Gabeba Baderoon. A hundred silences. Kwela
Books, 2006. ISBN 0 7957
02280
Resensent:
Joan Hambidge
Gabeba
Baderoon het in 2005 die gesogte DaimlerChrysler-toekenning verower met ander
ewe belowende digters neffens haar: Ilse van Staden, Danie Marais, en sewe
ander.
‘n
Letterkundige prys is dikwels soos die 100m by die Olimpiese Spele, as u weet
wat ek bedoel. Haar werk het ‘n besondere impak gemaak omrede die tegniese
beheer, die ryk tematiek en die besondere verweefdheid van die Moeslemkultuur
binne die Suid-Afrikaanse leefwyse. Die volwasse aanslag en tematiek het onmiddellik
opgeval. Sy dig oor sowel die persoonlike as die universele; die familie en die
geliefde; Suid-Afrika en die buiteland.
A hundred silences is nou
reeds haar derde bundel van die digter wat The
dream in the next body en The museum
of ordinary life gepubliseer het. DaimlerChrysler se reklamering het baie
lesers bewus gemaak van die digter en verder het sy nou onlangs ‘n skryfrespyt
geniet in Uppsala.
Agterin is
daar ‘n lang lys bedankings vir algar wat gehelp het aan die bundel. Waarom
soveel skatpligtigheid erken?
Of is dit juis
die gevaar van die digter wat bemark word deur ‘n instansie? Dis alles vrae wat
by die leser opkom. Is dit gevaartekens dat dit die digterskap mag bedreig of
is die digter in staat om hierdie proses goed te bestuur. ‘n Mens wil
uitroep: "Take the money and run!” Hou op kopknik, kniebuig.
En skryf: die
kreatiewe vaart is waarop die digter behoort te fokus.
Soos die titel
reeds aandui, word stilte in verskillende skakeringe ondersoek: ‘n soort
Elizabeth Bishop-beheptheid met die “art of losing” wat veelvuldige eise aan
die digter stel. Of dit nou woorde is
wat ‘n mens probeer terugsluk net na ‘n rusie of dit nou ‘n foto is, geneem
deur ‘n voormalige geliefde van die huidige beminde, sal die gedig dit opvang
en stol. Baderoon skryf dikwels oor die ouers, die Freudianse ‘family romance’,
nes haar eweknie Rustum Kozain in This
carting life. Die omlyning van die ouerfiguur is altyd ‘n besegging van die
self, weet ons uit die digkuns. Sosiale ongeregtighede, kleurkwessies en
bevryding van allerlei vorme van onderdrukking, is Baderoon se tematiek,
beskryf uit die posisie van die buitestander wat stemhebbend geword het. (Dit
sou ‘n navorser loon om die verskillende diskoerse in die bruin en/of
Moeslem-digkuns te ondersoek.)
In “Sudden music”
(p. 32) word die gewaarwording van die mag van die digkuns wat gekoppel is aan
die binnespraak via Bishop en Neruda beskryf.
Digterlike
taal volgens Lacan en Kristeva is gekoppel aan die verbintenis met die moeder
en pre-simboliese taal. Hierdie gedig registreer dit helder in die spel met
klank en stilte wat ‘n leimotief is regdeur die bundel (“Breath, p. 33). Die
titelvers kan as ‘n ars poetica gelees word en die opposisie met klank/stilte
word hier uitgebou. Die vader is hier gepersonifieer as die digkuns. Sy begin
met die vader in die programvers en hy word in verskillende gedaantes
aangetref, ook in drome na sy dood. Daar word dikwels met verlies(e) onderhandel – in die digter se woorde in die
verruklike “The pen”, wat tereg die slotvers is in hierdie bundel.
Die verlies
aan die vader word konkreet voorgestel as ‘n verlies aan ‘n pen wat sy jare
saam met haar gedra het.
Three days
before my father died
I lost the
silver pen with my name on it,
a twenty-first
gift from my aunt
I’d kept for
almost ten years.
Nie al die
verse moes opgeneem word nie. Daar is ‘n hele paar sandlopertjies, oftewel verse wat ‘n sterk slot of punt mis
(soos “The night before we married”, p. 48 of “The thing you were facing”, p.
56), of verby die natuurlike slot beur. Maar as sy wél die stilte opvang – soos
in ‘n handvol puik verse – is die vers dawerend daar.
Fight
in the silence
you wish to
take
two steps back
inhale your
words (p. 28)
My
gunstelinggedigte is die openingsvers “Give” (p. 9) en die aangrypende “Twin
beds” (p. 68) waar die geliefdes se gelukkige samekoms beleef word as die
saamplaas van die bedjies teen mekaar; “Sleeping in hotels” (p. 36) waarin die
spel met lig en donkerte behendig afgewissel word...en nog vele meer!
Ek was
indertyd die sameroeper van die DaimlerChryserprys en Gabeba Baderoon bewys die
paneel reg, juis omdat daar soveel ander belowende digters aanspraak gemaak het
op die eerste plek.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Burger geplaas.]