Thursday, February 14, 2013

Nanette van Rooyen - Chinchilla (2007)



Nanette van Rooyen. Chinchilla. Human & Rousseau, 2007. ISBN  13 978 0 7981 4894 8.

Resensent: Joan Hambidge

Nanette van Rooyen het een ongelooflike primordiale verhaal geskryf, ‘n storie wat altyd in my gemoed draal: “Tollie Hans”, ‘n verhaal van ‘n vrou wat ‘n kind afteken ná ‘n ongehoorde en onbesonne verbintenis met die magiese karakter, Tollie Hans. En ná sy dood bly sy aan hom dink, herbeleef sy die vreugdes van hul verhouding in ‘n soort Freudiaanse herhalingsdrif deur aande saans alleen te dans na sy dood.

Dit is ‘n komplekse verhaal en gekanoniseer deur Abraham H. de Vries in sy bloemlesing van die Afrikaanse kortverhaal.

Dikwels skep ‘n skrywer ‘n kortverhaal wat bykans soos ‘n gedig werk en dan word dit jare later verwerk in ‘n langer, uitgebreider verhaal. Die voorbeelde is legio en in Afrikaans doen Etienne van Heerden dit dikwels. Nanette van Rooyen se debuutroman, Chinchilla is deur Van Heerden begelei in ‘n MA in Kreatiewe Skryfwerk aan die UK – die outeur bedank tereg haar mentor – en die roman sou interessante leesvergelykings kon oproep met haar verhaal.

Chinchilla is ‘n verhaal van Lea, ‘n vrou wat Swakopmund verlaat en terugkeer n haar geboorteplaas na die Roggeveld. Dit is ‘n intens vroulike verhaal waarin die verlies van ‘n kind tydens fisieke geweld beskryf word. Die roman vra dan die betrekking van Jungiaanse tekste – soos Clarissa Pinkola Estés se Women who run with the wolves en studies oor die tarot in Lea se helingsproses waar sy Bastos, Zacharias, Krisjan en Mirjam raakloop. Dis dan ‘n boek oor liminaliteit of die ervaring van grense. Die beweging van een punt tot ‘n volgende met al die gevare wat sodanige (transformasie)reis inhou vir die persoon.

Daar is duidelike aanwysings dat die storielyn ‘n dieper reis oopmaak. Drome, die dagboek van die moeder, die terugkeer na die jeug, die magiese begrafnis van die dooie kind (wat sy voed met haar menstruasie-bloed en bedek met haar hare) en die ervaring van die chinchillas, maak hiervan ‘n boek oor individuasie.

‘n Mens kan Jung tereg betrek en die cantadora (storieverteller) van Women who run with the wolves. By herhaling word die innerlike krag van vrou-wees beklemtoon en die reis na binne is in hierdie boek gevaarlik dog helend.

Al die figure representeer figure uit die tarot; trouens, Lea is onrustig dat sy Martin “kaartagtig” en stereotiep voorstel.

In die tarot-studies wat ek ken, representeer almal hier ‘n belangike rol: die valkenier, die magiese siener, die Vader, die dooie Moeder, die slagter wat Lea in haar primordiale reis help om tot insig te kom.

Sy verlaat ‘n gewelddadige verhouding en besef dat haar heling in konfrontasie met die jeug en verlede opgesluit is. So is dit dan.

Dit is ‘n intens-vroulike boek. Die moeder se dagboek en drome verskaf aanwysings vir die hoofkarakter. Daar is terugflitse, baie besonderhede, resepte (selfs vir skilpadsop) – dit is egter ‘n verslag van indviduasie, van versoening van opposisies in die psige wat dikwels met geweldige pyn gepaardgaan.

Die Chileens-antieke wêreld en Portugese verwysings maak hier ‘n draai. Sy bedank etlike leermeesters vir inligting – maar die leser weet soos met “Tolle Hans” dat sy moeiteloos oorbeweeg in die primordiale wêreld van die onbewuste en dat sy nie bang is om haar demone in die oog te kyk nie. Die chinchillas word simbool hiervan.

Van Rooyen het ‘n ongelooflike oog vir détail. En die roman is soos twee skilpaddoppe netjies inmekaar gepas.

‘n Mens sou die Carmen-verwysings kon naspeur, die gebruik van ou Boerename (byname) en die verwysing (implisiet) na Jeanne Goosen se Om ‘n mens na te boots (1975) deur middel van die Dryden-verwysing wat werk met die plesier wat in waansin opgeberg word.
Een beswaar: die kortpad-verwysing na Katherine Mansfield se storie in die slot is darem te maklik. Daardie verwysing onderskat die leser se sintuig om die drade bymekaar te sit.
En dit bederf die magies-ritualistiese aard van die roman wat dikwels ‘n mens se “suspension of disbelief” óphef.

Die slot spreek boekdele.


Bronne:

Carrol Bridges: Medicine Woman Tarot. Stamford, CT. 1994.

Clarissa Pinkola Estés: Women who run with the wolves. Contacting the power of the wild woman. Rider, Londen. 1992.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]