Showing posts with label Philip de Vos. Show all posts
Showing posts with label Philip de Vos. Show all posts

Sunday, September 11, 2016

Amanda Botha gesels met Joan Hambidge: Op 60 kyk sy al skrywend terug

11 September 2016

Vandag – 11 September –  vier die digter en literator Joan Hambidge haar 60ste verjaardag en ook word haar 25ste bundel, Indeks, vandeesmaand bekend gestel. Amanda Botha het haar oor haar werk uitgevra.

Joan Hambidge: “ ’n Mens skryf verse in die donker ure 
wanneer die krag van inspirasie af is.” Foto: Philip de Vos

Sedert haar debuutbundel, Hartskrif, in 1985 verskyn het, het sy dikwels in een jaar twee titels gepubliseer en twee jaar agtereenvolgend – 1989 en 1990 – elke jaar drie bundels die lig laat sien. Sy het in Afrikaans ’n ongeëwenaarde publikasierekord. In dieselfde tyd het sy ook ses romans uitgegee en twee literêre werke.

In 1986 ontvang sy die Eugène Maraisprys vir haar bundel Bitterlemoene en in 2012 die ATKV-Poësieprys vir haar bundel Visums by verstek. Die Litera-prys vir ’n gedig oor Eugène Marais in Lykdigte is ook aan haar toegeken.

Indeks het pas verskyn en bied ’n geleentheid vir terugskoue en bestekopname van jou lewe en digterskap. Wat is vir jou spesiaal aan die mylpaal-verjaardag en ’n 25ste digbundel?

Dat ek kon aanhou dig en die voorreg kon hê om gepubliseer te word met soveel kundige raadgewers en uitgewers! Henning Snyman (as leser), dan mense soos Etienne Bloemhof, Martjie Bosman, ­Charles Fryer, Connie Nel, Hettie Scholtz, Marietjie Coetzee, Frederik de Jager, Hester Carstens, Ampie van Straten, onder andere, in onalfabetiese volgorde!, dog elkeen op ’n unieke manier, fyn lesers.

En dan kritiese verslae van A. P. Grové en T. T. Cloete of Heilna du Plooy – literatore wat kundig inspeel op ’n teks.

En ja, resensente wat meen jy skryf te veel (haha Merwe Scholtz) of dink jy banaliseer die liefde (hoho tydgenote).

Terugskouend het jy verskillende temas oor die jare verken. Brei uit oor die temas wat jy meen jou digterskap voed?

Verlies, familieskap, reis, portretverse, ekfrastiese verse, die parodie, religieuse verse . . . Nee, genugtig, vra ’n kritikus eerder.

Jy is losweg die produktiefste digter in Afrikaans. Wat laat jou steeds dig? En indien wel, hoe beplan jy ’n bundel?

Wat laat ’n mens dig? Komplekse vraag. Indien ek presies sou weet, sou ek waarskynlik nou ophou. Ek beplan ’n bundel rondom ’n reis of ’n aflegging: in my jeug ’n verhouding; nou die inkyk op die herinnering aan soveel ervarings, mense, bestemmings . . .

Foto: Philip de Vos 

My paspoort

Noodgewonge in ’n landing site beland
Argentina teenoor Republika Hrvatska,
Nam Phi neffens Beijing se groot muur-visum.
My boekie propvol en net op één blad staan jy,
skeef gestempel, my paspoort na oraldeur.
Nee, ek lieg, dis twee: Zanzibar en Egipte.
Stone Town blakerend en stinkend;
Kaïro se piramides en kamele en gidse.
Op al die plekke sonder jou, daar was jy:
Tokio, Los Angeles, Santiago de Chile,
onsigbaar, ongesiens, ongehoord
in die omtes van my reisende hart
van kontinent tot kontinent in nood,
in al die o-klanke van aftrek en optel.

En hierdie gedig, uit Astrak, sal ek later verander in ’n propperse sonnet.

Sou jy uit jou oeuvre ’n bundel kan uitsonder wat vir jou besonder spesiaal is?

Dad. Die bundel oor my vader – my ou Dad wat my deur die jare aangemoedig het. Ook Hartskrif. My eersteling. En Verdraaide raaisels wat my eerste kennismaking met Suid-Amerika registreer – wat nou, in Indeks, saamgesnoer is. Sedert 1989 het ek hierdie landskap vyf keer besoek. In Argentinië was ek twee jaar terug; Chili verlede jaar oor Desember en Januarie. Met die Andes as die simbool wat ’n skeidslyn is tussen die mens wat ek was en nou is.

In “Ars poetica”, die eerste gedig in Indeks, bely jy dat daar ’n tyd was dat ’n versreël of inval “sonder slag of stoot” hom kon aanmeld en dat daar dalk nou ’n “beurtkrag met die digterlike proses” is. Sal jy dalk meer toeligting bied?

Die ouer digter is waarskynlik meer tegnies bedrewe. Jy kan ’n gedig ten spyte van jouself of ellendes “skep”. ’n Gedig spring nie meer uit jou uit nie. Maar jy kan dit tegnies laat werk . . .

Die politieke en ekonomiese troebelhede (van ons land) speel saam, nie waar nie?

’n Mens skryf verse in die donker ure wanneer die krag van inspirasie af is.

Jy bied ’n afdeling aan as ’n inventaris van verdriet/verlies. Jy hou in digreëls herinneringsmomente van ’n lewe vas. Wil jy uitbrei oor die verrekening van verlies in jou werk?

Verlies is die voedingsbron van my digkuns. Die dood van geliefdes (my vader, geliefdes). Ek is waarskynlik ’n romantikus. Ek word so maklik teleurgestel, maar terselfdertyd bly ek voortbeweeg. Driftig, enersyds dromend; andersyds krities, gedistansieerd.

Foto: Philip de Vos

As jy bestek opneem wie teken jy aan as invloede of deur wie sou jy digterlik gevoed word?

Ek word digterlik gevoed deur verskillende digters, maar my vriendskap met Johann de Lange moet ek uitsonder as ’n digterlike voedingsbron. Hy is ’n besondere digter en iemand wat my verse lees, objektief en altyd met belangrike aanwysings.

Jy het al genoem dat jou studente in kreatiewe skryfwerk onder jou leiding ’n eie stem moet vind – jy duld nie epigone nie.

’n Mens moet wanneer jy skryfskole aanbied jong digters begelei om hul eie stem te vind en nie blote naskrywers te word nie. Hulle moet hulself ook in ’n stadium ontheg en losmaak van my as mentor en voortbeweeg. Hopelik dan al die raad onthou en dit toepas. Soos: lees soveel moontlik, kyk of jou beelde klop, kan jy iets bydra . . .

Jy’s reeds weer aan die werk. Soos jyself sê jou telling is “sixty-love”. ’n Roman en nog ’n bundel aan die kom?

’n Nuwe bundel, Astrak, is in wording en ’n roman, Begeerte, wat afspeel in Wene. Freud, Klimt, The Third Man, Sabina Spielrein en die Riesenrad is die intertekste. Opvallend ook dat mense vergeet dat ek ook romans skryf.

Hambidge se bundel Indeks word op Donderdag 22 September om 18:00 by die Book Lounge in Kaapstad bekend gestel.

(Hierdie onderhoud word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)



Thursday, October 17, 2013

Nuwe bundel: Meditasies, deur Joan Hambidge

Foto: Joan Hambidge


Meditasies | Poësie
Joan Hambidge 
Human & Rousseau

In hierdie ryk geskakeerde bundel word nie alleen die konsep en konteks van “meditasies” verruim nie, maar word die gedig-as-meditasie tot ’n nuwe hoogte in Hambidge se werk gevoer, word dit ’n beduidende bydrae tot die breë Afrikaanse digterlike leksikon. Humor en satire tree dikwels op die voorgrond, en so ook besonder skerp herinneringe.

Foto: Philip de Vos

Meditasies word op 5 Desember om 17:30 bekend gestel by die Book lounge, Kaapstad . Die digter sal in gesprek tree met haar uitgewer, Etienne Bloemhof, oor die skryf van die bundel.

Tuesday, March 12, 2013

Verswêreld CD (2001)



Verswêreld. Tafelberg Uitgewers, 2001.

Resensent: Joan Hambidge

'n Paar jaar gelede het die digter Johann de Lange in 'n onderhoud opgemerk dat Afrikaanse uitgewers die internet moet ondersoek as 'n alternatiewe ruimte vir die bevordering van die Afrikaanse boek. En dit lyk my daar is na hom geluister, want Tafelberg Uitgewers het sopas Verswêreld vir ons gegee. Wat 'n wonderlike kliekervaring is dit nie!

Groot verseboek 2000, Boekmense (Philip de Vos se versameling van Afrikaanse skrywers) en Perspektief & Profiel is hier te vinde. Die installering is bitter eenvoudig en word stap vir stap aangekondig. Selfs diegene wat komputer-oningelig is, sal hierdie eenvoudige trap-der-jeugd stappe kan volg.

Die e-boek hoef nie as 'n bedreiging van die boek gesien word nie. Dis eerder 'n aanvulling. Veral vir diegene wat op reis is, kan die dikke verseboeke en profiele met een kliek oproep en handige inligting bekom. Ook veral vir almal wat Afrikaans is en wat nie meer hier te lande woon nie, is so 'n CD-Rom 'n wonderlike wins.  Boonop kan jy die digters hoor wanneer hulle die gedigte voorlees.

Daar is ook ouer digters soos Jan F. E. Celliers, D.F. Malherbe, Louis Leipoldt, Van Wyk Louw, Opperman, Ingrid Jonker en Uys Krige te hore en 'n hele gerf van jonger digters maak hier 'n stembuiging.

'n Digter se voordrag van sy of haar gedig gee 'n unieke weergawe van 'n digkuns. Uys Krige is hier 'n uitstekende voorbeeld. Die stem is sangerig, melankool teenoor die meer gedistansieerde, selfs siniese interpretasies van jonger digters.

Vir my is een van die lekkertes van Verswêreld ongetwyfeld Philip de Vos se fotokomposisies van digters, skrywers en ander boekmense, soos hy hulle noem. Uitgewer Danie van Niekerk se foto is werklik iets besonders. So ook die een van Merwe Scholtz!

Hoe vertel 'n foto nie iets van die skrywer nie. Die wat afkyk/wegkyk versus die wat kordaat die kamera beloer. De Vos se talent is al veel besonge, maar ek dink hierdie versameling is werklik puik. 

Ook is daar Perspektief & Profiel vir die leser wat die akademiese agtergrond behoef tot die letterkunde en al sy strominge.

Net een kommentaar: toe ek kliek om Van Wyk Louw te hoor voorlees, begin Laurika Rauch aan 'n ander gedig te sing.  As 'n mens by Fagan kliek dan hoor jy ook "Ek het 'n huisie by die see" daardie wonderskone gedig. Maar dan in kanon! Is dit bedoel of is my CD-Rom opge-jam?

Gelukkig gaan dit beter die volgende dag, maar ek kan steeds nie Van Wyk Louw hoor voordra nie.

Ons beleef nou die Afrikaanse letterkunde in 'n virtuele ruimte. Ons het ook vir Breytenbach wat sy gedigte pragtig singpraat op 'n parte CD-Rom. Daar het dus baie gebeur sedert Ons Klijntji tot nou. En gedlgewys is dit spotgoedkoop en handig vir diegene wat onmiddellik toegang wil kry tot kennis.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]