Tuesday, February 26, 2013

Huldeblyk: Saul Bellow (1915 - 2005)

Saul Bellow in 1982 


Die dood van die bekroonde Amerikaanse romanskrywer Saul Bellow lui die einde in van ‘n belangrike era in die romankuns. Bellow, ‘n Joodse skrywer, ondersoek nie alleen in sy romans die lotgevalle van die Jood nie, maar is soos sy landgenoot, Philip Roth, ook besig om telkemale die landskap van die roman en sy grense te ondersoek. Anders as Chaim Potok of Malamud, skryf hy nie net oor die Joodse wêreld nie.

In sy grootse Herzog (1964) word die psige van Moses Herzog ondersoek in die nou reeds bekende openingswoorde: If I am out of my mind, it’s all right with me, thought Moses Herzog”. In hierdie pakkende vertelling word God en bekende filosowe aangespreek om die sin van die lewe te probeer uitklaar nadat sy vrou hom verlaat het vir sy beste vriend. Maar dit is nooit vervelige prekery nie, omdat al die filosofiese vraagstukke in ‘n storie geanker word. Herzog is in sy eie woorde ‘n man met “a passionate heart, a bad credit risk”. Lewendes en dooies word in hierdie belydenisroman ‘n spreekbeurt gegee.

Teen die agtergrond van sy geliefde Chicago speel sy verhale dikwels af in ‘n sublieme balans tussen hartspyn en intellektuele ondersoek. Ook word die verhale gekenmerk deur guitige humor:  in Humboldt’s gift (1975) waarvoor hy die Nobelprys ontvang het – is daar ‘n grensoorskrydende toneel van ‘n voet wat onder ‘n tafel gemasseer word en plots tussen ‘n vrou se bene land. Boonop is die vrou die verleier hier. In die hande van ‘n mindere skrywer sou dit gewoon banaal gewees het, maar Bellow beskryf dit só goed juis omdat filosofies verantwoord word. Bellow se romans is dikwels polities-inkorrek, omdat hy fokus op menslike gedrag en nie op politieke slagspreuke nie. (In die pers is hy nou ookal berug vir sy speelse opmerkings oor waar die Proust van die agtergestelde gemeenskappe is?)

Net soos die arme Meneer Sammler wat in Mr Sammler’s planet (1970) nie sy verontwaardiging kan verdoesel wanneer hy deur ‘n ekshibisionis verneder word nie, kry die leser ook dikwels die gevoel dat Bellow politiek-korrektheid opsetlik wil kritiseer. Die lotgevalle van die gewone man wat moderne stadsgeweld probeer begryp (o.a. ‘n motor wat deur ‘n woestaard beskadig word of die molestering van ‘n jong kind) is dikwels die tema van sy romans. In Humboldt’s gift – wat o.a. die lewe van Delmore Schwartz karteer – staan die leser verbyster voor die ryk verwysingsveld wat die verteller en passant met jou deel. Ook die rol van die akademikus het hy beskryf in The Dean’s December (1982). 

Sy eiesoortige vermenging van morele en sosiale vraagstukke, metafisika, die filosofie verbind hy met ‘n geloofbare, pakkende verhaal. (Wel, in Henderson the rain king word die verhaal tog “larger than life” wanneer die alkoholis-tycoon Henderson, sy vrou en konvensionele lewe verlaat en op reis gaan na Afrika en ‘n reënmaker word vir ‘n primitiewe stam.) In die aangrypende More die of heartbreak (1987), wat ‘n mens moet saamlees met die jong Bellow van The adventures of Augie March (1953), word die weerlose mens op ‘n nuwe wyse aan ons blootgestel. Sy romans is in wese verhale van transformasie en ‘n mens sou hom as ‘n moderne Henry Fielding kon beskryf. Reis, soektog, ontdekking. Dit is altyd aan die basis van ‘n Bellow-roman waarin die kodes van die grootstadroman en avontuur- of pikareske roman dikwels ook met die peregrinasie-vertelling, vermeng word.

Ook in Ian McEwan se Saturday word Bellow gehuldig met ‘n lang motto uit Bellow, wat saam met Flaubert die interteks word in hierdie kragtige roman wat ‘n mens as Bellowesk kan beskryf, naamlik ‘n versoening tussen intellektualisme en emosionaliteit, die soeke na sin in ‘n wrede wêreld waar morele en etiese waardes voortdurend afgetakel en hergedefinieer word.

Saul Bellow is in 1915 in Kanada gebore en het in Chicago groot geword. Hy bepaal ‘n B.Sc. in Antropologie en is deur die jare deur verskeie universiteite vereer. Hy was onder andere besoekende professor aan Princeton, NYU, die Universiteit van Minnesota en het die afgelope paar jaar klas gegee in kreatiewe skryfwerk aan Boston Universiteit. Behalwe vir die gesogte Nobelprys, is hy ook bekroon deur die Amerikaanse Instituut vir Kuns en Boeke. In 1978 het hy National Arts Club Gold Medal of Honor ontvang en President Mitterrand het hom ‘n Kommandeur van die Legioen van Eer gemaak. Ook het hy die Pulitzer en National Book Award ontvang.

Hy het etlike resensies en essays deur die jare geskryf op 84 weer pa geword. In foto’s word ‘n mens altyd getref deur die modieuse en duur klere. ‘n “Natty man” het hy homself eenkeer grappenderwys beskryf. Persoonlik is daar min skrywers wat op so ‘n volgehoue wyse die storiekuns bevorder en verryk het. In Him with his foot in his mouth (1984) and A theft (1989) is korter, vernuftige prosas en Ravelstein (2000) gee ‘n aweregse blik op die “odd man”.

Seize the day (1956) is by geleentheid as ‘n meesterstuk uitgesonder. Hiermee moet ‘n mens akkoord gaan: Saul Bellow se karakters is altyd besig met ‘n “carpe diem”-daad in romans, novellas of kortverhale wat onthoubaar is.

Elke jaar herlees ek ‘n Bellow-roman net om my daaraan te herinner hoé ‘n groot roman daar moet uitsien: verlede jaar was dit Herzog. Vanjaar weifel ek tussen Dangling man (1944) of The victim (1948). Dalk eerder Mosby’s memoirs (1969)? Nee, miskien eerder To Jerusalem and back (1976), ‘n nie-fiksionele teks.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Litnet geplaas.]