Wium van Zyl (Samest.). Elke slot ‘n weerbegin. Abraham H. de Vries 70. UWK, 2007.
ISBN 062037811 5.
Rina Els. Praatkos - ‘n
nagereg-boekie oor Claerhout se lewe. ISBN 978 0 620
37959 5.
Resensent: Joan
Hambidge
Elke slot ‘n weerbegin is ‘n
cadeau vir Abraham H. de Vries by geleentheid van sy 70e verjaarsdag. Daar is etlike bydraes – gedigte, verhale,
anekdotes, stories, analises van De Vries se verhale.
Daar is ‘n uitgebreide bibliografie van Erika Terblanche
wat die leser ‘n rigtingwyser gee van wat die skrywer al gepubliseer het,
ernstig en minder verhewe.
Is dit etiket om
kritiek of sydelingse kommentaar te lewer op ‘n geskenk?
Wel, die boek
word in die openbare domein gelaat; dit is immers nie ‘n rangskikking of vrugtemandjie nie.
‘n Mens kom
onder die indruk van vriende en kollegas se toegeneentheid – en dis reg so. Dis
immers ‘n geskenk.
Toe gee ek die
boek vir ‘n vriend om te lees.
En een aand –
oor ‘n glas Peroni – gesels ons oor die bydraes.
“Interessant,”merk
hy op,” hoe Kannemeyer skerpsinnig is oor kanoniseringsprosesse en outydse
lesers wat een formule op ‘n kortverhaal neergooi. Maar hy kan nie raaksien dat
hy presies dieselfde in sy tekste doen nie.”
“Hoe bedoel jy?”
“Hy bekyk tekste
vanuit sy outydse idee van ’n teks ….”
”En Abraham H.
de Vries ondermyn juis die siening van wat ‘n teks is.”
“Juistemint. De
Vries is meer as ‘n pomo-skrywer. Dis in elk geval ‘n tipe matriks wat skrywers
in hierdie land baie lukraak gebruik sonder die ideologiese implikasies wat
daarmee saamgaan. Baudrillard word oorgedra na ‘n ander kultuur sonder ‘n
begrip van die ideologiese en filosofiese implikasies.”
“Nog ‘n Peroni,
Joanie?””
“Kyk, ek dink
sulke boeke is belangrik, want ‘n hele historiese en kulturele verwysingsveld
word in hierdie boek saamgevat. Mense soos
Petronella van Heerden – wat die meeste jong lesers nie sal ken nie –
word hier in die argief geplaas.”
“Inderdaad. En
lesers kan Aucamp, Brink, Etienne van Heerden, e.a. lees oor die teorie in sy
kortkuns.”
“Ja en verwen
word met insigte:
In hierdie
opstel word ondersoek hoedat De Vries vertelling as verstaanshandeling aanwend:
vertelling as manier waarop gepoog word om ervarings sin te maak (p. 64).”
“Poog? Dis mos
‘n Neerlandisme?”
“Ja, maar dit
kom dikwels in Afrikaanse literatore se stilletasies voor, nie waar nie?”
“Ja, soos ander
kakebeenkrakers. In hierdie boek is daar ‘n handvol deeglike essays – soos
George Weideman, die ou staatmaker, se uitmuntende essay oor die clowneske by
De Vries. Die skrywer se liefde vir die clown / pikaro / triekster herinner aan
die jong Fellini se obsessie met sirkusse en hoe dit neerslag gevind het in sy
werk... Otto e mezzo (Eight and a half),
o.a.”
“En die ander tekste?”
“Dit is boek vir
die De Vries-aanhanger met al die kenners wat ‘n hier ‘n bydrae lewer. Wium van Zyl het dit versorg en gepubliseer
by die UWK en ‘n mens sou tog voel dat ons NB-uitgewers vir De Vries kon huldig
met ‘n glansboek. Maar nou ja. Deesdae moet ‘n boek verkoop en populêr wees en
artikels waarin ons stilletteer of literatoreer, is maar vir die in-klompie
bedoel.”
“Maar daar is
darem ook stories en gedigte in. ‘n Verhaal van Aucamp wat rondom Tsjekof
vibreer...”
“En ‘n knap
vertaling van Tsjekof...Het dit jou opgeval dat die meeste skrywers hoofsaaklik
uit die Nederlandse bronne aanhaal? Dalk is dit ook ‘n implisiete verwysing na
die skrywer sélf met sy Nederlandse verbintenisse....”
“Ja dalk. Ek
dink hier slaan Dorothea van Zyl die spyker op syn kop met haar verwysing na
intertekstuele spel in die skrywer se werk en hoe hy sy eie tekste herskryf. Sy
begryp dus instinkmatig hoe elke slot ‘n weerbegin is. Dat elke skrywer as’t
ware oor en oor dieselfde storie vertel....”
“Maar is dit dan
nie ‘n soort “op my ou ramkietjie met nog net een snaar” nie?”
“Nee, Van Zyl
wys tereg daarop dat die skrywer vir ons duidelik aantoon dat ons met variante
werk en in hierdie opsig is dit lekker en lonend om terug te keer na die tekste
en hulle met mekaar te vergelyk...”
“So dan, wat is
die belangrikste bydrae wat hierdie outeur gelewer het?”
“Hy is
oerverteller wat die gewone storie kan verteller, behendige metafiksionalis,
postmodernis, bloemleser, polemis, taalstryder...”
“En daardie boek
wat daar lê oor Vader Claerhout?”
“Ja dit is ‘n
glansboek vir die Vader.”
“En die
bydraes?”
“’n Mens leer
altyd. Hier het ek die begrip ‘giggel-geel sonneblomme’ geleer.”
“Ja?”
“En sy
voorliefde vir donkie en sonneblomme, jy weet.”
“Daar is boonop
‘n handvol gedigte en vertellinge van mense wat hom geken het. Selfs van
Adriaan de Beer van die DNA strings.”
“Die afdrukke is
wel pragtig vir die Claerhout-bewonderaar wat dit sou wou uitsny en teen ‘n
muur hang. En is dit nie interessant hoe die twee huldeblyke verskil nie? Die
een met essays en vertellinge, die ander een meer loslit?
P.S.
Stilletassies
verwys na die tydskrif: Stilet waarin artikels verskyn.
[Hierdie
resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]