Saturday, February 16, 2013

George Louw - Kraai (2006)



George Louw. Kraai. Human & Rousseau, 2006.  ISBN 0 7981 4586 2.

Resensent: Joan Hambidge

In ‘n kursus oor verdwene digters (Freda Plekker, Elizabeth M du Toit, Peter Blum, e.a.)  vra ek myself dikwels af: O wat het geword van George Louw?

Die digter van Koggelstok (1965) en die drama ‘n Skip is ons beloof (1969). Vir eersgenoemde het hy die Eugène Marais- ontvang en vir laasgenoemde die W.A. Hofmeyr-prys.

Na ‘n lang stilte (Opstand verby was in 1965) is die jongste bundel, lywig daarby, Kraai, ‘n heerlike verrassing uitgegee deur Human & Rousseau.

Dit bevat drie afdelings met verse oor die uiteenlopende ervarings in die lewe en dan ‘n laaste afdeling waarin ‘n dramatiese gegewe oor die lewe van Girolamo Savonarola, ‘n Italiaanse monnik,  (1452 – 1498) se opstand teen die Medici’s verwoord word. Die boeteprediker, met die aanskyn van ‘n kraai, sterf op die brandstapel in Florence.

Sy doempreke en kastydings van die Kerk het hom uiters ongewild gemaak en hy had ‘n sterk afkeur aan die wêredlike bestaan. Louw verwoord die verskillende fasette van hierdie figuur in die stad bekend om al sy teenstrydighede. (Die digter voorsien die leser van ‘n handige opsomming, terloops.) Sy rusie met Rodrigo Borgia, pous Alexander VI, word onder die loep geneem.  Hierdie figuur het ook ‘n gedig geskryf oor die agteruitgang van die kerk en die welvaart van Lorenzo de Medici het hom nie aangestaan nie. Ook nie sy geheul met die waglikhede wat rykdom inhou nie. Sy preke oor die apokalips – gekoppel aan Openbaring – het baie mense nie aangestaan nie.

Sy ekskommunikasie deur die pus het vanselfsprekend gelei tot ‘n opstand van die massas en die verwerping van hom as spirituele leier.

Firenze, die stad van stories, die pes en enorme kunswerke. Die invloed van die Medici’s, die Borgias, daardie kriminele familie in die Renaissance, e.a. op die geskiedenis het my nog altyd gefassineer.

Soos D.J. Opperman se Komas uit ‘n bamboesstok en Antjie Krog se Lady Anne word ‘n persona gekies ten einde die historiese en die tydgenootlike dimensies te verbind.

“Vir pous Borgia” (p. 113) word die teenspeler, die pous, teenoor die opstandeling geplaas – met die wete dat hulle verbind is tot mekaar : “tot dieselfde munt gedoem”.

Daar is eweneens die herkenning dat die booswig “’n godskerf” in hom dra.

Die leser is oormatig bewus van die enorme navorsing en die verwerking van die gegewe tot gedigte wat sowel die loutering as die oormatige ek-gedrewenheid van Girolamo verwoord.

As Lady Anne Barnard vir Krog as metafoor ten slotte niks werd is nie, word die verhouding met die monnik hier ‘n komplekse gesprek of onderhandeling.

Die lewe van hierdie teenstrydige figuur – waarskynlik iemand wat aan ‘n soort skisofreniese toestand gely het – word hier knap verwoord. Is hy gewoon diabolies? Kan hy in die ónsienlike ingaan?

Die digter gee vir die leser al die moontlikhede op hierdie komplekse speurtog.

Wanneer Louw korter verse skryf, is hy waarskynlik op sy allerbeste. Met my eerste lees maak ek gewoon ‘n lys van verse wat onthoubaar is: “Rympie vir oum Japie” wat in gesprek tree met Van Wyk Louw; die lieflike “Lyflik”; “Callas forever”; “Ysman”; die aangrypende “Droom”; “Onse Vader”; “Seefrats”....

Die derde afdeling werk met die struktuur van die fabel: van die kraai wat Noag se ark verlaat tot die kraai wat ‘n soort waarskuwende aankondiger van die dood is. Die gedig “Jakkalsdraaie” illustreer ‘n behendige inspeel op die aard van die fabel, terwyl die vers “Sprokie” ‘n soort siniese sprokie is.

Die eerste en tweede afdelings bevat veral die soort gedig wat tot my spreek: spaars, helder omskryf – die program- of openingsgedig heet “Marat”wat alreeds die aard van opoffering, dood, transformasie, e.d.m binnelei wat deur die slotafdeling volvoer word.

Nie om dowe neute nie is daar ‘n vers oor Maria Callas: na ‘n stilte weens die verhouding met Onassis was die terugvind van die stem, ‘n pynlik en dikwels moeilike taak. Die digter wil waarskynlik deur Callas vir die leser bewus maak van die implikasies van wegwees en terugkeer na die verhoog van die digkuns?

Daar is terselfdertyd ‘n skerp blik op die huwelik, op valshede en aardse verval.

Die digter is emosioneel in beheer soos “Klaaglied” ilustreer en die terugkyk na die jeug, goed uitgeskud in die gemoed. Hierom die wete dat die hart se pad pyn inhou.

In die vers “Droom” word die vader, wat die kind verlaat het, se terugkeer in ‘n droom beskryf met die wete dat die herinnering aan die geliefde vader nooit verbygaan nie. (Gelees saam met die gedigte in die slotafdeling, is hier sprake van ‘n parapsigologiese dimensie wat betree word.)

Ek het die bundel in een slapelose nag deurgelees en sidderend beleef. En per ongeluk ‘n pot swart koffie op die pragtige boek uitgegooi (“the breaking of the vessels”, dink ek.) Dis altyd ‘n goeie teken wanneer ‘n bundel jou so meesleur dat jou reflekse aangetas word.

Hoe het Emily Dickinson op ‘n keer gedig? Dat haar lyf haar vertel wanneer dit ware poësie is. Bepaald die geval hier. 

Ons het lank gewag vir hierdie bundel, maar dit was die moeite werd om ‘n bydrae van ‘n beleë digter te lees.

Ysman

Vir baie is dood
die einde, vir ander
bloot begin:
of jy nou sterf met ‘n roos
tussen die tande,
‘n mes in die rug
of vroom gekis:
die einde bly bisar.


Die lewe hier ná sestig

Ons vat hom om die uur
die lewe hier ná sestig:
elke dag bring sy verdriet,
sy vonkel en sy suur,
dis als mos puur verniet;
ja regtig, ons vat hom
soos hy kom.


Bronne:

http://www.newadvent.org/cathen/13490a.htm

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]