Monday, March 28, 2016

Hilda Smits – die bome reusagtig soos ons was (2016)



Hilda Smits – die bome reusagtig soos ons was. Protea Boekehuis, 2016. ISBN 978-1-4853-0640-5. R160

Resensent: Joan Hambidge

Hierdie bundeltitel aktiveer die Bee Gees se bekende liedjie “First of May” wat so begin:

When I was small, 
and Christmas trees were tall,
We used to love while others used to play.
Don’t ask me why,
but time has passed us by,
Someone else moved in from far away.

Die digter is ’n expat, eers woonagtig in Londen en nou besig met nagraadse studie in psigoterapie in die VSA.

Haar gedigte is sjarmant. Dit is geskryf in ’n soort praataanslag (parlando) en aktiveer die gesprek met gert vlok nel se digkuns.

Die onvoltooide sintaksis, die bykans surrealistiese beeld, die saamdink en -dig van assosiasies met die opsetlike ondermyning van konvensies soos interpunksie en vorm, is kenmerkend van hierdie soort digaksie.

Ek noem dit ’n digaksie omdat daar verskuilde kodes opgesluit lê in hierdie soort gedig vir die leser. Versreëls moet deur die leser voltooi word, terwyl beelde assosiatief werk – soos by e.e. cummings, waar die sintaksis van die gedig die semantiese spel uitdaag en beproef. ’n Brief aan die vader (bl. 9) word ’n gesprek met Eybers se “Twee kleuters in die Vondelpark” en in “in die tonnel van my oog”, word die hele herinnering-nostalgie-spanning uitgewerk.

Die ervaring van die vreemdelingskap in die buiteland word ’n soort ars poetica (bl. 10): Die gedig is ’n onbewustelike verkenning van die nuwe ruimte wat selfs liggaamlike vervreemding inhou.

Gedigte buig in op sigself soos in die netjiese vers “Gokarna” (bl. 16) wat oor meer as Degas handel:

jou behendige hande skets my
versamelaar van geheime klanke
onder die blad van die spieël (...)

Jackson Pollock se “glibberige / blink binnegoed” (bl. 46) praat weer met Sheila Cussons se manjifieke vers oor hierdie “action painter” wat ’n verdere kode word vir die leser. Binnegoed word oopgemaak, uitgegooi, maar met beheer.

“Vir Primo Levi” (bl. 44) is ’n juweel in die opsomming van sy lewe en “die begrafnisstoet van ons agt stil asems in ’n ry” (bl. 51) is ’n aweregse lykdig, maar terselfdertyd ’n besinning oor die digkuns en hoe pynlike ervarings verwoord word (“as ek dit alles laat rym”).

’n Gedig oor ’n moeder (ook grootmoeder) en die herinnering aan hoe die moeder wasgoed gewas het, word eweneens meer as dit: Dit word ’n besinning oor die digterskap, oor moedertaal, oor jou plek van afkoms . . . Die digter is intens bewus hiervan, soos ’n mens by Wallace Stevens vind waar die objek én die besinning daaroor plekke omruil in die gedagtes (“The florist wears knee-breeches”).

’n Verdere belangrike kode of sleutel is die werk van die Russiese rolprentmaker Andrei Tarkofski (wat selfs met ’n posseël vereer is), waar die grense tussen fantasie, dood en werklike belewenis ondersoek word soos in Solaris (1972). “vir ’n digter” (bl. 37) vra vir so ’n “raaklees”. Hierdie assosiatiewe spel word tot sy uiterse gevoer op bladsy 36 waar die leser (via Breytenbach) ’n gat in die lug moet sny.

Gedigte groei organies tot ’n geheel en die intertekste is goed verwerk én weggesteek.

Stad teenoor platteland, eensaamheid teenoor familie-verbondenheid, lewe teenoor dood word in vibrerende verse verwoord.

Die slotvers neem jou terug na die begin: Daar was teenoor daar is.

Verse van die nostalgie sonder om sentimenteel te word. Helder en trefseker verwoord. Dit spreek vanself dat dit ’n beduidende en belangrike debuut is. ’n Gedig (bl. 13):

ouma jy het soggens vroeg die lig
gebreek jou lyf bonkige lyne
die son sku-slaperig geel die kom-
buis het geruik
na worseiers na warm brood onder
my het die groot bed gekraak
terwyl die botter in die pan spring
sissend fluister
die matras het my omvou ek was ­
nege ek was nege
’n donsige kuiken ouma jy met jou
een arm my eenduimouma
het die kombuis laat sing ’n musi-
kant van potte die ketel fluit
ouma die ketel fluit ouma en jy
breek die dag ouma jy breek
die dag en die grond deesdae ses
voet onder en ek is jammer
dat ek die musiek vergeet het ouma
jou bonkige lyf jou een duimhand
’n musikant breek jy die dag oop
soos ’n eier ouma breek


 (Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)

Saturday, March 26, 2016

Fransi Nieuwoudt - ’n Vlerkslag van kleur (2016)



Fransi Nieuwoudt - ’n Vlerkslag van kleur. Cordis Trust, 2016. ISBN: 978-0-9922057-8-2. R140.00

Resensent: Joan Hambidge

’n Bundel soos hierdie is nie ’n nuttelose publikasie nie.

Ofskoon die doelstelling was om die Afrikaanse taal en kultuur te bevorder, bereik dit tog hierdie doelwit op ’n indirekte manier. Dit word ’n handleiding vir alle dosente in kreatiewe skryfwerk om presies uit te wys wat die moets en veral moenies is van die digkuns.

Die iteratief-duratief van die digterlike hebbelikhede soos:

* die gebruik van die verhewe woord (soos ruising) of aanslag;
* die gesprek met Ingrid Jonker (done to death, verskoon die woordspeling):
jy wat die glasskerwevan weggooibottelssoos ’n geheim in die grondkon bêre . . .;
* die gesogte beeld (“duiwe swalp ’n sinkerson”);
* die arbitrêre gebruik van leestekens;
* die flirtasie met katachrese;
* die pap eindes (“ ’n wilger by strome van rus”);
* ’n gebrek aan vorm en algehele onkunde wat verstegniek behels;
* ’n uitblertsing van emosie soos laas in die 1970’s aangetref . . .;
* verspotte samestellings (“verbronsvlerk”);
* die invoeging van ’n geleerde verwysing of woord soos impasto wat die gedig “Verhewe” moet maak.

Die kort, haikoeagtige verse op bladsy 61 het wel moontlikhede.

’n Mens is wat jy eet. ’n Digter is dit wat sy of hy lees. Hierdie bundel getuig van min leeswerk in die digkuns.

Dankie, Cordis Trust, dat julle so blymoedig bly vlerksleep by die Afrikaanse digkuns. Hebban olla vogala!


Hier het die digkuns die digter uit die nes geskop.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)

Sunday, March 20, 2016

Neels Jackson - Wit, Afrikaanse man (2016)


Neels Jackson - Wit, Afrikaanse man. Cordis Trust, 2016.

Resensie: Joan Hambidge

’n Onafhanklike uitgewer is altyd ’n belangrike teenstem waar digters wat vir die oomblik buite die modegiere of voorskrifte van die kanon val (hetsy polities of esteties) ’n tuiste vind. Dikwels word die alternatiewe ook hoofstroom, of dit verdwyn (soos Taurus of Hond dalk nou). Cordis Trust vervul tans die funksie om voorsiening te maak vir digters wat nie die lang waglys van die hoofstroom kan haal nie. Gawe gedigte per bundel (selfs vyf) maak so ’n bundel onthoubaar.

Neels Jackson se Wit, Afrikaanse man neem standpunt in teen die sogenaamde elitistiese gedig. Sy bundel is bedoel vir die intelligente leser wat hou van ’n toeganklike gedig wat iets oor die lewe sê. Hierom is daar ’n storie om die gedigte te plaas om die gedig vir die leser te verduidelik. Aldus die agterplat.

Inderdaad is daar dikwels lesers wat “vervreemd” voel van moderne gedigte wat hulle uitsluit weens slim toespelings of woordverwysings. Maar gaan kyk net hoe gewild is T.T. Cloete of hoe Breyten Breytenbach selfs in sy latere bundels steeds ’n aanhang geniet onder lesers.

Met Jackson se perspektief oor die “wit, Afrikaanse man” het die uwe vrede. ’n Gedig is goed indien dit die wêreld wat dit in woorde aanbied, oortuig. En nie om die ideologie of persoonlike aanbod nie. The Well Wrought Urn of De glanzende kiemcel kom hier ter sprake.

Waar die bundel met ’n denkfout werk, is dat die digter moet verduidelik hoe sy verse werk. ’n Goeie gedig, of dit nou ’n Karoo-sang of nonsensvers is, moet sonder ’n narratief of getuigskrif oortuig of meesleur.

’n Handvol verse is op pad om iewers uit te kom, soos “Solomon Mahlangu” (28) en die speelse limerieke (38). “Horlosies” (41) is oulik. Maar die hele bundel word bederf deur die tierlantyntjies róndom die vers. Goed dat die digter die haikoe of distigon beoefen, maar helaas nie met sukses nie omdat die spesifieke vorm-eise nie nagekom word. Sillabes is by laasgenoemde belangrik (gaan kyk maar na Eybers) en as daar ’n afwyking plaasvind, moet dit deur die gedig werk.

En daardie bliksem van ’n rymnukker pootjie ook van die verse. Net in die hand van ’n behendige oortuig dit, anders haak die vers vas soos ’n kous wat leer. Of ’n CD wat vashaak.
Die aanpak van die ars poetica (onder meer bladsye 42 tot 44) steek sleg af by bekende gedigte wat al met hierdie beeldmateriaal gewroet het.

Die liefdesverse is intiem-persoonlik en moes liefs net vir die geliefde se oë gebly het. Daar is ’n hele skat van uitstekende liefdesverse in Afrikaans waarin rymwoorde soos spel/sel/hel net te maklik raak.

Johann de Lange se klassieke vers oor Ingrid Jonker word erken en die digter borduur voort op die vers en dit word ’n pastiche. Niks meer nie.

Politiek kom dikwels aan bod: die Grensoorlog, Mandela, Mbuli en Israel (“Kana”, 72). Ook reise en gebede tref ons hier aan.

Soos die digter bely:

Daarom steek dié verse vas in strewe,
teken dit bloot die buitelyne van ’n lewe.

En dit is die uiteindelike oordeel: te veel buitelyn, te min fokus.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)