Jeanne Goosen. Elders
aan diens. Genugtig!, 2007. ISBN 978 0 9802606 6 3.
Resensent: Joan
Hambidge
Jeanne Goosen is
nie net ‘n groot prosaskrywer nie. Of satirikus nie. Nee, sy is ook ‘n digter
wat in die swentigerjare bekendheid verwerf het met bundels soos ‘n Uil vlieg weg (1971) en Orrelpunte (1975). Maar dit was binne ‘n tyd toe die Afrikaanse digkuns geswalk het
onder vrye verse en dikwels tuglose, bandelose verse waaraan hierdie leser nie
veel erg had nie. Tog kom daar in hierdie tyd Wilma Stockenström, Antjie Krog,
Stephan Bouwer, en Goosen na vore.
Goosen wat dig
oor waansinnige rugby-wedstryd en die verlange na die geliefde wat net
droefheid tot gevolg het.
Die jongste bundel heet Elders aan diens, ‘n treffende titel om die digkuns te reguleer tot iets buite die normale, die grensoorskrydende. Ook om dit te tipeer as iets waarmee jy besig is terwyl jy ‘n ander werk behartig. Bykans soos ‘n persoon wat in ‘n Ongevalle-Afdeling werk. Of vir ‘n nooddiens. Goosen skryf dan dikwels oor die persoon wat buite die normale orde beweeg en as “waansinnig” of “bossies” verklaar word. Die verskoppeling, die afwykende, die verdrukkende, die stemlose, die vernederde – aan hierdie mense gee sy stem. Terselfdertyd verfoei sy valsheid, napratery, die Regering, Onnoselheid. Haar kennis van die wetenskap en musiek is kenmerkend van haar rubrieke.
Dit is gedigte wat jou tref met ‘n reël soos:
wanhoop het
feller as die lied van liefde geword
‘n Mens bly
deurgaans bewus van die breekbaarheid van alles. “Wat sag is vergaan”, het
Goosen op ‘n keer gedig en Johann de Lange het tereg hierdie weergalose reël
vir ‘n bundel gebruik.
Die digkuns is
vir die meeste mense nutteloos – dit is soos afval in swart vullissakke
“By Copernicus
leen ek ‘n slim slypglas” speel in op Wilma Stockenström se onvergeetlike gedig
oor die mens as vernaamdoener “Ecce Homo” uit Spieël van water (1973). By Goosen is die verse kennelik bedoel om
voorgedra te word. Dit is praatverse, bedoel vir die oor en hierom is daar
duidelike truuks soos herhalings en wendings om die gehoor se aandag gevange te
hou.
Dit gaan in hierdie bundel om die aweregse blik op die mens en hierom word toonlere agterstevoorom gefluit (“Ek is die voël / wie se knieë / potsierlik / andersom / buig”). Die gedigte het dikwels nie opskrifte nie en stroom as’t ware inmekaar in. Dit maak die leeservaring anders as by gedigte met opskrifte. Dit is asof die digter opsetlik die leser wil meesleur en wegvoer. Die proses van skryf word gelykgestel aan die (banale) beeld van eiers in bokse. Ek het selde ‘n bundel gelees waarin daar soveel reëls is wat ‘n mens wil uithaal, opvou, bêre, aanhaal.
Dit is elke keer ‘n swenkslag van die waarneming wat jou tref. Dit is dan gedigte wat nie met ‘n intellektuele spel besig is of met intertekste woeker nie. Dit werk met die massiewe surrealistiese verbeelding van die eenmalige Jeanne Goosen. ‘n Mens vind in hierdie gedigte dieselfde kwaliteit as in Om ‘n mens na te boots (1975) waar die grense tussen verbeelding / werklikheid geproblematiseer en opgehef word. ‘n Mens word al lesende deel van die verbeeldingswêreld van die gedigte. Die leser bekend met Goosen se rubrieke in BY sal kodes terugvind in hierdie gedigte. Sy skep dus haar verwysingsraamwerk wat sy kodeer en dan weer ten gronde maak. Sy skep die stuk vervalsing en breek dit terselfdertyd af. Sy wonder oor die mens se onvermoë om net te wees. Sy kla die geliefde aan oor haar onbehendigheid om te kan liefhê. Dit is dan volledig poësie van ontnugtering, met sowel die self as met ander.
Die siel is skyn
die roede ook
Haar teikens is
skynheiligheid. Die huwelik, sereremonies – alles wat pronk en praal en prul.
Die leser word gevra om liefs sy / haar bek te hou – want wie is after all die fokken poet hier? (p. 25)
liefde is luukse
waansin
Die
metarefleksie, bekend aan haar prosawerk, vind ons hier. Die gedig gebeur voor
jou oë (p. 27). ‘n Vers soos “Irmgard dans” is Goosen-vintage: humor,
musikaliteit en ontnugtering. Ai, Jeanne wie kan dans soos jy?
Die lykdig oor
die pa (p. 35) wat ons al jarr lank ken, bly die roerendste aanklag teen God se
stilte en die dwingende verlies wat Goosen vir ons karteer:
Maak U Genade
aan hom duidelik – en ook U soort apartheid.
Hierdie gedig
beweeg in die volledige nihilisme in. Dit is ‘n vers van aanklag en verwonding;
opstand en negering.
Ek kan hierdie
gedig nie lees sonder om ontroer te word nie. Die gedigte beweeg oor gevaarlike
afgronde heen – maar stort nooit na benede nie. Trouens, in die vers opgedra
aan Ryk Hattingh, wat tans in Nieu-Seeland woon, sien ‘n mens hoe sy dig.
Verlange en verbeelding saamgevoeg. Sy kan volledig een word met iemand anders
se eensaamheid en verwonding. Sy dra dan die dubbele las van daardie mens se
pyn wat haar eie word.
Maar wat! Daar
is ook humor. Nes jy nie meer kan lees nie, omdat jy verblind is deur jou eie
trane, duik daar ‘n vers op wat jou laat skaterlag soos oor die oupa wat
wyksouderling en ‘n deutrapte rassis is.
Die Bybel dreun
dikwels saam. Die religieuse aanhef en die debunking daarvan (“Glo”, p. 47) en
die vers “Spesiale Kersaanbod” (p. 50) wat soveel ontsteltenis by lesers van
dagblaaie veroorsaak het wat nie die konsep ironie onder die knie het nie.
Geluk is
pilvormig.Plesier is chemies.
...
Skryf is ‘n
persoonlike gevaar
Welkom terug
Jeanne Goosen! Jy is en bly ‘n verstommende kreatiewe energie in ons
letterkunde. Dis poësie wat ‘n mens roer, laat lag, laat huil en hoop gee: daar
is lewe buite intellektuele spel. Ons het hierdie soort digkuns nodig.
Broodnodig!
[Hierdie
resensie word met vriendelike vergunning van Leopard’s leap-leesmedalje vir Litnet geplaas.]