Thursday, February 14, 2013

Johan Steyn - Geboorte is ‘n ongerief (2007)



Johan Steyn. Geboorte is ‘n ongerief. Lapa, 2007. ISBN 978 0 7993 3995 6.

Resensent: Joan Hambidge

In die filosofie bestaan ‘n studie dat dit beter sou wees om nooit gebore te word nie. Die man dra dit aan sy ouers op, ironies genoeg. Geboorte is ‘n ongerief – nie ‘n goeie titel nie – word die lewe en sy pendant, die dood, beskryf deur Johan Steyn. Daar word etlike filosofiese vrae gevra oor die metafisika, die ouers, en ander kwelvrae wat die gevoelige mens besig hou, pla en bekommer.

“Ons is die dier wat oeroud dom / sy geboorte nooit te bowe kom” (“Die Evangelie volgens Valentinus”).

I.L. de Villiers, o.a., skryf oor hierdie kwessies, maar in sterk vormvaste gedigte en met konkrete beelde. Sy voorgangers Totius en T.T. Cloete het by uitnemendheid vir ons die saamdink van die lewe en die metafisika in ‘n soort “heilige nuuskierigheid” bedink. Dan praat ons nie eens van Sheila Cussons se tuimelende verse nie!

En dit is dan een van die grootste besware teen hierdie bundel: daar is te veel abstraksie, praat, filosofeer – met die blote uitskommeling of enumerasie van stellings oor die lewe. ‘n Ander kwessie is dat hier nie genoegsame blyke van digterlike tug is nie. Sefs die vrye versvorm – om tennis te speel sonder ‘n net, aldus Robert Frost -  word nie met genoegsame beelde of interne spanning saamgebind nie.

Te midde van hierdie besware is daar wel ‘n paar verse wat ‘n mens bybly. In hierdie verband is die gedig oor die persona wat sy depressiepille wegsmyt (“Psigiatrie”), omdat hy nie meer deur dieper dinge ontroer of geraak kan word nie, onthoubaar:

“Winterreise” roer my nie,
Chausson, Thomas, word saai.
Rilke lees soos ‘n verslag.
My stilte is nuanses kwyt.
Ek neem bloot kennis van my kind se lag.

Ironies genoeg, is hierdie gedig ‘n aanwysing van hoé ‘n digter sy / haar bedryf moet aanpak. Jy moet bereid wees om ágter stiltes in te klim of jou ellendes in die oog te kyk. Vir my gevoel is die digter dikwels te versigtig en boonop, soos reeds vermeld, gee hy nie genoegsame blyk van prosodiese beheer nie. En dit is immers wat ons van ‘n digter verwag. Selfs ‘n breek van ‘n reël, dui op ‘n (h)erkenning daarvan.

In ‘n vers soos “Onvergewe” word die leser bewus van ‘n pynlike verlies, maar omdat dit nie genoegsaam beeldend ontgin is nie, word dit ‘n mindere vers. In “Vondelinge” staan daar selfs:

In die seisoen van nydigheid
het ons siele toegeskroei.

Dertiger-retoriek?

In “Aankondiing in mineur” word die leser bloot meegedeel hoe die spreker voel, maar die gedig mis ‘n sterk punt. Waarskynlik omdat die gedig ondermyn word deur ‘n  sentimentele aanslag (“kombersies van vergeet”).

Oom Herman, Tannie Dina, Toetie en so is waarskynlik dankbaar vir die verse wat aan hulle opgedra word. Die leser daarbuite deel egter nie in dit wat ‘n gedig behoort te doen nie, naamlik om iets universeels te word nie.

“Kroniek”, “Elegie vir ‘n vriend” en “Kinderlike  ongeloof” is wat my betref drie verse wat sterk staan. En die slot van “Dawid” is lekker snaaks:

ag almal buiten Doppers doebiedoe.

Wanneer die digter speels of geestig raak, tref hy bepaald. Hy moet meer dartelend dig soos hy dan ook sy argwaan teen diegene wat godsdiens té ernstig opneem, bely. In hierdie verband is “Na metafisika” uiters onthoubaar met betrekking tot “inflasies van die lees”!

Die digter het in 1981 met Verweer gedebuteer en daarna bekend verwerf met sy aangrypende vertalings uit die Hebreeus saam met Joodse digter, Israel Ben-Yosef: Olyfwoestyn.

Dit is verblyendend dat daar tans rand-uitgewers bestaan wat bundels publiseer. Dit moet egter steeds met gehalte gepaardgaan, iets nuuts of ten minste, interessants voortbring.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad /Fine Music Radio geplaas.]