Bernard
Odendaal. Onbedoelde land. Tafelberg Uitgewers, 2007. ISBN 13 978 0 624 04580 9.
Resensent: Joan
Hambidge
Enersyds /
Andersyds.
In two minds.
Ja/nee.
Perhaps perhaps
perhaps…
Hierdie
resensent haat dubbespraak, ‘n ja-maar-aanslag. En dit is presies hoe die uwe
voel oor Onbedoelde land. Die eerste drie afdelings ontlok die volgende
reaksie:
Hierdie is Bernard
Odendaal se solo-debuut na ‘n handvol verse in Nuwe Stemme. Die digter is
bekend as resensent en het onlangs die integriteit-debat op Litnet afgevuur na
aanleiding van ‘n uitspraak oor die digkuns en menswees van George Weideman.
Onbedoelde land
se voorblad is na ‘n skildery van Riaan Calitz. Ons vind ‘n foto van die gesin
wat Barthes se vraisemblance / werklikheidsdimensie wil aktiveer: hier sit my
gesin – soos Roland Barthes uitgebreid skryf oor sy moeder in Camera lucida.
Die lywige
bundel val in vyf afdelings uit met ‘n begin oor Harmonie, distrik
Bloemfontein.
Ingegee deur die
nostalgie, word die jeug opgeroep met die ervaring van die natuur (‘Bokant
poustert sterre’) uit die blikhoek van die jong kind wat nou deur die ouer,
wyser persoon verdig en gedekonstrueer word in ‘n praterig-belyende vers. ‘Pa
se groente’ wy dan die gevare uit van hierdie soort vers wat onbeheersd
uitflap. Die langer prosavers vra immers ander tug?
Die
spreekwoordelike tennis sonder die net, aldus Robert Frost.
Knap gedigte is daar soos ‘Pa’, ‘Koekie trou’ – met sy onderduimse gesprek met Peter Blum - , ‘Casual Victim of the struggle’, ‘Een lenteaand op die grasperk’, Ouddepartmentshoofde-funksie: Afrikaans en Nederlands, U.O.V. S., 1 Augustus 1993’ (met die sterk vormbeheer), ‘Hoeka so iets van daardie aard’ oor ‘n plaasmoord wat terugspeel op George Weideman en I.L. de Villiers se verse oor hierdie onderwerp. (Die digter het vers lieflik vertolk by die Versindaba.)
In die geheel
word te veel verse oorwoeker deur ‘n woordoordaad, ‘n weggee van sleutels, ‘n
oorloop verby die noodwendige slot en ‘n praterige aanslag. (Is dit ‘n nuwe
tendens in ons digkuns, hierdie geselserige vers?) Gaan kyk wat maak Gilbert
Gibson met (bykans) dieselfde jeugherinneringe en politieke kwessies in Kaplyn.
‘n Metafories-gelade, paradigmatiese eerder as sintagmatiese aanslag. En onder
draai daar duiwels rond…
Somtyds sien ‘n
mens ‘n digter huiwer-huiwer om by iets uit te kom, maar het dalk verhoogvrees
om dit uit te sê?
Daar is ‘n
handvol sterk verse, maar as geheel kom die bundel nog nie uit die verf nie. En
tog as hy dit voorlees, dan voel jy iets roer…
En dis die hele
punt: gooi die voorskrifte weg en begin dig oor die ‘real issues’.
Hierdie leser mis in die eerste drie afdelings sweepslae poësie.
En nou is ons by die tweede mening:
Wanneer hy dig oor die gesin en sy ervaring van pa-wees en beweeg na die binnespraak van die gedig, skryf hy ontroerend-mooi. Dus van die macho, politieke (in die wydste sin van die woord, met die duidelike klap na Krog) tot binne-in die intieme Hans Andreus-agtige verse, beweeg hierdie verse. En dan wanneer hy oor die ‘onbedoelde’ skryf, raak hy my.
By wyse van
spreke, wanneer dit ‘poste restante’ is en hy wegbeweeg van sy patriargale en
geromantiseerde jeug en lewe tot by die lieflike ‘‘n Kersdag se ware verhaal’
dan lees ek weer. En word ingetrek in die intieme Ottone M. Riccio-aard van die
digkuns waaraan die spreker lees en peusel… (Riccio is die skrywer van The
intimate art of writing poetry, ‘n handleiding vir digters.)
Dan sien ek die
‘juwelekissie’ van die gedig en die gespek met Pierneef:
oor kuns die
wildernis so klein moet kry
Soms moet ‘n
digter eerder agter sy hart as sy kop / gewete / integriteit aanskryf. Of wat
praat ek nou alles?
En buite die
bakens van die (ou) Suid-Afrika met sy opgedoekte vrese beweeg van manwees en
eerder jou eie weerloosheid / sterflikheid verken. Die verse is dikwels te lank
en mis sterk kohesie. En die gesprek, “Die kind is steeds nie dood nie”, met
Ingrid Jonker se “Die kind” steek sleg af by die oorspronklike. Wat by Jonker
vloei, ooglopend natuurlik lyk, word hier bedink en uitgewerk. Net soos die
gedig “goeie kwelgees” nie naastenby by T.T. Cloete se verstegniese beheer
uitkom nie. Cloete se sintaksis o.a. kan nie nagedoen word nie.
(‘n Mens kan en
mag terloops oor die ou-Suid-Afrika dig, maar dan moet dit pakkender wees.)
Politieke verse raak op die duur vervelig – ook struggle-gedigte.
Vir my gevoel is
daar – soos in die geval Sarina Dönges se In die tyd van uile – waarskynlik
te lank gewag met die debuut. Publikasie
help ‘n digter om te groei en verby haakpunte te kom. (Hulde aan al die
kritici!)
‘n Digter se ouderdom word bereken op die tyd van die debuut en as die digter reeds vérrerig in die jare staan en die debuut kom dan, lees die leser kritieser.
Nou ja, almal
kan nie ‘n T.T. Cloete wees nie wat met ‘n debuut as gevestigde literator ‘n
waterskeidende debuut lewer nie.
[Hierdie
resensie word met vriendelike vergunning van Litnet geplaas.]