Friday, September 1, 2023

Resensie | Annemarié van Niekerk – Onder ’n bloedrooi hemel: Liefde en geweld in Suid-Afrika: ’n Memoir | Tafelberg, 2023 * P.P. Fourie – Ons skulde. Queillerie, 2023

Annemarié van Niekerk – Onder ’n bloedrooi hemel: Liefde en geweld in Suid-Afrika: ’n Memoir. Tafelberg, 2023. ISBN: 9780624093596 * P.P. Fourie – Ons skulde. Queillerie, 2023. ISBN: 9780795710834 

Resensent: Joan Hambidge

 

I

In Styles of Radical Will (1969) verwys wyle Susan Sontag, die Amerikaanse kultuurkritikus, na die sogenaamde “pornographic imagination”. By die herlees van Sontag se bekende teks Regarding the Pain of Others (2003) lees ek Annemarié van Niekerk se memoir Onder ‘n bloedrooi hemel: Liefde en geweld in Suid-Afrika. Terselfdertyd ervaar ek ook die roman van P.P. Fourie wat heet Onse skulde.

 

Die term “pornografie van geweld” is presies dit wat ons daagliks in hierdie land beleef. 

 

II

By Van Niekerk is dit ‘n memoir oor geweld: ‘n teks aangebied as “werklikheid”; met duidelik gefiksionaliseerde passasies en naamsveranderinge. By Fourie ‘n roman, gebed in die werklikheid wanneer ‘n mens onderhoude met die skrywer lees oor sy jeug.

 

Die grense tussen fiksie en werklikheid vervaag dikwels in die moderne, postmoderne en nou: metamoderne era. Vertellers gebruik en verdraai die waarheid (“die sogenaamde waarheid gelieg”) of bied ‘n teks aan as die werklikheid. Van Niekerk erken dat haar teks gebaseer is op historiese, biografiese én outobiografiese gegewens: gefilter deur die geheue en verbeelding. Ons moet dit lees as faksie. Geprekke is óf fiktief óf gebaseer herinneringe óf ontleen aan bestaande bronne, bely sy. Sekere aspekte van haar lewe is weggelaat. Uiteraard omdat dit ‘n “verhaal” word.

 

Beide Van Niekerk en Fourie se tekste is belangrike kommentare en kritieke op ons samelewing. Van Niekerk, gebore in Suid-Afrika en woonagtig in Nederland, gee vir ons die blik van buite. Die paradokse van liefde en geweld. Kinders wat deur ouers aangerand is met lyfstraf in die naam van liefde. Fourie kyk na die impak van alkoholisme en seksuele geheime op families. En die romantisering van kindwees wat die buitestaander-kind as ‘n leuen ervaar. Die blik van binne.

 

Van Niekerk keer terug na haar land van herkoms en die verwerking van die moord op Ruben en sy ma. Ons ken almal iemand in hierdie land wat vermoor is, of iemand wat iemand ken wat vermoor is.

 

Van Niekerk is op ‘n speurtog om die “bloedrooi hemel” te probeer begryp. Fourie – soos Agatha Christie en die Skandinawiese noir-speurverhaalskrywers – gee vir jou leidrade om moord op te los.

 

Jy word ‘n Hercule Poirot wat agter die moord na motiewe soek. Dikwels ‘n afgetekende of mishandelde kind wat diep trauma beleef het. Vals leidrade en afdraaipaadjies laat jou dieper soek.

 

Veral die filmreeks met David Suchet as Poirot word ‘n boeiende analise van emosionele vraagstukke met Captain Hastings (Hugh Fraser) en Scotland Yard Chief Inspector James Japp (Philip Jackson).

 

Met Poirot wat gebruiklik iets wat onder die oppervlak broei, snap. By Fourie is daar ‘n onthulling van ‘n buite-egtelike verhouding wat lei tot Simon se dood lei. Emma reis na Clarens om haar man se as te gaan strooi en ontmoet vir Vera. Hier word die leser aan veelvuldige leuens en verdoeselinge blootgestel.

 

By Van Niekerk is daar reise. ‘n Werklike reis uit Nederland en dan verskillende emosionele reise terug ín die tyd wat jou meestal aan die hart gryp. Die outopsie-verslae word skrynend-eerlik beskryf, nes die hofverrigtinge. Dié moord wat plaasvind in 2015 (op ‘n plaas in die Oos-Kaap) neem haar terug na haar werk aan die Universiteit van Transkei in die 1980’s. Die struggle-jare.

 

En haar politieke ontwaking en haar stryd met haar vader word beskryf. En haar latere verhouding met ‘n swart intellektueel en ‘n lewe in Hillbrow wat meedoënloos beskryf word, gryp aan die hart (en keel).

 

Die memoir wissel tussen hewige emosionaliteit en totale afstand en kilheid. Dit is geskryf in uitstekende prosa wat soms poëties word. Dat dit bekroon is met die gesogte Henriette Roland-Holst prys verklap alles. Ook die loftuitinge van kritici en skrywers onderstreep hoe belangwekkend hierdie teks is. Geskryf in Nederlands en vertaal deur Daniel Hugo.

 

III

Fourie bekyk geweld uit ‘n ander invalshoek. Van Niekerk se Vrouevertellers 1843 – 1993 (1994) was ‘n belangrike feministiese antologie soos latere versamelings ook. Fourie lewer kommentaar op die patriargie en toksiese manlikheid. Vaders wat seuns versmoor én psigies vermoor.

 

Dit is twee tekste wat mekaar komplementeer en aanvul. 

 

“Terug op Efata hang depressie soos ‘n winterjas om my skouers”, skryf Van Niekerk op bladsy 260.

“Dalk is ons almal se lewens maar net die verhaal van hoe ons vrese verwerf”, skryf Fourie via ‘n karakter op bladsy 52.

 

Vrees en boetedoening beskryf met verwysings (o.a.) na Nathaniel Hawthorne se The Scarlet Letter.

 

Beide tekste, onafhanklik van mekaar, kyk na die lot van die vrou wat teen die patriargie opstaan. Twee boeke wat snydend kyk na kollektiewe skuld. En kollektiewe skisofrenie aanspreek, soos Van Niekerk dit klinkend beskryf (249).

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)