Ivan Vladislavic. Portrait with Keys: Joburg
& what-what. Umuzi, 2006. ISBN 978-1415200209.
Resensent: Joan Hambidge
Skrywers se verhoudings met
stede bly altyd fassinerend. Trouens, daar is al ‘n biografie oor ‘n stad
geskryf: London deur Peter Aykroyd.
‘n Groot skrywer kan ‘n stad só helder beskryf en opsom dat die reisiger altyd
deur die oë van die skrywer na die stad sal kyk. My ervaring van Tokio is vir
ewig deur Roland Barthes se Empire of
signs bepaal. Soos ‘n oordeel wat oor my uitgespreek is, het ek – soos Barthes
gewaarsku het – verdwaal in die stad sonder straatnommers of aanwysings. Pablo
Neruda het die verlore Inka-stad, Machu Picchu vir my aangebied.
William Leap, die bekende
Amerikaanse antropoloog, karteer Kaapstad vanuit ‘n gay-perspektief. Die
“mapping” van die stad se ondergrondse lewe van gays wat snags mekaar in klubs
ontmoet, is vir die nie-gay-persoon dikwels ‘n openbaring.
Nou is dit die bekroonde
Ivan Vladislavic se beurt om Johannesburg vir ons te karteer. Egoli. Die stad
van mynhope en wanhoop. Tereg is ‘n motto uit Michel de Certeau:”Haunted places
are the only ones people can live in”.
Vladislavic se teks word in
twee afdelings uitgebou: Punt A & B. Tussenin trek hy ‘n lyn van sien en
onthou. Hierdie kragtige teks het my herinneringe vloediglik oopgemaak oor my
jeug in Pretoria: trappe van ou vestings, die reuk van geboue op Kerkplein en
hoe ek as jong kind op ‘n balkon by my pa se werk gestaan en kyk het na die
stad.
Met Johannesburg (TJ op die
nommerplaat) as ‘n vreemde, “gevaarlike” stad. En die skrywer neem ons dan deur
die hellevaart van die hedendaagse Jo’burg van geweld, verkragting, moord wat
aan hierdie teks – ‘n soort skrywerskladboek – die tekstuur van paranoïa gee.
Dit is ‘n besondere blik op ‘n stad van welvaart en armoede. Verskoppelinge en
ontwerpers van die nuwe-Suid-Afrika.
Die boek (dis nie ‘n roman
nie; ook nie essays nie; beslis nie kortverhale nie) werk met die beeld van die
“pentimento”, oftewel: dáár waar die skilder verander en oorgeverf het. Lillian
Hellman het dit as metafoor gebruik vir haar memoires: die ooreenskakeling van
die nou met die verlede.
Om te kyk en weer te kyk...
(p. 92).
Stede hét persoonlikhede. En
die mensgemaakte, bar Johannesburg vang die skrywer goed vas. Mynhope in plaas
van heuwels, laat hy ons weet. En, hier word alles sommer vanself verander; ons
wag die veroudering nie af nie. Coke word deur Vodacom verander op ‘n
reuse-plakkaat.
Daar is ongelooflike
passasies in hierdie boek: ‘n onderhandeling met ‘n hawelose; ‘n interaksie met
diewe; ‘n partytjie met ‘n joernalis wat ‘n vals sleutel aan haar bos sleutels
ontdek en dan van almal interpretasies afwag vir hoe dit gekom het dat die
sleutel in haar besit is...Hiermee aktiveer hy dan die stadslegende wat in
stede van paranoïa lewe kry.
Daar is inspelings op
Dickens, Lionel Abrahams, Canetti en Certeau se The Practice of Everyday Life, o.a.
“Johannesburg is a frontier
city, a place of contested boundaries. Territory must be secured and defended
or it will be lost” (p. 185).
En hoé die mense hulle
verdedig, is veelvoudig. Skryf is vir hierdie outeur ook ‘n wyse waarop hy
heinings opstel en wéér afbreek.
Of die tomason (Akasegawa se
term): die roerlose, vergete objek waarvan ons al vergeet het waarvoor dit eens
bedoel is (p. 175).
Ons beleef plekke van simboliese
waarde: waar Herman Charles Bosman gebly het (vir die meeste mense vergete) of
David Webster geskiet is.
Skrywers se herinneringe
word ons s’n – net soos Ivan Vladislavic se waarnemings ons s’n geword het by
die lees van hierdie boek. Die konkreetheid van onthou.
Die boek is in ‘n sirkelgang
geskryf en ons beleef iets van die wandelaar, die ewige flâneur in die teks.
(Die Moëbius kom voor die oog.) Roland Barthes deur Roland Barthes kom sterk na vore in my geheuespel: ‘n
outobiografiese-biografie.
Dis ‘n uitmuntende boek, ‘n
leesplesier. Dit verdien wye en indringende aandag.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Volksblad geplaas.]