Showing posts with label Elize Botha. Show all posts
Showing posts with label Elize Botha. Show all posts

Saturday, September 23, 2017

Resensie | Elize Botha - Gespreksgenoot. ’n Brieweboek (samest. Heilna du Plooy, 2017) | Deel II

Elize Botha - Gespreksgenoot: ’n brieweboek (Samesteller: Heilna du Plooy). Litera Publikasies, 2017. ISBN: 9781-920188535

D E E L  II

In hierdie ryke versameling van briewe, staan ons vervolgens stil by ‘n paar briewe wat vir hierdie leser tot nadenke gestem het. Elize Botha was ‘n gespreksgenoot vir vele uiteenlopende mense binne die literatuur. ‘n Jong M.C. Botha vra haar om raad en sy gee dit. Sonder omhaal van woorde – met respek vir sy werk wat sy toe reeds eien as besonders. In hierdie briefwisseling beleef die leser persoonlike krisisse wat nie by die naam genoem word nie, maar wat die jong M.C. optel. Elize wens hom voorspoed toe met sy voorgenome huwelik en drink vele glasies op hom.

Waarskynlik is die briewe van Jeanne Goosen stukke waarna ‘n mens by herhaling gaan terugkeer. Dis vintage-Goosen, huiwerend tussen surrealistiese waarnemings en suiwer poësie.

‘n Mens huil van die lag oor die verhaal van ‘n man wat by gebrek aan aas met ‘n liddoring vis vang!

Hierdie is ‘n inloer in Goosen se kreatiewe denke. ‘n Mens sien byvoorbeeld hoe sy Om ‘n mens na te boots gekonstrueer het. Waarnemings wat deur die fantasie omgetower word.

“‘n Mens is darem vreeslik absurd – dis nou as jy nie die slag ‘n mens naboots nie.”

Sy vertel van haar vleuelklavier (en Goosen kon vertolk) wat haar verwyt, omdat sy nie meer op hom speel nie (570). Sy voel sy is nie opgewasse vir hom nie.

Hierdie briewe is tydsdokumente. Koos Prinsloo skryf oor Jonkmanskas en van die grens af. Hierby is daar ‘n brief ingesluit van Victor Munnik. Ons verneem van die tragiese dood van Helena Stark – ‘n karakter in ‘n Prinsloo-verhaal – en van Renske Koen se ongeluk, ‘n hartsvriendin van Elize Botha. Vir my ‘n stuk ellende wat hier onverwags terugkeer, omdat ek die vooraand van hul dood by hulle gekuier het en die volgende dag in die koerant dit op straat gelees het …

Hieroor skryf ek ‘n gedig in Bitterlemoene.

Stephan Bouwer se rou brief aan haar – die rou dinge waaroor ‘n mens net kan stotter (601).

Nog ‘n skrywer wat “tannie Elize” skryf, is Fanie Naudé wat vanuit Londen as buitestaander kommentaar lewer op Bram Fischer en die taalbeleid. Hy staan krities teenoor Chris Brink se taalbeleid (598).  En hoe ironies klink sy woorde op in dié brief: Alhoewel, wie weet, as ek eendag vir ‘n ruk die geleentheid kry om behoorlik te konsentreer op skrywe, kan ‘n mens dalk tog iets daarvan maak” (600). Ek sou wat wou gee om Elize Botha se hantering van die Walter Benjamin-gegewe in die manjifieke Die derde spoel te lees!

Ons sien o.a. hoe komplimenterend is Leroux oor haar raaktasting van Onse Hymie en die aard van die entertainment en satire (via Graham Greene).

In latere jare was dit dan ook een van my verskilpunte met Elize Botha, oor die komplekse voertaalkwessie aan die Universiteit van Stellenbosch. Maar vriendskappe moet verskille en anti-teses kan akkommodeer. Ek onthou ‘n besoek aan haar in die hospitaal, sowat ‘n tweejaar voor haar dood. Ons het toe sterk verskil.

Sy bedank vriende deurgaans vir ondersteuning – soos die uitgewer Marietjie Coetzee – en in ‘n brief aan Heilna du Plooy (608) word ‘n brief ‘n meta-refleksie oor presies dit wat hierdie boek doen: die insameling van perspektiewe en verskillende benaderingswyses …

Tussendeur is daar skrywers wat na vore kom: Margaret Drabble, Anita Brookner, Seamus Heaney …

Op ‘n keer het Elize Botha ou uitgawes van Times Literary Supplement en New Yorkers vir my persent gegee – wat ek steeds bewaar …

Hennie Aucamp word telkens erken as ‘n rigtinggewer: “Terwyk ek lees het ek weer só sterk ervaar hoe begunstig ek deur baie jare was, om in voeling te kon bly met jou werk en denke, hoe rigtend en inspirerend dit in my voortgewerk het”(633).

Dis dan ook Aucamp wat raaksien dat die essay by uitnemendheid Elize Botha se uitdrukkingsvorm is!

Onvoltooide gesprekke, maar genadiglik gesprekke wat deur ‘n kundige en fyn leser soos Heilna du Plooy versamel is.

Die boek sluit dan af met ‘n kort nota van Hennie Aucamp op 7 November 2007:
Liewe Elize
Ek stuur gedagtes en gebede na jou toe uit. Jy was dikwels die sentrum van die groot gebeurtenisse in my lewe, en hiervoor sal ek jou altyd dankbaar bly. Hennie
© Joan Hambidge

Monday, September 18, 2017

Resensie | Elize Botha - Gespreksgenoot: ’n brieweboek (samest. Heilna du Plooy, 2017) | Deel I


Elize Botha - Gespreksgenoot: ’n brieweboek (Samesteller: Heilna du Plooy). Litera Publikasies, 2017. ISBN: 9781-920188535

D E E L  I

I

Hierdie is dan my eerste en persoonlike reaksie.

Só word die brieweboek van Elize Botha bemark:

Hierdie lywige bundel van sowat 700 bladsye is deur Heilna du Plooy saamgestel uit briewe van Elize Botha en verskeie skrywers en ander bekendes. Skrywers en digters soos Audrey Blignault, Hennie Aucamp, NP van Wyk Louw, Elisabeth Eybers, Lina Spies en baie ander het met Botha gekorrespondeer. Party briewe is diep ontroerend, ander laat jou hardop lag en ‘n klompie lees jy herhaaldelik om die besonderse insig daarin. Die briefskrywers skets die klein en groot gebeure in hulle lewens, deel hul menings oor boeke en mense en vertel van die dinge wat hul lewens moeilik of vreugdevol maak. Dit is ’n intieme teks wat by baie lesers byval sal vind.

Op die voorblad is daar ‘n foto van ‘n jong en mooi Elize Botha, met daardie bekende handtekening. Agterop ‘n foto van die ouer, meer beleë kanselier.

Hoe beskryf ‘n mens Elize Botha, een van ons grootste prosa-lesers en fynste stiliste?

Op ‘n keer is daar na haar – ietwat sardonies – verwys as die boegbeeld van die Afrikaanse letterkunde. Haar lewe van 1930 – 2007 is gekenmerk deur groot vriendskappe en lojaliteite. Van Van Wyk Louw, die Oppermans, Audrey Blignault, Alba Bouwer, Etienne Leroux, T.T. Cloete, J.C. Steyn …

As jong student begin ek ‘n MA by haar. En daarmee saam het ‘n kosbare lees-vriendskap begin.

Die uitgebreide feesmale aan’t huise in Colbynstraat was soos gister; later in restaurante toe sy dikwels moes reis om haar verpligtinge as voorsitter of komiteelid na te kom.

Op ‘n keer bring Elize (ek het haar altyd formeel (en met respek) as doktor aangespreek totdat sy op ‘n keer my versoek het om haar Elize te noem) vir my die jongste Saul Bellow van ‘n oorsese reis: The dean’s December.

Op ‘n keer koop ek vir haar, op versoek, George Steiner se roman The Portage to San Cristobal of A.H. (1981) op ‘n reis in die buiteland.

En sowel Bellow as Steiner is vir hierdie bespreking ter sake. Bellow se onvergeetlike brieweboek is meer as briewe. Dit is ‘n kroniek van ‘n briljante skrywer, intellektueel, gesaghebbende – en ook mens. ‘n Mens sien sy humoristiese kant in briewe aan Philip Roth en wat hy maak van Hannah Arendt. Jy sien sy verhoudings met sy kinders, sy geliefdes, sy donker kant. Dit heet Saul Bellow – letters (Penguin, 2010).

In ‘n laaste brief aan my (daarna was daar vele telefoongesprekke en boodskappe op my antwoordmasjien, veral die laaste een het ek bewaar) verwys sy na Steiner se lesing aan die UP: "Around a table we will take a text, no critics, no secondary journals, no critics of criticism … we’d learn to read it together again …” (14 Januarie 2001).

Hierdie brief was lank soek en daar ontdek ek dit een middag in ‘n laai saam met ‘n brief van Eybers aan my. Ek skandeer dit dadelik en stuur dit vir Heilna vir opname.

Dit inspireer my ook om ‘n gedig vir haar te skryf na haar kommentaar op my Louw-vers in Lykdigte:

Elize Botha (1930 - 2007)

    Shatter your leaves before the mellowing year.
    Bitter constraint and sad occasion dear
    Compels me to disturb your season due ...
   
    Milton

Gyselaar van sentimentaliteit,
tipeer jy jouself speels in 'n brief
aan my op 14 Januarie 2001 gestuur.
Jou stem bewaar ek steeds digitaal
op 'n moderne antwoordapparaat.
Oor die lotgevalle van 'n gedig
- wat weggeneem word, wat bykom -
skryf jy insigryk in jou mooi handskrif.
Jy dink na oor George Steiner:
"Around a table we will take a text, no critics ..."
Vannag kyk ek na jou dubbellees, 'n keerweer,
van 'n lykdig oor jou mentor in Amsterdam.
Agter die sigwaarde van 'n gedig
kon jy inkyk en hierdie variant
van afskeid én erkenning, 'n eulogie ja,
laat my wonder oor toeval en toeverlaat:
'n brief uit Amosstraat 34, Colbyn 0083,
herversend deur die Posman van AllesWeet.

III

My M.A. onder haar begeleiding het ironies genoeg gehandel oor Die ek-verteller in die belydenisroman. En dit is hoe ‘n mens hierdie brieweboek moet benader: as belydenis, konfessie – maar uiteraard die ingeboude aspek van die belydenis is ter sprake. Daar is ‘n toehoorder (aanhoorder) aan wie die brief gerig word met tegnieke wat beheer, selfs afstand, impliseer. Hierdie “naked I” verdoesel dikwels meer as wat sy bely deur tegnieke van ironie en die bybring van tekste. En ‘n brief moet binne ‘n bepaalde tydsgewrig gelees word. Só beskou, is dit dan ook ‘n dokumentasie van ons taal en letterkunde.

Daar is geweldig baie te waardeer uit hierdie boek. Ek onthou hoe sy vir my as jong student gedigte wys van ‘n onbekende digter, opgeneem in Tydskrif vir letterkunde.

“Dis fantasties!”, roep ek uit.
“Dink jy ook so?”, vra sy. Later sou ek uitvind dat die skuilnaam T.T. Cloete was.

Deur die jare was daar ontmoetings – dikwels by glansgeleenthede – waar sy ‘n boekprys moes oorhandig. Op panele was sy ‘n sterk teenwoordigheid – wat dikwels teen die mode van die tyd sou argumenteer vir die sterker letterkundige teks.

Vandag gee ek haar gelyk vir tweekeer wat ek saamgesleep is deur die tsoenami van ‘n “gewilde” keuse wat by nabaat iets verraai van die tyd. Maar hierdie toekennings is altyd ‘n stuk werklikheid wat skrywers daaraan herinner dat pryse subjektief is en deur die tyd bepaal word.

IV

Watter briewe sal ‘n mens bybly?

Sy noem haarself ‘n beroepsleser, selfs verminderend ‘n amateurleser. Dit was sy nie. Elize Botha kon Etienne Leroux lees; ook Opperman. In haar brief aan wyle Paul Cilliers, die filosoof,  artikuleer sy hoe onderdele / sitate in ‘n teks “geartikuleer” moet word na aanleiding van sy intreerede. [1] Haar sieninge in navolging van die werk onder Louw en die impak van Hellinga en Scholtz se Kreatiewe analise van taalgebruik (620).

Hier verduidelik sy haar sensibilities en die impak van T.S. Eliot op haar denke.

Hierdie gesprek tussen twee intellektuele karteer Elize ten beste. Afgerond, stilisties in beheer, immer bereid om in gesprek te tree. Hierom is ‘n Festscfrift aan haar tereg benaam as ‘n Lewe in woorde. In die inleiding beklemtoon Heilna du Plooy dat briewe wel ‘n vorm van literatuur is, maar dat dit eerder nader aan die lewe lê in die onafgerondheid daarvan. “Die brief is uiteraard meer soos die lewe self, vol onnodige detail en ‘n bietjie rommelrig omdat dinge herhaaldelik gebeur en herhaaldelik vertel word, omdat belangrike dinge soms verswyg word en ander per ongeluk weggelaat word “ ( xviii).

Die gesprekke tussen haar en Hennie Aucamp wys hoe twee meester-stiliste op gebeurtenisse reageer.

Elize Botha se belangrikse bydrae, afgesien as haar posisie as ‘n eerste vrou op soveel vlakke, is nie alleen tot die prosa nie, maar veral tot die essay. [2] Daardie kort prosa-stuk rondom ‘n lewenswaarheid. Vele van hierdie briewe is essayisties in aanbod.

Haar eensame jeug het waarskynlik haar gesprekke op papier voortgedryf, maar diegene wat haar geken het, weet ook: Elize Botha was ‘n gewer, ‘n óm-gewer.

‘n Paar maande voor haar dood, bel ek haar op. Die pers begin stories skryf (en aas) oor haar naderende dood.

Ek prys haar oor haar pragtige essay wat sy geskryf het oor Doris Lessing wat die Nobelprys gewen het.

“Hoor hier, Joanie. I am still hanging in here.”

Dit was Elize. Sober. Eerlik. Wat ‘n mens. Wat ‘n literator.

(Word vervolg)

Endnote:
1.     Cilliers vereer ek in ‘n gedig in Lot se vrou.
2.     Elize Botha was op soveel vlakke ‘n eerste vrou: Voorsitter van die Akademie, Kanselier, eerste vroulike van die Direksie van Nasionale Pers.

© Joan Hambidge