Mikki van Zyl & Melissa Steyn (Reds.). Performing Queer: Shaping Sexualities 1994 –
2004 (Volume 1). Kwela, 2005. ISBN 0 7957 0196 9.
Resensent: Joan Hambidge
Daar is deesdae meer boeke oor
genderpolitiek, genderidentiteit of enige aspek wat met gender te make as tien
jaar gelede. Toe het veral feministiese studies die aandag gekry. Nou verskyn
daar al om die hawerklap ‘n studie wat nuwe lig werp op die delikate verhouding
tussen biologiese en sosiale aspekte van gender. Die nou onlangs onverkwiklike
debakel oor homoseksualiteit het opnuut bewys dat die politieke dimensie in
enige genderdiskoers nie verreken is nie.
Hiervoor was die debat in elk geval
gedoem tot misverstand: aan die een kant diegene wat meen Die Bybel verklaar
dit tot sonde; aan die ander kant die verworpe gays. Tussenin teoretici wat
enersyds meen dis ‘n genetiese feit; ander wat beweer dis ‘n politieke
keuse. Mikki van Zyl & Melissa Steyn is die redakteurs van
Performing Queer, ‘n studie in die reeks Social Identities South Africa (onder
leiding van Abebe Zegeye).
‘n Goeie titel met ‘n voorblad wat enige
semiotikus lank sal besig hou: beeste in die agtergrond (“rooi Afrikaner osse
sien jy om elke draai…), ‘n meisie met ‘n kappie en bootse (“ai meisie, meisie
sing die Acapellas verder…), ‘n swart man in safari-pak met ‘n pruik op en
Protea in die hand…
Dekonstruksie en parodie, dus.
Beide Van Zyl en Steyn se werk is
alombekend. Jane Bennett en Amanda Gouws het die manuskrip uitvoerig gelees;
hart- en handversterkend vir enige genderteoretikus.
Tien jaar in die demokrasie in en hoe lyk
genderpolitiek? Is daar wel sprake van die “shift” waarvan Van Zyl praat?
Inderdaad is gender meer vloeibaar en is identiteit ‘n proses (“always
becoming”). Met Laurie Gaum/Moreletapark in die vars geheue besef die leser dat
hier gepraat word van mense wat reeds die lig gesien het en nie van beswaardes
wat dieselfde seks-verhoudings nog as sonde en uit die bose beskou nie. In
welke mate jy egter jou eie ruimte moet vind en die impak van ‘n queer
identiteit (terloops, die konsep is die noemer waaronder geteoretiseer word en
is nie ‘n neerhalende woord nie) op die ervaring van jou-self.
In hierdie versameling wat verskeie
teoretiese modelle aanbied, is die teoretisering van die self “playing on the
pavements of identities” van Bernedette Muthien ‘n uitstaande voorbeeld van
enersyds persoonlike belydenis en andersyds teoretisering van gender-kwessies
binne ‘n politiek-onregverdige bestel. (Die bydraers gebruik dikwels
kleinletters by opskrifte; waarskynlik ook ‘n soort subvertering van die
skryfkonvensie.) Sy definieer “queer” as ‘n radikale herdefinisie van
seksualiteit wat alle posisies verteenwoordig en juis deur die gebruik van die
pejoratief, word ‘n nuwe, radikale posisie geïmpliseer. Dit wil juis wegkom van
die hetero-dominansie se opposisie tussen gay & straight. Die “alien”, die
“inbetween”.
Mikkie van Zyl skryf in “fat like the sun”,
‘n persoonlike belydenis, oor seksuele identiteit en die ervaring van die
liggaamlike. Haar woede teen die hetero-normering en die “othering” omdat jy
anders lyk, dink en voel, word via gedigte, e-pos, dagboekinskrywings, teorie
vir die leser oopgemaak. Lesers mag gru vir die persoonlike toon van die stuk,
maar dis juis waar die krag opgesluit is: in die sê sonder skroom.
Rachelle Chadwick, saam met die gesiene Don
Foster, artikuleer “’taking-up’ gay?; A Rape Crisis volunteer re(per)forms sexuality”.
Hier is ook ‘n gedig, lank en uitgesponne, en kommentaar op sosiale
konstruksies. Uiters insiggewend is die bydrae van swart gays en lesbiërs en al
die vooropgestelde idees en mites wat rondom hierdie (dikwels onsigbare) groep
bestaan.
Charl Hattingh pak die werkplek in “struggles with authenticity”, ‘n
arena waar subtiele en minder ooglopende diskriminasie aan die orde van die dag
is. Vandag voel witmans dikwels die swaard van diskriminasie teen hulle, maar
veral gay-mense het in die verlede al dikwels voor erge diskriminasie te staan
gekom. Gaan lees maar wat Zackie Achmat alles vir ons in ‘n argief bewaar het
of begin wonder waarom daar iets soos ‘n Mother City Queer Project is. Of
waarom sekere mense weens hul beroepe nie ge-“out” wil wees nie en dan ‘n
dubbele bestaan begin voer, wat vir die openlike geliefde dikwels ook
uitputtend word en konflik veroorsaak.
En diegene wat meen die diskoers is te
hardvogtig en aanvallend moet straks herinner word aan hoé ongenuanseerd daar
teen gays opgetree word. Die Laurie Gaum-debakel is immers nog vars in die
geheue. Robert Vosloo se analise van die kerk en die vraag wat hy vra word
ongelukkig ondermyn deur die onlangse debat. Van die “ethics of hospitality”
het daar maar min tereg gekom. William Leap, die bekende Amerikaanse teoretikus
se analise van kaarte en hoe ‘n stad gelees kan word, is waarskynlik een van
die beste essays in hierdie studie. Hy versoen antroplogie en linguistiek om ‘n
stad se bedrywighede te lees.
Hoe jammer tog dat vooraanstaande Afrikaanse
skrywers wat die queer-belewenis beskryf het, nie hierin opgeneem word nie.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Burger geplaas.]