Wednesday, February 27, 2013

S.J.A. de Villiers & Eunice van der Berg - Klein kook en Geniet (2002)


S.J.A. de Villiers & Eunice van der Berg. Klein kook en Geniet. Human & Rousseau, 2002. ISBN 0 7081 4527 7.

Resensent: Joan Hambidge

Iemand moet die volgende fenomeen probeer verklaar: waarom is daar tans soveel kosrubrieke, kosboeke, resepteboeke en kosprogramme beskikbaar? As’t ware aan die kook? En dan sal jy ook moet vra: waarom is daar ook soveel reisrubrieke en –programme? Waarvoor staan “kos” en “reis” tans?

Is ons dalk so honger (geestelik) dat ons moet reis (psigies) om nuwe plekke te verken?
Ek is verslaaf aan reis. En kosrubrieke interesseer my. Dit wil gedoen wees om soos Marlene van Niekerk oor kos te skryf : rondom ‘n vertelling, legende, fabrikasie, maaksel gee sy vir ons ‘n resep. Haar boerevertellings in By (Die Burger) is ‘n hoogtepunt van feestelikheid. Niemand – op sy beurt – kan weer oor eet in ‘n restaurant skryf soos Kerneels Breytenbach nie.

Die uwe versamel kookboeke. In my vryetyd probeer ek allerlei resepte uit, hoewel ‘n gebrek aan tyd (en smulpaap-aard) my eerder lei na ‘n goeie restaurant.

Nou is daar vir ouers ‘n heruitgawe van Klein kook en geniet: die boek het  in 1982 oorspronklik verskyn en beleef sy derde druk! Daar is kleurprente en die jong kokeling word gevra om saam met Mamma te help om vir die gesin kos te maak. Hmm, wat van Pappa?

Dis ‘n heerlike boek! Mevrou de Villiers is Mevrou Kook & Geniet en haar dogter, Eunice, is medeskrywer van hierdie boek met sy lieflike illustrasies van Marita Johnson.

Dit is by uitstek ‘n kersgeskenk vir kinders. Of dalk vir iemand wat basiese aanwysings nodig het. Inderdaad is dit lekker om te eet! Dis inderdaad ‘n mini-kookkursus en ek raai dat dit ook (onbedoeld) gebruik kan word deur iemand wat dikwels nie die taal van kookboeke kan dekodeer nie.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]