Al Lovejoy. Acid Alex. Zebra Press, 2005. ISBN 177007 0931.
Resensent: Joan Hambidge
Toe ek jonk was, het die Beat-skrywers my
gefassineer. Jack Kerouac se On the road was een van my gunstelingtekste en ook
‘n film oor die Beats se doen en late het my bewondering verder aangevlam. Die
lewe wat gelyk is aan die kuns, en andersom. Die lewe wat uitspoel in tekste –
dikwels sonder redigering – in ellelange outobiografiese seggings en
vertwyfelinge. Die Beats was puik. Hul verslawings aan drugs en seks natuurlik
óórbekend. Tog is dit so dat die belangrikste tekste wat gelewer is, voldoen
het aan die eise van redigering, terugsnoeiing en orde. Hierom lees ons steeds
Allen Ginsberg se grootse “Howl” en miskien tog wel On the road.
Koos Kombuis het die voorwoord tot Acid
Alex gerskryf. Koos K. is ‘n fyn
parodiese digter en romanskrywer. Sy Somer II speel klaar met die tradisie van
die ou(er) Afrikaanse roman en dit is bekend uit sy rubrieke en letterkundige
tekste dat hy kritiek het op die “tradisie” Hy ag o.a. hierdie roman baie hoog
en noem dit ‘n boek wat Suid-Afrikaanse letterkunde op sy kop gaan draai. ‘n
Letterkundige “turn-on” en ‘n “trip” is verdere beelde wat hy gebruik.
My lewensfilosofie is dat ‘n boek soveel
reklame moet kry as moontlik, maar dat ‘n kritiese leser wel die reg het om dan
te verskil van die ophemeling. En ongelukkig veroorsaak ‘n óór-positiewe
bemarking van ‘n boek dikwels weerstand of kritiek by lesers.
Al Lovejoy was ‘n dwelmsmokkelaar. Ons lees
hier ‘n verslag van ‘n “hard luck-story” van weeshuis tot verbeteringskool tot
by Pretoria Sentraal. Tot in Angola tydens die bosoorlog en ‘n draai word in
Stellenbosch gegooi tydens die Voëlvry-konsert, smokkeltruuks in België wat dan
lei tot sy lewenslange tronkstraf (aldus die agterplat).
‘n Jean Genet-bestaan dus. Maar Lovejoy –
wat ‘n ironiese naam! – is nie heeltemal Genet nie. Want daar was nou ‘n
skrywer wat kon toor met die oortreding met die gemeenskap se wette en
voorskrifte en steeds (of juis?) ongelooflike kuns lewer.
Koos
Kombuis skryf in sy inleiding dat alles waar is in die boek en dus hierom by
wyse van spreke goed! Die waarheidsdenkfout is dikwels ‘n fout wat lesers maak
om ‘n boek gelyk te stel aan die werklikheid. Dit moet ook oortuig vir die
leser wat nie daar was nie!
Die voorblad deur Joe Dog (Anton
Kannemeyer) van Bitterkomix-faam verraai al reeds die kodes van hierdie roman
en hoe dit benader wil word. Dit begin met ‘n Bybelvers en reeds met die
intrapslag vind ons ‘n profane verwysing. Met die verteller wat homself posisioneer
as ‘n leuenaar (“Liar, liar, pants on fire”) ten einde die subjektiewe en
fiksionele aspek van die roman te beklemtoon. Platwoorde en paranoia is in
hierdie vertelling aan die orde van die dag, want die verteller is immers “on
the road”. (Vir non-zef-leser is daar ‘n
glossarium agterin wat my baie plesier verskaf het!)
Die roman begin met ‘n
Bybelvers en sluit af met ‘n verwysing na die Bybel wanneer die verteller, ‘n
weeskind, verwys na Christus se liefde vir kinders. Hy noem sy eie vertelling
‘n gelykenis. En hierdie roman kan genoem word die “Gelykenis van die
verskoppeling”.
Ondertussen verneem ons dat die roman ook
verfilm gaan word. In sy sub-genre, soos Trainspotting, ‘n kultusboek. Dit sal
nie in almal se smaak val nie. Party lesers sal dit skokkend en kru vind en
gesofistikeerde lesers sal mag voel dat die teks ‘n sterker redigerende hand
nodig het.
As dokument is dit egter ‘n belangrike
teks. Dit behoef ‘n saamlees met ‘n ander belangrike, skokkende en
grensoorskrydende roman in Afrikaans: Miskruier van Jaco Botha waarin dwelms
ook ‘n rol speel. In die woorde van die karakter:”Hoezit my china! Ek’s ‘n
weeshuislaaitie en ‘n vuilgatbeker wat hou van tappies. Ek suip en sukkel, maar
hierdie storie is sterkbene.”
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Volksblad geplaas.]