it will arrive seems to take away from the finiteness of life. It's that terrible precision that we hate so much. But because we don't know, we get to think of life as an inexhaustible well. Yet everything happens a certain number of times, and a very small number, really. How many more times will you remember a certain afternoon of your childhood, some afternoon that's so deeply a part of your being that you can't even conceive of your life without it? Perhaps four or five times more. Perhaps not even. How many more times will you watch the full moon rise? Perhaps twenty. And yet it all seems limitless.”


III

Die roetes in die film soos na Messad (Algerië), Bounoura (Algerië), en ander Sahara-stede soos El Ga’a (Soedan) kan eweneens besoek word op die internet. Besoek 15 Desember 2014.

Boussif, Ain Krorfa, Messaad, Bou Noura, El Ga'a and Sbaa is stede of bakens in die Sahara. Besoek 15 Desember 2014.

Verder bestaan daar debatte of Bowles spesifiek wou verwys na Tangiers of Marokko of Algerië en of eerder net die amorfe en mitologiese Sahara wou aktiveer. Die Sahara het ek al vanuit ‘n vliegtuig besigtig en tydens ‘n Sahara-reis skrams meegemaak.


‘n Film is ‘n kragtoer. Johann Lodewyk Marais aktiveer iets van hierdie wêreld in sy jongste en lieflike bundel Nomade wat sopas by Cordis Trust verskyn het.

Hy skryf aangrypende verse oor die Afrika-landskap en hierdie bundel lees ek (toevallig) met die soveelste herbesoek aan The sheltering sky …






IBN BATTÚTA
1330

In Aden seën hy die koopliede
uit Kinbáyat, Kawlam en Cálicút
en seil met ‘n jalba langs die kus af
via die stinkende Berberstad Zayla
waar kamele op straat geslag word
en verder suid tot by Moqdashaw.

In die hawe ontvang sumbuqe hom 
en as gas van die qádi bring ‘n slaaf
skottels betelblare, pienangneute 
en provisie uit die Shaykh se paleis.
Ná die jumaa stap hy onder sonkappe
met goue voëls versier na ‘n feesmaal.

Gelukkig is jy onder die stede, 
Mombasá, want ook hier kom hy oornag
en van die ryke vis en piesangs eet.
Die vromes, eerlikes en opregtes
sien hy raak en bekyk die houtmoskees
voordat hy sy reis na Kulwá aanpak.

© Johann Lodewyk Marais. Sept. 2010

Monday, December 8, 2014

Joan Hambidge vertolk 'n SMS-gedig


die sterre sal ek vir jou snuit
soos advent-kerse
& met was skryf ek verse

Johann de Lange

Presies wanneer word ‘n uiting ‘n gedig? Johann de Lange stuur op ‘n aand hierdie gedig in drie sms’e aan my. So word die drie boodskappe ‘n gedig, ‘n mini-vers as ‘n mens dit saamsnoer.

T.T. Cloete het by geleentheid in Literator uitgebreid geskryf oor N.P. van Wyk Louw se kort gedig in ‘n artikel getiteld “Een gedig is meer as een” (Besoek 8 Desember 2014):

dat akkers op die sinkdak val
en vye op die ringmuur breek

Hierdie klein vers uit Klipwerk analiseer hy op ‘n besondere wyse.

Hierdie e-pos-gedig van De Lange is gestuur op die 7e Desember en die advent dui op die voorbereiding vir Kersfees met die viering van Jesus Christus se geboorte. Adventus (latyn) beteken letterlik aanbreek.

Reël 1 die sterre sal ek vir jou snuit
Reël 2 soos advent-kerse
Reël 3 & met was skryf ek verse

Die sterre sal die spreker vir die jy, ‘n aangesprokene, dooddruk soos advent-kerse. Uit hierdie proses sal die was van die kerse gebruik word om verse te skryf. Die kerse word vergelyk met die sterre, die uitspansel (die metafisiese?). Advent representreer die religieuse dimensie en die geboorte van Jesus wat ons Westerse tyd bepaal. Jesus impliseer ook verlossing vir die Christelike mens. Dus teenoor die uitspansel (sterre) wat tydloos is, is daar advent wat in ‘n spesifieke tyd gesitueer is:

Advent is the beginning of the Western liturgical year and commences on Advent Sunday. At least in the Roman Catholic, Anglican, Lutheran, Moravian, Presbyterian and Methodist calendars, Advent starts on the fourth Sunday before December 25, which is the Sunday between November 27 and December 3 inclusive (Advent - Wikipedia, thefree encyclopedia), Besoek 8 Desember 2014).

Uit hierdie twee opposisies, te wete, tydloos teenoor tyd, word verse geskryf. Daar is drie dimensies aanwesig in hierdie gedig: tydloos (ewig); religieuse belewenis en die viering van Kersfees wat ‘n spesifsieke tyd impliseer; skryf (stolling; durend; iteratief-duratief) en die digter versend hierdie boodskap in drie verskillende e-posse laatnag en hierdie leser plaas dit dan saam en maak hiervan één gedig. Die digter verjaar ook in Desember.

Cloete wys in sy artikel hoe die onvoltooide gedig met "oop plekke" werk en dat sulke kort gedigte met vermenigvuldigingsplekke geskryf is. Die afwesigheid van leestekens gee uiteraard ook meervuldige interpretasies aan die gedig.

Soos Cloete dit stel: “Deur die afwesigheid van leestekens en sekere hoofletters kan Boerneef se gedig vermenigvuldig word. Nou kan ons as lesers hoofletters en leestekens inlees. Goeie gedigte sê immers nooit alles nie.”

Hy verwys na hierdie vers van Boerneef:

Waar skuil ek teen die son se steek
op hierdie Krovlak sonder bome
is dit net opgeefsel en brand
of panne blink van klip en sand

In sy analise van Louw se gedig lees hy etlike betekenisse en opposisies in, onder andere ook die opposisie tussen lewe en dood.

Hy skryf: “‘n Gedig is ‘repetitive form,’ korrespondensie met variasie, soos in die musiek; dink aan Mozart se sonates, of nog opvallender, Ravel se Bolero. Daarom is die kleinste moontlike gedig ‘n gedig van twee verse. Van Wyk Louw het in Nuwe Verse so ‘n klein, maar vol en ryk gedig van net twee verse geskryf (die eerste gedig in die Klipwerk-reeks) met ‘n begin en einde wat sintakties aan albei kante oop is; iets ontbreek aan albei kante:

dat akkers op die sinkdak val
en vye op die ringmuur breek

Albei verse het presies net ses woorde. Ons kan die ‘en’ waarmee vers 2 begin, vervang met ‘dat’ sonder dat ons die gedig aantas. Ons kan die ses woorde (dieselfde aantal sillabes) van elke vers vertikaal onder mekaar plaas. Dan is daar duidelike korrespondensie met variasie, én daar is groei in die gang van die gedig".

Akkers wat staan vir durend (ook vir die dood) teenoor vye wat seksualiteit aktiveer.

Cloete se uitmuntende analises het my geïnspireer om hierdie vers van De Lange saam te plaas en te interpreteer:

die sterre sal ek vir jou snuit 
soos advent-kerse   
& met was skryf ek verse 

‘n Toevallige laatnag-boodskappe (in drievoud) word ‘n ars poëtica met die slotreël wat suggereer dat die skryfproses heling bring. En dat daar met advent tog verlossing en hoop opgesluit is vir die spreker ...

‘n Private sms word in ‘n nuwe konteks ‘n gedig.

Joan Hambidge



Sunday, December 7, 2014

Joan Hambidge - Ars poetica



Ars poetica

Thy words are like a cloud of winged snakes.
Percy Bysshe Shelley

Daar was 'n tyd
wat ek sonder slag of stoot
'n versreël of inval
netjies kon ómtower in 'n aanklag
of 'n neulerige neuriesang.
Dit was die tyd van palinodes
en verlore simbole
met matelose selfbedrog.
En digterlike vriendskappe:
laatnag gesprekke oor Neruda
en Sheila Cussons en Opperman
as leermeesters en vir die drif
en óndaad van die digkuns.
Die anatomie van melancholie
met sjirurgiese presisie,
dié kon ek ontleed en ja,
vreesloos daardie donker labirint betree.
Vér en lank gereis in verdraaide raaisels
en telkens voor dooiemansdeur gestaan.
Die mossteppe of toendras
soos 'n skeeloog mulatto betree.
En kriptonemies op 'n hondegaloppie
gedraf in die skoene van die Groot Vyf.
One-two cha-cha-cha
kritikasters se parabole gesystap
op pad wég, haha Houdini.
Oor haar, 'n sy, nes Petrarca,
daardie obsessionele woordvraat,
veelversig gecanzonier.
Nou is dit helaas beurtkrag
met die digterlike proses.
'n Gedig word onderbreek:
bly broeiend ónafgerond,
nes reptieleiers in 'n rivierbedding
waar mummelende mulvisse
eens vertoef het néffens muisvalke.
Dié gedwonge beelde stip alreeds
die onmag en woordelose frustrasie aan.
Miskien, miskien sal my beelde
weer eendag helder skyn.
Soos 'n wolk van gevlerkte slange?

Joan Hambidge

Tuesday, December 2, 2014

Johann Lodewyk Marais - In die bloute (2012)


Johann Lodewyk Marais - In die bloute: Gedigte. Cordis Trust, 2012. ISBN 978 0 9870397 1 2
Resensent: Joan Hambidge

I
Die gesiene digter Johann Lodewyk Marais het ‘n bundel gepubliseer deur die Cordis Trust. Dit heet In die bloute en beslaan 77 bladsye. Die bundel se voorbladontwerp is van Lynette ten Kroonden.

Waarom sou ‘n gesiene  digter soos Marais wou publiseer by Cordis Trust? Hy is immer bekroon en het belangrike bundels gelewer by hoofstroom-uitgewers soos Human & Rousseau en Protea. Hy is bekroon met die Orde van die Goue Pen in 2012 deur Cordis Trust. Hieroor geen kommentaar.

Die digter het hom die afgelope paar jaar toegespits op die ekologie en verskeie gedigte gelewer wat sou kon deurgaan as sogenaamde natuurgedigte. Hierdie bundel word tipeer as “’n Seeboek”. 

Reeds met die progamvers verneem die leser dat die digter ‘n vers wil skryf “met seesand tussen die blaaie” (9).

Tierkourie
Cypraea tigris

‘n Digter het eens oor ‘n skulp geskryf,
selfs die binnekant in detail verbeeld
en voor die leser se oë laat leef.
Ek het met verwondering geluister.
Tuis het ek die skulp in my hand geneem,
hom om en om gedraai en goed bekyk.
Hoe moet ek dan te werk gaan as ook ek
dié sieraad uit die see nou wil vereer?
Moet ek eers weer op my boekrak gaan soek
om meer oor die oseane, vorm
en gedrag van dié boorling van Pemba
te lees voor ek ‘n woord op papier sit?
Moet ek hom desnoods alkant bestudeer,
in sy binneste inkyk, notas maak
en sy samestelling deeglik vasstel?
Moet ek die man van Maputo loop pols
by wie ek hom vir ‘n hand vol munte
van die hoop voor sy voete gekoop het?
Of moet ek hom liewer teen my oor druk
en luister of hy self iets te sê het?
Miskien sal ek maar ‘n digter moet vra.

Vir T.T.Cloete

II
In hierdie "Seeboek" gebruik die digter telkens wetenskaplike name om ‘n bepaalde vis te beskryf. Dit getuig van besondere navorsing en die spel tussen wetenskap en digkuns word volgehou met die digter wat telkens sy eie siening, naamlik die posisie van die digter as waarnemer en optekenaar, na vore bring. Die invloed van N.P. van Wyk Louw en die gesprek met hierdie digter is vanaf Marais se debuut steeds aanwesig, soos in die gedig “Op ver strande” (74) waar die digter op die strand skryf:

Terug op die strand hurk ek neer
en met my vinger teken ek
in die wit sand ‘n halfmaan, kruis
en sirkel met pyle deurgetrek.

Ons vind verwysings na notaboeke en die digter wat telkens bewus is van die grootsheid van die natuur waarteen hy sy digterlike kleim moet afsteek. Selfs sy hand word ‘n notaboek soos in “Manatoka” (56).

Te midde van die digproses en die ars poetiese bestekopname is daar ook heerlike humor aanwesig:

Daar’s stede

Daar’s stede in die see!
In die Groot Barrière-rif
is die koraal deelhuise!

Die sponse is die 
suiweringstoestelle
en die skaaldiere
die straatveërs!

Ja, daar’s stede in die see!

Daar is genoeglike beelddigte – soos onder andere oor Jacques Cousteau (62) en Kenneth S. Norris (63) – en telkens word die unieke aard van so 'n natuurkundige se werk (en lewe) belig. Cousteau se Neus is so krom soos ‘n dolfyn se vin, wat uiters tersaaklik is om hierdie man binne sy leefwêreld vas te vang. Jan en Marjorie maak ook ‘n buiging in die bundel.

Uiteraard het so ‘n natuurbemoeienis ook frustrasie tot gevolg wanneer die digter besef dat hy die eerste een is om oor die gelitte rooiwier ‘n gedig te skryf.

Duthie se korallina
Duthiophycus setchellii

Ek soek in die bundels om my
‘n aanknopingspunt vir dié vers
oor die skaars, gelitte rooiwier
uit branderbespoelde sloepe
laag af in die getygebied
wat ek graag digterlik wil ken,
maar daaroor het nog geen digter
ooit ‘n dooie woord gerep nie. 
(51)

Daar word ook ‘n bietjie die spot gedryf met Derrida se siening van spore en ‘n leerugseeskilpad gee haar mening van sake (47) wat die leser dwing om hierdie gedigte as meer as blote natuurverse te benader. 

Die “blatante venyn” van die barrakuda wat losruk en in die see verdwyn, word ‘n beeld vir die digter se onmag om onbevange te kan dig oor ‘n onderwerp. Die spore – dit waaroor Derrida immers argumenteer in De la grammatologie (1967) – maak van skryf ‘n komplekse tekenspel.

Die skryfproses word op ‘n ironiese wyse beskryf in ‘n gedig oor die inkvis (32):

Die inkvis word in die treilnet
van die woord harteloos gevang.
Swyg sou nie onvanpas wees nie:
jou sien en weet bra sonder nut.
Maar met die diefstal van sy ink
bring jy hom meteens aan die lig.

Wanneer die digter te staan kom voor die natuur, bely hy sy onmag. Dit is nie Johann Lodewyk Marais se beste verse nie, maar as ‘n kladboek of optekenboek bevat dit mooi momente.

III
Sopas het daar ‘n nuwe bundel van Marais verskyn, nogeens by Cordis Trust, met die titel Nomade. Op Versindaba word as volg daaroor geskryf (Besoek 1 Desember 2014):

Benoeming is die oer poëtiese aktiwiteit, die “local habitation and a name” waarvan Shakespeare praat, en in Nomade is dié twee aspekte van spesiale belang: plek, en benoeming, toe-eiening, her-ken-ning. By Marais word dit ‘n sistematiese verkenning en her-ken-ning met bundels wat soms aan ‘n diergroep (Aves) of streek (Plaaslike kennis) gewei én gewy word.

Die digter as optekenaar, as ontdekkingsreisiger in ongekaarte streke, is reeds ‘n bekende strategie uit sy oeuvre. Wat gekarteer word, is nie net geografie nie, maar die bloedige geskiedenis van ’n kontinent, die stryde om besit daarvan. Die tydelikheid van tekens, sy dit kaart, of graffiti, of gedig. Die reis is nie net geografies nie, maar ook ‘n reis terug in die tyd, en deur die taal.

Naas die historiese word terugbeweeg in die persoonlike geskiedenis, en daar word op poëtiese wyse besit geneem van ‘n verlede, ‘n verbintenis met grond word bevestig. Marais reis deur die Afrikaanse poësie met digterlike reisgenote, en ook deur sy eie oeuvre.

Met Nomade trek Marais verder noord en verwerf nuwe wêrelde vir sy poësie, maar ook vir die Afrikaanse poësie in die breë.


Biografie besonderhede

Johann Lodewyk Marais is bekroon met die Ingrid Jonker-prys vir sy debuutbundel, Die somer is ’n dag oud (1983), en die SALA-toekenning vir Diorama (2012). Hy het reeds agt bundels gepubliseer en stel ook twee bundels omgewingspoësie en een ter herdenking van die verskyning van “Winternag” saam. Marais is bekend vir “groen” skryfwerk en vir sy navorsing oor Eugène N. Marais en die geskiedenis van Kenia waarooor hy gereeld artikels skryf.

Sunday, November 30, 2014

Octavio Paz - Tussen gaan en bly

Octavio Paz © Alberto Garcia

Tussen gaan en bly

Tussen gaan en bly weifel die dag,
verlief op sy eie deursigtigheid.

Die sirkulerende namiddag is nou ‘n hawe
waar die wêreld in stilte beweeg.

Alles is kenbaar en ontwykend,
alles is naby en onaanraakbaar.

Papier, boek, potlood, glas,
rus in die skadu van hul name.

Tyd wat in my slape klop, herhaal
dieselfde onveranderbare sillabe van bloed.

Die lig verander die ongeërgde muur
in ‘n spookagtige teater van afskynsel.

Ek bevind myself in die middel van ‘n oog,
kykend na myself deur ‘n ondeursigtige staar.

Die oomblik breek. Bewegingloos,
bly ek en ek gaan: ek is ‘n ruspose.

Octavio Paz
(Vertaling Joan Hambidge)

Brief: Paul Fouché oor 'Ester' van Kerneels Breytenbach



Taffie Kikillus

Brief: Die Burger 24/11/2014

Op 22 deser skryf Paul Fouché oor Kerneels Breytenbach se roman Ester: "Taffie Kikillus was nie op die trein nie". Hy wys dan daarop dat "ware feite" sou die nagedagtenis van dié ou meester tot eer kon strek. Hy het dit verder oor die "werklikheidsillusie" wat ooglopend 'n steunpilaar van die roman blyk te wees.

Hy vind dit eweneens jammer dat Breytenbach blykbaar net vir Ollie Viljoen as enigste bron vertrou het.

Indien meneer Fouché die opskrif van die onderhoud met Elmari Rautenbach gelees het ("Spioenasie-intrige deels ware verhaal") sou hy alreeds kon besef het dat die roman met feite toor. In die roman word die hoofkarakter se identiteit eweneens vervals sodat 'n leser wat hierdie roman met 'n geskiedenishandboek oor D.F. Malan sou lees, die oorgang tussen feit en fiksie sou miskyk.

Daar is ander romans soos D.M. Thomas se Flying into Love (1992) oor die Kennedy's en The Public Burning (1977) van Robert Coover wat eweneens hierdie spel tussen fiksie en feit volhou. In Afrikaans het Stephanus Muller se Nagmusiek sopas verskyn: 'n biografiese roman oor Arnold van Wyk, wat eweneens die leser laat nadink oor wat waar en wat wolhaar is?

Ek ontken nié die briefskrywer se enorme historiese kennis nie; ek dink net romans werk met ánder beginsels, selfs al is daar sprake van sogenaamde "werklikheidsillusies" of "vraisemblance". Met ander woorde, jy moet die geskiedenis ken om dit nuut aan te pak: die waarheid gelieg.

Joan Hambidge

Sunday, November 23, 2014

Stephanus Muller - Nagmusiek (2014)



Stephanus Muller - Nagmusiek. Fourthwall Books, 2014. ISBN: 9780992226343

Resensent: Joan Hambidge 

I
Hierdie roman is ‘n gebeurtenis in Afrikaans. Dit vertel ‘n verhaal en die leser ontvang dit in ‘n boks met drie volumes. Volume I beslaan 228 bladsye, Volume II 148 bladsye, Volume III 548 bladsye.

Hoe moet ons hierdie drieledige teks, dus trits, karakteriseer?  Biografiese roman? Of roman in biografie-vorm? Hierdie genreverskuiwing open alreeds vrae oor die teks, begin as ‘n kreatiewe skryfwerk-projek aan die Universiteit van Stellenbosch en word geskryf deur ‘n musikoloog, Stephanus Muller, verbonde aan die Konservatorium aldaar. Dit handel oor die figuur Arnold van Wyk, ‘n ikoniese komponis, gebore in 1916 en oorlede in 1983.

Die boek is sowel akademies as fiktief of meditatief in aanbod. Dit is 'n baanbrekerswerk wat soveel verskillende diskoerse saamsnoer én bevraagteken. Dit verklap veel van die Subjek en die Optekenaar. Hermione Lee se kluif van 'n biografie oor Virginia Woolf (Methuen, 1977) is 'n voorbeeld van 'n akademies-gedistansieerde biografie, terwyl die werk van Janet Malcolm oor Plath The silent woman: Sylvia Plath & Ted Hughes (Penguin, 1994) deur die veelvuldige aanbod en perspektiefverskuiwings die idee van 'n biografie as 'n objektiewe studie ondermyn en dekonstrueer. Reeds deur die verpakking in 'n sogenaamde slipcase, oftewel foedraal, word die leser van Nagmusiek attent gemaak op verskillende bokse-binne-in-bokse ...

My kennis van Van Wyk is die liedere wat Mimi Coertse vertolk met ‘n hoogtepunt “In die stilte van my tuin”, ‘n elegiese gedig van I.D. du Plessis. Op Litnet skryf Suzanne Strauss oor die kanonisering van hierdie begaafde komponis: ‘Ek kan eintlik net hartseer musiek skryf …’ – Die selektiewe kanonisering van Arnold van Wyk (1916–1983) se werke (Besoek 20 November 2014)

II
Nagmusiek is 'n aweregse, individualistiese studie of navorsingsprojek, maar dit is ook 'n roman wat biografie wil wees. Dit verklap die obsessionele navorsing van die werklike outeur wat in verskillende gedaantes of stemme die teks vertel wat polifonies of veelstemmig in aanbod is. Daar is briewe, referate, besinnings, dagboeke, foto's, inventarisse, skinderstories, 'n plakboek met rugbyspelers, werklike besoeke aan werklike mense, meditasies oor die stand van musiek, of dan eerder: die betekenis van élitistiese musiek binne 'n (post)koloniale wêreld. Die stories oor die figuur Arnold (Nols) en sy ervaring van die kunswêreld en die onsekerhede wat so 'n kreatiewe figuur moes verwerk, word in die derde afdeling ondersoek. Muller/ Ansbach / ek word telkemale geplaas teenoor Arnold van Wyk. Die leerlinglisensie met die foto van Wyk aktiveer vraisemblance.

Daar is 'n soeke na die "werklike" Arnold van Wyk en die speurtog lewer onder andere 'n skulp op waarin daar sigarette doodgedruk is. Die Subjek is egter nie "heel" nie. Daar is verwysings na molle in die tuin (die onbewuste) en ook 'n verhouding met die moeder wat uiteindelik sterf, en 'n transgressiewe verhouding met 'n vroulike student. Die verwysing na Alzheimer se siekte word 'n slim set vir 'n teks wat juis wil onthou.

Die verteller, of eerder dan, die aanbieder is 'n hoogs sensitiewe, bykans obsessionele figuur, wat ook iets van homself verklap in hierdie boek, of eerder dan, boeke.

Dit is 'n teks wat jy letterlik op enige plek kan oopslaan en dit waaier uit na die ander twee tekste wat rugsteun, ondersteun én ondermyn. Biografiste, soos wat Leon Rousseau op 'n keer onthul het ná die voltooiing van Die groot verlange, raak inderdaad obsessief oor hul "man", net soos advokate wat 'n persoon in 'n hofsaak moet verdedig, alles moet weet, as't ware in die persoon se spore moet stap, ten einde die "waarheid" te vind. In hierdie teks word die transgressiewe soeke na het-dit-werklik-gebeur telkens op sy kop gekeer en ironiese kommentaar gelewer op mense se ewige soeke na wie was daar? En het dit regtig gebeur?

III
Linda Hutcheon se Irony's edge verwys na die politiek en die teorie van ironie. Hierdie studie het in 1994 verskyn, maar bly  'n relevante teks vir die ontleding van die polifoniese teks. Veral musikoloë sou meer kon werk op die simfoniese struktuur van hierdie teks. Vir Hutcheon is ironie meer as anti-frase, oftewel, die siening dat ironie die teenoorgestelde bedoel van wat jy sê. Dit is meer kompleks: dit gaan oor sowel die gesêde, as die on-gesêde en hoe dit inspeel op mekaar.

Daar is molle in hierdie teks wat doodgemaak moet word. Daar is vrese wat besweer moet word. Die twee hande stem ooreen (Escher se skilderende hande?), maar die skrywer hérken soveel van homself in die figuur, Arnold van Wyk, 'n man wat mense poetse gebak het. Hennie Aucamp het op 'n keer vertel hoe Nols vriende laat skrik het toe hy in die bad gelê het en "dood gespeel" het. Daar is die insident - 'n heerlike grap - toe hy maak asof hy in besit is van 'n kosbare stuk bladmusiek wat hy in die oond opwarm sodat dit verouder lyk. Daar is relasies met jong mans wat by hom loseer met wie hy stoei, fisiese aanraking ontwille. Die verwerking van die liefde-van-sy-lewe se selfdood. Daar is uitsprake oor Van Wyk se posisie aan die US en dat hy nooit na regte waardeer is en met bevordering oorgesien is. (Hierom dalk die ironiese bedankingswoord aan professor So-en-So in die erkennings?)

Elke vinjet word herhaal en van toepassing gemaak op die Optekenaar. Dit is 'n kladboek oor "unrequited love", oor begeerte en die konstruksie van 'n gay-identiteit binne 'n verdrukkende samelewing. Daar word vrae gestel en beantwoord oor die rol van kunsmusiek binne die apartheidsjare. Daar is baie toespelings en herkennings (is dit Kannemeyer?, o.a.) wat ons hier sien? Is dit Stefans Grové wat fluitgeluide maak? Ook hier trap ek in die strik gestel vir my!

Is Werner Ansbach gelyk aan Stephanus Muller? Of probeer die werklike outeur ook hiermee 'n verdere spel inbou dat die teks tog nie biografie kan of wil wees nie? Die keurverslag aan die einde - waarskynlik geskryf deur 'n akademikus en ons herken die styl van 'n kenner oor metafiksionele fiksie en al die probleme wat die hibridiese teks oproep - beskou die teks as nog vis nog vlees. Hierdie leser is van mening dat jy ál die vooropgestelde idees moet laat vaar en die teks kaleidoskopies moet benader. Soms is dit roman; soms eerder biografie. Ek het die derde "skelet" van agter na voor gelees, en toe weer chronologies benader - juis dan kry 'n mens 'n beter greep op die teks wat finale betekenis of interpretasie ontglip.

IV
 Dit is 'n komplekse, unieke teks in Afrikaans. Dit dwing bewondering en respek af. Dit handel oor meer as die melancholiese Arnold van Wyk. The Anatomy of Melancholy word ook raakgelees in die studie oor die plaasseun uit Calvinia wat in Engeland studeer het en o.a. vir E.M. Forster geken het. Sy storie vertel deur 'n jonger man wat eweneens buite die grense van die land gestaan het en terugkyk op die komplekse einde van apartheid, 'n ruimte waarin Van Wyk sowel gedy as verminder is.

Die besinning oor skryf word helder verbeeld in 'n konfrontasie met die Ander: "Jy is 'n niks, 'n onbenullige, onbewese parvenu" (439). Dit is die lot van alle skrywers wat die grensoorskrydende ver-teks. Koos Prinsloo is deur Ralph Rabie aangerand. Vir vele lesers is hierdie werkswyse nie kuns nie, omdat die herkenbare 'n ontoelaatbare praktyk is. En al is 'n figuur gefiksionaliseer, kan die skywer nie beheer uitoefen oor wát die leser gaan inlees nie.

Vir 'n onderhoud deur Wayne Muller lees: Onderhoud met Stephanus Muller (Besoek 23 November 2014)

Die partituur van Nagmusiek is ook aanwesig. Al het die komponis vertrek.

Sleutels is ook slotte. En die brief aan Van Wyk Louw en sy siening oor die sensuur is 'n verdere kode. In ons post-post-moderne wêreld is daar geen hekke meer nie, geen sleutels wat kan toesluit nie. Daar word verwys na kerkhofsleutels (233).

Hierdie drieledige teks sou 'n mens waarskynlik verder kan oopmaak met die gebruik van insigte uit Janet Malcolm se The Purloined Clinic (1992), 'n psigoanalis en teoretikus wat met haar unieke siening van die Freud argiewe en 'n slopende hofsaak vele raakvlakke met die probleme wat hierdie teks stel, eweneens aan die orde stel.

Die astroanalise (147) is ook 'n kode: die teks as gesplete persoonlikheid.

Die meisie se naam is Cecile: Sinte Cecilia ... beskermheilige van die musiek.

En idees word in die onderbewussyn gevorm, artikuleer Arnold van Wyk dit self in 'n brief gedateer 14/8/1978. En sy bewondering vir Britten en Sjostakowitsj moet eweneens nagespeur word.