Reza Aslan. No god but God. Random House, 2005. ISBN 0 434 01262 9.
Resensent: Joan Hambidge
In die moderne wêreld, met televisie en die
internet, het die grense dramaties verskuif. Elke mens word daagliks
blootgestel aan ‘n veelheid van kulture, godsdienste, oortuigings, waansin en
dramatiese gebeurde waarvan 9/11 waarskynlik die grootste impak op ons psiges
gehad het. Waarskynlik ook omdat dit die Westerse mens al hoe meer bewus gemaak
van die invloed van Islam op die eens veilige Westerse ons/hulle-siening.
Reza Aslan se pakkende studie, No god but
God, is ‘n helder en toeganklike verduideliking van die Islam. Die skrywer is
opgelei in godsdienswetenskap aan Santa Clara en Harvard. Verde het hy
bekendheid verwerf vir essays in Nation, State en die New York Times.
Hierdie studie moet gerus ook saamgelees word met Edward. W. Said se Orientalism wat op ‘n meer akademiese wyse die belangrikste diskoerse van die die Orient bespreek en analiseer.
Hierdie studie moet gerus ook saamgelees word met Edward. W. Said se Orientalism wat op ‘n meer akademiese wyse die belangrikste diskoerse van die die Orient bespreek en analiseer.
Die studie het ‘n sub-titel: "The Originis,
Evolution, and Future of Islam” en hy begin sy studie met ‘n anekdote: ‘n
treinreis in Marokka en ‘n dispuut tussen twee kulture en gelowe. Twee
sendelinge wat reis op ‘n trein na Marrakesj word verkeerd benader deur die
kondukteur; totdat die outeur, Aslan besef wat die rede vir die stryd is. Hy
merk Arabiese vertalings van die Nuwe Testament in hul kompartement op en
begryp dan die hittige debat tussen die reisgenote.
Die bekende Amerikaanse teoretikus Harold
Bloom het ook enorme werk gedoen om die Midde-Oosterse denke (meer spesifiek
Joods-Kabbalisties)in Westerse teorie in te werk – onder andere in sy The
breaking of the vessels en die verwerking van die Kabbalistiese teks in sy
leesbenaderings tot die digkuns. Aslan se studie bring dan ook folklore,
letterkunde, religie, teologie, ensomeer byeen. In die agste hoofstuk, “Stain
your prayer rug with wine” word die Soefie-leefwyse ondersoek.
Soefisme is die mistiese tradisie van Islam en soos die skrywer tereg opmerk, uiters kompleks en eintlik ondefinieerbaar. Soefi is van die Arabiese safwe, te wete die uitverkorene of die reine. Of dalk is dit terug te voer na “sophia”, die Grieks vir wysheid. Die essensie van Soefisme is dat dit geen dualiteit ken nie, net eenheid. Die goeie en bose bestaan nie, ook nie lig of donkerte nie. Daar is alleen God (p. 213).
Hafiz se bekende uitspraak:”Piëteit en morele goedheid het niks te make met ekstase nie; laat wynmerke op jou gebedsmat!”(p. 214). Die Soefie verdrink as’t ware in God tot so ‘n mate dat die skepper en skepping as’t ware een word. Uiters leersame inligting word aan die leser bekend gestel wat die geskiedenis van die Soefisme begryp.
Moderne bewegings, soos die opstand teen die kolonisme, word bespreek in “An awakening in the East”. Die leser sal ook die ooreenkomste raaksien tussen Afrikaans en die Bybelvertaling en in welke mate die Koran ook ‘n invloed gehad het op die fundering van Arabies. Nie alleen word Arabies in die Koran as ‘n poëtiese hoogtepunt beskou nie, maar dit het as’t ware die Arabiese taal geskep. In die skrywer se woorde:”It is to Arabic what Homer is to Greek, what Chaucer is to English: a snapshot of an evolving language, frozen forever in time’ (p. 157).
En wat word van Saddam Hussein gesê? Dit wat ons reeds weet en vrees: die VSA se aanvanklike ondersteuning was daarop gemik om die Iranese rewolusie te probeer verhoed. Uiteindelik het daar ‘n jonger geslag na vore gekom wat te jonk was om die vergrype van die ou regime te onthou en vanselfsprekend ongelukkig met die nuwe bestel.
Vanselfsprekend het die hantering van
vroueregte hierdie leser in die besonder geïnteresseer. Hier word eweneens
histories gekyk na die verskynsel van die “hijab” of sluier. Dit word
verduidelik as ‘n gebruik om die suiwerheid van die hart te verseker en Aslan
meen dat die verskillende besoekers aan Mohammed se huis moes waarskynlik ook
hulself só verskans. Teen die indringer-oë! Later helaas, word die sluier egter
misbruik om vroue te beheer en dominansie te vestig. Met ‘n reis deur Egipte en
Marokko is dit byvoorbeeld vir ‘n Westerse vrou opvallend hoé jy as maklike
prooi geteiken word, omdat jy nie ‘n sluier dra nie en wel ‘n broek.
Daar is ook baie leersame inligting oor die
taliban en dit is ‘n boek wat hoort op almal se rak wat ‘n binne-kennis behoef
oor Islam en al sy fasette. Rayhana (die vrou van Mohammed) staan ironies
genoeg in die indeks neffens Reagan.
Dit is ‘n boek wat die leser dus laat
nadink oor die geskiedenis en verskillende kulture en hoe die moderne wêreld
daagliks voor nuwe uitdagings staan. Dit is lankal nie meer ‘n geval van
jy-in-jou-klein-hoekie-en-ek-in-myn’ nie.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Volksblad geplaas.]