Monday, February 25, 2013

Koos Human - ‘n Lewe met boeke (2006)



Koos Human. ‘n Lewe met boekeHuman & Rousseau, 2006.  ISBN 0 7981 4703 2.

Resensent: Joan Hambidge

I.

‘n Lewe met boeke is die herinneringsboek van Koos Human, gesiene uitgewer en saam met Leon Rousseau die stigters van Human & Rousseau. Human is ‘n voorste musiekkenner in hierdie land. ‘n Kultuurmens dus in die oorspronklike sin van die woord: musiek, letterkunde, wyn- en koskenner, geselsgenoot en uitgewer veral van ons grootste skrywers: D.J. Opperman, Etienne Leroux, Karel Schoeman, Breyten Breytenbach, André P. Brink, Wilma Stockenström, om enkele name uit te sonder.

Danie van Niekerk, op sy beurt, had weer ander skrywers onder sy vaandel soos Elsa Joubert, Hennie Aucamp, Sheila Cussons, Petra Müller, e.a.

Die boek is besonder keurig uitgegee met ‘n lieflike omslag na ‘n skildery van Marjorie Wallace – voor sit Koos Human met Brink; agterop is Jan Rabie en Leroux.

Die boek bevat ongelooflike mooi en relevante foto’s wat ‘n bepaalde tydsgees opsom, maar die leser wat onverkwiklike skinderstories en uitflappery verwag oor skrywers se hebbelikhede en moeilike persoonlikhede, gaan teleurgesteld wees. Dit is nie daardie soort boek nie. Dit is keurig geskryf, dikwels met skroom, net met toevallige innuendo of obiter dictum – hier word geen vuil wasgoed gewas nie. Op ‘n plek word daar iets vermeld oor Opperman se tweede lewe ná Komas uit ‘n bamboesstok – dit is egter een van die min kere wat Human sy masker laat val oor ‘n skrywer se verandering in persoonlikheid, waarskynlik omdat die persoon nie meer leef nie.

Die belangrikste is dat hy dit onomwonde stel dat hy nie die delikate verhouding tussen skrywer en uitgewer, wat ‘n besondere vertrouensverhouding is, wil verongeluk nie. Hoe onverkwiklik tog wanneer uitgewers een skrywer met ‘n ander bespreek, of ‘n wenkbrou lig wanneer iemand bel, terwyl jy daar sit. Veral in Kaapstad, wat eintlik maar ‘n plakkerskamp is en waar skrywers té veel weet, of wil weet, van mekaar se doen en late. Of mekaar beswadder met het-jy-gehoor-so-en-so het op iemand se sterwensbed probeer om Y testament te verander of X slaan sy vrou. Alweer.

Die vals-familieverbintenis van die Afrikaanse skryfkolonie, met selfs ‘n jong kroeserige digter wat nou onlangs in ‘n e-pos aan my skryf dat hy al sou selfmoord gepleeg het indien hy so onder die kritiek moes deurgeloop het as die uwe.

Hieruit hou Human hom.


II.

Nou waarom überhaupt so ‘n boek dan aanpak as ‘n mens nie alles kan vertel nie? Hy skryf: "Deurgaans het ek die vertrouensverhouding tussen skrywer en uitgewer na my beste vermoë eerbiedig en vermy om, behalwe soms, in anekdotisme te vertel.” Dus geen sappige stories nie – en as jy dit verwag, word jy versoek om eerder die boek toe te maak.

Vir my persoonlik lê die waarde van hierdie keurig versorgde boek – Hans Bütner was die teksredakteur – dat dit ‘n stuk geskiedenis vir die leser bewaar. Hierdie boek is ‘n uiters belangrike tyds- en nie ‘n egodokument nie.

Dit is ‘n argief waarin jy kan lees oor presies waarom Standpunte nie meer met ons is nie. Hierdie hoofstuk was vir my openbarend, omdat hierdie verhaal nog nooit volledig vertel is nie. Min lesers, wel diegene bekend aan my, het onder andere geweet dat die gesiene tydskrif gesluit is weens probleme met Brink se kopie. En nie omdat die tekste polities “gevaarlik” was nie.

Verdeeldheid in die redaksie was daar, en ‘n mens sou jou afvra: was dit werklik net letterkundig of het politiek tog maar ‘n rol gespeel?

‘n Mens moet immers ook die klok terugdraai.

Die “gemengde ontvangs” en “mosie van wantroue” is inderdaad ‘n ingewikkelde kwessie.
Wat ‘n mens eerder optel, is dat niemand bereid was om die eindredakteurskap oor te neem nie en dat die tydskrif se sneuweling nie alleen met die verlies aan borgskap te make had nie, maar met ‘n onwilligheid om die harde werk oor te neem.

Human skryf so dat ‘n mens self tussen die lyne jou afleidings kan maak.

Hier word verwys na ‘n telefoniese gesprek, o.a. en Human bely in sy voorwoord dat hy nie dagboek gehou het nie en dus op sy geheue moes staat maak.


III.

Die meeste afdelings moet myns insiens gelees word as belangrike dokumente wat verdere navorsing sou kon aanstig. So byvoorbeeld: in “Die slag van Magersfontein” word daar gekyk na die invloed van sensuur en watter uitwerking dit op die skrywer se psige gehad het.

Dt is ook skrikwekkend in welke mate sensuur iets is waarmee die uitgewer heel dikwels te make gehad het. In die geval van Breytenbach, waar hy en ander hul in die openbaar van die outeur se politieke standpunte gedistansieer het, erken die uitgewer ruiterlik dat dit ‘n fout was.

En hoe het die helde nie geval nie!

Onthullend dat selfs ‘n skrywer van Klaas Steytler se statuur moes ingee voor Vorster se boelietaktieke. Dit het gegaan om die bekroning van Die huis van die dowe en Vorster se woede hierop. Net boeke wat deur ‘n uitgewer voorgelê is, kon op die kortlys wees.

Die oplossing: die uitgewer moes die boek onttrek, dan sou daar geen probleem wees nie.
Dit het gelukkig nie gebeur nie. En wat Human dan openbaar, laat ‘n mens koue rillings kry.

Opperman het die kelderingspogings natuurlik stopgesit en Breyten het die prys gewen.
(En behalwe vir sensuur, is daar ‘n verdere refrein: hoe dilwels die konkelings per telefoon geskied het, sodat niks op skrif bestaan vir ‘n speurende navorser nie!)

Human eet na die furore met Breyten en vertel hom van al die onder-die-tafel-spelery en in Vrij Nederland val hy natuurlik die hele spul aan.

Waarop Human, Rousseau en Opperman hulle distansieer van sy politieke uitsprake. 

En Breyten op sy beurt, in ‘n skreeusnaakse brief, weier later toestemming vir die herdruk van Katastrofes.

En so beduiwel politiek, soos in die geval van Standpunte, opnuut die letterkunde.

Die wonderlike brief – in die klas van sy satiriese resensie van Chris Brink se boek oor Stellenbosch  in Die Matie – word onderteken as “u smekende dienaar”.


IV.

Daar is pynlik-onthullende oomblikke soos die gesprek met Mevrou Peter Blum – op straat. Hy nooi haar nie vir verversings nie, want die herdruk van Enklaves van die lig is vir hom belangriker. Grappig is die half-spottende verwysing na sy moeisame tog weens ‘n seer knie en hoe treine verpas op die moltrein.

Mevrou Hetta Blum dink aanvanklik hy is nie werklik Koos Human nie en ja wat vra sy van hom?

‘n Eksemplaar van Kook en geniet!

Die prag-ironiese vers van Elisabteh Eybers verdien eweneens vermelding. Eybers is immers een van Human se grootste invoerprodukte en uit die ontmoeting met mevrou Blum en uit die jarelange verbintenis met Eybers, weet die leser dat hy geweldig ondersteunend optree teenoor skrywers van gehalte.


V.

Elke hoofstuk in ‘n Lewe met boeke is ‘n verslag van ‘n lêer in ‘n kabinet wat ‘n mens oopmaak. Vir die Afrikaanse leser is dit ‘n belangrike boek, omdat Human hom altyd in die eerste instansie uitlaat oor letterkundige gehalte.

Mark-gerigtheid is nie sy eerste drif nie.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Litnet geplaas.]