Umberto Eco. The Mysterious Flame of Queen Loana. An Illustrated Novel. Secker
& Warburg, 2005. ISBN 0 436 20 589 0.
Resensent: Joan Hambidge
Waarskynlik het Umberto Eco nog nooit weer
die impak van The name of the rose geëwenaar nie. Dit was ‘n roman wat die
voorste semiotikus in Bologne oornag verander het in ‘n internasionale naam. ‘n
Skrywer van letterkundige essays oor die tekensisteem en hoé alles begryp kan
word in terme van komplekse tekens, skryf ‘n speurverhaal. Die roman is ook
verfilm, minder suksesvol, en hierna het etlike ander romans gevolg, soos onder
andere Foucault’s pendulum en Baudolino. En onlangs was daar die essays On
Beauty.
As teoretikus het Eco die gesaghebbende The
role of the reader gepubliseer en sy aanwysings oor “closed” en “open” tekste
kan toegepas word op sy jongste briljante teks: The Mysterious Flame of Queen
Loana wat hy beskryf as ‘n “illustrated novel”. Dit is vertaal deur Geoffrey
Brock.
Ene Yambo, ‘n sestigjarige antikwariese boekhandelaar in Milaan verloor
sy geheue. Hy kan nie sy eie naam onthou nie, hy weet nie eers hoe dit voel om
seks te hê nie en soos ‘n kind, staan hy verwonderd voor etlike menslike
vervarings soos toilet toe gaan, die eet van perskes, die evaring van die
natuur. Sy kinders se name is eweneens aan hom onbekend en ten einde sy verlede
te probeer rekonstrueer, vertrek hy na ‘n familiehuis tussen Milaan en Turyn.
In die ou huis ontdek hy natuurlik boeke en
die hele roman is ‘n “paper chase” deur bekende tekste soos Proust se Remembrance of things past, Tennessee Williams se A streetcar named desire, en vele
ander boeke wat gelukkig vir die leser in ‘n uitgebreide bronnelys vermeld
word. Daar is gedigte en afskrifte uit komiekstrokies. ‘n Pragtige teks is dan
Mickey Muis wat met laterale denke oor ‘n boom
se leeftyd kan uitwerk ten einde ‘n skat op te spoor (p. 71). Dit is ‘n
sentrale metafoor in hierdie roman wat handel oor rekonstruksie, afleiding,
jukstaposisie en natuurlik: die soektog.
Letterkunde het dikwels te make met ‘n
soektog, werklik of verbeeld, en in hierdie teks (waar Sherlock Holmes ook
‘n buiging maak) is die soektog na die
graal, ‘n desperate reis na die oorspronlike, eerste, onaantasbare liefde. Dit is waarvoor “Queen Loana” staan. Deur die
leeservaring word ‘n gelukkige jeug gerekonstrueer, boek wat stukkend gelees en
weer aanmekaar-geplak is.
Die roman onthul veral hoé seksuele
fantasie werk: Josephine Baker en die Koningin word in sy gemoed een. Eco skryf
helder oor Mussolini, die oorlog en ‘n kind se sieninge van die implikasies van
Fascisme. Daar is jeuggedigte van die verteller wat afgewissel word met gedigte
van groot digters. Die verhaal van die Koningin Loana word beskryf as ‘n
“ramshackle” verhaal (p. 251). Populistiese fiksie met sy maklike wendings oor
die liefde en die Koningin wat in staat is om deur haar towerkragte haar dooie
geliefde te kan terugbring, wil egter eerder met een van die moderne besoekers
‘n verhouding begin. Die vlam helaas word uitgewis en die leser, soos Eco ons
leer in The role of the reader, moet dan ekstrapoleer oor die implikasies
hiervan. Die verteller merk op: “You read any old story as a child, and you
cultivate it in your memory, transform it, exalt it, sometimes elevating the blandest
thing to the status of myth”. Dit is die sentrale punt waarom hierdie hele roman wentel.
Dit is ‘n uiters erudiete teks, soos die
leser kan aflei, en een wat gemaklik en vlot lees, maar onder draai die duiwels
rond. Sommige lesers mag voel dat dit verliteratuurd is en dat die leser
letterlik van die een aanhaling of vinjet na die volgende beweeg. Vir die leser
wat egter geduld aan die dag lê en bereid is om die speurwerk saam met die
hoofkarakter te maak, is dit ‘n fassinerende en opwindende leeservaring. Dit is
vir die teoretikus ‘n lonende ervaring om te sien hoé die skrywer en
narratoloog-cum-semiotikus se sieninge bots èn aansluiting vind.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Volksblad geplaas.]