Rozena Maart. Rosa’s District 6. David Philip, 2006. ISBN 978 0 86486 690 5.
Resensent: Joan Hambidge
Krislaam!
Dit is ‘n boek oor die
Bo-Kaap en Distrik-Ses. Dis ‘n lekker boek oor die motchies en oemies. Jy kan
lees van snoek en slangetjies. Daar is ook koeksisters en breyani. En bollas en
boeber!
Selfs boerewors en bobotie!
Oor die lekker en die Eina!
Jy lees hier van die ou dae,
toe alles nog “gestamp and gechap” was, oorlat jy bruin is. En die lewe was
soms "deurmekaa".
Jy kan hier lees van die
hopelots, hoere en imams.
En Lieberstein.
Soms lees jy van die
kadoematjie en ‘n voetvrou wat kinders in die lewe help bring.
Daar is lewe en dood en
hierom ook Kee Feit teen die agtergrond van Tafelberg.
Dit behoort vir die leser
tot sover dan duidelik te wees dat hierdie boek van Rozena Maart ‘n mens
inspireer om al die kodes en gebruike te probeer begryp. Die boek heet Rosa’s District 6 wat op dieselfde tyd
as Zoë Wicomb se Playing in the light
en Rayda Jacobs se My father’s orchid
verskyn (laasgenoemde twee uitgegee deur Umuzi).
Die skrywer woon in Ontario,
is ‘n bekroonde skrywer vir haar kortverhaal “No Rosa, no District six”, en is
ook ‘n digter (Talk about it!).
Dus ‘n
feministiese-ekspat-skrywer wat die verlede in Distrik-Ses karteer. ‘n Dubbele
outsiderskap, dus.
Die boek bevat verskillende
vertellinge met ‘n puik glossarium. In die eerste verhaal word die kind aan die
woord vertel in ‘n praatstyl en die leser word gewaarsku: hier sal ‘n
verbeeldingryke aan die woord wees!
En die kind sien
ongerymdhede raak, wat onder andere wentel rondom twee ou tantes se passie vir
mekaar in ‘n bad.
Die verhaal eindig
meesterlik, met ‘n kind wat gaan speel en terugkeer, soos verwag, uit die
verbeeldingswêreld terug na roetine.
En die leser begryp die
transformasie wat plaasgevind het in die kind se gemoed.
Dit is duidelik uit “The
Bracelet” dat hierdie boek veral op die internasionale leser gerig is met
oorduidelike verwysings en verduidelikings ten opsigte van kleur, rassisme en
klassisme binne die gemeenskap self waar die “Uppersiders” se hovaardighede deur
die Distrik-Sessers bepot is.
In hierdie vertellinge word
kos kleurryk en smullekker beskryf: ‘n mens kan die breyani en frikadelle ruik.
Die skrywer gebruik kos, en die rituele rondom eet, om te sosiale gewoontes en
kodes weer te gee. ‘n Gebed onder andere waarin die poltieke onsekerhede
aangespreek word in die roepe na Bo om dit uit te sorteer.
Wat besondere vermelding
verdien is die uitwys van die gay-lewe in hierdie bestaan en die gebruik van
“gail” of gay-taal (p. 200). In slotvertelling word twee onthullings
gesinkopeer en ek ken min verhale wat jou so in die maag tref as hierdie een:
die poging om gay-wees te onthul, word deur ‘n ander, groter politieke
werklikheid getroef, naamlik naamsverandering en om te kon oorleef binne ‘n
blank-besete Suid-Afrika.
Hierdie vertellinge, soos
ander romans wat tans verskyn, herontdek die sogenaamde “slawe-verlede” met
trots. Die gay-outing is dus ‘n metafoor van die politieke erkenning van sy
ouers in die verhaal: ‘n mens is uiteindelik presies net wat jy is.
“Ai, Gadija” analiseer die
verskillende rolle van die vrou in so ‘n kultuur met ‘n gay-meisie en hoe die
vroue-gemeenskap veral haar aanvaar: geleerheid en konvensie word hier teenoor
mekaar geplaas.
Die vertellinge is soms
wydlopig en woordryk.
En die kleine Rosa is die
waarnemer: sy skryf alles op in haar boekie. Sy is ‘n sensitiewe buitestaander.
Dit is ‘n versameling verhale wat ‘n mens terugneem na die oeuvre van I.D. du
Plessis en ek dink hier spesifiek aan “In die Slamse buurt” wat eindig met:
‘n Halfvergete melodie
van hartseer en verlange.
Of “Kaalvoet klonkie” en my
allergunsteling-Du Plessis-gedig, “Katrina”.
Lees hierdie vertellinge.
Soms ‘n kortverhaal, soms amper ‘n novelle en saamgelees ‘n ryk tapisserie van
mense uitgelewer aan die politiek van die tyd binne ‘n erg diskriminerende
samelewing. Die outeur het hier grootgeword en die leser wéét dat die ten spyte
van die fiksionele aanbod dat die egtheid of lewensgetrouheid die boek
belangrik maak. Rosa, die Chambers-egpaar, Auntie Latief, Mama Zila, Auntie
Flowers ...
(Hoekom dan Belleville in
plaas van Bellville? En oeps geeeting i.p.v. greeting, p. 124).
Eet, drink, dans,
kavortering, praat en rebellie blyk die ses plesiere van die aea te wees, om
die verteller aan te haal. Tafelberg is die hele tyd aanwesig nes die
seisoensveranderinge in die stad.
Die aangrypende voorblad van
Cloete Breytenbach verdien spesiale vermelding.
Woordverklarings:
Kirslaam: Wees Gegroet
motchie: Moeslem-vrou
oemie: ouma
slangetjies: eetdingetjie
met speserye
bollas: nagereg
boeber: nagereg wat jy kan
drink; gemaak van vermicelli
deurmekaa: van deurmekaar;
beteken gevaarlik
hopelots: deel van die
armblanke-area waar kinders uit Distrik Ses gespeel het
kadoematjie: stuk lap met
grond en speserye gedra om die nek om jou teen die bose en kolonistiese
uitbuiting te beskerm
voetvrou: vroedvrou
Kee Feit: ‘n
Moeslem-begrafnis
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Burger geplaas.]