Keorapetse Kgositsile. This way I salute you. Kwela, 2007. ISBN 107957 0251 5.
Resensent: Joan
Hambidge
Keorapetse
Kgositsile is ons Nasionale Poet Laureate in 2006. In 2005 is hy bekroon met die Herman Charles Bosman-prys. Nederland
het ‘n hofdigter van Gerrit Komrij se formaat; die VSA het al ‘n figuur soos
Robert Pinsky gehad as poet laureate wat ‘n fenomenale rol vervul het om poësie
by gewone mense uit te bring. Hy het o.a. ‘n projek op die internet begin waar
gewone mense – soos ‘n trokdrywer of verpleegster – hul gunsteling-vers mag
voorlees. Selfs Bill Clinton het deelgeneem. Jy klik en dan hoor jy hoe ‘n
gewone mens ‘n Sylvia Plath of ‘n Walt
Whitman voorlees.
Hofdigters of
poet laureates is dus digters wat in die volksmond lê en gewoonlik die digkuns
bevorder, hetsy met openbare optredes, vertalings of bloemlesings. Dit was
terloops een van die wonderlikste ervarings van my lewe om Pinsky sy Jersey Rain op Harvard Square te hoor
voorlees.
Ons kort in
Afrikaans ‘n hofdigter: daar is ‘n handvol om uit te kies.
Gwendolyn
Brooks, die poet laureate van Illinois roep Kgositsile ‘n meester; Gus Ferguson
praat van ‘n tour de force. Die digter is terloops internasionaal bekend.
Die bundel is ‘n
keuse uit die digter se oeuvre en in die inleiding wat deur Gus Ferguson
behartig word, verneem ons die volgende: hoe hierdie digter die prosodiese
tradisie van die Engelse letterkunde verander het en die invloed van jazz op sy
digkuns.
Dit was nou
onlangs ‘n fassinerende ervaring om by Spier te hóór hoe digters uit die
Nederlandse Antille woeker met Nederlands en die huis van die digkuns, het
deesdae al hoe meer wonings!
Die gedigte – ek
het al die digter dit hoor vertolk – maak staat op die gehoor. Soos Loit Sôls
se Die faraway klanke vanne hadeda
(Kwela) is dit gedigte wat bedoel is om voorgedra / vertolk / op ‘n drom of kitaar gespeel te word. En
wanneer jy dit hoor, kan jy nie koud staan
nie. Die gedig glip sommer só onder jou hartspier in en voor jy kom kry,
sing of “chant” jy saam.
Vir die leser
wat onbekend is met talle van die verwysings, is daar ‘n handige endnotas.
Wat veral
fassinerend is van hierdie bundel is gesprekke met o.a. Chinua Achebe, die
Nigeriese skrywer; David Diop, die Sengalese digter; onse Hugh Masekela wat so
lekker met die trompet kan woeker; Wally Serote, digter en aktivis; Nina Simone
en Mazisi Kunene wat geroep word as die “living repository of South African
memory”.
In “SantaMaria”
(p. 47) staan die bekende reëls:
Refusing to be
blinded by sea water
Mongo is not
from the Congo
but on conga or
any drum
Mongo gathers
all our memories
like the crop of
an abundant harvest
from the oracle
of his palms
and commands
them to the bidding
of the
polyrhythmic dance of life
Hierdie is nie
gedigte wat sal praat met diegene wat op Groot
verseboek gespeen is nie.
Die gedigte
vervul ‘n ander funksie. Dit wil mense mobiliseer, bewus maak van hul regte,
van hul pyn verlos. Hierom die refreine, die herhalings:
“we will tame
and heal the times of eurocentric design” (“For Otis Redding”, p. 40).
“Home is where
the music is” (p. 28) skryf hy aan Hugh Masekela.
Besluit self of
dit musiek vir jou is.
Vir Johnny Dyani
spreek hy soos volg aan:
When I swim in
my music
a harmattan of
colours
becomes an area
of feeling
where a rainbow
of feathers
peoples all
space
dancing in my
heart
Here I do not
even know
what flowers pop
out of my eye
I move
without even touching air (...., p.
46)
‘n Kritiese
leser sal wel vra: is dit ons beste poet laureate?
Kan ons nie ‘n
sterker digter kies nie? Te meen: een waar die gedigte met sterker beelding en
metaforiek werk? Of moet ‘n mens net die gedigte hoor?
Hoe staan dit
teen Komrij, Pinsky, of ‘n voormalige hofdigter: Ted Hughes?
En boonop weet
ons hoe die buitelandse verpakking werk hier te lande: die digters wat dit
buitelands “maak” is nie noodwendig ‘n “show case” van ons bestes nie.
Daar is allerlei
voetwerk o.a. om by Poetry International in te kom of jy kort die nominasie van
ander (buddy) digter om iewers op te tree, nie waar nie? Daar is
uitsonderings ja.
Dus as jy
hierdie kritiese leser sou wees, is die besware jou besware en beslis nie die
bundel vir jou.
[Hierdie
resensie word met vriendelike vergunning van Rapport geplaas.]