Antjie Krog. Verweerskrif. Umuzi, 2006. ISBN 1 4152
0006 8.
Resensent:
Joan Hambidge
Die digkuns van
Antjie Krog karteer vrou-wees in al haar fasette en vir die feministiese leser
is hier veral belangrike bakens wat aangestip word: jong meisie, vrou, moeder,
aktivis, geliefde – en nou in haar jongste bundel: die lewe van die menopousale
vrou en ouma. Die vrou wat deur niemand raakgesien word nie en wat haar
toestand van ‘niksheid’ beleef.
Krog se
kragtige digterskap (“ek skryf omdat ek woedend is”) word dikwels hier ‘n
belewenis van melancholie, ‘n dophou van oumense: hoe hulle stap, hulle hare
kam, hoe hulle velle daar uitsien ensomeer. Haar verbluffende beeldvermoë en
vreeslose ingaan in die ruimte van dit wat in ‘n gemeenskap as ‘n taboe ervaar
word (‘n ouer wordende mens durf mos nie so uitlap oor verdwene
ligagaamsfunksies nie?), sinkopeer sy met die gebruik van kragwoorde soos pis
en poes.
Hiermee wil sy
waarskynlik ‘n dubbele skok op die leser lanseer. Nie alleen is die tematiek
“skokkend” of vir die meeste lesers
beslis nie digterlike materiaal nie, maar die gebruik van kragwoorde wil juis
‘n aanstigting by die vroeëre vuur impliseer. Die dogter van Jefta, die ewige
buitestander, is telkens opvallend in Verweerskrif
(die Engelse titel: Body bereft).
Die digter as verweerder, as een wat aangekla is, teenoor die Engelse titel wat
sinspeel op die liggaam wat beroof en in ‘n toestand van rou is.
Die leser kan
beslis nie hierdie bundel lees sonder om die nou onlangse onregverdige aanklag
van plagiaat in die spel te bring nie. Hierom, waarskynlik, die ruim
bronerkennings aan die einde waarin die digter tereg opmerk dat vroeër was dit
aan die kritiese leser oorgelaat om die verbande te trek; nou moet die digter
as’t ware al die kaarte op die tafel plaas. In ‘n vers soos “namens myself” is
daar dan die onbewuste voorwete van die aanklag wat sou kom. Die digter praat
nou net namens haarself en is oordrewe bewus van die leegheid wat deur alles
saamklink.
In die
slotafafdeling word Tafelberg in haar wispelturigheid en –treurigheid beskou en
beskryf.
Hier sien ‘n
mens Krog in al haar liriese en epiese gedaantes. Van die boertige waarneming
tot sosiale ongeregtigheid word geregistreer. Oop waarnemings tot digte
verhullings. Deur verskillende seisoene word die berg gepersonifieer in
digterlike dagboekinskrywings wat nie ‘n jaartal bevat nie om sodoende die
universaliteit te benadruk:
saterdag 31
september
die berg is
die ene
bedrywigheid
vanmôre: sy skud
haar
fynbosmatte uit
in die son
waar die blomme lig sluk –
Die laaste
afdeling vra vir ‘n saamlees met die vorige gedeelte waarin die historiese
fasette van Tafelberg ondersoek word. Hierin staan die verruklike “rondeau in
vier dele” (p. 62) waarin die spel met binne/buite op ‘n slim wyse ontgin word.
Hierdie gedig
is ‘n praatvers en vele tegnieke van die orale tradisie word ontgin: die
direkte aanspreekvorm, die herhaling, die refreinmatige, ensomeer.
In die eerste
afdeling – waarmee die onthullende voorblad van David Goldblatt sinkopeer –
staan van die aangrypendste liefdesgedigte in Afrikaans nóg. En hier word die
nuwe dimensie van vrouwees ondersoek met selfs ‘n manifes vir ‘n ouma opgeneem.
Selfkastydend, ondersoekend, priemend, maar terselftertyd hélder poësie.
Vantevore het die eggenoot al gemaan dat sy digtende vrou té ver gaan; nou
beweeg sy steeds verder met kragwoorde, met ‘n meedoënlose blik op die ouerwordende
self.
Die bundel vra
natuurlik om saamgelees te word met die ouerword-verse van Elisabeth Eybers. By
Eybers is die toespelings subtiel, die vormbeheer absoluut beheersd, die
siening van aftakeling en siekte beskryf in digterlike dekorum. Krog gaan
verder. Sy verset haar teen die orde dat ‘n mens hierdie prosesse met
waardigheid en stilte moet ervaar.
Wanneer sy kyk
na die geliefde, wat self ouerword, sien sy ook hoe hy verander en
getransformeer het. Sy eense jagsheid het plek gemaak vir méér erbarming met
die geliefde, die spreker, die digter.
Die digter
dekonstrueer telkemale die proses deur haar onvermoë te bely dat sy nie weet
hoe om dit te sê of beskryf nie. Juis hierin lê die krag van die vers wat dit
dan juis so metafories en helder bely: “die weelde van ervaring” word met
teenstrydige emosies aangebied. Enersyds weet die digter soos ons uit die
menopousale sonnette kan aflei dat hier nuwe digterlik vuur lê, ironies genoeg
in die warmgloede; andersyds is daar berusting, die wete dat sy nie meer namens
ander hoef te praat nie, die stryd as aktivis aan te sê nie...
Die wete dat
as ‘n mens van ouerword skryf, dan betree jy die finale orde, Die dood. Dit sal
‘n speurende leser oneindig boei om die verskille en ooreenkomste in die besef
van ouerword, siekte, aftakeling en die dood by Eybers en Krog te ondersoek.
Krog se
jongste bundel het my geboei. ‘n Mens sou ook kan kyk hoe die onbewustelike
voorwete van die klag in vele verse smeul. Hierdie bundel bevestig nie net ‘n
enorme digterlike talent nie; dit bewys ook die krag van ‘n spontane,
kreatiewe, oorspronklike digterskap. Poësie woeker altyd met intertekste. Die
digter hoef nie in die nawoord daarvoor verskoning aan te teken nie.
Die leser
staan dikwels saam met die digter oorrompel voor vele pragtige verse. Dit is ‘n
bundel met ‘n sterk feministiese diskoers en hierom waarskynlik die skerp
reaksie van Stephen Gray in die Mail
& Guardian.
Dit herinner
egter intens aan die reaksies wat Johann de Lange se Nagsweet ontlok het, oor die eerlike besegging van die liggaamlike
en die oortreding van ‘n digterlike dekorum. Beide digters skryf egter oor méér
as die bloot skokkende.
Die bundel
verskyn terselfdertyd met ‘n Engesle vertaling: Body Bereft. Vir my is vertalings altyd belangrik veral as jy dit
langs die oorspronklike kan plaas. Engels leen hom egter nie tot die
primordiale Krog nie, omdat haar gedigte intens woeker met die Bybelse
verwysing, die bekende idioom, die Halleluja-lied.
En die
voorblad?
Ag nou ja ons
weet daar was ‘n polemiek of dit Krog is of nie.
Is dit
tersaaklik?
Is die gedig
ooit gelyk aan die digter?
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Volksblad geplaas.]