Margaret
Atwood. The tent. Bloomsbury, 2005. ISBN 07475 8225 4.
Joan Hambidge
Die bekende
roman- en kortverhaalskrywer A.S. Byatt het ‘n klein boekie gepubliseer The djinn in the nightingale’s eye
(Vintage, Londen, uitgegee in 1995) wat sterk herinner aan Margaret Atwood,
digter en romanskrywer, se jongste
bundeltjie essays The tent.
Dieselfde in formaat, met ‘n boeklintjie op die koop toe èn in hardeband. By
Byatt is die verhale klein-metatekste wat verstommende insigte bied op haar
skryfkuns; Atwood se essays wil bykans dieselfde soort kommentaar lewer. Dit
tree ook in gesprek met haar vorige publikasie Good bones (1992).
Die
‘verhaaltjies’ in die jongste is kort-kort flitse, flenter verhale; dikwels met
‘n skop in die leser se gat of ‘n ironiese wending wanneer die skrywer kwansuis
maak asof sy jonger skrywers goedgesind is en presies die teenoorgestelde dan
blyk uit die slotakkoord. Lees ‘n mens hierdie boekie saam met The djinn in the nightingale’s eye,
verraai die boekies sekere argetipiese patrone oor die ouerwordende skrywer.
Hoe werk inspirasie; wat is die verhouding met jou familie (by Byatt ken ons
die troebel geskiedenis tussen haar en suster Margaret Drabble); die eise wat
beroemdheid stel, ensomeer. By Atwood is daar ‘n stywe skeut sinisme en satire
te bespeur in die jongste teks, terwyl die metarefleksies by Byatt opvallend
is. Op die koop toe word argetipiese patrone vir die leser openbaar, asof jy
besig is om ‘n tarot-lesing te maak.
In “Take
charge” is hierdie genotvolle stuk te lees oor die invloed van moderne
tegnologie op ons lewens:
Sir, their diabolical worm virus has infected our missile command
system. It’s eating the software like candy.
Don’t just lounge there, you
dickhead! Get going with the firewalls, or whatever you use.
Sir, I’m a screen monitor, not a
troubleshooter.
Shit in a bucket, what do they
think we’re running here, a beauty parlour? If you can’t do it, where’s the
nerdy-faced geek who can? (p. 94)
In “Something
has happened” word ‘n bykans melancholiese soeke na stilte verhaal, bykans asof
dit ‘n gedig is. Miskien is dit nie die wêreld wat stil geword het nie, maar
ons wat net gewoon doof is. Hierdie tema is terloops ook kenmerkend van haar
oorrompelende digkuns.
En die
titelverhaaltjie beskryf die tent wat van papier gemaak is. Haar analise oor
die van belang van grafomania, ten spyte van die feit dat die tent metafories
aan die brand kan slaan, moet gelees word deur veral diegene wat nie ‘n
obsessie met skryf kan begryp nie. Of meen hulle is in die teks. Daar bestaan
min tekste wat so indringend en bondig skryf oor die skrywer se ambivalente
gevoel oor skryf: dat dit soos kers verhit, maar ook die tent kan laat brand.
En die skryfdaad is beslis nie ‘n “armour” nie.
Juis dit sou die grootste illusie wees...
Wat aangrypend
is “But it could still” waarin al die leuens oor die lewe (waarin ons moet glo
ten einde te kan oorleef) afgeskil word...
Die leser moet
maar self besluit of daar lewe na die Booker-prys is. Atwood, ‘n gesogte
digter, het dit vir haar roman The Blind
Assassin in 2000 verower en haar roman daarna, Oryx and Crake was om die minste te sê, nie vir my ‘n plesierige
leeservaring nie.
Enkele van
hierdie stories-cum-essays-cum-besielings sal altyd by my bly spook.
En oor skryfkompetisie?
“Fish are not
the rivals of stones”, meen sy.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Burger geplaas.]