Showing posts with label A.N. Wilson. Show all posts
Showing posts with label A.N. Wilson. Show all posts

Friday, March 8, 2013

A.N. Wilson - Iris Murdoch as I knew her (2003)



A.N. Wilson. Iris Murdoch as I knew her. Hutchinson, 2003. ISBN 0 09 174246 3.

Resensent: Joan Hambidge

In die pragfilm Iris (met Dame Judy Dench en Kate Winslett) word die merkwaardige lewe van die skrywer-filosoof, Iris Murdoch goed verbeeld. Ook die biografie – huldeblyk? – van haar man, John Bayley, ‘n gesiene Engelse literator is aan ons bekend.  A.N. Wilson se biografiese studie-cum-‘roman’ is soos Janet Malcolm se studie oor Sylvia Plath, ‘n priemende blik op die komplekse figuur Murdoch, ‘n Alzheimer-lyer. Wilson het bekendheid verwerf as ‘n bekroonde romanskrywer en sy omstrede studies oor Jesus en Paul.

Laat ek dit duidelik en onomwonde stel: ek is ‘n groot bewonderaar van haar as filosoof en haar studie oor Sartre is werklik uitstaande en ek ken min romans wat so knap en onderhoudend geskryf is as The Sea, the Sea. (Mense verskil van my en ‘n gesiene literator kon nie verstaan waarom sy hierdeur moes worstel nie.) My soort romanskrywer is sy: ‘n storieverteller wat haar verhale met ‘n sterk filosofiese stramien laai.

Wilson was gevra deur Iris Murdoch om haar biograaf te wees. Hy het Iris Murdoch en haar eggenoot baie goed geken. Hy spaar egter nie die roede nie. Die eerste mite wat hy ontluister, is dat die eggenoot altyd Iris Murdoch ondersteun het. Dit is duidelik dat daar dikwels sprake van professionele jaloesie was. Die tweede mite wat hy ook prik, is dat haar man haar seksuele aktiwiteite kon verduur. Haar seksuele aptyt – met beide geslagte – het tweekeer die huwelik byna laat wankel. Wilson insinueer ook dat sy ‘n komplekse seksualiteit gehad het: in haar fantasie-lewe het sy haar haarself as ‘n manlike homoseksueel ervaar. 

Die derde (en belangrikste) mite is Murdoch se liefde vir die waarheid. Dit is ook uit hierdie studie duidelik dat sy haar eie fiksionele werklikheid geskep het ten einde te kon oorleef. Haar nederige afkoms en latere roem het gemaak dat sy uiters gesteld was op haar Dame-status en dat sy nie daarvan gehou het as mense haar herinner het aan haar verlede nie. Was sy werklik wat sy voorgegee het om te wees?

Wat duidelik uit hierdie studie na vore kom – wat die skrywer karteer as sy subjektiewe blik op haar – is dat sy briljant was. En dat fiksionele skrywers dikwels slordig met feite omgaan. Haar eiesinnige manier van doen, het egter ‘n briljante skrywer en filosoof opgelewer. En dit is uiteindelik al wat saakmaak. Tog sou iemand beswaar kon maak dat die Professor van Moralisme so kon lieg! Tog is haar verhoudings met vriende en eks-geliefdes uiters openbarend (o.a. met Canetti). Sy het met almal altyd goeie verbintenisse probeer behou.

Ons word dikwels van persoonlike inligting voorsien – soos dat Iris vuil was en dat haar en Bayley se huis ‘n varkhok was – wat miskien vir die ‘puur’ leser onaanvaarbaar mag wees. (Dit word egter reeds in die film uitgebeeld.) Dit is egter myns insiens noodsaaklik om alles te vertel ten einde die volle prentjie te kry. Wilson gee sy perspektief op sake en stel dit ook onomwonde: dit is hoe hy dit sien. Hierom dat hy waarskynlik van ‘n soort tussenvorm gebruik maak, te wete ‘n soort biografiese-gesprekvorm waarin hy self dikwels as ‘n ‘ek’ optree. 

Wat besonder goed vir die leser verbeeld word, is die Britse klassesisteem en snobisme. Ook die gesprekke aan ‘high table’ aan Oxford verhelder die prentjie. Klein dwarsklappies na die sisteem (soos dat die don uitgaan, maar sy vrou, self ‘n gesiene akademikus, moet die kinders versorg), word ook uitgedeel. Sosiale kodes word betrek (rondom oop en toe deure). Drank speel ‘n belangrike rol in die lewens van hierdie intellektuele wat dikwels mekaar vermaak met intellektuele speletjies. Daar word geskinder oor Hugh Grant wat partytjies bygewoon het en ‘n vriend se obsessie met hom en hoe Iris Murdoch gereageer het op kritiek. Sy wou dikwels nie ‘n redakteur toelaat om haar romans te redigeer nie, sodat flagrante feite foute die roman ondermyn het.

Ook A.S. Byatt se beswaar dat sy nooit werklik groot romans kon skryf nie, word bygehaal. Wilson wys tereg op die ‘lawwe’ aspek van haar romans, of dat ‘n vertelling dikwels vaart verloor. Ook bely hy hoe by geleentheid gedink het dat hy ‘n karakter in ‘n roman is en met stiplees besef het dat fantasie wel ‘n rol gespeel het in die proses. 

Hoe jammer meen Wilson dat die assosiasie met Alzheimer se siekte vir die meeste mense die belangrikste attribuut van Iris Murdoch geword het en dat die romans dikwels vergete raak.

Waarskynlik is die portret ietwat ontluisterend. Maar dis mos hoe dit gebeur: kort na die dood die huldeblyke en ophemelings; hierna die die dekonstruksie en karaktermoorde en jare later, as almal wat die persoon geken het reeds dood is, die ewewigtige en regverdige  verslae.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Rapport geplaas.]

Tuesday, February 26, 2013

A.N. Wilson - A Jealous Ghost (2005)



A.N. Wilson. A Jealous GhostRandom House, 2005. ISBN: 0 09 180020.

Resensent: Joan Hambidge

A. N. Wilson het ‘n loflike kommentaar op sy jongste roman se buiteblad van Anita Brookner wat na hom verwys as ‘n hipnotiese storieverteller. Sy uitmuntende biografie oor Iris Murdoch het hom gevestig as ‘n biograaf van formaat en in 1992 het sy topverkoper Jesus, en die opvolg Paul, vir ‘n letterkundige opskudding gesorg. Ook sy studie oor The Victorians (2002) verdien vermelding.

Sy jongste roman (ek ken nie The healing art nie, terloops) A Jealous Ghost is ‘n teks wat sterk letterkundig en intertekstueel werk. Die hoofkarakter, Sallie Declan, is ‘n jong Amerikaner wat haar in Londen bevind. Sy is geobsedeer met Henry James se The turn of the screw waaroor sy haar doktorale tesis skryf. Ten einde finansieel te oorleef, moet sy ‘n “nanny” word. Vir die leser van James se werk wat altyd handel oor vreemdelingskap of ‘displacement’, is die skrif reeds aan die muur wanneer ons lees dat sy ‘n Amerikaner in Londen is. Die verwysing na The turn of the screw laai die gegewe oor die goewernante in James se teks nog verder. Trouens, hy insinueer dat hierdie vertelling ‘n botsing uitbeeld tussen die bo-natuurlike en kinder-seksualiteit. ‘n Moderne skrywer sou binne ons samelewing waarskynlik ook die pedofiliese implikasies verder uitgebrei het. Maar juis omdat James hierop sinspeel, word dit ‘n krag in die roman.

Wilson laai ook sy teks met verwysings na letterkundige teorie, soos onder andere die verwysings na Foucault, Tordorov en Roland Barthes. Die ingewyde ken ook die psigoanalitiese lesings van What Maisie knew. Nie alleenlik betrek hy dus narratologiese studies nie, maar ook ingewikkelde psigoanalitiese tekste wat die vertelling problematiseer en daaraan ‘n meta-kwaliteit verleen.

Die belangrikste vraag is natuurlik altyd wanneer ‘n teks sterk toespelings maak op ‘n bekende teks of  klassieke skrywer se komplekse oeuvre is of die nuwe teks in die eerste instansie so geslaagd of pakkend is as die eerste. Of is dit gewoon om met ‘n ander man se kalwers te ploeg?

Die tweede vraag, wat net so belangrik is as die eerste, is of die teks enigsins sal sin maak as ‘n mens nie bekend is met Henry James-kodes of nog nooit verfilming van onder andere ‘n James-roman gesien het nie? Selfs in die films word die belangrikste kodes van James se tekste goed opgevang.

Die derde vraag is of die Wilson-teks daardie spanning en verwysing na die “unheimliche” (in Freud se terme) kan volhou? James het immers in hierdie teks daarin geslaag om ‘n spel met die bo-natuurlike te beheer en die skokkende einde van die verhaal word selde deur skrywers geëwenaar. Trouens, ‘n mens keer terug na die vertelling ten einde die tegnieke van voorbereiding op die skokkende slot weer raak te lees. Ook lees jy Wilson weer: presies waar insinueer hy dat die hoofkarakter Sallie Declan (decline) van haar klippers af is? En waarom raak sy so geobsedeer met haar baas?

Wilson se verhaal is dan ‘n modernisering van James, gedoen op ‘n behendige en pakkende wyse.

Baudrillard se teorie van “hyperreality” word gebruik om die James-teks verder te problematiseer. Ons lees wat die promotor dink James in gedagte gehad het en waarom ons, na die kind se dood, nie terugkeer na die vriendekring nie. Die promotor meen dat James sélf in sy notaboeke geskryf het dat hy daardeur die spanning en vrees wou versterk, terwyl die jong student dit natuurlik as biografiese trivia sien (p. 53). Háár outobiografie en verwysing na ‘n insident waar sy ‘n jong kind beseer het tydens ‘n babawagter-sessie, word juis hierdeur verïroniseer, omdat sy by die teks, net by die teks voorhande wil bly. Barthes se S/Z speel dan ook hier in, waarin gesuggereer word dat ons deur te lees ons eie vertelling as’t ware skep.

Maar sy ken letterkundige teorie, nie letterkunde nie. Ook nie politieke verwysings nie. Haar onkunde oor Garibaldi is ‘n aweregse grap en bewys die opvatting van letterkundiges uit die ouer skool waarskynlik reg dat mense dikwels meer oor boeke lees, as wat hulle van die ware letterkunde weet. Wat immers ook ‘n ironiese obiter dictum word vir Wilson se doen-en-late: hy teer immers op ‘n ander teks!

Die verskil tussen Henry James se gesofistikeerde hantering van die bo-natuurlike en die Harry Potter-reeks se meer populistiese siening van dieselfde onderwerp, word ook vernuftig betrek.

In Henry James se roman werk alles op suggestie. Dis ‘n verhaal van spoke en kontak met die bo-natuurlike; by Wilson ervaar ons die tragiese ineenstorting van wat in die moderne sielkunde as ‘n “border-line”-persoonlikheid beskou sal word.  (Sallie het ‘n seksaversie en verwys hierna as B.L., “between the legs”. ‘n Kode dus vir die “border line”-geval.)

Dit is ‘n skitterende roman. Gewoon net as verhaal, maar ook as metakommentaar én teoretisering van die oorspronklike verhaal, The turn of the screw, verdien dit lof. Anita Brookner, daardie ánder onbekroonde meester van die onderstelling, het gelyk. Die roman is 186 bladsye lank, maar wanneer ‘n mens James en die notaboeke by lees, ook die opera van Benjamin Britten betrek, ‘n langer en komplekser teks.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Sunday, February 17, 2013

Henry James deur die oë van ander – Deel II

Henry James (c) John Singer Sargent

Henry James – The Creative Process van Harold T. McCarthy het in 1958 verskyn. Dit is ‘n fassinerende studie oor die meester wat tans deur verskeie bekende en groot skrywers in biografiese romans of gewoon net in gefiksionaliseerde romans, beskou word. Michel Heyns se The Typewriter’s Tale staan nie ‘n duit terug vir die Britse of Ierse beskouings oor James nie. Inteendeel.

Sy teks is waarskynlik sterker as Lodge se Author, Author.

In dieselfde jaar as Lodge se roman, verskyn die kragtige bydrae van Colm Tóibín.

Die eerste vraag is: het hierdie skrywers van mekaar kennis geneem? En is dit tersaaklik of nie?

Die leser kry telkens ‘n nuwe blik op die figuur Henry James: beskou vanuit die perspektief van ‘n fiksionaliserende outeur.

Selfs al is daar van mekaar se tekste kennis geneem, is dit steeds elke ervare skrywer se blikhoek op die komplekse figuur, Henry James. Lodge byvoorbeeld, wend o.a. James se tegniek van binnestroom aan, terwyl daar by Tóibín eweneens sprake is van die binnespraak.

By Lodge word die jaloerse verhouding met Oscar Wilde uitgewerk, omdat James se drama Guy Domville misluk. (Die drama is op 5 Januarie 1895 opgevoer). Vanweë sy komplekse psige en sy vrees vir intimiteit, vind hy Wilde se gedrag aanstootlik en die openbare hofsaak en verguising van Wilde se homoseksualiteit steurend. Tóbín in The Master egter skep ‘n toneel waar ‘n kortstondige aanraking met ‘n man wel moontlik sou wees. By Heyns is daar ook verwysings na die Wilde-saak in gesprekke tussen karakters.

Al wat hierdie drie romans gemeen het, is dat al drie skrywers hul enorme navorsing en kennis kreatief aanwend om meesleurende romans oor die meester, Henry James te skryf.

(In die nawoord van The Master erken die outeur dat hy kwistig Henry James-uitsprake rondgegooi het en Etienne Britz wys ook in welke mate Michiel Heyns se taal deur James beïnvloed is. Sy resensie, wat ek nie op Die Burger se webruimte kon vind nie, is goedgunstiglik aan my versend deur die boekeredakteur.)

A.N. Wilson se A Jealous Ghost aktiveer nie die lewe van James nie, maar gebruik as interteks The Turn of the Screw. Die hoofkarakter, Sallie Declan, is ‘n jong Amerikaner wat haar in Londen bevind. Sy is geobsedeer met Henry James se The Turn of the Screw waaroor sy haar doktorale tesis skryf. Ten einde finansieel te oorleef, moet sy ‘n “nanny” word. Vir die leser van James se werk wat altyd handel oor vreemdelingskap of ‘displacement’, is die skrif reeds aan die muur wanneer ons lees dat sy ‘n Amerikaner in Londen is. Die verwysing na The Turn of the Screw laai die gegewe oor die goewernante in James se teks nog verder. Trouens, hy insinueer dat hierdie vertelling ‘n botsing uitbeeld tussen die bo-natuurlike en kinder-seksualiteit. ‘n Moderne skrywer sou binne ons samelewing waarskynlik die pedofiliese implikasies verder uitgebrei het. Maar juis omdat James hierop sinspeel, word dit ‘n krag in die roman, het ek in Mei verlede jaar geargumenteer in my resensie oor hierdie boek.

Wilson laai ook sy teks met verwysings na letterkundige teorie, soos onder andere die verwysings na Foucault, Todorov en Roland Barthes.

By die lees van al die verskillende romans oor James se lewe en werk, vra die leser die volgende vrae:

Is hierdie roman so geslaagd en pakkend as die eerste roman/lewe? Of sou dit nie gewerk het as dit nie vir die eerste teks was nie?

Die tweede vraag is uiteraard vanselfsprekend: indien die leser nie bekend is met Henry James-kodes nie, sou die teks enigsins kon slaag? 

Op hierdie twee vrae sou ‘n mens kon antwoord dat die ‘n bekendheid met James-kodes die teks met meer nuanses en suggestie laai, maar dat die oningeligte leser dit bloot net as ‘n “storie” kan lees.

In Wilson se roman sou ‘n mens derdens moet vra of die teks die volgehoue spanning met die bo-natuurlike so goed volhou as in die oorspronklike teks? Hierop meen ek van ja, want ‘n mens probeer agterna presies uitvind waar het die hoofkarakter, Sallie Declan (decline) ontspoor? En waarom raak sy so geobsedeer met haar baas?

Wilson se verhaal is dan ‘n modernisering van James, gedoen op ‘n behendige en pakkende wyse, met ‘n aweregse kritiek op die Harry Potter-reekse se populistiese hantering van die bo-natuurlike.

In Henry James se roman werk alles op suggestie. Dis ‘n verhaal van spoke en kontak met die parapsigologiese; by Wilson ervaar ons die tragiese ineenstorting van wat in die moderne sielkunde as ‘n “border-line”-persoonlikheid beskou sal word. En so gelees, word die spanning tussen twee tydvakke goed verbeeld.

In Harold T. MacCarthy se studie oor Henry James word ‘n lang hoofstuk afgestaan oor James se werkswyse. Hy skryf: “James preferred, even in short stories, to develop the dramatic oppositions latent in his donnée and produce a work that illustrated something about life as a whole. He wanted to exhibit delicate shadings, to see one thing through another and still another through that, to see all the dimensions of an idea and produce the effect of ‘truth diffused, distributed and as it were atmospheric’.”

En al hierdie verskillende romans doen presies dít waaroor MacCarthy skryf in sy studie, ‘n geskenk aan my jare gelede gedoen deur ‘n bekende romanskrywer.




Bronne:

Heyns, Michiel: The Typewriter’s Tale. Jonathan Ball, Kaapstad. 2006.

Leon Edel: Henry James: The Master 1910 – 1916. Rupert Hart-Davis, 1972.

Lodge, David. Author, Author. Penguin, Londen. 2005 (2004).

McCarthy, Harold T.: Henry James – The Creative Process. Thomas Yoselhoff, 1958.

Tóibín, Colm: The Master. Picador, Londen. 2004.

A.N. Wilson: A Jealous Ghost. Hutchinson, Londen. 2005.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Henry James deur die oë van ander – Deel I

Henry James (c) John Singer Sargent

Die afgelope paar jaar verskyn daar etlike romans oor Henry James. Uiteenlopende tekste soos A.N. Wilson se A jealous ghost waarin The turn of the screw herskryf word, David Lodge se Author, Author en hier te lande Michiel Heyns se The typewriter’s tale. Verder is daar Colm Tóibín se Master en Allan Hollinghurst se The line of beauty.

Daar is waarskynlik nóg tekste oor hierdie fenomenale skrywer en elkeen van hierdie romansiers se kennis oor sowel James se lewe as skryfwerk spreek duidelik uit hul komplekse tekste waarin biografiese feite en insigte oor die skryfkuns gefiksionaliseer word.

By Tóibín en Lodge word daar op dieselfde problematiek gelet in James se lewe (1843 – 1916), die beroemde Amerikaanse skrywer wat in Engeland gaan woon het.

In James se lewe was daar die ouer, afkerende broer, William, die sielkundige; die invalide suster, Alice en Constance Fenimore Woolson, ‘n skrywer wat waarskynlik selfmoord gepleeg het, omdat haar passie vir James onbeantwoord gebly het.

Waarom interessseer hierdie skrywers mense juis nou? Vanselfsprekend weens sy enorme skryftalent – ons dink hier ook aan die voortreflike verfilming van The Portrait of a Lady met John Malkovich en Nicole Kidman met Jane Campion as regisseur – wat wys hoe relevant die skrywer bly wat sosiale kodes en mores kon belig. Ander tekste is ook verfilm: o.a. deur my gesien is The wings of the dove en Washington Square.

James self is “larger than life” in sy verstommende kreatiwiteit, as dikteerder aan sy sekretaresse en as persoon wat die kuns bó lewe verkies het.

En vermoedelik wil gesiene skrywers soos David Lodge iets probeer vasvang van ‘n grootse skrywer. Waarskynlik beleef ons tans die einde van die postmodernisme wat vir vele lesers ontaard het in ‘n fasiele spel met intertekste. Juis om deur ‘n fenomenale kreatiewe skrywer te werk, word daar uiting gegee aan spiritualiteit.

Lodge se roman handel oor James se drama Guy Domwille se negatiewe ontvangs. Die vriendskap met die skrywer George du Maurier lê aan die basis van die roman. 

Skryfkompetisie en die hantering van sukses en oorspronklikheid kom hier aan bod. Du Maurier se vertelling van dieselfde storie as wat James gebruik maak van ‘n blitsverkoper. Terselfdertyd kan hy nie die roem en blootstelling hanteer nie, terwyl James juis na groter bekendheid smag.

Die Lodge-roman begin met die einde van James se lewe en waar hy in ‘n siekbed briewe ontvang van bekende mede-skrywers soos Rudyard Kipling, Thomas Hardy, George Bernard Shaw, Arnold Bennett, e.a. Dit is egter sy verhouding met ‘n minder bekende skrywer wat die fokus van die roman word: Du Maurier, ‘n persoon waaroor sy broer, William, bedenkinge gehad het.

Lodge lewer kommentaar op James se selibate toestand via ‘n teks van Maupassant wat hy lees oor ‘n liefdesverhouding tussen ‘n man en ‘n vrou. James gril gewoon vir die lyflikheid tussen die twee karakters en gru aan die gedagte dat mans ook met mekaar sou kon verkeer.

Paul Zhukovski se attensies laat hom wegdraai van ‘n vriendskap, waarskynlik omdat hy so ‘n diep-gesetelde vrees vir intimiteit gehad het, met sowel mans as met vroue. In hierdie biografiese roman word daar geweldig baie klem gelê op die verhouding met die suster en die jaloerse verbintenis met en bewuswees van ander skrywers.

Sy afkeer van Oscar Wilde se skandalige bestaan en arrogansie word eweneens beskryf deur Lodge. Die ekshibisionistiese kamp-gedrag vir James onaanvaarbaar en wanneer Wilde aan die einde van sy suksesvolle drama die gehoor bedank vir hul skerpsinnigheid, vind hy dit onvanpas. Maar die eintlike afkeer in Wilde is sy homoseksuele dubbelbestaan en uittarting van die morele kodes van die tyd.

The typewriter’s tale – a novel is Michiel Heyns, ‘n James-kenner, se blik op hierdie boeiende skrywer, maar vanuit die perspektief van sy (gefiksionaliseerde) sekretaresse, Frieda Wroth. Haar verbintenis met Morton Fullerton lewer kommentaar, sydelings, op die soort tekste wat sy moet tik.

Soos in Lodge se teks, is die vrees vir openbaarmaking kenmerkend van James se psige. In ‘n gesprek tussen Frieda en Fullerton word die Oscar Wilde-saak bespreek en geanaliseer. Edith Wharton word ook helder en goed geteken in hierdie aangrypende roman.

In tye van briewe en waar mense mekaar vertrou, word intimiteite openbaar, verduidelik Fullerton aan haar. Gelees in ‘n hof en deur buitestaanders beskou, kry dit ‘n nuwe betekenis en kan sodanige briewe jou ophang.

Biografiese besonderhede verwys ook na James se vernietiging van sy korrespondensie ten einde sodanige blootstelling te voorkom en jou eie privaatheid te beheer.

Heyns se roman in die beskrywing van ‘n sekstoneel is uiters visueel en oortuigend. En uiters ironies wanneer ‘n mens dit teen James se vrees vir intimiteit en seksuele aanraking plaas.

Die periode in Rye (Sussex) word in ‘n spesifieke tyd geplaas en as ‘n James-afficionado erken Heyns in welke mate hy die gegewens gefiksionaliseer het.

Die skrywer erken dat hy gegewens geannekseer, geïnkorporeer en aangepas het vir sy eie doeleindes.

Sy hooffiguur is gebaseer op Theodora Bosanquet wat vanaf 1907 tot en met James se dood sy sekretaresse was. Die gedagtes is Frieda s’n, hoewel daar uiteraard ooreenkomste tussen die twee figure is. Na James se dood in 1916 het sy deur middel van ‘n ‘spirit control’, Johannes, met James kontak gemaak.

Die briewe in die roman is aangepas, maar Heyns lei die leser na die oorspronklikes vir vergelyking.  (Die verbintenis tussen telepatie, tik en outomatiese skryfwerk is ‘n belangrike aspek waaraan Heyns aandag gee en hy verwys die leser na Thurschwell se studie hieroor wat in 2001 verskyn het.)

Die leser word op die koop toe van opsetlike foute bewus gemaak, soos o.a. dat Frieda nie vir meneer James kon sien fietsry nie; hy het reeds in 1901 daarmee opgehou!

James het sy briewe in die herfs van 1909 verbrand; die skrywer skuif hierdie gebeurtenis na laat-Julie. In die roman waarin die steel en verbranding van briewe ‘n belangrike tema is, betrek Heyns by implikasie Edgar Alan Poe se The purloined letter om die spel met privaatheid en openbaarmaking verder uit te brei.

En dan:”As dedicated Jamesians will have noticed, I have found myself at times appropriating phrases from the writings of Henry James. I have retained these borrowings, not as plagiarism, but as homage to the works to which this novel is above all indebted”.

So gelees, is hierdie roman ‘n fassinerende ‘paper chase’ met ‘n verbluffende spel nie alleen met romans van James nie, maar ook met verwysings na die lewe en uitinge van die outeur. Dis ‘n besondere roman juis omdat dit bewys dat ‘n biografiese roman se groot krag in ‘n verwringing en aanpassing lê.

Beide Lodge en Heyns se boeke is ‘homages’ aan James.

Biografiese romans wat die spanning tussen teks en lewe uitstippel en wys hoe elke skrywer by implikasie sy eie interpretasie aan HJ laat inspeel op die gegewens. James is by uitstek geskik vir hierdie soort spel, juis omdat hy ‘n groot skrywer was en is met ‘n komplekse belewenis van intimteite. Juis deur hierdie romans word daar nogmaals erkenning gegee aan een van die grootste storievertellers nog.

Deur hierdie romans kry die lewe en werk van Henry James ‘n tweede lewe. Die skrywer het op ‘n keer bely dat Balzac sy model was:

“A novel is in its broadest sense a personal, a direct impression of life: that, to begin with, constitutes its value, which is greater or less according to the intensity of the impression” – The Art of Fiction, 1885.

Hierdie romans het my teruggeneem na Leon Edel se biografie oor die meester en dan moet dit miskien duidelik geskryf word: Michiel Heyns se boek is ‘n boeiende, puik, oorrompelende roman wat beslis nie terugstaan vir die ander meesters se pogings nie.
Daar is iets metableties (in Van den Berg se terme) af te lees uit verskillende skrywers se blik op ‘n groot skrywer: ‘n versugting weg van postmodernistiese tekste se spirituele leeghede? ‘n Terugkeer na karakters se binnespraak?




Bronne:


Michiel Heyns. The typewriter’s tale – a novel. Jonathan Ball, 2005. ISBN: 1 86842 229 1.

David Lodge. Author, Author. Penguin, 2004/2005. ISBN: 780 141 018225

Colm Tóibín. Master. Picador, 2004. ISBN: 0330 485652.

A.N. Wilson. A jealous ghost. Hutchinson, 2005. ISBN: 0 09 180020.

Allan Hollinghurst. The line of beauty. Picador, 2004. ISBN 0-330-48320-X.

Emma Tenant. The felony. Vintage, 2003. ISBN 0-09-928397-2.

Leon Edel: Henry James: The master 1910 – 1916. Rupert Hart-Davis, 1972.

Harold T. McCarthy: Henry James – The creative process. Thomas Yoselhoff, 1958.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]