Sunday, February 28, 2021

Resensie | Tomas Tranströmer – Alles keer om (Vertaal deur De Waal Venter | Akademie vir Wetenskap en Kuns, 2020

Tomas Tranströmer – Alles keer om (Vertaal deur De Waal Venter. Akademie vir Wetenskap en Kuns, 2020. ISBN 978 0 620 905022 2

 

Resensent: Joan Hambidge

 

Die skoonheid van wondere is gevind

 

I

De Waal Venter het met sy Pablo Neruda-vertalings Vandag is boordensvol (2019) die gesogte Akademieprys gewen.

http://joanhambidge.blogspot.com/2019/08/resensie-de-waal-venter-vandag-is.htmlBesoek 24 Desember 2020

Alles keer om is sy vertalings van Tomas Tranströmer se verse wat in 2011 met die Nobelprys vir letterkunde bekroon is. Gebore 1931 en oorlede in 2015 was Tranströmer digter, vertaler en sielkundige.

 

Modernisme, ekspressionisme, surrealisme – so is hierdie gedigte al tipeer. Hierdie digter – soos vele modernistiese digters – is beskuldig van ‘n a-politiese aanslag.

 

Met die lees van hierdie pragtige antologie het hierdie leser weer teruggekeer na die verse van Wallace Stevens, in lewe ‘n baas van ‘n assuransie-maatskappy in Connecticut en volgens homself glo ‘n Sondagdigter, gebore in 1879 en oorlede in 1955.

 

Opperman was ‘n groot bewonderaar van Stevens se poësie.

 

In “An Ordinary Evening in New Haven” (1950) skryf hy:

 

The poem of pure reality, untouched

By trope or deviation, straight to the word,

Straight to the transfixing object, to the object 

At the exactest point at which it is itself,

Transfixed by being purely what it is.

A view of New Haven, say, through the certain eye,

The eye made clear of uncertainty, with the sight

Of simple seeing, without reflection. We seek

Nothing beyond reality.

 

Stevens is duister, verwikkeld, maar soms ook liries. Soos Tranströmer, waar die lees van sy gedigte ‘n bykans hipnotiese effek het op die leser. Die voorblad gee vir ons ‘n ómgekeerde beeld van ‘n idilliese Sweedse huis met bome …

 

Helaas is alles nie pluis hier nie. Ons verneem van ‘n onstelde meditasie en daar is elegiese verse. Telkens word ‘n mens bewus van ‘n dubbele keuse en tyd is ‘n gevange insek:

 

                                               My polshorlosie

gloei hardkoppig met die tyd se gevange insek. (39)


Daar is grimmige ondertone in hierdie verse soos die verwysings na Georges Simenon, die bekende Belgiese speurskrywer en die Bockstenman wie se lyk in 1936 ontdek is in ‘n bog – deurboor & vasgepen met twee houtpenne…

 

Simenon se lewe was ook vol onstuimighede ten spyte van speurder Maigret se beheer oor alles. En Tranströmer skryf oor stilte – nes sy meesterlike landgenoot Ingmar Bergman dit weer op sy beurt uitstekend vertolk in films. Autumn sonata (1978) en The silence(1963) bly gewoon hoogtepunte in die verbeelding van ‘n versmorende stilte wat sy digterkollega eweneens aanspreek.

 

“In klein bleek telegramme van die wêreld” (51, “Lamento”) is die pynlike geskiedenis van die Afrikaanse digter D.P.M. Botes opgesluit.

 

Soos Stevens werk Tranströmer met verwysings, selfs soms met ‘n voetnoot; ander kere moet die leser self die verwysing ontsluit.

 

II

“Oggendvoëls” (65) is betowerend mooi en hierdie ekster gesels met Opperman se narokkong. Die ekster is die hel se voël; by Opperman is die narokkong, via Sangiro se Koors, die draer van slegte nuus. Opperman se “Koggelbos” (Komas uit ‘n bamboesstok)gebruik die narokkong met sy grieselige, eentonige en rou geroep, soos Snyman uitwys in Mirakel en muse (129).

 

Stilte. Eensaamheid. Isolasie. Die soeke na sin en betekenis navigeer hierdie besondere verse vérder. Grimmige humor vind ons ook soos in “Oklahoma” (73) waar die Sweedse besoeker na ‘n Indiaanbyl kyk …

 

In ‘n lewenskets van Grieg (“‘n Kunstenaar in die Noorde”, 79) is die vleuelklavier so beknop ingepas as ‘n swael onder ‘n teëldak. My eksemplaar sit vol uitroepe waar ek so bekoor is deur ‘n mooi beeld.

 

Daar is verse wat kort en kragtig is; selfs ook ‘n villanelle, prosaverse – telkens bly die leser bekoor deur ‘n vers wat jou inkatrol en onkant betrap.

 

Die posseël se vlieënde tapyt

die adres se steierende letters

plus my verseëlde waarheid

swewend nou oor die oseaan. (“Lugpos”, 169)

 

Die digter betrek die geskiedenis, die skilderkuns (o.a. Turner), musiek, en daar is selfs ‘n verwysing na die Transvaal.  Shangai en uit ‘n Afrika-dagboek staan hier.

 

Daar is soos by Wallace Stevens ‘n soeke na die woord wat die regte emosionele lading moet weergee. Soos by Opperman.

 

III

‘n Groot geskenk in hierdie troebel dae hierdie vertalings van De Waal Venter. Hierdie leser ken nie Sweeds nie, maar via die Engelse vertalings imponeer De Waal Venter s’n bepaald.

https://www.poetryfoundation.org/poems/51016/the-indoors-is-endless  Besoek 24 Desember 2020

 

Hy het in Venuti se terme die gedigte huis toe gebring.  In ‘n nawoord gee De Waal Venter redes vir sy keuses en verwys na verskillende vertaalteoretici se sieninge oor vertaling. Sonder vertalings sou ons ervaring van ander letterkundes nie bestaan het nie.

 

Ek is geborge in my skadu

soos ‘n viool

in sy swart kas … (“April en stilte”, 171) 

 

is ‘n melancholiese strofe wat hierdie leser al lankal met haar saamdra, danksy De Waal Venter se bekendstelling van hierdie digter aan ons en een wat ek met sy toestemming as ‘n motto wil gebruik.

 

“Droomseminaar” (148) is ‘n gedig wat sterk resoneer met die tyd waarbinne ons leef …

Die onlogiese, die primitiewe, die droom, stiltes en spiritualiteit word saamgesnoer in wonderbaarlike gedigte met worstelstelsels wat ondergronds práát met ander digters in die “oop en geslote ruimtes” van die digkuns.

 

Daar is soos Neruda mos gewaarsku het: geen digters nie; net een groot digkuns.

 

Bronne:

Shumaker, Wayne. 1965. An approach to poetry. Londen: Prentice Hall.

Snyman, Henning. 1983. Mirakel en muse. Johannesburg: Perskor.

 

 

Lys van bundels:

  • 17 Poems (17 dikter), Bonniers, 1954.
  • Secrets on the Way (Hemligheter på vägen), Bonnier, 1958.
  • The Half-Finished Heaven (Den halvfärdiga himlen), Bonnier, 1962.
  • Bells and Tracks (Klanger och spår), Bonnier, 1966.
  • Seeing in the Dark (Mörkerseende), Författarförlaget, 1970.
  • Paths (Stigar), Författarförlaget, 1973.
  • Baltics (Östersjöar), Bonnier, 1974.
  • The Truthbarrier (Sanningsbarriären), Bonnier, 1978.
  • The Wild Market Square (Det vilda torget) Bonnier, 1983.
  • For the Living and the Dead (För levande och döda), Bonnier, 1989.
  • The Sorrow Gondola (Sorgegondolen), Bonnier, 1996.
  • Prison (Fängelse), Edition Edda, 2001 (from 1959).
  • The Great Enigma (Den stora gåtan), Bonnier, 2004.

 

 (Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Versindaba)

Friday, February 19, 2021

Gedig | Die gedig as oorskiet | 2021

Vanoggend skarrel

ek in die kombuis 

warm oorskietkos op 

en dink aan Eybers wat skryf 

aan die digter van Gunsfontein: 

moeilik om poësie te skryf 

(v)oor panne en potte. 

 

Arthur Miller 

meen in 1935 was Amerika 

far beyond the reach of prayer  

                                                as a collapsed bridge. 

 

Watter brug had hy in gedagte? 

 

Nie die Brooklynbrug nie, 

die eerste staalkonstruksie 

voltooi in 1883 met 20 werkers 

wat sterf aan caisson-siekte. 

 

Daardie brug staangemaak 

in vele gedigte oorleef 

dekompressie en in my skryfsel 

dink ek aan hierdie harp en altaar 

soos Hart Crane dit besing. 

 

Daar is nog tyd en plek vir gebed en dig 

terwyl ek, met oorskietkos uitgeskep, 

aanpaksels van my pot wegskuur: 

 

oor daardie brug heen-en-weer gereis 

ooggetuie van 'n tyd voor-en-na  

9/11, hierdie pandemie tot 

'n vervloekte slot ópgehef. 


© Joan Hambidge

Saturday, February 6, 2021

Rubriek | Die nuwe inperking | 2021

Salisbury katedraal

Toe ons kinders was, het my moeder altyd gemaan: “Stadig eet. Jy het nie 'n trein om te vang na Nagasaki nie!”

Met die jongste inperking, dink ek opnuut aan haar gevleuelde woorde. 


2020 was 'n moeilike jaar. Tyd van besinning. Aanlyn-klasse wat ons gedwing het om ons vakgebied nuut te verpak op 'n slimfoon se opnemer en dan te laai op die intranet van die universiteit. In die eerste inperking het ek die groot boek deurgewerk, klassieke boeke en films stadig her-besoek en die lewe anders benader. Minder uitgegaan. Tuis gekook.

 

Inmiddels is een van my gunsteling-restaurante Nelson's eye gesluit weens die nuwe maatreëls.

 

Die ergste vir my was die einde van oorsese reise. Hierdie tyd was ek altyd in Suid-Amerika: op die spoor van Borges of Neruda of Márquez. Argentinië, Chili of Colombië lê ver agter my; gelukkig opgeteken op my blog en in gedigte.

 

Nou blaai ek deur die onthouboek van my reise. Katedrale, tempels, ruïnes neergepen in my eiesoortige geskiedskrywing. Reisdokumente en -pamflette word nou deurgewerk en opgeteken in Sanctum.

 

Ons andersoortige virale oorlog het nog nie tempels of katedrale vernietig soos tydens die Tweede Wêreldoorlog nie. En ten spyte van ons beproewinge het ons nog lank nie beleef wat die Russe, o.a. deurgemaak het nie;  soos verbeeld in die film Come and see, van Klimov (1985). Hierdie film, uit die perspektief van 'n jong seun wat die oorlog wil meemaak, wys op die werklike lyding wanneer die Nazi's Belarus betree. Teen die einde van die  film staan die seun, wat nou 'n verwonde man geword het, en skiet na Hitler se foto wat in die water lê. In stadige, agteruit-beweging sien ons die aftakeling van Europa. Van die volwasse Hitler tot 'n die jong, onskuldige kind wat op sy moeder se skoot sit.

 

Die brutale uitwerking van die oorlog tot die stil geweld van ons virale oorlog.

 

Helen en Richard Leacroft se pragtige boek Churches and cathedrals (Londen, 1972) wys op die bouwerk van groot katedrale.

 

'n Sobere studie om nou te bestudeer tydens die inperking. In my geheueboek onthou ek verskillende tempels: Bangkok en Saigon. Vroegopstaan om die lykverbranding in Varanasi mee te maak; 'n andersoortige ritueel wat met 'n besoek aan 'n spirituele ruimte afgesluit word.

 

Of 'n sonsopkoms op Machu Picchu in die tagtigerjare voordat dit 'n toeristiese mekka geword het met toetelende busse.

 

In die Leacrofts se boek vang my oog dadelik 'n gargoyle (24). Is hulle simbole van vervloekte siele wat uit die kerk verban is? 

 

Hierom is die lelike figure of diere in steen opgevang? Boonop kom die woord van die Frans gargouille wat keel beteken.

 

En hoe trek ons almal se kele nie tans toe nie ...

 

En dit speel in op die legende van La Gargouille, 'n draak, wat 600 VC, die mense van Rouen geteister het todat Romanus tot hul redding gekom het. Die draak is verbrand en die simbool van die gargoyle word dan gesien as 'n manier om die bose af te weer. Uiteraard konkrete simbole vir ongeletterde mense, terwyl ons in moderne tye - dikwels tot ons nadeel - konkrete simbole minag, soos C.G. Jung uitgewys het in Man and his symbols (Dell, 1964).

 

*

 

Totem

 

Ek is my tempels

my katedrale ruïnes

versugtinge 

verbeelde reise -

 

Ek is my onthoue

verliese verdriete

verraad (soos)

versmade verse -

 

Ek is my vrese

verlatings om en by

die wortel van dié kwaad:

opgehoopte kwellings -

 

Ek is my aandagstrepe

tersydes en aanhalings

konfessies en vermanings 

in gedoemde ellipse -

 

Net die allergroot verhouding

met die groot aktiewe woord

daardie tempel staangemaak in Tristia

maak nog sin tot die dood

ons skei -  leser, jy of u.

 

*

 

'n Tyd van interne verhuising? Om alles stadig - in slow motion - te herbeleef.

 

En klein brokkies genade te (her)waardeer. Daar is nie nou 'n trein na Nagasaki nie.

 

© Joan Hambidge

Monday, February 1, 2021

Resensie | Antjie Krog – Met die oog op môre | Protea: 2019

Antjie Krog – Met die oog op môre. Protea Boekehuis, 2019. ISBN 148531125X

Resensent: Joan Hambidge

 

 

Met die oog op môre is 'n versdrama van die digter Antjie Krog. Hierdie ervare digter het alreeds haar hand gewaag aan die herdigting van Tom Lanoye se tekste, en veral haar verwerking van Koningin Lear in 2019 (met Marthinus Basson as regisseur) was as teaterervaring, en is as  leesteks vir hierdie kritikus 'n hoogtepunt.

 

Met haar versdrama word die woorde A re shweleng fatshe la rona (Laat ons sterf, die grond is ons s'n) die subteks, wat 'n verbeelde interaksie tussen twee figure weergee. Hierdie mito-poëtiese gesprek waaier uit na ons huidige situasie.

 

Die skering en inslag van hierdie teks is sowel poëties as feitelik. Hier is baie woordhandeling, soos kenners van die versdrama dit beskryf.

 

Die twee hoofspelers is Moshoeshoe 1 en Eugène Casalis, 'n Franse sendeling in 1837 - 1855 in Basoetoeland. 'n Swart koning word geplaas  teenoor 'n wit sendeling. In hul poging om saam te werk word die spanninge en verskille tussen hulle uitgewerk. Die koning van prysliedere teenoor die man van God.

 

Grondbesit is die ondergrond van die drama en hoé wit trekkers hulself as superieur ervaar. Aan wie behoort die grond? Die drama ondersoek eweneens die hele problematiese kwessie van die sendeling wat "heidene" wil kersten en dink hy het die waarheid in pag. Met die koning wat priemende vrae stel oor die heilige Drie-eenheid en die betekenis van Jesus Christus.

 

Is hy nie maar net 'n voorvadergees wat intree nie? 

 

Krog se opposisies tussen wit/swart, man/vrou, Afrika/Engeland, hede/verlede word kompleks uitgewerk. Sy wys op die ideologiese verskille en maak van haar karakters werklike mense met foute en mistastinge. So vermy sy die maklike slaggat wat die drama eentonig of enkellynig sou maak. Sy aktiveer 'n gender- en rasdiskoerse wat volgens moderne teoretici beide as konstruksies benader moet word. Die rol van vroue as teenspelers en hier 'n gewete, soos verbeeld in Mevrou Casalis en haar dogter wat oorneem by die vader, word 'n teenpool.

 

Die metriese eise van die versdrama kom die digter na. Sy speel met die jambiese versmaat en maak alles dramaties vir die leser-as-kyker. Name word genoem sodat die teaterganger 'n karakter sal herken. Daar is ook toordokters, 'n profetes en 'n koor. "Die draaiende bal van vuur met 'n arend se glurende oë wat niks ontgaan nie",  teenoor koning Salomo se wysheid word 'n verdere spanning in die teks. Primordialiteit, argetipes en Die Bybel word ingespan in hierdie teks van grootse opset.

 

Aan wie behoort wat? Waar word die grense getrek? Dit is 'n teks van liminaliteite en grense wat oorgesteek word.

 

Ook die geskiedenis word betrek met die rol van Cathcart en Brittanje se hantering van protektorate. Koningin Victoria en Prins Albert is in die agtergrond aanwesig. 'n Luiperdvel as geskenk aan Koningin Victoria begrond alles verder.

 

Die ellendes van misverstand: Basotho's sit opmekaargedruk soos paddavisse in 'n skepkalbas (85). Krog se beeldende vermoë is hier oortuigend in aksie en in haar digkuns het sy deur die jare verskeie koorsange in bundels geskryf, bykans as voorlopers of oefeninge vir hierdie teks.

 

Die leser word van 'n uitgebreide leeslys voorsien vir verdere navorsing. 

 

Een punt van kritiek: die p-woord val vir my buite die toonaard van die koning se manier van praat en sy denke.

 

Krog se Met die oog op môre moet teen die volgende tekste geplaas word, omdat die leser al hierdie intertekste saamdra. Dalk is dit haar antwoord op Louw se Germanicus (1956), daardie uitsonderlike epiese drama? Gaan lees Jo-Marie Claassen, 'n klassikus, se voortreflike analise van hierdie drama op Litnet. Wat histories onwaarskynlik mag wees, is wel dramaties regverdigbaar, sowel by Louw as in Krog se versdrama.

 

Die epos het in Afrikaans hoogtepunte beleef met Van Wyk Louw se Raka (1941) en Opperman se Joernaal van Jorik(1949) en hierdie teks praat implisiet met hierdie twee klassieke werke. 

 

Hierna was daar Lucas Malan se Hongergrond (1994) en meer onlangs Hein Viljoen se Brisant (2019), al beskryf as 'n postmodernistiese epiese gedig, met verskillende betekenislae, wat besondere eise aan die leser stel. 

 

Jolyn Phillips se Bientang'n !naugedig (2020) werk met "stofpadgedigte" van die geskiedenis sowel binnelands as buitelands róndom die figuur Bientang met verskillende metriese patrone.

 

Nogal 'n ryk skat in Afrikaans van 'n besondere moeilike digvorm wat gehoor moet gee aan die eise van die digkuns én die luisteraar moet bevredig indien dit uitgesaai word. En die opvoering eis weer iets anders want hier het jy kyker én toehoorder.

 

Hoeveel weergawes het Raka nie al met sukses beleef nie. Raka is selfs al as 'n ballet verwerk. Die grootsheid van 'n teks word aan sy antwoorde of parodieë herken.


Dink maar aan Tennessee Williams se A streetcar named desire  van 1947 wat Almodóvar so voortreflik ingeweef het in sy film All about my mother (1999). En Williams was ook digter; hierom is die musikaliteit van sy dramas tersaaklik. Elke punt en aandagstreep moet nagekom word.

 

In hierdie dae waar teaters in beleg is en opvoerings tans onmoontlik geword het, sal RSG se vindingryke Kobus Burger hopelik die uitdaging sien om hierdie teks vir die radio aan te bied. Anders is my geld op Marthinus Basson sodra die teaters weer volskaals funksioneer.

 

© Joan Hambidge