Showing posts with label Penguin Random House. Show all posts
Showing posts with label Penguin Random House. Show all posts

Friday, July 8, 2022

Resensie | Herman Lategan – Hoerkind, die memoir van ‘n randeier | Penguin Random House, 2022

Herman Lategan –  Hoerkind, die memoir van ‘n randeier. Penguin Random House, 2022. ISBN: 2022 13579108642

Resensent: Joan Hambidge

 

Hierdie memoir vertel die lewensverhaal, van ‘n naked I, oor die lot van die skrywer en joernalis Herman Lategan. Dit is ‘n boek wat meesleur, ontroer, skok oor die kompromislose verteller wat jou konfronteer met al sy ellendes: weeshuiskind waar hy gespot word oor die feit dat hy buite-egtelik verwek is, boonop gay is en deur sy lewe lank probeer sin maak oor sy ouers se verslawings. En uiteindelik moet hy sy demone aanspreek.

 

Ons beleef reise na verre lande en veral die invloed van New York en Londen word uitstekend geplaas teenoor die kleiner, skinderagtige Kaapse sirkel waar hy bekendes ontmoet, bevriend en ook as problematies ervaar.

 

Daar is helder portrette van digters soos Ina Rousseau, Sheila Cussons, Barend J. Toerien en Casper Schmidt wat hom na New York nooi en hom verniel met grense wat telkens verskuif. ‘n Sielkundige oorlog. Sodat hy uit selfbehoud terugvlug huis toe. 

 

Die uwe het self Schmidt meegemaak en hierdie psigologiese speletjies word raak beskryf. ‘n Uiters briljante psigoanalis, maar ‘n gefrustreerde digter (‘n resep vir ‘n  ramp).

 

Veral Cussons en die joernalis en kunskenner, Amanda Botha versorg en mentor hom. Sy lewensmaat vir etlike dekades, Graham Sonnenberg, en sý familie ondersteun verder.

 

Daar is beelde van glanspersoonlikhede se lewens agter die skerms. Skreeusnaakse insidente oor hoe hy weet wát in mense se huis aangaan (en uitgaan). Waarskynlik sal van hierdie figure minder gediend wees met die sketse van hulle? Waarskynlik omdat die lem meedoënloos ingelê word op die self, is daar geen genade vir ander rolspelers nie.

 

Die impak van molestering op sy gemoed en die depressie en selfhaat wat dít tot gevolg het, word dramaties beskryf. Met ‘n amptelike klag by die polisie en dié man se dood voordat dit ‘n hofsaak word. Die gesiene kunsman by Rapport is ondertussen oorlede.

 

Armoede, ellende, angs en depressie, met woedebuie. wat weer lei tot selfverwyt en pyn word openhartig beskryf. Dwelms en drank.

 

Hy skryf: “Terwyl ek daar gewoon het, het ek George Orwell se Down and Out in Paris and London gelees. Hierdie paragraaf het my getref: ‘And there is another feeling that is a great consolation in poverty. I believe anyone who has been hard up has experienced it. It is a feeling of relief, almost of pleasure, at knowing yourself at last genuinely down and out. You have talked so often of going to the dogs – and well, here are the dogs, and you have reached them, and you can stand it. It takes off a lot of anxiety.’ (218). Die ruimte is die Heilsleër. Tog is daar ook humor en ironie hier te vinde.

 

Wat hierdie boek pynlik en besonder leersaam maak, is hoe die verteller sy ouers probeer begryp. Die vader wat sou opmerk: “Hier vertel hy my toe hy is dalk nie die pa wat ek wou hê nie, maar dalk is ek ook nie die kind wat hy wou hê nie. Ek het doodkalm gebly …” (72)

 

Op Vanwyksdorp, sy komvandaan, leer hy die volgende: “Van die plante in hierdie geweste het ook die mooiste name: bôjaanpoep, kareemoer, gansmis, oumasnuif en snotbossie.” (65)

 

En uit al die ontsporings – en daar is geweldig baie – word hy dan die taalgevoelige skrywer van Woorde wat wip in Rapport en neem hy elke week sy lesers na woorde en waar dit vandaan kom. 


In sy rubrieke is daar erbarming met die verskoppelinge van die samelewing en gee hy ‘n stem aan die stemloses. Die rubrieke wat oor mense handel, is terselfdertyd ‘n soort aweregse taalles. Nes Leo Rosten se The Joys of Yiddish (1969) wat heerlike stories weergee róndom taal.

 

Lategan bely: “My hart het uitgegaan na die plaaswerkers, veral omdat hulle in hul armoede hulle saans oor ons ontferm het. Ek onthou nou nog die mooi stories wat hulle om die vuur in Namakwalandse Afrikaans vertel het, die unieke woorde so eie aan dié streek. Hier het ek eintlik my liefde vir tale ontwikkel, het ek baie jare later besef. Om so met taal te kan toor, die stem van die storievertellers te hoor, om ’n vuur, in die nag, dit is mos hemels.” (54)

 

Alice Miller se studies (soos The Drama of the Gifted Child, 1979) oor die sensitiewe kind wat abandon is, word geaktiveer. Geen Afrikaanse woord vang die impak van die woord abandon op nie, myns insiens.

 

Die boek lewer verslag oor politieke veranderinge, oor ras- en genderkwessies en veral hoe gay-mense erge viktimisasie moes verduur in die ou-Suid-Afrika. Veral sy eerlikheid en erkenning van foute en oordeelsvergrype is uitsonderlik.

 

Hy eindig:

Maar voor ek doodgaan, sal ek die woorde van Antjie Krog parafraseer: 


my arms skeur ekstaties bo my kop: ek is

ek is 

die here hoor my

’n vry fokken hoerkind. 


Of is ek?

 

*

 

‘n Oorlewingsboek. ‘n Ego-dokument. Braaf met ‘n skeut selfverwyt oor klappe wat hy uitgedeel het.


Vir so ‘n lewensreis moet ‘n mens die hoed afhaal juis omdat min mense oordeelsfoute kan erken. 

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)

 

 

Sunday, May 19, 2019

Resensie. Lanie van Reenen – Net Mooi Fine. Penguin Random House (2019)

Lanie van Reenen – Net Mooi Fine. Penguin Random House, 2019.ISBN 9781776094578

Resensent: Joan Hambidge

I

Net mooi fine is 'n opvolgboek van die memoir C'est la Vie wat in 2013 by Tafelberg verskyn het. C'est la Vie se ander pasmaat is: c'est la vie c'est la guerre.

Lanie van Reenen skryf in die opvolgboek vérder oor wat gebeur het nadat haar hotelprojek in Frankryk gefaal het. Sy is intussen geskei, daar was siekte, ontwrigtende depressies en verlatenheid. Abandonment. Deur 'n nuwe geliefde en 'n nuwe lewensuitkyk ná 'n swanky lewenstyl.

Hierdie soort teks is 'n dagboek, 'n selfgesprek, maar word altyd implisiete tot iemand gerig. Die Alwetende Leser of 'n werklike mens wat raad bedien het of 'n belangrike rol vertolk het. En hier was dit Merwede van der Merwe, die bekende TV-persoonlikheid wat later in Frankryk oorlede is. En op 'n spirituele reis gegaan het.

Merwede van der Merwe verskaf dan die titel vir hierdie boek (34) en sy is die "boksmaat, skermmaat", in Van Wyk Louw se terme. Die twee vroue is opposisies van mekaar: die een spiritueel; die ander een getref deur werklike ellendes, maar soekend na helderheid. 

Deur Merwede se waarhede kan die spreker insig kry in haar eie pyn en teleurstellings. Wat is projeksie? Wat is oorgeneem van wat ander van haar verwag (het)?

Dis 'n soeke na die self. Hierom is die boek sonder fieterjasies geskryf. Dis eerlik sonder om embarasserend te wees. Sonder skroom deel sy haar reis met ons in 'n onthullende outobiografie. Waarskynlik as bewys dat sy oorleef het, maar ook vir daardie leser wat wou hoor wat het toe verder gebeur!

II

Iewers in 'n Boeddhistiese teks opgetel (en verloor in die Ooste) het ek eenkeer gelees dat as 'n mens weer jou lewe kon oorhê, jy dieselfde pad sou kies met die pyn wat jy ken. 

Verskeie Jungiane het al op hierdie stelling gereageer.

Skryfterapie verlos die spreker van posttraumatiese stres en laegraadse wêreldangs - soos haar terapeut dit beskryf.

Haar beskrywing van haar nuwe beskeie woning in Groenpunt gryp aan die hart. Maar hier sien 'n mens die vrou se krag: sy transformeer dit sodat sy daarin kan tuisvoel.

III

Die innerlike reis word gesinkopeer met werklike reise: o.a. na Frankryk, fietsritte in Suid-Afrika, die Camina Portuguese (per fiets), en Everest.

In die teks vind 'n mens 'n sirkelgang: 'n terugkyk na die verlede (o.a. die jeug) en die ervaring van die hede. Sy vertel asof dit alles nou gebeur, maar dit is uiteraard 'n skryf-illusie so bekend aan die belydenisteks.

Sy aktiveer Laurika Rauch se lied "Die mense wat ek liefhet" (117) wat eintlik 'n Stephan Bouwer-gedig is. 

Die mense wat ek lief het
Kom groei op my soos mos
Daar laat ek hul na hartelus gedy
En loop ek deur die wêreld
- beskut teen die koue -
Die snoesigheid self:
Ek met my moskombersie
En as daar ‘n oorlog kom
Word die mense wat ek lief het
‘n Ekstra liefdeslaag om my
So marsjeer ek deur die wêreld
Gepantser teen die vuur
Die onaantasbaarheid self:
Ek met my menskombersie

Maar as iemand wat op my gegroei het
Weg moet gaan
Dan sit daar ‘n seerplek
Dan sluip ek deur die wêreld
Die kwesbaarheid self:
Ek met my seerplek
Wat net nie wil genees nie

Woorde en Musiek: Stephan Bouwer / Anton Goosen
Uitgewers: Dalro / Gallo

Dit is 'n belangrike verwysing vir die begryp van hierdie boek. Die kwesbare verteller word beskut deur vriende en vreemdelinge. 'n Verlore sak op haar Camino-tog word wonder bo wonder teruggevind.

Dis 'n eerlike boek wat ander mense kan help met die navigasie van pyn. 

En haar sielsverbintenis met daardie huis in Frankryk tref die leser. (Ons droom dikwels ook van die self as 'n huis.)

Die voorblad is simbolies. As 'n seestroom jou intrek, moet jy nie terugveg nie. Net op jou rug lê, want selfs na ure, sal die see jou teruggooi op die strand.

Maar jy moenie paniekbevange raak nie. Dan sal alles net mooi fine wees (59).

En moenie die geelpylpad verlaat op die Camino nie. Ook 'n simboliese waarskuwing.

En laat jou verdriete agter op die kliptafels. En die beskuldigings van voormalige vennote dat sy hul gekroek het, verwerk sy uiteindelik.

Lanie van Reenen se ervaring van bodhicitta (kompassie vir ander) het my diep getref; veral in die beskrywing van 'n verskoppeling se niks-heid, sien 'n mens dit in aksie.