Graeme Reid & Liz Walker (Reds.). Men
behaving differently. South
African Men Since 1994. Double Storey Books, 2005. ISBN 1 919930 98 1.
Resensent: Joan Hambidge
Een van die belangrikste verskuiwings in ons samelewing
is dat die orde van die patriargie voortdurend onder skoot kom. Die sogenaamde
wit man se regte en voorregte het die afgelope paar jaar verdwyn. Die
feministiese beweging het in die sestigerjare in die VSA die ruimte geskep vir
gay-mense om hul vryhede op te eis en die posisie van die wit man hier te lande
het ook dramaties verander. Ek onthou jare gelede toe ons kantore moes skuif,
het ‘n manlike kollega sonder ironie opgemerk dat die mans eerste kon kies
watter kantore hulle sou wou betrek. Op ‘n ander vlak het ‘n geskeide vriendin
vir my vertel hoe ‘n vry man (met die hulp van sy suster), ‘n paar jaar gelede,
‘n geselligheid gereël het om kandidate vir hom byeen te bring sodat hy kon
kies en keur uit die gewilliges! In manskoshuise, in my dae, was daar ook lyste
op badkamermure waarop damesstudente se bates, gewillighede en dies meer
aangebring is deur die brekers.
Aan universiteite veral het gelykgheidsforums geweldig
baie vermag om die posisie van die sogenaamde ander of minderheid te versterk
en hersien. Die posisie van die wit man is in ons land eweneens kompleks, omdat
magsveranderinge ook op ‘n taal- en rasvlak gevoel kan word en nie alleen binne
genderdiskoerse opvallend is nie. Maskuliniteite is dan tans ‘n rigting binne
genderstudies, net soos gay-regte of feminismes.
Graeme Reid & Liz Walker se studie Men behaving differently is hierom ‘n
tydige en uiters belangrike studie omdat die skrywers vanuit sosiale
wetenskappe hierdie problematiek aanpak en problematiseer. Die letterkunde op
sy beurt, spreek ook hierdie kwessies aan op eerlike manier. Die verskuiwende
orde moes bepaald ‘n impak gehad het op manlike gedrag in ‘n samelewing waar
die kodes snel verander. Selfs in James Bond-films word 007 deur M, nou ‘n
vrou, ter take geneem oor sy seksuele gedrag.
Reid & Walker stel verskeie mense aan die woord,
manlik en vroulik, oor sowel wit as swart-persepsies oor manlikheid. Boonop is
die navorsers sowel Suid-Afrikaans as buitelands.
Robert Morrell wys tereg op die gevaar van hierdie soort
studie: dat dit mans se posisie op ‘n nuwe wyse die oorhand kan laat kry oor
vroueregte. Juis hierom word daar uiters versigtig geteoretiseer oor mans en
hul verminderende regte binne ‘n wêreld waar Vigs seksualiteit herdefinieer en
o.a. verkragting binne die huwelik strafbaar is. Tereg werk almal met
maskuliniteite, die konsep in die meervoud, om verskillende posisies en regte
aan te spreek tenoor feminismes.
In post-apartheid Suid-Afrika het seksualiteit en al sy
misdrywe (o.a. kinderverkragting) meer publiek geword. Die morele krisis is dan
vir Deborah Posel ook ‘n krisis in manlikheid: die verkragter is dikwels ‘n
bekende of familielid. Niks is meer ‘n geheim nie en die ‘interne struktuur van
seksuele geweld’ word openbaar gemaak deur klagtes, uitpraat. Posel noem dit
dan tereg die “politiek van belydenis”.
Vervolgens dan enkele punte rondom hierdie studie.
“”Baby-rape’: unmaking secrets of sexual violence in post-apartheid South
Africa” deur Posel verduidelik iets omtrent die angs, onsekerhede en
problematiek in ‘n gemeenskap van transisie.
Waarskynlik is een van die insiggewendste bydraes dié van Isak Niehaus
(“Masculine Domination in Sexual Violence”) waarin die outeur in die nawoord
beken dat die inligting skokkend en inkriminerend is, maar dat hy dit nodig ag
vir publikasie ter wille van akademiese vryheid.
In sy analise van verkragting
binne ‘n tradisionele agtergestelde gemeenskap of die ou tuislande, beklemtoon
hy eweneens die belang van ‘n komplekse model. (Hierdie stuk het my werklik
ontstig, al het dit ‘n mens se oë oopgemaak. Die vertelling van George en
Lindiwe is hartverskeurend.)
Vigs en die sosiale probleme rondom hierdie siekte word
geanaliseer in Mark Hunter se “Multiple-Partners in KwaZulu-Natal”. Hunter
slaan die spyker op syn kop waneer hy o.a. wys ook op die teenstrydige rol wat
die kerk nou vertolk binne sodanige gemeenskappe. Hy help die leser om te
begryp wat die isoka (Casanova in isiZulu) behels en in welke mate die ou
tradisie en nuwe wêreld met mekaar bots. Mites oor homoseksualiteit binne die
swart gemeenskap word ook aangespreek (Marc Epprecht) en swart-gay-lewens
onthul in Ermelo (Graeme Reid).
Moontlik is die belangrikste bydrae van hierdie studie
dat dit persepsies en wanopvattings histories en polities verduidelik téén die
agtergrond van verskuiwende wêreldvisie. Hoe word grense getrek?, vra Liz
Walker. En ja, dit is waarskynlik waar dat swart mense eerliker praat met
buitelandse navorser.
Een kritiek: die indeks is onvolledig. Die leser moet dan
dikwels terugkeer na die afsonderlike artikel om iets van Patrick Harries of
Zackie Achmat te kontroleer. Tina Sideris kyk as feminis na mans en sy is
hoopvol oor die veranderinge wat alreeds plaasgevind het.
Dit is baie belangrike publikasie wat uiters verhelderend
is oor die politieke en sosiale veranderinge in ons gemeenskap en ‘n studie wat
hoort op elke genderteoretikus se rak. Méér nog, dit hoort op die boekrak van
almal wat iets probeer verstaan van ons diverse kultuur in ‘n tyd van oorgang.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van nnn geplaas.]