Showing posts with label 2019. Show all posts
Showing posts with label 2019. Show all posts

Wednesday, February 5, 2020

Filmrubriek | Terrence Malick se A hidden life (2019)

I

A hidden life is die verhaal van ene Franz Jägerstätte  (vertolk deur August Diehl) in Terrence Malick se jongste film. Die storie is voorspelbaar: 'n jong Oostenrykse boer en gelowige weier om te veg tydens die WOII. Hy is 'n gelowige Rooms-Katoliek.

Die titel, weet ons, verwys na George Eliot se beroemde opmerking in Middlemarch (171 - 1872) oor al die onbesoekte én ongemerkte grafstene op aarde van mense wat hulself geoffer het vir 'n saak. Só 'n man is Franz.

En die kyker weet van meet af aan wat met hom gaan gebeur. Malick se kamerawerk is die eintlike verhaal. Daar is duidelike simbole: 'n lig wat verdof, wolke wat aanvanklik die idille weergee en later verdonker. 

Ons kyk na die film en skielik is dit donker.

Wanneer sake begin skeef loop, sit die vrou met geknoopte toue op haar skoot. Ons weet wat dit simboliseer.

Boonop stel hy die man en vrou aan die woord in 'n voice over. Agter hulle Engelse stemme hoor ons Duits. In die tronk staan daar teen die muur: Sprechen Verboten!  Ons sien hoe 'n vrou 'n appel skil en langsaam daaraan eet. 'n Skoot van bo in die tronk verklap geweldig baie. Die geweld word dikwels deur insinuasie meegedeel as blantant vertel. 'n Geslagte vark wanneer die vader in die tronk is, laat 'n jong kind gril.

Die tronke in Enns en Berlyn is die hel. Die tronkbewaarders is grusame, aaklige figure wat nie weifel om te mishandel nie. Franz se vrou word deur owerhede sleg behandel. Die priester is simpatiek, maar sy hande is afgekap.

Briewe word versend en voorgelees tussen man en vrou. Skielik met hierdie slegte nuus is ons in die donker. Asof die kamera ons dwing om na te dink ...

Die kamera fokus op die wonderskone natuur wat later onstuimig raak. Ons sien vuil naels en geel tande van 'n ou man. Tussen 1939 en 1943 word die verhaal uitgespeel in bykans drie ure. Dit begin met bekende wit-en-swart-footage van Hitler wat later selfs kleurskote bevat van hoe hy 'n jong kind in sy politieke loopbaan gebruik. Dan vrolike musiek met Hitler in kleur. Slavoj Žižek beweer dat Stalin gaande oor musicals was in The pervert's guide to the cinema bykans om sy aandag af te trek van sy booshede.

En hierdie film verwys tersluiks na The sound of music waar die einde grimmig is na die idilliese begin.

Hoe 'n hele gemeenskap teen 'n man met gewetensbesware draai en later sy vrou en kinders viktimiseer, word uitstekend weergegee.

Valerie Pachner as Franziska Jägerstätter, die eggenote van die man, se lot ruk 'n mens aan die hart. Selfs haar skoonmoeder neem háár kwalik vir haar man se besluit. Die bure is mislik. Die klein gemeenskap verwerp haar en selfs met 'n kerkbesoek, is die kinders aaklig met haar drie dogtertjies.

Sy sukkel om te oorleef en sy en haar suster ploeg met 'n koei. Haar buurman steel haar beet.

Bruno Ganz vertolk die rol van die Regter. Hy probeer alles in sy vermoë om Franz te oortuig om sy sienings te laat vaar, maar dit slaag nie.  Die einde is doodstraf.

Hy was laas in Wings of desire (Wim Wenders se voortreflike film) so goed! Hierdie rol speel in op sy vertolking as die professor in The reader.

'n Argetipiese verhaal van hoé mense se vrese werk en die implikasie van outsiderskap. Die grootste karakter in hierdie film is die kamera wat fokus op ligene teen 'n boom. Hiermee word gesuggereer dat die bome ouer en wyser is as mense.

Die klankbaan is verruklik. Kerkklokke, Bach, Beethoven ...

Erna Putz, die biograaf van Jägerstätter was diep geraak deur die spiritualiteit van die film. Juistemint. Malick het immers Days of heaven en The tree of life gemaak.

Teen die slot fokus die kamera op 'n berg en 'n waterstroom en die vrou wat opmerk dat hulle weer sal ontmoet. Eendag.

Dit is 'n stadig-bewegende film wat baie geduld opeis. Maar dit is bepaald die moeite werd. En dit resoneer met ons geskiedenis waar jong mense in 'n grensoorlog gesterf het.

II

Hierdie film werk met bekende gegewens. Die kyker weet presies hoe sake gaan afloop. So dit nie hier om die wat nie, maar die hoe. Hoe word die film vertel sodat dat die kyker enduit geboei bly; veral in 'n film wat lank is, want die moderne filmkyker wil vinnig kyk en 'n oplossing kry.

"Works are created by works, texts are created by texts, all together they speak to each other independently of the intention of their authors ..." Aan die woord hier is Umberto Eco in sy klassieke analise van Casablanca, opgeneem in Faith in fakes wat by Secker & Warburg in 1986 verskyn het. Dit heet "Casablanca: Cult movies and intertextual collage".

En presies dit is wat die kyker ervaar wanneer 'n mens kyk na A hidden life. Jy sien die argetipes en intertekste na ander oorlogfilms.

Eco meen dat 'n kultusfilm juis tot gevolg het dat 'n mens net gedeeltes onthou. Jy breek ("unhinge") dit van die oorspronklike narratief.

Die dinamiese en statiese motiewe in A hidden life is opvallend. Die natuur, ten spyte van siklusse, sal altyd daar wees. Die geskiedenis verander en die kyker weet dat hierdie film inplisiet kommentaar lewer op goedheid en spiritualiteit.

Jung se kollektiewe onbewuste word geaktiveer: ons keer terug na die aarde waaruit ons spruit. Stof tot stof.

Casablanca, aldus Eco gebruik al die argetipes. En dieselfde geld A hidden life. 

Politiek, geskiedenis, familie, liefde, dood, verraad, opoffering kom aan bod. Die man kan in A hidden life die opoffering maak, want sy vrou glo dat hy die regte besluit maak ten spyte van die ellende wat die meebring.

Eco verwys na die metasemiotiese kultuur van vandag. A hidden life wil verby hierdie tekensisteme beweeg en argetipes ontbloot en jou onbewuste onrustig maak.

Sou jy bereid wees om standpunt in te neem teen onregverdigheid al sou dit geen duit aan die geskiedenis maak nie soos die Regter vir Franz waarsku?

© Joan Hambidge

Sunday, February 2, 2020

Resensie | Marc Tritsmans – Die singende wêreld (2019)

Marc Tritsmans - Die singende wêreld (uit Nederlands vertaal deur Daniel Hugo). Naledi, 2019. ISBN: 978-1-928518-25-9

Resensent: Joan Hambidge

Die singende wêreld  van Marc Tritsmans het verlede jaar by Naledi verskyn. Dis 'n bundel met vertalings deur Daniel Hugo.

Wat 'n wonderlike verrassing is die ontdekking van hierdie digter nie. 'n Boek oor die see en voëls en bome en die planete – en 'n besinning oor presies wat ons hier maak.

Reeds in die openingsgedig konstateer die digter dat hy 'n “oudmodiese kompas” in sy kop huisves en dat niemand sonder plekbepaling werklik kan bestaan nie. En dan neem hy sy leser op 'n fassinerende reis oor hoé hy homself hiér op die ondermaanse beleef.

Bekende konstellasies

ek is ’n man uit die noordelike halfrond
en wil nie my noorde van my laat afrokkel nie
waarskynlik deel ek tog iets met die duiwe

huisves ek ’n oudmodiese kompas in my kop
want waar ek ook al neerstryk begin ek in die donker
vasberade soek na bekende konstellasies

fluister stemme van verre voorouers – jagters
reisigers? – dringend in my oor dat niemand
sonder plekbepaling werklik kan bestaan nie

my voete wil altyd weet waar hulle hul presies
bevind: beveilig en geaard ook al dwaal ons
almal stuurloos te midde van ontelbare heelalle

Die leser vind sowel die oorspronklike gedig as die vertaling deur Daniel Hugo met 'n nawoord deur Yves T'Sjoen, van die Universiteit van Gent, waarin hy nuuskierig is oor hoe Afrikaanse lesers op hierdie gedigte gaan reageer. Wel: hierdie leser vind Die singende wêreld  'n pragboek. 

Dis gedigte wat oënskynlik maklik "lyk", maar vernuftig inmekaar pas. Die metriese -en klankpatrone pas by die gemaklik, oënskynlike praataanslag. Die digter gebruik dikwels personifikasie moeiteloos - een van die moeilikste tegnieke wat maklik 'n gedig kan beduiwel - om die spanning tussen mense en natuur aan te stip. Die son word (soos) 'n moeder; die liggaam kry kos soos 'n hond. En hierdie gedig "Die liggaam praat (ook vir 'n keer)" (31) gee 'n belangrike geheim weg van hierdie bundel waar alles tweeledig en dus op twee vlakke tegelykertyd afspeel.

En dan ook goed om die oorspronklike met die vertaling te vergelyk.

Gewoonlik die kenmerk van 'n geslaagde gedig juis hierdie vermoë om twee dinge één te maak.

Die mens se lot as onbenullig kom telkens na vore. Nou onlangs is daar 'n nuwe planeet ontdek en liefhebbers van programme soos Sterre en planete weet hoe klein en ontersaaklik ons "klein en silwerige planeet" maar is.

En dit "Zoem en gons" skryf hy:

die onstuitbare vliegwiel van die lewe stel vir ons dommes
wat eens gedink het ons is die heersers van die heelal
totaal willekeurig en onontrafelbaar al die bakens vas

In "Draers van lig" dig hy tereg:

oor die geboorte van verre newels en sterre
wat vandag, noudat ons oë hulle vir die eerste keer
mag sien, nogtans lank reeds gedoof verdwyn het

Boonop is ons almal irrelevant en eenmalig, meen hy in "See":

want ons het almal die lewe kortstondig eensellig
beoefen, dit toe as vis en amfibie uitprobeer
om ten slotte as mens op droë grond gespoeg te word

T'Sjoen beklemtoon die epifaniese moment en liminaliteite in sy digkuns. Die dagsoom impliseer breuke: "Epifanieë stel ons in staat om anders te kyk. Hulle bied in ’n efemere oomblik insig in die hoëre, die gans andere, die sublieme."

Daar is geen swak vers in hierdie bundel nie. Die leser lees met verstomming agter die tegniese beheer aan soos in die geval van Benno Barnard wie se Die trouservies
my ook geboei het. (En die tegnieke word verdoesel, nes die binneryme.)

Die digter spreek ekologiese kwessies aan nes onse Martjie Bosman en Johann Lodewyk Marais. Soos by hulle word dit gedigte wat dans en sing. Sommige gedigte herinner aan die gesprek met die natuur in Stil punt van die aarde deur Johann de Lange en Hennie Nortjé se In die skadu van soveel bome.

"Saadstorting" is 'n belangrike gedig waar die digter gekonfronteer word met 'n beukeboom se plantaardige klimaks.

De wetten van de zwaartekracht was sy debuut in 1992 en ek gaan beslis alles lees wat hy geskryf het. Komrij het sewe van sy verse in sy Nederlandse bloemlesing opgeneem - al 'n aanduiding dat hierdie ou guru baie gedink het van Tritsmans.

Dis 'n bundel vir George Claassen én predikers. Vir gewone lesers én poësieliefhebbers. Nog 'n bundel wat die vertaalskat vir Afrikaanse lesers verruim met dank aan die vertaler en Naledi.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)

Monday, January 27, 2020

Resensie | Tom Lanoye - Koningin Lear (vertaling deur Antjie Krog, 2019)

Tom Lanoye - Koningin Lear (vertaal & verwerk deur Antjie Krog). Protea Boekhuis, 2019. ISBN  9781485310693

Resensent: Joan Hambidge

Afrikaans het ‘n lang galery van uitmuntende dramaturge: Adam Small, P.G. du Plessis, Pieter Fourie, Bartho Smit, Reza de Wet en ‘n hele boel jong stemme. Die publikasie van Tom Lanoye se Koningin Lear is ‘n belangrike toevoeging tot ons dramaskat. 

Dit is vertaal – en herdig – deur Antjie Krog en so word daar dan aangesluit by die hele vertaalprojek tussen Afrikaans en die Lae lande. Hierdie skitterende toneelstuk sluit aan by die moderne tradisie om Shakespeare vanuit ‘n ander genderperspektief te beskou of om die bekende gegewe te moderniseer. Ethan Hawke vertolk Hamlet in ‘n moderne New Yorkse familiebesigheid in die indrukwekkende film van Michael Almereyda (2000).

Verder terug in die tyd: Roman Polanski se interpretasie van Macbeth.

Dié samewerking tussen Krog en Lanoye is nie die eerste nie. Daar was ook medewerking met Mamma Medea in 2001.

Lanoye se teks word “vry na Shakespeare” aangebied met ‘n motto wat daarop dui dat ons in die tyd is waar alles beheer word deur familie dinastieë. De Montaigne rig die teks vérder met En attendant Godot van Samuel Beckett, Waiting on Godot, ‘n teks wat vir hierdie tyd waarskynlik die grootste rigsnoer is. Absurde eise, korrupsie, self-genoegsaamheid en narcisme kom aan bod. (Met die impak van Steinhoff as 'n subteks.)

Alles wat dus nie deur die karakters uitgespreek is nie, kom ook aan bod (die sogenaamde didaskalia). Die ingangsportaal se marmer en matglastoegangsdeure; wêreldhorlosies en verwysings na panieksituasies: werknemers wat toyi toyi, beursvloere in paniek, klimaatsgeweld (64).

Hoe meer alles verander, hoe meer bly dit dieselfde.

By die lees van hierdie teks – mooi uitgegee met Antoinette Kellerman op die voorblad – is my herbesoek van die teks sterk beïnvloed deur my teaterervaring met Marthinus Basson as die regisseur in die Baxter in Kaapstad. 

Hierdie produksie het weer eens bewys wat ensemble-spel behels: Kellerman as Bettie Lear teenoor Robert Kent, haar regterhand (vertolk deur André Roothman). Haar drie seuns (Greg, Henry, Corneltjie) word goed in beheer gehou deur die twee skoondogters: Connie en Alma. Dan is daar Oleg (die verpleër) en ‘n junkie. Wilhelm van der Walt, Edwin van der Walt en Neels van Jaarsveld het die verskillende fasette van die broederskap weergegee teenoor die oorspronklike teks waar daar dogters is. 

Lanoye ontgin eweneens die idee van familiehaat en hoe daar gevlei en witvoetjie gesoek word ter wille van eiebelang. Die gegewe word gesitueer in megalopolis – voor en na ‘n storm.

En dit word gesinkopeer met binnestorms: die een vrou se kinderloosheid; die ander een kitsch en vol eiewaarde, met Rolanda Marais en Anna-Mart van der Merwe as vertolkers.

Wanneer ‘n mens ‘n teateropvoering beleef, mis jy dikwels belangrike dialoog en skakels. Hierdie teks het die eerste ervaring nog groter gemaak.

So klink Lear op bladsy 130:

Ons giggel, ons pleeg horribale laster
Uit die koerante waar ons onder slaap.
Snags stry ons vir die grap oor besighede!
Wie van die beursbedrieërs sneuwel eerste,
Of wen? Wie is nog in, en wie al uit?
…
En ek die ponzi schemers, the old boys,
The Stellenbosch élite en die Sjinese,
Almal in eb en vloed net aan die maan
Gehoorsaam …

So word alles flink binne ons konteks geplaas met al die slangkuile van bedrog.

Wanneer die Koningin in spanning verkeer, is haar taal op die spits gedryf en dus poëties:

"'n Tumor met die voorkoms van 'n mens, 
 'n pitsweer wat ek met 'n seun verwar ..."

En:

"'n Hond, 'n perd, 'n rot besit 'n lewe.
'n Asem. Jy nie. God dis tog 'n skande!"

Wanneer jy hierdie reëls skandeer, is die sluimerende woede sigbaar.

Lanoye en Krog herposisioneer Shakespeare. In die vertaling word die teks "huis toe gebring" in die vertaalkenner Lawrence Venuti se terme, omdat dit aards is en vol verwysings na ons hier-en-nou. Soos die akteurs se vertolkings ensemblespel weergegee het, is hier 'n vennootskap tussen Krog en Lanoye. 

Sowel Krog as Lanoye is vreesloos (vir sommige mense grensoorskrydend). In die produksie weet Marthinus Basson ook hoe om dit reg te vertolk. Hy het immers Breytenbach se werk geregisseer.

Die ondersoek van waansin en demensie en die afbraak van taal is imposant. En kyk hoe word die "fool" in die oorpronklike teks nou 'n nuwe raadgewer.

George Bernard Shaw het glo gemeen dat King Lear die grootste tragedie is wat die meester geskryf het. Met Koningin Lear in Afrikaans het ons ‘n teks waar twee kreatiewe talente die teks toe-eien en nuut maak. 

Nuwe wyn in ou vate.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)

Saturday, January 11, 2020

Resensie | Anthea Pretorius – Haiku from the tip of Africa (2019)

Anthea Pretorius – Haiku from the tip of Africa. Naledi, 2019. ISBN 978 0620 7 1 3221

Resensent: Joan Hambidge

'n Haiku (haikoe / hokku) is 'n tradisionele Japanese gedig wat uit 3 reëls bestaan. Die eerste en laaste beslaan 5 sillabes en die middelste een 7. Dit is gewoonlik 'n gedig wat oor die natuur en die verganklikheid van alles handel.

Basho en Yosa Buson is die bekendste beoefenaars. So lui Kobayashi Issa se gedig (vertaal deur Jane Hirsfield):

On a branch
floating downriver
a cricket, singing.

In 1686 het Matsuo Bashō die volgende een geskryf wat ons almal ken:

Old pond
Frog jumps in
Sound of water

H.D., Ezra Pound, Jack Kerouac, onder andere, het haikoes gepleeg en in ons plaaslike Engelse letterkunde die digter Charl JF Cilliers en Marié Heese. In Afrikaans het Eveleen Castelyn pragtige haikoes en tankas gekomponeer:

Roosblare bêre
hartvormig in die laaie
die as van liefde

(uit: Minder as die engele, 1990).

Kortom, dis 'n uiters komplekse digvorm met die kira of snypunt tussen die abstraksie en konkrete beeld.

Die mono no aware, oftewel, die skoonheid in die verganklikheid of efemere is eweneens bekend aan hierdie digvorm.

Die kigo (seisoenale woord) is eweneens aanwesig in hierdie soort gedig.

Haiku from the tip of Africa deur Anthea Pretorius is dus aanpassings van hierdie vorm. 
Haar gedigte is dus eerder 'n gendai haiku eerder as die konvensionele een. (Gendai beteken modern of eksperimenteel.)

Pretorius ondersoek die opposisies van Afrika: geweld versus skoonheid; wreedhede en sagtheid. Sy transporteer dus hierdie vorm na Afrika soos die digters Charl JF Cilliers en Marié Heese.

Pretorius is in Botswana gebore en haar gedigte word telkens met verduidelikings begelei. Sy skryf oor olifante o.a. – bekend aan daardie landskap – en die gevare wat hierdie diere inhou.

So skryf sy oor 'n ronkedoor:

24

With ponderous bulk
the old bull sags in the swamp,
here to perish soon.  (26)

In sy bundel Karoo: Haiku Variations (2012) maak Cilliers die volgende sinryke opmerking: “In the postmodernist world of hyperactivity, the haikuesque experience is a refuge of outer- inner reflection, of acceptance of stillness, of the beauty of transient things…”

En dit is presies wat Pretorius regkry.

75

On the spine of the
mountain purple-blue, trees stand,
tall and defiant.   (65)

73

Majestic snowy
peaks persistently poke the
panoramic sky.   (64)

En ja daar is ook slange waaroor gedig word. Mamabas en kobras en rinkhalse. En leeus, 'n meerkat en voëls.

39

Fish Eagle, your cry
The essence of Africa!
Echo in my soul.     (40)

'n Klein, delikate bundel wat waarskynlik veral by reisigers uit vreemde lande sal aanklank vind. Dit het 'n plek ingeneem langs ander uitsonderlike beoefenaars van hierdie versvorm.

Neffens Hélène Kesting:

Huisie in die reën,
sy groen staandakkie laag
oor sy oë getrek

© Joan Hambidge

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)

Friday, January 10, 2020

Filmrubriek | Parasite (2019)

I


Gewoonlik wanneer films te veel applous en akkolades ontvang, staan ek tru. Wag totdat die geraas verby is, maar Parasite van Bong Joon-ho, 'n Suid-Koreaanse film van verlede jaar, verdien al die erkenning. Dit is sopas bekroon by die Golden Globes as die beste buitelandse film.

Die verhaal gegewe is oorbekend reeds: 'n down-and-out gesin betree 'n rykmanshuis met identiteite wat aangeneem word as tutor, kuns-juffrou, sjef en chauffeur.  

In 'n uiters realistiese toneel sien ons hoe hulle ondergronds leef. Daar is geen wifi nie en hulle "steel" van die inwoners bó hulle vir 'n verbintenis.

Vir 'n lewe vou hulle pizza-bokse. Maar dit werk nie uit nie, want hulle verbrou die fyn aanwysings. Voor hulle beskeie tuiste urineer 'n man gereeld.

En dan. Die boetie neem sy vriend se posisie in as tutor en skep (via die internet) vals grade. Die sussie is nog slimmer. Sy besef die jong kind wat sy moet leer het 'n kunsprobleem en via die internet leer sy van kunsterapie. Die ma word die sjef wanneer hulle leuens oor die huidige sjef vertel en haar verdag maak by Meneer en Mevrou Parks: dat sy tuberkulose het en die pa gaan selfs na die Mercedes garage om alles uit te vind van moderne motors.

Hierdie swendelaars plaas 'n broekie in die ryk man se motor sodat die chauffeur gefire word en alles loop flink. Hulle trek almal wol oor die oë.

Die kenner van plotlyne vermoed dat die jong kind (hy heet Da-song) wat buite alle grense leef, die leuens sal ontmasker. Hy word deur sy ouers op die hande gedra, slaap selfs op die gras in sy Rooihuid-tentjie en manipuleer die ouers vandaar met 'n walkie talkie. Sy sussie speel tweede viool.

Hy het selfs eenkeer 'n spook gesien ... (Die kyker weet egter wié hierdie spook is ...)

Die dénouement is onverwags - selfs vir hierdie ou filmkyker.

Die baas en sy gesin het gaan uitkamp.

Die huis is in chaos. Die parasiete lê weg aan die whiskeys en die tutor (Ki-woo) lees selfs sy student se dagboek.

Die voormalige sjef daag onverwags een nag op, lui die voordeurklokkie en die vier swendelaars moet die deur oopmaak. 

Sy het iets vergeet in die huis.

En dan?

Daar is 'n bunker in die huis. Heeltemal geloofwaardige binne daardie wêreld waar mense moes wegkruip tydens oorloë. 

As jy die film wil gaan kyk, moenie verder lees nie. Dit gaan 'n spoiler wees.

Die vier verneukers ontdek 'n man (die voormalige sjef se man) ondergronds wat via morsekodes met die buite-wêreld kommunikeer. (Hy skuil hier om van loan sharks weg te kom.)

'n Bloedige twis ontstaan. 

En dan keer die gesin onverwags terug want die kind het nie die kamp geniet nie ...

Die huis word blitsig opgeruim en die sjef moet ook 'n eksotiese dis maak vir die kind.

Soos in Hitchcock se Psycho is daar dan verskillende vlakke in die huis.

Gelukkig kan hulle wegvlug van die huis, maar helaas is hul tuiste deur vloedwaters verswelg.

Die nag slaap hulle - saam met ander huisloses - in 'n gimnasium.

Die volgende dag word hulle deur hul werkgewers, die Parks, vir 'n verjaarsdagparty van die jong kind genooi.

Hulle gaan.

En 'n orgie van geweld breek los. Ki-woo betree die bunker met 'n rots, maar Geun-sae uitoorlê hom. Waneer die kind Geun-sae weer sien, is hy getraumatiseer deur die besoek van die spook. Meneer Parks en sy dogter word vermoor in 'n pornografie van geweld.

Ki-woo word wakker nadat hy in 'n koma was en word skuldig bevind aan bedrog. Hy lag ook onvanpas - waarskynlik weens die breinbesering.

Die vader (Ki-taek) oorleef nou in die bunker - en met die besoek van sy seun, sien hy die morsekodes.

Die slot aktiveer verskillende lesings. Is die tutor nog in die tronk? Fantaseer hy dat hy eendag so 'n huis gaan besit? Gaan hy eendag wel sy vader uit die bunker kan red?

Die film lewer kommentaar op die verskillende klasse in hierdie land en hoe die rykes uitermate ryk is en die armes sukkel om kop bo water te hou.  Dalk hierom dat water en oorstromings so 'n belangrike kode is?

Daar is baie humor. Swart humor soos Meneer Parks wat kommentaar lewer op hoe die werkers in sy huis stink. En tydens die geweldorgie gril hy weer vir hoe hulle ruik. En dit lei dan tot die aanval op hom en sy dood. 

En tydens die oorstroming in die beskeie tuiste spuit vuil water uit die toilet.

II

Psycho (1960) van Hitchcock het ook verskillende vlakke en die bloedige aanval op die speurder, Milton Arbogast en Marion, word ook deur hierdie film geaktiveer. 

En die moeder wat in die kelder weggesteek word, maar ontdek word as 'n mummie, is ook 'n verdere interteks.

Marion wat geld steel en dan wegry en Norman (haar fata) ontmoet en vermoor word in die beroemde storttoneel.

Die Bates-motel met Norman wat vir Marion vertel sy ma is psigies siek, teenoor die ryk huis van die Parks. Ons weet egter hy is die siek een wat Marion vermoor en die gesteelde geld (met haar lyk) in die nabye moeras instoot. Die soektog na Marion vind plaas en die speurder word deur 'n donker figuur doodgemaak. (Žižek in The pervert's guide to the cinema wys op hoe skokkend hierdie toneel is weens die onverwagsheid daarvan.) Wanneer daar ook na die speurder gesoek word, plaas Norman sy moeder se lyk in die kelder. 

Lila en Sam se soektog na Marion en die speurder lewer niks op nie en Lila is geskok wanneer sy Mevrou Bates se lyk in die kelder vind. Norman - met 'n pruik en in vroueklere - probeer Lila doodmaak met 'n sjefmes, maar Sam keer hom gelukkig.

In die gedaante van sy moeder, maak hy mense dood. Hy het indertyd uit jaloesie sy moeder en haar minnaar vermoor. En die psigiater wat Norman moet verdedig verduidelik in die hof hoe sy gesplete persoonlikheid funksioneer. Uiteindelik word die motor - met Marion se lyk daarin - uit die moeras gehaal.

'n Duideliker simbool van die donker onbewuste kon sekerlik nie gevind word nie.

III

J. Hillis Miller verwys in sy bekende artikel oor die parasiet en die gasheer hoe tekste op mekaar teer in Deconstruction & Criticism (1980). Staan dit in hierdie teks of is die kritikus ook 'n soort parasiet wat op ander tekste teer?

Die regisseur van Parasite sou bepaald kennis geneem het Anthony Perkins en Janet Leigh se vertolkings.  Hier is eweneens 'n Lacaniaanse "Chinese whisper" aanwesig en die verwringing van die oorspronklike boodskap, soos dit oorvertel word.

Parasite is 'n uitsonderlike film wat kommentaar lewer op die konstruksie en nabootsing van die self, soos Lacan dit beskryf in sy Ėcrits (1966).

Alfred Hitchcock as Norman Bates se ma


Joan Hambidge

Monday, January 6, 2020

Filmrubriek | Otto e mezzo (1963) en Pain and Glory (2019)

I

Pain and Glory (Dolor y Gloria) van Pedro Almodóvar is bekroon by die Cannes-filmfees. Dit is genomineer vir twee Golden Globes vir Banderas as beste akteur en die prys vir beste buitelandse film. (Onelukkig het die beoordelaars anders besluit ...)

Antonia Banderas en Penélope Cruz is die twee hoofkarakters in 'n terugblik van die filmmaker vertolk deur Banderas. Hy herbesoek sy jeug in 'n semi-outobiografiese film met Cruz as die jonger moeder en die filmmaker se eie moeder as die ouer matriarg.

Dit is 'n fassinerende film wat eindig met Cruz en die jong kind onder kameraligte. Dit is dan ten slotte 'n metafilm. Dagboeke, herinneringe, gesprekke, 'n skildery wat later gevind word, aktiveer 'n naatlose spel tussen hede en verlede. 

Die film se ooglopende interteks is Fellini se Otto e mezzo (8 ½ van 1963). Vervaardig in die middel van sy loopbaan tydens 'n kreatiewe droogte. Soos wat Banderas 'n dubbel word vir Almodóvar, is Marcello Mastroianni (as Guido) 'n ewebeeld van Federico Fellini. Dit is 'n briljante film oor herinneringe aan 'n jeug en analises van die filmkuns.

Dit begin met 'n droomsekswens waar Guido vasgevang is in 'n motor. Sy minnares en haar man is in motor langs hom. (Later in die film kry sy 'n kamer in 'n spoorweghotelletjie en hy ervaar haar as 'n laspos.) Skielik vlieg Guido in die lug en twee mans – wat krities is oor sy werk – bring hom aarde toe en hy val in die see. Hy skrik skielik wakker.

Marcello Mastroianni & Eddra Gale

In gesprekke met sy kritikus en vervaardiger word die gebreke in sy films uitgewys. Hier die gesprekke tussen belewenis en vertelling word perfek weergegee met 'n herinnering aan sy jeug waar hy dans met 'n hoer (Eddra Gale).

Die film wat beoog, sal handel oor die liefde en die kerk. Hy word as kind gestraf vir hierdie grensoorskrydende dans. In 'n ander sekwens is daar 'n towenaar wat hom herinner aan die mantra van sy jeug: Asa nisi Masa. 

Al die vroue in sy lewe probeer hy met 'n sweep beheer. Ook hier is daar 'n spel tussen fantasie en werklikheid.

In die slottoneel stap al die karakters op die strand. 'n Ander slot plaas hulle almal in 'n trein – op 'n reis na die dood. (Daar is egter besluit op eersgenoemde einde wat meer positief sou wees.)

Soos by Almodóvar  skuif herinnering en werklikheid oormekaar in 'n kaleidoskopiese spel in 'n besinning oor die filmkuns.

II

Claudia Cardinale

Otto e mezzo is indertyd ook bekroon as 'n beste buitelandse film. Hierdie swart-en-wit-film bly gewoon 'n besonderse werk met Claudia Cardinale as die ideale vrou teenoor Anouk Aimée as sy huweliksmaat wat Guido verneuk met 'n plomp dommerd, Carla (vertolk deur Sandra Milo) wat seksuele speletjies met hom speel as 'n ligtekooi. Wanneer sy vrou opdaag op die filmstel, word die waarheid oor sy affaire openbaar. Hy kan net sy probleme in sy films – en dus in fantasie oplos – en hierom die harem-toneel waar hy die vroue probeer inperk.

In 'n gesprek met Rosella (Rosella Falk) praat hy oor wat hy in sy films wil regkry: die ongelooflike bagasie wat mens saamdra, wil hy begryp en agterlaat.

Die film se vervaardiger (vertolk deur Guido Alberti) neem hom ter take oor sy onvermoë om die film te voltooi. Sy onvermoë om lief te hê, blyk sy werklike  probleem te wees. Hy probeer die film stop en die joernaliste teister hom met vrae oor sy kuns. Hy skiet homself in die kop – nog 'n fantasietoneel? – en ten slotte is daar 'n perskonferensie: almal dans op die strand in 'n sirkustoneel ...

Die oorspronklike titel was La bella confusione, maar Otto e mezzo verwys na die aantal films wat Fellini alreeds geproduseer het. Woody Allen se Stardust Memories (1980) en The Great Beauty van Paolo Sorrentino in 2013, is waarskynlik die bekendste gesprekke met hierdie film voor Almodóvar se puik huldeblyk.

En in hierdie dae van politieke korrektheid, skroom onse Pedro ook nie om die waarheid in die oog te kyk nie: naaktheid, seksuele begeerte, dwelms ...

© Joan Hambidge