Monday, June 10, 2019

Fiksie | Joan Hambidge – Die Dolendes (2019)

I

Dit is al geruime tyd dat sy bewus is van die man en vrou wat snags voor haar woonstelblok slaap. In die nagte hoor sy hoe die man hoes. Dan praat die vrou. Soms wanneer die venster oop is, ruik sy daggarook.
Soggens vroeg is hulle reeds weg.
Hulle beddegoed word in 'n swart sak gehou en in die "boomhalte" geberg.
'n Ander keer sien sy hoe die man die deksel van 'n dreingat oplig en die swart sak daarin plaas.
Waar kom hulle vandaan?
Een nag baklei die twee gewelddadig en sy hoor hoe 'n swart man hulle tot orde roep. In Xhosa. Sy verstaan nie 'n woord van wat hy sê nie, maar uit sy stemtoon kan sy aflei dat hy hulle betig.
"Djou ma se p-.", skreeu die vrou.
Die hele nag lank is daar rusie. 
In die nag hoor sy 'n polisie-sirene. 'n Bottel breek.
Toe verdwyn hulle, die twee dolendes. Naamloos. Huisloos.

II

Na sy tronklewe het die skrywer Jean Genet glo snags na 'n park in Parys gegaan en sy tantième-state uit 'n boom gehaal. Dit was sy adres. Hy wou waarskynlik nie hê mense moet weet waar hy hom bevind nie.
Vir Sartre was hy 'n heilige: Saint Genet. Vir ander 'n blote dief, 'n boef, 'n leuenaar.
Genet se werk fassineer haar geweldig. In die vroeë oggendure sien sy hoe 'n eekhoring by die palmtak opklim tot bo-op die dak. Waarskynlik is dit sý slaapplek onder die warm teëls. 
Sy sit en skryf en kyk uit op Tafelberg en is bewus van die palmboom reg voor haar venster.

III

Die oggend sien sy hoe vuil dit onder die boom is. Papiere, plastieksakke en stukke tou is net so onder die boom gelos voor die woonstelblok. 
Bedags werk die opsigter in die tuin of verwyder vullis. Doen herstel- en verfwerk. Soms sien sy hom in sy buitekamertjie sit. Sy gee gereeld vir hom kos en klere. En sy het gereël dat hy 'n bonus met Kersfees ontvang.
Sy vra vir hom om die gemors op te ruim. Sy beloof vir hom kos vir die taak.
Na twee ure sien sy dit is nog nie skoon nie. Sy bel hom op sy sel.
Hy klink bot. "Ek kan nie daar skoon maak nie," sê hy. Hy verduidelik dat daar menslike uitskot is en dat hy bang is hy word in die verkeer raakgery. En wie sal dan betaal? 
"Ek het nie verwag jy moet dit verniet doen nie; ek het dan vir jou kos gegee ..."
Sy is verbyster toe hy die foon in haar oor neersit.
Toe sy weer bel, is daar geen antwoord nie.
Sy vrou werk in die blok by bure.
"Waar is hy?", vra sy. 
Reeds weg, antwoord sy vriendelik. Die sagte vrou uit Malawi.
Toe sy buite kom, staan die twee bokse oorskietkos voor die deur van die woonstel.
As 'n aanklag, 'n verwyt. 
Sy gee die bokse vir 'n karoppasser. Hy beloof om die vullis te verwyder. In haar truspieëltjie sien sy hoe hy met 'n hark en emmer die nodige doen.

IV

Sy lees in die vroeë oggendure verskeie studies oor ruimte. Lauren Elkin is die skrywer van Flâneuse,gepubliseer deur Chatto. Sy is 'n New Yorker woonagtig in Parys en hierdie boek karteer verskillende stede. 
Iewers het iemand geskryf dat dolendes en haweloses ook 'n ruimte begrens as húlle s'n. Soos dis "Dirk se erf":

Edms. Bpk.

Ek het ’n stukkie grond gekoop
met melkhout op; dit afgekamp
en teen die hek ’n naam geverf
sodat verbygangers besef:
Dis Dirk se erf.

Janfiskaal sit op my melkhoutboom,
sit op ’n kruin, sit op ’n rots,
en proklameer, in sy lied
soggens en saans luidkeels,
“Dis my gebied.”

Bakkapel glip uit my melkhoutbos,
verby die kruin, verby die rots,
en teken op sandkolle waar hy kom
oral in ouderwetse skrif:
“Alles… alles my eiendom.”

D. J. Opperman
Uit: Edms. Bpk. (1970)

Daardie klein eekhoring sien die dak as sy tuiste. Soos die haweloses die boom as hul slaapplek sien.

V

Hoe voel dit om van een land na 'n ander te migreer?
Verlang jy terug na die land van herkoms?
Na jou taal? Na jou gewoontes? Na jou kos? 
Die nuwe plekke van eensaamheid wat niemand werklik kan beskryf nie
En wat ons almal beleef: ek, jy, sy, die haweloses, die eekhoring, die opsigter ...
Almal dolendes, migrante, reisigers ...
Met taal en gewoonte-misverstande.

Octavio Paz skryf iewers: Tussen gaan en bly weifel die dag, // verlief op sy eie deursigtigheid. 

Tussen gaan en bly

(vertaling van Octavio Paz se “Between Going and Staying”)

Tussen gaan en bly weifel die dag,
verlief op sy eie deursigtigheid.

Die sirkulerende namiddag is nou ‘n hawe
waar die wêreld in stilte beweeg.

Alles is kenbaar en ontwykend,
alles is naby en onaanraakbaar.

Papier, boek, potlood, glas,
rus in die skadu van hul name.

Tyd wat in my slape klop, herhaal
dieselfde onveranderbare sillabe van bloed.

Die lig verander die ongeërgde muur
in ‘n spookagtige teater van afskynsel.

Ek bevind myself in die middel van ‘n oog,
kykend na myself deur ‘n ondeursigtige staar.

Die oomblik breek. Bewegingloos, 
bly ek en ek gaan: ek is ‘n ruspose.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van BY)

Resensie | Zelda Bezuidenhout - Die dekonstruksie van Retta Blom (2019)

Zelda Bezuidenhout - Die dekonstruksie van Retta Blom. Kwela Boeke, 2019. ISBN: 978 0795708992

Resensent: Joan Hambidge

Kom ons val sommer met die deur in die huis. Zelda Bezuidenhout se roman Die dekonstruksie van Retta Blom het ʼn vinnige pas en is goed geskryf. Marita van der Vyver, die koningin van hierdie soort verhaal, prys dit aan as “lekker sappige goedvoel-storie, met heelwat onder die oppervlak”.

Ene Lauretta Blom, oënskynlik minsame huisvrou en eggenoot van Tobias Blom, ʼn ryk sakeman wat pendel tussen Johannesburg en Kaapstad, is ʼn soort moderne Emma Bovary. Sy is ʼn beheermaniak en voel vasgevang in haar sekuriteitslandgoedhuis in Johannesburg en ly aan leë nes-sindroom al besoek een seun haar en Skype sy met ʼn ander. Ses-en-twintig jaar al vasgevang in ʼn roetine van Mevrou-wees. ʼn Foonoproep van ene Kob(r)a is die motoriese moment. Alles verander dramaties in haar Visi-bestaan. Sy het immers gesien hoe ʼn tassie ingepak word ...

En ontspan: ek verklap nie die verhaal nie. Daar is altyd ʼn liefdesdriehoek in hierdie soort prosa, maar hier gelaai met siekte, dood en selfdood wat dit iets meer maak as bloot populisties.

Sy rig haar lewe volgens Spreuke en sy weet wie Marilyn French is. En daar is verwysings na Cheating husbands and the women who love them. 

ʼn Roadtrip Kaap toe (met eggo's uit Thelma en Louise) met Leigh, ʼn kunstenaarsvriendin en die hond, Charlie, gee aan haar agentskap. Buite Bethulie word Lauretta dan Retta wanneer sy Adam ontmoet.

Die boek is vaartbelyn geskryf met sekstonele wat eg aandoen. Lauretta bely haar frigiditeit op ʼn plek en luister na raad. Diëte, Skype, sms'e, WhatsApps, realiteits-TV, The road less travelled, You've got mail (en natuurlik: Lucy Jordan!) met musiek vertel die verhaal van transformasie. Geen wonder Retta voel soos ʼn toeskouer in haar eie lewe nie met ʼn jong kind wat tekenmannetjies in ʼn boekie het. Is sy nie ook maar net ʼn tekenprent nie?

Die rol van die trofeevrou of vrou-as-verlengstuk van die manlike orde, kom hier aan bod. En hoe sy dan wegbreek en haar ware self vind. Selfdood en moord van die nuwe man se vorige geliefde bevestig ʼn somberder lewe onder die oënskynlike idilliese bestaan. Twee verhale en lewens word verweef met ʼn onverwagse wending in die verhaal. En hierdie soort fiksie verraai altoos wat in die vroulike onbewuste geberg word.

Woody Allen het in sy film Deconstructing Harry (1997) alreeds hierdie geleerde term mak gemaak waar ʼn romanskrywer put uit sy lewe, en almal rondom hom vervreem. (Ook in die film is daar ʼn reis met terugflitse uit die verlede met metgeselle as toehoorders vir die babbelende Allen.)

Dit is populêre fiksie met ʼn byt. Dalk ʼn moderne Griet skryf ʼn sprokie?

Daar is humor (ʼn man is ʼn los wors) en daar word verwys na ʼn intellektuele orgasme! Epilepsie van ʼn kind met twee lewens van ʼn karakter wat verskillende kulture ondersoek. Clichés word afgestof (rou het nie ʼn rakleeftyd nie).

Dalk kon die skrywer die orde van liefdesfiksie skerper gesatiriseer het, maar dis ʼn genoeglike roman (315 bladsye) wat hierdie leser eenvoudig nie kon neersit nie. Dit is immers die grote Nabokof wat opgemerk het in sy Cornell-lesings dat sowel Emma Bovary as Anna Karenin se lot bepaal is deur wát hulle gelees het.

En kyk wat lees Retta nie alles nie. En kyk wat skeur sy op in ʼn gefnuikte wraakpoging. Dit wat afwesig is, blyk ook aanwesig te wees in dekonstruksie-terme. En is “under erasure”.

ʼn Kwirkie-boek vir nadink en weer besoek.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Media24)

Tuesday, June 4, 2019

Resensie | Hannes Visser - Die jaar toe Pa (2019)

Hannes Visser - Die jaar toe PaNaledi, 2019. ISBN 978-1-928426-65-3

I

Werkersklaspoësie is veral deur die digter gert vlok nel ontgin in Afrikaans rondom sy ervaring as spoorweg-kind in Beaufort-Wes in pragtige verse. Hannes Visser se Die jaar toe pa ...(uitgegee deur Naledi) gebruik die kind as waarnemer om die politieke en sosiale kwessies aan 'n disfunksionele mynwerkershuis te ondersoek in die jaar 1967.

Die kind-as-waarnemer is alom bekend in die prosa: in Afrikaans het ons Jeanne Goosen se Ons is nie almal so nie en in die Amerikaanse letterkunde onder andere Truman Capote se pynlike jeugherinneringe.

Die digter het gedebuteer in Nuwe Stemme 6 wat sewe van sy verse opgeneem het. Hierdie bundel het my teruggeneem na die bloemlesing van Johann Johl & Rika Cilliers wat heet Blomtyd: Verse oor kinders (Tafelberg, 1993) waarin verskillende verse oor kinders en kindersprekers opgeneem word. Uiteraard is dit by Visser die ouer persoon wat terugkyk en die jeugervarings weergee asof hy weer daardie kind is.

Die bundel is eg-menslik met gestroopte verse en die leser (met 'n wyer politieke en sosiale agtergrond) interpreteer die onskuldige opmerkings van die kind.

Verder is daar afdrukke in die bundel wat meehelp om die gedigte te laat resoneer. Ons kyk as't ware na die knipsels van die digter wat in 'n outydse boks geberg is.

Die titel met die ellips (...) wys dit is 'n durende proses wat nie in sy gemoed afgehandel is nie.

II

Vrydag 5 Mei

ma speel ’n plaat
van jim reeves
adios amigo en
distant drums en
pa speel saam
op sy kitaar

oom flip sê
jim reeves is nie
dood in ’n vliegtuig
soos die mense sê nie
hy is ’n kommunis
agter die ystergordyn

pa sê fok jou
hy was ’n goeie man
hy is kimberley jim
en hy was al hier

* Hierdie gedig word dan begelei met 'n plakkaat van Jim Reeves.


Saterdag 7 Oktober

die polisie was laasnag
agter in ons jaart en
violet skreeu miesies help

maar die polisie het klaar
haar man wat kom kuier het
uit haar kaia gesleep en
geskop en agterin gelaai

ma het probeer om te keer
en die polisie het haar gestamp

toe kom oom tiny
van bo in die straat
om met ma te praat
jy weet mos die meid
moet alleen in die kaia bly

 Hierdie gedig staan in 'n afdeling waar daar 'n plakkaat is van Verwoerd se dood. So kry die gedig dan 'n dieper lading.

*

Maandag 30 Januarie

drie mans is dood in amerika
wat met ’n vuurpyl tot by
die maan wou vlieg
dit was op die draadloos

pa sê hulle het verbrand
nog voor hulle kon vlieg
maar eendag gaan mense
nog op die maan kan land

dit was die here se wil
sê antie hester want dis
die here se maan en
niemand mag op sy
maan gaan land nie

Hier is die naïewe kinderverteller aan die woord vanuit die perspektief van die ouer persoon wat onthou hoe die grootmense gepraat het. In die slotvers is dit die ouer persoon wat weer praat (en onthou). So is daar twee stemme, twee perspektiewe op die lewe van weleers, visvangers, 'n winkelporregees, mechanics. Daar is semi-huise, brandy en coke, pie en chips, speedcops, motorbikes, milkshakes, brylcreem,  'n bioscope, Chevs en Studebakers. Min Shaw het my laat glimlag.  En daar is drank. Al hierdie kodes plaas dit in 'n spesifieke kultuur. Verskillende eetkulture (die swart mense eet marog) word konkreet beskryf. Met 'n slot waarin "lokasiekos" (13) die spanning tussen swart en wit mense uitspeel.

Outentieke taal (vloekwoorde en raspejoratiewe) maak die aanbod eg.

Die gedig oor die vader se begrafnis ruk aan die hart

III

Die verse is gestroop en minimalisties. Onder die min woorde skuil geweldig baie sub-teks soos in Thomas Deacon se gedig "vertrek" (opgeneem in Bloeityd, 62):

Om die tafel sit ons
ma    pa
dogters
seuns
'n laaste avondmaal
ons steek hande in die skottel
ek en pa
pa kyk na my
ek sien sy oë
stuur my oor die duine
moerland toe

Visser se gedigte het dieselfde aanbod as Opperman se "Sondag van 'n kind" met spaars woorde wat 'n hele wêreld oopmaak.

Inderdaad gedigte in vertelvorm soos die Japannese shi sōsetsu:
An amorphous genre of autobiographical fiction that developed in the late-Meiji period and has remained a crucial (if problematic) category of modern Japanese literature. Rendered in a confessional and/or lyrical voice, the typical I-novel (shishosetsu) explores the point of view of a single protagonist, whose account is understood to be based on actual characters and events drawn from the author's life and an unmediated expression of the author's interiority. See junbungaku, shishosetsu (Japanese Lit. Glossary Terms Flashcards | QuizletBesoek 3 Junie 2019).
Dis 'n aangrypende bundel wat sterk sosio-politieke kommentaar lewer Ena Jansen se Soos familie: Stedelike huiswerkers in Suid-Afrikaanse tekste (Protea, 2016) word tereg as 'n bron gegee en in die slotvers word die miskende rolspelers vereer.

Violet, Esther, Mapoela.

Skerwe van onthou wat die digter en mens gevorm het.


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)