Monday, November 11, 2019

Rubriek | Woody Allen – A Rainy Day in New York (2019)

I

Dis nou maar eenmaal so met Woody Allen: hy is die meester van sub-teks. Hy maak 'n film oor die liefde teen die agtergrond van sy geliefde stad New York, en meer gebeur as wat die blote oog met 'n eerste oogopslag mag raaksien. Daar is kopknikke na Manhattan en Vicky Christina Barcelona, maar hier gebeur iets anders. Twee jongelinge besoek NY, vertolk deur Elle Fanning as Ashleigh Enright en Timothée Chalamet as Gatsby Welles. Ashleigh moet met 'n regisseur (Liev Schreiber as Roland Pollard) vir haar universiteitsblad 'n onderhoud voer. Gatsby het inmiddels geld uit dobbel gemaak en kan 'n heerlike tyd in 'n duur hotel bekostig.

New York het egter sy eie agenda, merk 'n karakter op en dis presies wat hier gebeur. Terwyl Ashleigh besig is met die interview, raak Gatsby toevallig betrokke by 'n klein film. Sy rolletjie is dat hy net 'n meisie moet soen, maar sy is die suster van sy eks wat alles van seksuele vermoëns weet. Ashleigh, op haar beurt, word weer ingekatrol by die intrige van die regisseur se produksiebestuurder, ene Ted Davidoff (Jude Law) wie se vrou hom verneuk met sy beste vriend. In die reën konfronteer hy sy vrou, terwyl Ashleigh hom bystaan. Die regisseur is soek; hy dink die rolprent is nie goed genoeg nie.

Ashleigh beland toevallig op die stel van 'n Franse hartebreker (Diego Luna as Francisco Vega) wat vir haar lieg dat sy meisie hom gelos het. Die pers slaan toe en sy is op TV as sy nuwe squeeze. Gatsby sien dit toevallig in sy hotelkamer. Hartgebroke in 'n kroeg ontmoet hy toevallig 'n gesellin.

Hy neem haar na sy ouers se party - wat hy probeer ontduik het - maar ongelukkig het sy tante en oom hom vroeër die dag in die MOMO raakgeloop. 

Alles werk soos in die film soos 'n Franse klug. Misverstande, toevallige ontdekkings, leuens.

Die Wendepunkt is wanneer sy moeder hom voor stok kry oor sy gesellin. Hierdie konfrontasie is 'n hoogtepunt wanneer sy onthul sy was sélf 'n demi-monde in haar jeug. Sy het egter op haar man verlief geraak en wat haar seun as pretensie ervaar, was egter haar poging om te ontsnap van haar verlede. Sy ly steeds aan haar jeugdige oordeelsfoute. Cherry Jones lewer hier 'n vertolking wat 'n Oscar-nominasie waardig is.

In die briljante slottoneel nadat die Ashleigh bely niks het tussen haar en die akteur gebeur nie, is daar 'n koetsrit deur New York. (Sy moes immers holderstebolder met 'n reënjas die akteur se apartment verlaat weens die onverwagse terugkeer van sy vriendin.) Ons weet egter wat met koetse in sprokies gebeur.

Maar Gatsby kry koue voete, gee vir haar geld en keer terug - in Central Park - waar hy Shannon (Selena Gomez) ontmoet.

II

Humor is daar volop. 'n Verloofde wie se lag haar bruidegom so ontstig dat hy die troue wil kanselleer. Ashleigh wat hik wanneer sy seksueel opgewerk word. Roland wat dronk en onbeholpe raak. En 'n konfrontasie tussen huweliksgenote wat mekaar wedersyds van ontrouheid beskuldig. Die musiek - en Gatsby wat klavierspeel - gee iets melancholies weer.

III

Die film behoort aan Cherry Jones as Mevrou Welles. Met 'n hele paar Tony-toekennings agter die blad en 'n vertolking in The glas menagerie was sy 'n uitstekende keuse. En haar rol in 2018, Holly, the feministiese moeder van  June/Offred in The Handmaid's Tale is met 'n Emmy bekroon. Verder is sy 'n openlike lesbiese vrou.

'n Mens kan gewoon A rainy day in New York gaan kyk net vir haar vertolking van die moeder wat aan haar seun haar donker verlede bely. Sy speel met haar oë en vertolk die diep ontnugtering wat haar jeugfoute ingehou het. Hierom haar soeke na welvaart. Haar stem is skor.

En dalk is dit presies wat Gatsby verstaan in die skokkende onthulling. Die lewe is kort en jy moet doen wat jou hart begeer. Hy weet immers wat dobbel behels!

IV

Kontroversie was daar rondom die film. Die MeToo-beweging het weer toegeslaan maar dit was Jones wat Allen verdedig het:
Cherry Jones defended Allen in April 2019, saying, “[...] I went back and studied every scrap of information I could get about that period. And in my heart of hearts, I do not believe he was guilty as charged [...] [t]here are those who are comfortable with their certainty. I am not. I don’t know the truth, but I know that if we condemn by instinct, democracy is on a slippery slope.
Jude Law was eweneens knorrig dat die film nie in die VSA uitgereik is nie en van die jonger akteurs het egter teen Allen gedraai.  'n Regter het hom in die 90er jare onskuldig bevind aan molestering en wel gemeen dit was simboliese bloedskande dat hy betrokke geraak het by sy aangenome stiefdogter, die kind van Farrow en André Previn.

Maar Mia Farrow en gesante hou die aantygings warm. Die dogter Dylan wat glo op sewe gemolesteer is (wat deur die regter verwerp is) bly eweneens voor in die koor (Dylan Farrow on Her Father, Woody Allen/ 'He's Lying and He's Been Lying For So Long' | Glamour. Besoek 11 November 2019).

Dit is wel noodsaaklik om te fokus op sy filmkuns en te kyk na die bakens wat hy gelewer het as rolprentmaker. 'n Morele oordeel oor iemand se lewe is iets anders as om sy filmkuns te verdoem of sensureer.

My gunstelinge:

Annie Hall (1977), Interiors (1978), Manhattan (1979), Love and death (1975), Zelig (met Saul Bellow en Susan Sontag) uit 1983. Hannah and her sisters (1986), Deconstructing Harry (1997), Matchpoint (2005) en Vicky Christina Barcelona(2008).

Kyk net na die uitstaande rolverdeling van die jongste rolprent:

Timothée Chalamet as Gatsby Welles
Elle Fanning as Ashleigh Enright
Selena Gomez as Shannon
Jude Law as Ted Davidoff
Diego Luna as Francisco Vega
Liev Schreiber as Roland Pollard
Kelly Rohrbach as Terry
Annaleigh Ashford as Lily
Rebecca Hall as Connie
Cherry Jones as Mrs. Welles
Will Rogers as Hunter Welles
Suki Waterhouse as Tiffani
Ben Warheit as Alvin Troller
Griffin Newman as Josh
Kathryn Leigh Scott as Wanda
Taylor Black as Dana
Don Stephenson as Bemelmans Bar Waiter
Tre Summers as Gripper James

Sunday, November 10, 2019

Resensie | Koningin Lear (2019)

Tom Lanoye se stuk (vertaal en gekontekstualiseer deur Antjie Krog), met die uitstaande regisseur Marthinus Basson, is 'n komplekse, briljante teaterervaring. Dit ontstig en boei om verskeie redes.

Die herwerking van Shakespeare se King Lear word 'n stereoskopiese ervaring van 'n teks verplaas na Vlaams en Afrikaans bekend aan vertalings. Die magspanninge in die oorspronklike drama word na hierdie land verplant met verwysings na Steinhoff. Op die televisieskerm bó – wat die storie vorentoe dryf – is Julius Malema en tornado's in Miami. Eers stilte: geboue in New York wat dan al hoe meer spannend en verwoestend raak. Die storm en oorlog in die oorspronklike teks word so geaktiveer.

'n Gesprek met 'n seun in die Ooste vind plaas op Skype. Daar is selfone. So behalwe vir die vertaling/verwerking wat alreeds stereoskopies in aanbod is, vind ons ook moderne tegnologie wat elke gesprek verder kompliseer.

George Steiner het in The death of tragedy (1961) geskryf dat in King Lear "the weight of the suffering lies in the prose." Hy wys op die verskillende taaldimensies in die stuk; iets wat sowel Lanoye as Krog ópvang.

Verder ruil Lanoye die gegewe om en maak hy van die magsbasis 'n genderkwessie. Ons het nou 'n Koningin Lear, 'n matriarg, vertolk deur Antoinette Kellerman wat haar register volledig bestryk. Eers as die beheerder van haar kinders en welvaart; dan as 'n verloederde persoon wat psigiese beheer verloor. Die waansin – so bekend aan vele Shakespeare dramas – word hier ondersoek. Die klere verander. Eers korporatiewe drag; dan slaapklere, 'n deursigtige rokkie ...

Van hakkies na plakkies. En 'n kapsel wat maller en deurmekaarder raak.

Kellerman word ondersteun deur mede-spelers: die twee skoondogters (vertolk deur Rolanda Marais en Anna-Mart van der Merwe) se klere verraai ook hul innerlikes. (Alison Lurie wys immers hierna in The language of clothes (1981) dat klere 'n persoon opsom). Roland Marais is spoggerig geklee en Anna-Mart van der Merwe dra blink, uitspattige klere. Hul aksente verraai ook hul stand en wanneer Marais brry, is sy weerloos in die rusie oor kinderloosheid en die jaloesie tussen die skoonsusters. Van der Merwe is skitterend in haar vertolking van 'n dom, manipulerende vrou. Die matriarg noem hulle pofadders.

Want die matriarg wat haar naam wil afdruk op aandele, beheer haar kinders met afpersing. Die emosionele geweld in hierdie familie-romanse word 'n tragedie met die waansin en dood van 'n kind.

André Roothman se transformasie van raadgewer tot blinde man simboliseer wat in hierdie drama gebeur. Sy liggaamsbeheer is oortuigend. Kyk hoe staan hy eers ... Neels van Jaarsveld bewys weer vierkantig hoé veelsydig hy is. In sy benepe blou pak klere probeer hy sy broers troef: Wilhelm van der Walt en Edwin van der Walt wat puik is in hul vertolkings. Matthew Stuurman praat Engels en Afrikaans – om die spieëlaspek van vertaling verder te beklemtoon. Edwin van der Walt (as Cornald) ruk aan die hart wanneer hy 'n vertrapte, verslaafde vertolk.

'n Mens sou ook oor die musiek kon skryf wat verder die dramatiek van alles beklemtoon. Die naaktheid en sekstoneel is goed ingebed. Basson is 'n ou hand. Hy weet presies hoé om die grensoorskrydende te navigeer.

Die gehoor het dikwels gelag vir die taal wat skerp, beeldend en selfs vuig is. Nou ja, lag is 'n komplekse emosie.

In die eerste helfte van die drieuurlange produksie word die sleutels gegee wat die kyker in die tweede helte sien ontplof. Van klein besigheid tot sakeryk. Lojaliteite wat geeïs word met 'n jongste broer wat nie wil saamspeel nie. Familietwis en hebsug.

Hierdie teks is 'n hérverbeelding van die oorspronklike soos Michael Almereyda se Hamlet (2000) met Ethan Hawke.

Harold Bloom het insigryk geskryf oor King Lear wat hy as meer ironies as Hamlet beskou het in sy studie oor hierdie drama in Lear: The great image of authority (2018).

Kyk wat gebeur in hierdie drama met Cordelia, Goneril en Regan ... en kyk hoe die props verwyder word deur behendige teaterlui.

En Elizabeth Lear se jambes oortuig: “'n Tumor met die voorkoms van 'n mens, / 'n pitsweer wat ek met 'n seun verwar ...”

Hugo Theart het dit as opdragstuk opgevoer vir die 25e bestaansjaar van die KKNK en so 'n man moet eweneens die eer kry.

Teater uit die boonste rakke.


© Joan Hambidge  

Wednesday, November 6, 2019

Resensie | Clinton V. du Plessis – Verslag (2019)

Clinton V. du Plessis - Verslag. Roepman Uitgewers, 2019. ISBN 978 06208 3540 4

Resensent: Joan Hambidge

I

Verslag is klaarblyklik die laaste digbundel van Clinton V. du Plessis wat reeds tien bundels gepubliseer het. Hierdie jongste bundel val in drie afdelings uit: Lewe, Werk en Dood.

Du Plessis is ‘n buitestaander. As bruin digter het hy hom deur die jare opsetlik eenkant gehou. Hy het onder andere geweier om gekanoniseer te word deur Brink in Groot verseboek

Luc Renders noem hom die "evangelis van die nihilisme." Dalk is hy eerder ‘n "buikspreker vir die stemloses?"

Op die voorblad van die jongste bundel is daar ‘n sleutelgat waardeur ons loer: Moslem-kodes, die sekelmaan, ‘n man met ‘n pet, draadrolle wat inbrekers moet keer, wasgoed wat wapper, o.a. Die treinspoor in die heelal wat in die slotafdeling verklaar word: die laaste vertrek. Op die agterblad is daar ‘n sleutel waarmee die leser by wyse van spreke die bundel moet oopsluit.

Die eerste afdeling ruk aan die hart met ‘n slim “Ode” wat praat met Jacques Brel se “Marieke”. Daar is dikwels verwysings na musiek in die bundel – Tom Waits, Bruce Springsteen, Joan Baez, John Lennon, o.a. – en gesprekke met mede-digters. 

In “Karretjie” (17) lees die weerlose mense die seisoene: die bloekom gee koelte en die doringboom vuur.

Die lotgevalle van gewone mense - daardie mense wat stemloos is  word hier stemhebbend gemaak. Taxibestuurders in Stellenbosch, selfmoordbommers wat tydelik op televisie aandag geniet en dan verdwyn, die ellendes van mense wat blootgestel word aan human trafficking of silikose, kom in die tweede afdeling aan bod. 

In die laaste afdeling vind ons lykdigte en klaagsange oor bekende figure – soos Dulcie September, Ryk Hattingh, Tom Gouws – en verse wat die impak van die dood op die digter se lewe registreer. In “Due diligence” (116) vra hy:

Is die dood krediet en die lewe die debiet?

Tereg heet 'n gedig "Oop eindes" (101) wat vrae vra oor verskillende weergawes van rou.

"Noodberig" (98) is 'n parodie van Oom Jan F se "Dis al":

Dis die rooi, dis die blou
dis die wêreld wat vir 'n Twitter-oomblik jou
verdrinkte lykie onthou
dis die rooi, dis die blou
dis die wêreld wat vir 'n nanosekonde rou.

Die digter is ‘n boekhouer wat hier beelde uit sy werk gebruik om die proses van skryf te verduidelik.  

In “Geswore waardasie” (87) word daar in gesprek getree met Lucebert se bekende stelling dat alles van waarde weerloos is. Die digter ontgin dan die wêreld van die eiendomsontwikkelaar en wat waardasie behels. Die ingeboude ironie is natuurlik dat die waardeerder werk met klousules en lêers. Die digter is egter besig met 'n andersoortige waardasieproses en risiko’s.

In "Bossies" (29) word TT Cloete aangespreek. In Aantekeninge teen die skemeruur (Cordis Trust, 2017) parodieer hy Cloete se "God die digter".

God: Die rekenmeester

daar is meer poësie in die balansstaat
as in die letterkunde en baie meer poësie
in die neerpen van syfers
die optrek van 'n proefbalans
in die karma van debiet en krediet
in die aansuiwering van foute met joernale
in die syfervoer op sleutelbord is daar baie meer ritme
in die kwatryn van sekonde wat pas in minuut
wat pas in uur wat pas in dag
die heelal is deur 'n rekenmeester gemaak.

So klink Cloete se vers:


Chile is deur 'n digter gemaak – Neruda

daar is meer poësie in die sneeuvlokkie
as in die letterkunde en baie meer poësie
in die miskruier in die toktokkie
in die meteorologie en entomologie
in die moremis en bergpiek
die horison wat in die hemel wegraak
in die rooswolk is daar baie meer liriek
die aarde is deur ‘n digter gemaak


II
Daar is onthoubare verse soos:

Aksioom

Die liefde is soos soms algebra
oënskynlik bo jou vuurmaakplek
totdat jy die beginsels onder die knie kry

dan word dit ‘n opwindende soeke na
ontknopings, oplossings, ontdekkings
en telkens dié resultaat: ek + jy.

(118)

Eweneens vir die onthoulys:

“Due diligence”, “Oop eindes”, “Noodberig”, “Geswore waardasie”, “Binne”, “Selfmoordbommer”, “Salig”, “Sleur”, “Déjà vu”, ”Gebed”, “Bossies”, “God se aap” ,”Dop” .

Soms is die verse te uitgesponne – vir hierdie leser se smaak – en personifikasie in “Wending” is steurend.

Wending

Die jaar sit sy wolmus op
krap in die hangkaste rond
trek sy handskoene al in die herfs aan
en begin oor die komende winter tob.

(117)

Die digter het deur die jare sy man gestaan en sy bundels self gepubliseer. 

Daar is ‘n handvol sterk gedigte in hierdie bundel. Die boek word opgedra vir jou. Vir die leser dus.

Bestel van Roepman Uitgewers teen R200 by clintonvduplessis@gmail.com


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

Gedig | God en die wêreldbeker (2019)


‘n bietjie literêre duimgooiery met TT Cloete

daar is meer poësie in die kortskoppie
as in die lang aangee en baie meer poësie
in die pypkan en verdediging
in die lang lynstane en vaste skrums
veral met die plettervatte en drieë
daar is baie meer liriek wanneer die rooswolke verdwyn
met Faf se springbroekie in die kleedkamer
die wêreldbeker is vir 'n digter gemaak

© Joan Hambidge