Tuesday, February 12, 2013

Studie: Die digter as Lorelei: Die fenomeen Ingrid Jonker en haar tweede lewe in enkele verse van Johann de Lange


Dana Mouton-gedenklesing, Universiteit van Stellenbosch, 2010

Joan Hambidge

I.

Die woord Lorelei stam uit die ou Germaans waar “lureln” letterlik mymer beteken en die Keltiese woord “ley” klip aktiveer. “Luren” aktiveer eweneens “lurk”, oftewel dan “lurking rock”. Lorelei is ook die naam van een van die mooi Rynse vroue wat met haar verleidelike sang reisigers na hul dood gelok het.

Die digter Ingrid Jonker beklee ‘n mitiese status in ons digkuns soos Sylvia Plath en Anne Sexton binne die Engelse digkuns. Beide Plath en Sexton was studente van Robert Lowell en ‘n groot aantal studies is oor hul tekste geskryf. Veral Janet Malcolm se belangrike studie The silent woman argumenteer dat daar nie een Plath is nie, maar verskillende projeksies van die figuur: Plath deur die oë van haar moeder, haar skoonsuster, Ted Hughes, feministe. Dieselfde geld Ingrid Jonker en haar mitologiese status binne ons letterkunde. Jonker beleef eweneens verskillende representasies: Nederlandse films, eks-minnaars, vriende, biograwe, vertalers, kanoniseerders, ensomeer. Elke studie gee ‘n nuwe blik op die komplekse digter wat soos almal weet buite die Afrikaanse letterkunde verïkoniseer is toe Nelson Mandela haar gedig “Die kind” in die parlement voorgelees het. In hierdie afdeling gaan ons fokus op die representasie van Jonker in enkele gedigte van die digter Johann de Lange. Ingrid Jonker dus deur die oë van hierdie digter.


II.

Rondom die figuur-Jonker was daar al dikwels polemiek. Die onlangse herrie rondom die nie-toekenning van die prys vir die Engelse digkuns bewys dit opnuut, net soos Breytenbach se reaksie op Petrovna Meterlerkamp se opname in haar biografie van sy gedig oor Jonker waarvan die eerste strofe soos volg lui:

Die water val, die jare gly;
ek sit by Dirk en word beskonker.
Hy bied ou vodde nuus vir my.
'Wat het geword van I. Jonker?'
'Hy't knaend mos na haar gevry . . .
Nog 'n skop?' 'Ta, gooi maar wit.'
'Dit was die sêdste begrawery . . .'/
Wat het geword van jong Ingrid?

Jonker is al gehuldig deur Barend J. Toerien, Daniel Hugo, David Lytton, Ruth Miller, Wilma Stockenström, Richard Rive, Freda Linde, Adam Small, George Louw, I.L. de Villiers, Jennifer Davids, Lina Spies, Johann de Lange en Joan Hambidge.

In ‘n berig in Rapport van 3 Augustus 2003 skryf Theunis Engelbrecht oor Breytenbach se ongelukkigheid oor die opname van die gedig sonder sy toestemming en dat hy voorts ook ontken dat die gedig oor Jonker sou handel.

Vervolgens De Lange en Jonker.

Die sterk identifikasie met die figuur-Jonker wat gedigte skryf waarin sy haar eie dood “voorspel” in die gedig “Ontvlugting” met die bekende reëls:

My lyk lê uitgespoel in wier en gras
op al die plekke waar ons eenmaal was

vind ons ook terug in gedigte oor ánder bekende figure wat selfmoord gepleeg het soos Eugène N. Marais, Anne Sexton, Curt Cobain, Johannes Kerkorrel, om enkele figure aan te toon. Jonker se ongelukkige jeug stem ooreen met De Lange se jeug waaroor hy skryf in sy prosateks, Vreemder as fiksie (1996). In die meedoënloos-eerlike slotverhaal, “Afskeid van my ouers” word die gegewe rondom die vader se selfmoord onthul deur briewe wat die moeder aan hom geskryf het. Die aangrypende pa-verse in sy digkuns aktiveer dan ‘n ambivalensie jeens die vader-figuur wat hy oënskynlik vergeef, maar deurdat hy telkemale oor die vader in ‘n nuwe gedaante of vanuit ‘n ander perspektief skryf, dui op ‘n onvermoë om tot vergifnis of heling te kom. Deur oor Jonker te dig, word die eie dood of selfvernietiging voortdurend uitgestel of getransfereer. Jonker verbeeld dus die onderliggende selfvernietiging en deur dit later na ander digters te verplaas, word die dood uitgestel. Die digproses en die gedig word die plek of ruimte van (self)moord of selfuitwissing. Solank as wat die digter in staat is om die onderliggende woede teen die ouerfiguur te verplaas op ander figure of objekte, word die eie dood tydelik opgehef. By sowel Plath as Sexton het die einde van die digproses selfvernietiging ingelui. 

Vier punte wat Freud maak, is vir die bespreking van Jonker relevant:

1.  Obsessie is deel van ‘n groter kliniese prentjie en hy beskou dit as ‘n simptoom wat deur onbewustelike psigiese prosesse getransformeer word. Lacan herinterpreteer Freud dat die liggaam ‘n soort kaart word van hierdie psigiese energie of kompulsies. Die digterlike teks is uiteindelik ‘n liggaam: een wat simptome verraai.

2. Obsessie is gekoppel aan libidinale emosies wat sterker is as die plesier-beginsel; dit kan dan tot demoniese gedrag of die dood aanleiding gee. Vir Freud is die doodsdrang of thanathos-drang sterker as die lewensdrang.

3. Freud beweer in sy beroemde artikels oor die Rotman (1909) en dat die herhaling van gerepresseerde ervarings tot plesier lei in die herhaling daarvan. Dit nuanseer hy in latere werke wat sy eerste sieninge (1886) oor hierdie kwessies anders belig.

Die teks-as-liggaam is die liggaam-as-teks. Die reaksies of antwoorde op Ingrid Jonker deur De Lange is ‘n nadenke, ‘n begeerte om soos sy in die dood in te beweeg – terselfdertyd deur oor Jonker te dig, stel hy ook sy eie dood uit. Juis hierdie komplekse posisie is een van die paradoks, die ruimte van metaforiek. Deur oor De Lange en Jonker te skryf, verraai ek terselfdertyd my eie impulse, onverwerkte konflikte – en doodsbegeerte.

4. Die onbewuste is ‘n kelder wat deur middel van raaisels, drome, tongglippe en gedigte sig openbaar. Elke gedig van De Lange oor Jonker aktiveer terselfdertyd die komplekse verhoudings met hul onderskeie vaders.


III.

In sy nou reeds klassieke teks oor digterlike beïnvloeding, The anxiety of influence, skryf Harold Bloom oor die verskillende trope wat die digter kan gebruik om met die digterlike vader of moeder af te reken. By De Lange is daar veral twee prosesse wat sig voltrek: die tessera of voltooiing van die precursor en die apophrades of die terugkeer uit die dode. Bloom se siening is gebaseer op die Atheense ritueel van die ongelukkige tyd of nag wanneer die dooies terugkeer om die huise te besoek wat hulle eens bewoon het. In Bloom se belangrike woorde: “But the poem is now held open to the precursor, where once it was open, and the uncanny effect is that the new poem’s achievement makes it seems to us, not as though the precursor were writing it, but as though the later poet himself had written the precursor’s characteristic work”(16).


IV.

Psigoanalise is gebaseer op ‘n triadiese verhouding. Of dit nou die id, ego of superego is wat Lacan na die verbeelde, simboliese en reële vertaal het of dalk alle leesprosesse: teks/leser/skrywer, die verhouding signifier/signified wat die teken word. Jonker/De Lange /die leser wat teruggaan na die primordiale driehoeksverhouding tussen Jokaste/Oedipus/Laius. Hierdie verhouding is egter nie stabiel nie: dit kan soos die verhouding tussen die analis en analysand ook omgekeer word.


V.

Oor die ikoniese digteres Ingrid Jonker skryf De Lange etlike gedigte. Hy verplaas egter die onopgeloste konflik rondom die vader op haar. Jonker dra dus die psigiese energie wat in die onbewuste sluimer en latere ikone wat tragies en jonk (Jonker?) gesterf het, is manifestasies rondom dieselfde konflik met die vader. Die onbewuste, soos deur Freud gedefinieer, is ‘n diep verborge kelder waarin onopgeloste konflikte gestoor word. Ons vind telkens verwysings na die kelder in die digkuns van De Lange waarin psigiese materiaal gis. Freud se bekende onderskeiding tussen eros (lewensdrif) en thanathos (doodsdrif) wat gekoppel is aan libidinale energie, is oorbekend. By De Lange is die terugkeer na die doodstematiek in die onbewuste ‘n uitstel van die werklike dood. Deur te skryf oor vroeg gestorwe ikoniese figuur word die eie fisieke dood uitgestel. Deur die gedig te skryf, betree die digter ‘n ambivalente ruimte waar eros en thanathos in konflik tot mekaar staan. Uiteindelik gee die gedig hierdie konflik weer wat sig in die onbewuste van die digter afspeel. Die primêre of oerbron van inspirasie is egter die verhouding met die vader wat die kind versaak het deur te selfmoord te pleeg. Daar is uiteraard sterk ooreenkomste tussen Jonker en De Lange se biografieë met veral die verhouding met die ouma wat as versorger intree in die plek van die ouers wat beide kinders gefaal het.

Die vers “Ontvlugting” uit Waterwoestyn (1984) gee haar lewensloop weer met die see as die verlossende minnaar. In Waterwoestyn gebruik hy die motto:

die mense wat leef by die see soos in die Sahara


Ontvlugting

Fyn kantwerk van vygies langs die see.
Die vygieranke van Somersetstrand
kon jou dun enkels nie terughou nie
daardie nag toe jy uitgestap het
na jou dood soos ‘n kind na ‘n donker kamer,
toe jy die water naweldiep ingewaad het
soos ‘n slaapwandelaar in ‘n droom.
Daardie nag: het jy toe geweet
dat daar ‘n einde kom aan die groot geel by
die dag, het jy onthou dat jy eenmaal,
een hoogsomertyd, vlasblond en gelukkig was?
Daardie nag het jy na binne geskree
en die meeue het gesterf van jou kreet.
Daardie nag het jy jou jonglyf
vir die laaste keer weggegee,
argeloos, aan die grootste minnaar
van almal: aan die krulkopsee.
En die windwit branderskuim
het jou dye skoongewas
van die bloed van die vermoorde kind,
die bloed van die veronregtes,
die nageboorte van jou volk.
In die Bergrivier en die dam by Firwoods
het jy twee keer byna verdrink, meisie-vrou;
die derde keer is skeepsreg.
Voordat jy finaal ondergegaan het,
slaapswaar en vir ewig jonk,
het die water en die wind saamgesweer
en jou skraal skouers
twee meeuwit vlerke vir die vlug
uit hierdie Valkenburg gegee.


Hierdie vers het duidelike toepelings op haar lewe en die volgende distigon:

Ingrid Jonker (1933-1965)

Ontvlugting

Uit hierdie Valkenburg het ek ontvlug
en dink my nou in Gordonsbaai terug:

Ek speel met paddavisse in ’n stroom
en kerf swastikas in ’n rooikransboom

Ek is die hond wat op die strande draf
en dom-allenig teen die aandwind blaf

Ek is die seevoël wat verhongerd daal
en dooie nagte opdis as ’n maal

Die god wat jou geskep het uit die wind
sodat my smart in jou volmaaktheid vind:

My lyk lê uitgespoel in wier en gras
op al die plekke waar ons eenmaal was.


In die lykdig “Ingrid Jonker (1933 – 1965)” volg De Lange die struktuur van die kinderrympie “Who killed Cock Robin?” om op ‘n retoriese wyse die vraag te vra oor wie presies het Jonker doodgemaak.

Ingrid Jonker (1933 - 1965)

Wie het Ingrid Jonker vermoor?
Ek, sê die somber see,
ek wat neem en gee.
Ek het Ingrid Jonker vermoor.

Wie het haar sien sterf?
Ek, sê die suiwer maan,
daar's niks wat my ontgaan.
Ek het haar sien sterf.

Wie sal die sluier maak?
Ek, sê die minnaar,
om die skyn te bewaar.
Ek sal haar sluier maak.

Wie sal die graf betaal?
Ons, sê die familie trots
– met haar naam in rots –
ons sal die graf betaal.

Wie sal die kis dra?
Ek, antwoord die koerant,
op voorblaaie dwarsdeur die land
sal ek die kis dra.

Wie sal die klok lui?
Ek, sê die suster; weet
ek is afgunstig op haar leed.
Ek sal die klok lui;

Wie sal vir haar sing?
Ek, sê die ongebore kind,
sodat sy my kan vind
sal ek vir haar sing.

Wie sal haar dood betreur?
Ons wat haar gepubliseer het
en verdere winste verbeur het,
ons sal haar dood betreur.

Wie sal haar bloed trek?
Ek, sê die skrywer,
uit hebsug en naywer
sal ek haar bloed trek.

Wie sal eerste vergeet?
Ek, sê die bleek papier,
my tyd is korter hier.
Ek sal eerste vergeet.

Hierdie gedig, opgeneem in Wordende naak, maak gebruik van personifikasie deur sowel die see as die maan aan die woord te stel. Die see word as somber en die maan as suiwer getipeer, ‘n waarnemer of toeskouer voor wie niks ontgaan nie.

Die minnaar antwoord dat hy die sluier sal maak om die skyn te bewaar. Hier word die gedig erg ironies, omdat daar meer as een minnaar was, wat die skyn van nie-medepligtigheid wil bewaar. Die leser dink ook hier aan Jack Cope se teatrale optrede tydens Jonker se begrafnis toe hy in die graf gespring het. Die somber geskiedenis rondom haar ineenstorting in Spanje en haar troebel verhouding met Brink kom ook aan bod. Brink het bely dat hy letterlik blind geword het (soos Oedipus?) toe hy van haar dood verneem het.

Die ironiese effek word verder uitgebrei: die familie sou beslis nie vir die graf betaal het nie. Die vader, Abraham Jonker, het sy dogter in die openbaar verloën weens hul verskillende politieke standpunte en dit is eweneens bekend dat ‘n tweede, private begrafnis gehou is net vir haar skrywersvriende.

Ná Jonker se dood het haar suster Anna telkemale ingetree wanneer sy nie akkoord gegaan het met ander skrywers se interpretasies van Jonker se lewe nie. (Ironies genoeg het hierdie gedig in die laaste uitgawe van Standpunte verskyn en gesorg vir polemiek agter die skerms. Die gedig en poltieke bydraes in hierdie tydskrif het onder andere gesorg vir die dood van Standpunte.)

Die kisdraers word in hierdie gedig vervang met die pers wat die omstredenheid rondom haar dood versprei het en onder meer suggesties van moord, eerder as selfmoord, bestendig het. Die suster, Anna Jonker, sal die doodsklok lui, met ander woorde, die aankondiging van die dood doen. Die nydigheid of afguns van die suster word hier beskryf. Johann de Lange het ook ‘n prokureursbrief in die tagtigerjare van die suster ontvang, indien hy die drama wat hy oor Jonker se lewe geskryf het, sou publiseer of opvoer.

Die ongebore kind verwys onder andere na die aborsies wat Jonker gehad het in die vertaling van haar gedigte, Black butterflies, beklemtoon Brink in die voorwoord hoe ‘n aborsie haar deur haar hele lewe geteister het. In die dood sal sy dus één word met hierdie ongebore kind en sy sal dus tot rus kom.  

In die slotstrofe word die ironie tot ‘n hoogtepunt gevoer: rondom die ikoon-Jonker was daar ‘n geldmaakbedryf in die pers en ook in boeke of gedigte wat oor haar geskryf is. Die werklike verlies van Jonker is dus nie ‘n letterkundige een nie, maar eerder ‘n finansiële verlies. Die gedig word dus rondom verskillende ironieë gebou wat telkens somberder en wranger word tot die crescendo dat die hele figuur en haar tragiese heengaan ‘n blote industrie is.

Die herhaalde gebruik van die woord ek (afgewissel met ons) beklemtoon die egotisme of selfgesentreerdheid van die figure rondom Jonker wat haar bloot om eie belang misbruik het.

In die lykdig oor Johannes Kerkorrel wat opgeneem is in Die algebra van nood, word die tweede strofe ‘n palinode van ‘n Jonker-vers. Die aanduiding “vry na Ingrid Jonker” aktiveer dus ‘n herdigting van die oorspronklike gedig. 

Klaaglied vir Ralph (1960 - 2002)
Al wat oorbly, is ek & jy
as die aarde tuimel & die res verdwyn.
Johannes Kerkorrel

1
Die wattel is ʼn dors boom
die wattel is ʼn nors boom
& sy wortels grawe diep
die wattel is ʼn vreemdeling
nie my of jou se tiep

Die wattel is ʼn skuilboom
die wattel is ʼn huilboom
hy bly voortdurend dors
die wattel is ’n vreemdeling
wat platsak uit ons drome dros

2 (vry na Ingrid Jonker)
Ek het gehoor, Dinsdagnag, jy is dood.
Hoe daag die anderkant
wat jy besing het,
hoe daag die verskriklike uur,
hoe raak die bos stil, die klein geveerdes
wat jy bemin het, hoe val
die geel bloeisels van die wattel,
hoe gaan die dag oor die berge
huis toe. Die voetpaadjies
van Botrivier & Kleinmond
dra swaar aan jou voetval:
was daar sonlig op jou hande,
was daar bloed?

Ek het gehoor, verlede nag, jy is dood,
& sien jou weer sit
op my rusbank
in jeans & ’n swart t-shirt
ʼn joint & rol met rustige vingers,
met oë wat die droefheid van die wêreld drink.
Ek het gedroom daar kom ʼn einde aan die blou lug
& akkoorde sterf weg.
Daar’s ʼn einde & die einders los op
soos ʼn far-out acid trip,
daar’s ʼn einde waar alles vibreer
anderkant woorde, waar ons kwantumflikkers is,
niks meer. Daar’s ʼn einde
& die einde het jou ontroof
van alles wat jou getraak het,
van alles waarin jy wou glo,
tot jy oplaas net ʼn laaste rooi vloed
voel klop het agter afgeslote oë.


VI.

Daar is reeds gewys op die triadiese verhouding tussen teks/leer/skrywer. Johann de Lange se gesprek met Jonker het uiteindelik ‘n invloed op my:  Jonker word eweneens ‘n Lorelei wat deur De Lange na my roep. My reaksie op hierdie proses van die driehoeksverhouding dwing my terug na die verbeelde fase. Ek kan dit net kreatief verwoord:

Met hulle is ek
Vir Ingrid Jonker & Johann de Lange

Met hulle is ek
wat dwelms misbruik
omdat ‘n ongelukkige jeug
of dwase oordeelsfout vir altyd bly wroet
met hulle is ek wat die hek van ‘n Weskoppies
of ‘n Valkenburg vir eens en altyd moes hoor sluit
teen die idees van wat normaal of aanvaarbaar is
teen die jeugfout wat bly terugkeer soos bose swere op die lyf
met hulle wat roekeloos en volledig liefgehad het
met daardie liefde ‘n skande ‘n fout ‘n verdriet
‘n kind moes afteken in ‘n huis vir ongehude moeders
omdat dit beter so sou wees en die kind voel roep
deur elke maandstonde en deur elke ongevierde verjaarsdag
deur ‘n mondigwording sonder moeder, vader of familie ja
met hulle wat op Vlaktes grootword sonder genoeg warm klere of kos
verskoppelinge van ‘n sisteem soekend na aanvaarding in ‘n wit sisteem
waar kleur en armoede en aksent hul immer buitehou, stuit
Met hulle is ek, die Hereweet
omdat niks meer eenvoudig is nie
en die leuen juis in ongeregtigheid bly gedy

(Joan Hambidge: gepubliseer op Versindaba):



Met hulle is ek
Ingrid Jonker
Met hulle is ek
wat seks misbruik
omdat die indiwidu nie tel nie
met hulle wat dronk word
teen die afgrond van die brein
teen die illusie dat die lewe
eenmaal goed of mooi of betekenisvol was
teen die tuinpartytjies van die valsheid
teen die stilte wat slaan teen die slape
met hulle wat oud en arm
meeding met die dood die atoombom van die dae
met hulle verdwaas in inrigtings
geskok met elektriese strome
deur die katarakte van die sintuie
met hulle van wie die hart hul ontneem is
soos die lig uit die robot van veiligheid
met hulle kleurling african ontroof
met hulle wat moor
omdat elke sterfte opnuut bevestig
die leuen van die lewe
en vergeet asseblief
van geregtigheid    dit bestaan nie
van broederskap    dis bedrog
van liefde    dit het geen reg nie

Januarie 1965

(Ingrid Jonker: Versamelde Werke, 1994)



Met hulle is ek

met hulle is ek
wat die individu misbruik
omdat seks nie tel nie
met hulle wat dronk word
van sweet en poppers
die engelagtige mechanic
die matroos van Simonstad
kaal met net sy pet op
die onbeholpe doofstom ou
wat dankie sê in vingertaal
met hulle die studente
wat soms skuldig voel
en die seuns van loonwerkers
wat nooit enigiets berou nie
met hulle wie se lywe
in die somer na seesout smaak
en in die winter
vreemde motorruite toestoom
met hulle die seuns terug van ‘n aand
saam met godvresende meisies
hulle lippe nog brandend van klandestiene soene
met hulle desperaat in enkelkamers
waar die Bybel geen uitkoms bied nie
met hulle wat geld vra
en hulle wat betaal
met dié wat wil vergeet
en dié wat van herinnerings leef
met hulle die geliefdes
op dubbelbeddens van ontnugtering
minnaars wat die leuen volg
in gelid van die liefde
met die onderwyser wat wil slae hê
omdat niemand verstaan nie
met hulle die getroude ontroues
wat ru in die hol genaai wil word
asof dit ‘n straf is
met hulle wat pyn uitdeel
en hulle wat dit smagtend ontvang
omdat dit van hulle mans sal maak
met hulle in donkerkamers van illusie
in die hart getref deur ‘n terloopse aanraking
met hulle in dokters se spreekkamers
wat huilend agter ‘n afskorting kniel
voor die Orakel van Bloed
met hulle wat hulle name skryf
op toiletmure die snelskrif van hoop
in bloed en ink en pis en saad
met hulle die skoongesig soldate
meer bedrewe in doodmaak as liefhê
omdat geweld en pyn en dood
opnuut bevestig hoe hard
die liefde tussen mans moet wees

(Johann de Lange: Wat sag is vergaan, 1995)


Waarheen neem die digkuns ons? Na die oerteks wat skuilhou in die verbeelde dimensie (Jonker) met die digter wat daarop reageer in die simboliese fase (De Lange). Wie is Jokaste? Wie is Oedipus? Wie is Laius? Dit is egter nie ‘n stabiele verhouding nie, weet ons uit Jacques Lacan en Harold Bloom se lesings: die rolle ruil voortdurend.

As die Lorelei, is Jonker in die Reële. Roepend, uitlokkend. Altyd daar.


Bbibliografie:

Bloom, Harold. 1973. The anxiety of influence. New York: Oxford University Press.

Brink, André P. & Krog, Antjie. 2007. Black Butterflies. Kaapstad: Human & Rousseau.

De Lange, Johann. 1982. Akwarelle van die dors. Kaapstad: Human & Rousseau.

De Lange, Johann. 1984. Waterwoestyn. Kaapstad: Human & Rousseau.

De Lange, Johann. 1986. Snel grys fantoom. Kaapstad: Human & Rousseau.

De Lange, Johann. 1990. Wordende naak. Pretoria: Haum-Literêr.

De Lange, Johann. 1991. Nagsweet. Johannesburg: Taurus.

De Lange, Johann. 1993. Vleiswond. Kaapstad: Human & Rousseau.

De Lange, Johann. 1995. Wat sag is vergaan. Kaapstad: Human & Rousseau.

De Lange, Johann. 1996. Vreemder as fiksie. Kaapstad: Human & Rousseau.

De Lange, Johann. 2000. Tweede natuur. Kaapstad: Human & Rousseau.

De Lange, Johann. 2009. Die algebra van nood. Kaapstad: Human & Rousseau.

De Lange, Johann. 2010. “Vreemder as fiksie: (Lesing (nie) gelewer aan die US, 2005)”.  Kaapse Paragrawe. (Afgetrek 12 Februarie 2013).

Freud, Sigmund.1905/1977. 8. Case Histories I ‘Dora’ and ‘Little Hans.’ The Pelican Freud Library.Londen: Penguin.

Jonker, Ingrid. 1994. Versamelde Werke. Kaapstad: Human & Rousseau.

Lacan, Jacques. 1966/1977.  Écrits - a selection. Vertaal deur Alan Sheridan. Londen: Tavistock.

Lacan, Jacques. 1932. Paranoid psychosis and its relations to the personality.(De la psychose paranoïaque dans ses rapports avec la personalité). Le Francois: Parys.

Hughes, Ted. 1998. Birthday letters. Londen: Faber & Faber.

Malcolm, Janet. 1993. The silent woman. Londen: Papermac.

Metelerkamp, Petrovna. 2003.  Ingrid Jonker – Beeld van ‘n digterslewe. Hermanus: Uitgewery Hemel & see.

Opperman, D.J. 1990. Groot verseboek. Kaapstad: Tafelberg.

Van Wyk, Johan. 1978. Heldedade kom nie dikwels voor nie. Johannesburg: Perskor.

Van Wyk, Johan. 1987. “Die dood, die minnaar en die Oedipale struktuur in die Ingrid Jonker-teks”. Rhodes: PhD.


Naskrif:

Rat Man - Wikipedia, the free encyclopedia.  Besoek 12 Februarie 2013.

Rat Man. Princeton (The article content of this page came from Wikipedia and is governed by CC-BY-SA.) Besoek 2 November 2009.

"Rat Man" was the nickname given by Sigmund Freud to a patient whose 'case history' was published as Bemerkungen über einen Fall von Zwangsneurose ['Notes Upon A Case Of Obsessional Neurosis'] (1909). The nickname derives from the fact that one of the patient's symptoms was an obsessive fantasy concerning two people close to him, in which a pot of rats was fastened to their buttocks to gnaw into the anus.

To protect the anonymity of patients, psychoanalytic case-studies would usually withhold or disguise the names of the individuals concerned ('Anna O'; 'Little Hans'; 'Wolf Man', etc.). Recent researchers have decided that the 'Rat Man' was in fact Ernst Lanzer (1878–1914) -- though many other sources maintain that the man's name was Paul Lorenz.

'Notes Upon A Case Of Obsessional Neurosis'
The case study was published in 1909 in German. Freud saw the Rat-man patient for sixth months, despite later claiming the treatment lasted a year. He considered the treatment a success.

The patient presented with obsessional thoughts and with behaviors that he felt compelled to carry out. The case received its name from a torture he had heard about from a military officer, where rats would eat their way into the anus of the victim. The patient then felt a compulsion to imagine that this fate was befalling two people dear to him, specifically his father and his fiancée. The irrational nature of this obsession is revealed by the fact that the man had the greatest regard for his fiancée and that his revered father had actually been dead for some years. Freud theorized that these obsessive ideas and similar thoughts were produced by conflicts consisting of the combination of loving and aggressive impulses relating to the people concerned.

The Rat-man also often defended himself against his own thoughts. He would have a secret thought that he wished his father would die so he could inherit all of his money, and then he would shame himself by fantasizing that his father would die and leave him nothing. The patient even goes so far as to fantasize about marrying Freud's daughter so that Freud would have more money.

In addition, the symptoms were believed to keep the patient from needing to make difficult decisions in his current life, and to ward off the anxiety that would be involved in experiencing the angry and aggressive impulses directly. The patient's older sister and father had died, and these losses were considered, along with his suicidal thoughts and his tendency, to form verbal associations and symbolic meanings.

Freud believed that they began with sexual experiences of infancy, in particular harsh punishment for childhood masturbation, and the vicissitudes of sexual curiosity. In the case study, Freud elaborates on his terms rationalization, doubt and displacement.

In a footnote, Freud laments that long term follow-up of this case was not possible, because the patient was killed in World War I.

(c) Joan Hambidge