Marlise Joubert
(Samest.). Versindaba 2007. Protea Boekehuis, 2007. ISBN 878 1 86919 210 5.
Resensent: Joan
Hambidge
Die Versindaba
op Stellenbosch word ‘n jaarlikse
instelling waar digters voorlees, onderhoude voer, musiek gespeel word en die
digkuns-liefhebber kan hier die tendense in ons digkuns waarneem. En hoe het
alles nie verander nie? Lina Spies se voorlesing, ‘n ligte skandaal as daar al
ooit een was, het geheet: “Wat is poësie?”, ‘n waarneming van wat die digkuns
volgens haar dan sou behels. Van Emily Dickinson tot Ina Rousseau met Eybers en
(sug) Opperman as die rigtingwysers.
Behalwe dat haar
lesing getuig van ‘n volledige oningeligtheid van moderne tendense binne ons
digkuns – soos die praatvers, musikaliserings, “rap” – is dit ook beledigend
teenoor figure soos Willem Fransman jnr., wat nie in haar hokkie pas nie.
Daar is nie iets
soos poësie nie; daar is alleen verskillende uitinge van hierdie genre. Nou het
Marlise Joubert weer opgetree as versamelaar en Martjie Bosman was die
versorger. Dit is ‘n tydsdokument vir die leser wat jare later sou wou
terugkeer en die “tendense” binne die Afrikaanse digkuns op ‘n bepaalde oomblik
wou karteer. ‘n Argeologiese oomblik dus. ‘n Ontdekking vir die navorser /
argeoloog.
Die uwe het ook
opgetree en my kommentaar is dus as subjektiewe deelnemer / bydraer.
‘n Paar punte:
party digters vertolk verse beter as wat dit op papier staan. Bernard Odendaal
se gedigte is so ‘n geval van gedigte wat myns insiens te woordoordadig en
vormloos voorkom en boonop word die sleutels te vinnig weggegee. Maar wanneer
hy dit lees, gaan hy tot in die hartslag van die vers en ontroer hy jou.
Gilbert Gibson lees weer ingetoë, amper afwysend, maar sy gedigte op papier vra
vir ‘n derde, vierde lees.
Cas Vos weet ook
hoe om die hartsnare te ruk wanneer hy voorlees. ‘n Minuet van Paderewski het
‘n gedig begelei en nuwe betekenis aan die vers gegee (eat yor heat out, Lina
Spies) en sy herdigtings van die Gilgamesj-epos lewer ‘n besliste bydrae tot
ons digkuns. Dieselfde geld H.J. Pieterse se vertaling van Rilke se
Duino-Elegieë.
Die bundel gee
‘n representasie wat tas aan’t gebeur is: van swentiger-digters soos Marlise
Joubert wat steeds skryf tot Louis Esterhuizen se “Repos Ailleurs” met sy sterk
politieke kommentaar. (Onthoubaar is die beeld “die sterre is rosyne”!)
Sy “Ode aan die deur” is ‘n klein kragtoer met al die sinspelings op die begrip “deur” en hier het iets gebeur, ‘n vind van die eie stem, trefseker.
En welkom terug
aan Jeanne Goosen! ‘n Wonderbaarlike, oorspronklike, heerlike talent sonder
fieterjasies.
Maar wag. In die inleiding skryf Nicol Stassen, uitgewer van Protea Boekehuis, dat daar die afgelope drie jaar 70 digters opgetree het by die Versindaba! En dit bevestig presies hoe ek voel oor die (mitiese) Afrikaanse digkuns: daar is soveel woelinge en talent. T.T. Cloete lewer op 80 plus ‘n merkwaardige bundel, Heilige nuuskierigheid, I.L. de Villiers is nog ‘n sterk aanwesigheid – soos Breytenbach en Krog.
M.M. Walters is nog op sy satiriese stukke – weliswaar is die vers soms te uitgesponne en George Weideman maak hier ‘n buiging, ‘n skrywer wat in vele genres sy buiging maak. Sy voorlesings van die gedig “Soveel maniere om iets te dra” was aangrypend veral met die toespelings op universele politieke geweld.
En voor ek vergeet: daar is Dolf van Niekerk, met sy delikate verse, en Hans du Plessis, met sy Griekwa-Psalms.
‘n Hele santekraam van style en temas. Van Verhewe tot pratend. Van vormbeheer tot loslit. Van Suiwer-Afrikaans tot Griekwa- en Kaaps.
Soos ‘n jong digter dan skryf: “”Ek likes democracy”.
Ek likes die Afrikaanse poetry.
[Hierdie
resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]