Saturday, February 15, 2020

Resensie | Jeanne Goosen - Los gedagtes (2020)

Jeanne Goosen - Los gedagtesHemel & See Boeke, 2020. ISBN 978-1-928283-37-9

Resensent: Joan Hambidge

Jeanne Goosen beklee 'n ereplek in die galery van romanskrywers in Afrikaans: ons dink aan Om 'n mens na te boots (1975) met sy surrealistiese aanslag; Ons is nie almal so nie (1990) met sy onskuldige kinderverteller wat leuens aan die kaak stel;  Lou-oond (1987) met haar sterk feministiese onderbou, is bekende en belangrike tekste. As digter is sy eweneens gerekend en lank voor die praatvers mode geword het, is dié vorm ontgin. Dink maar aan 'n Uil vlieg weg van 1971. 

Haar laaste bundel Elders aan diens (2007) is 'n kragtoer. 'n Pawpaw vir my darling (2006) is verfilm, terwyl sy in Plante kan praat (2010) op 'n aweregse manier kyk na plante.

Die kortverhaal "Aan die einde van die reënboog", met 'n singende Anneli van Rooyen,  beloer gendersake eweneens vanuit 'n dwarse perspektief.

Daar is ook dramas en kabarettekste.

Nou verskyn Los gedagtes. Goosen het sowat 'n dekade gelede in By (in Die Burger) weekliks 'n rubriek gehad waarin sy die menslike kondisie beloer het. Menige Saterdag was hierdie leser lam van die lag.

Los gedagtes bevat aforismes wat grappig, absurd en hartseer is. De la Rochefoucauld was 'n beoefenaar van hierdie vorm soos Oscar Wilde wat dikwels 'n dwarsklap kon uitdeel. Hennie Aucamp is eweneens bekend vir sý aforismes soos  Kommerkrale: ’n AB-jap vir akoliete (1983) Pluk die dag: aforismes en ander puntighede (1994).

In die digkuns word dit die epigram met Van Wyk Louw as die koning van hierdie vorm in Tristia:

Epitaphe pour lui-même

Hy het nooit danig waffer liefde ooit gekry, nè?
Maar watter danige liefliheid was hy?

*

Humor, die oog vir die absurde is volop in Goosen se teks.

Hier is dan haar credo wat die teks se rigsnoer is:

Ek verteenwoordig niks. Wat ek besit, is nie ek nie. Niks verteenwoordig my nie. Maatskappy dwing die res op my af. Ek leef in ’n gemeenskap, seker en onderdanig, maar dit is die maklikste manier waarop ek ongesiens verby kan mik. Dis miskien waarom ek soms skryf. Ek wil die absurditeite wat ek om my sien of ervaar, onthou. (56)

Pretensie en vernaamdoenery word telkens aan die kaak gestel:

As iemand praat en jy verstaan niks wat hy sê nie, is hy ’n filosoof.  (12)

En hierdie stelling laat jou weer dink:

Kreatiwiteit is nie verbeelding nie. Dit is onderwerp aan die risiko om aangesig tot
aangesig met die realiteit te kom. (13)

Mal humor klink so:

Durban is warm vandag. Ek voel soos een wat in ’n marathonatleet se sokkie woon. (113)

Moet nooit ’n geskenk aanvaar wat eet nie. (13)

Wrang, wrang uitsprake is daar volop soos:

As jy selfdood wil pleeg, bly leef. Lewe
is op sigselwers een lang selfdood. (14)

Moenie steel nie, die regering hou nie van kompetisie nie. (16)

Trou is ’n begrafnis waar jy jou eie blomme ruik. (17)

Moet nooit mense se intelligensie oorskat nie. (39)

Die boek wil kennelik ook die gek skeer met selfhelpboeke:

’n Kritikus is ’n ou sonder bene wat ander leer hardloop. (69)

Moenie bang wees as jou vyande jou kritiseer nie, vrees hulle as hulle jou prys. (68)

Hou dagboek. En eendag sal dit jóú hou. (69)

Die kuns is om te leer hoe om jou ontevredenheid interessant aan te bied. Jy moet entertain, mense daarmee vermaak. (21)

Ek ken al die antwoorde maar ek verstaan nie die vrae nie. (23)

Vroue voel skuldig oor vet – selluliet heet dit. Dis omdat hulle lywe nie hulle eie is nie, maar aan die gemeenskap behoort. (25)

En die volgende het 'n bulder ontlok:

Daardie oor-bekende skrywer? Sy laat nie een steen ongepubliseerd nie. (47)
En is die volgende nie waar nie?

Jy is wat jy haat. (52)

Mense wat in glashuise woon, moet in die donker uittrek. (53)

Dis nogal lekker, as jy tyd het, om die TV of die radio te surf. Dallas is terug op e-TV en elders red dr. Phil drie huwelike binne 50 minute. Vir mind-boggling is daar Radio Kansel. (63)

114 bladsye van loutere genot. Petrovna Metelerkamp, haar uitgewer, het alles opgeteken wat Goosen in notaboeke gekrabbel het. Goosen skryf dan ook met die hand. Binnekort verskyn daar 'n biografie en nuwe digbundel by hierdie uitgewershuis.

Diegene wat Goosen ken, weet sy is  'n ryk geskakeerde skrywer en persoon. Vol teenstrydighede: enersyds sensitief-weerloos, andersyds satiries-snaaks. Om haar te beleef, is asof 'n mens in 'n teaterstuk beland sonder én soms met improvisasie. Met Jeanne wat die pret dikteer.

Sy is Fellini en Pirandello saam in een mens.

En hierdie gedig is Goosen-vintage:

"My Mamma is bossies" word deur Elize Cawood vertolk (Naomi van Niekerk is die kunstenaar) in Filmverse2, die ATKV-projek saam met Fopspeen Moving Pictures.

My mamma is bossies
uit haar een oog huil sy Puccini
uit die ander oog betig sy my
Snags kweel sy: Bedaar, my kind, bedaar
môre kry jy van soetpap en melk

My mamma is bossies
Ia sona molto felice, sing sy
en pak haar kaarte uit
Hoe mooi is sy nie
sy met haar hare soos pruimedante
my bossiesma met haar taai drome
en onverwagte uitgelatenheid.

My mamma is bossies 
Sy is dood nou
ingeweef in die familietapisserie
Sy jaag haar ganse strandlangs
met ’n dun swepie aan
Sy draai om, sien my 
my agterstevoorkind, sê sy
mag dit goed gaan met jou

Uit: Versindaba 2007, Marlise Joubert [samesteller], Protea Boekhuis, 2007

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)

Filmrubriek | Judy

Judy Garland | Renée Zellweger

Renée Zellweger verdien elke ruiker, applous, prys, toekenning en wat nog vir haar vertolking in Judy (regisseur: Rupert Goold). Sy speel nie Judy Garland nie; sy word Garland. Gebare, gesigsuitdrukkings, danspassies, die manier waarop sy staan en selfs rook.

Die film begin wanneer sy alreeds in diep skuld is. Die hotel kan haar nie meer huisvesting bied nie; sy moet betaal, al is sy Judy G. Laatnag moet sy en haar twee kinders in 'n cab ander verblyf soek. Die onsimpatieke eksman is raadop.

Só word sy gedwing om Londen toe te vertrek om geld te maak in 'n stad waar sy gewild is. Sy laat haar kinders agter by die eks en in Londen beleef die kyker haar tuimelende einde.

Wanneer sy aan die einde van die rolprent “Somewhere over the rainbow” sing, staan die hele gehoor op en sing saam – by vorige geleenthede is sy uitgejou oor haar grensoorskrydende gedrag op die verhoog. Sy noem iemand selfs 'n bobbejaan wanneer hy haar koggel met “Jy drink 'n hele kroeg leeg.” Haar antwoord: “Kom staan jy op die verhoog, dan kyk ons ...”

Die film ondersoek die impak van haar lewe as suksesvolle kinderster. Sy mog nie te veel eet nie en dieetpille moes haar in toom hou. Sy is ook gemanipuleer en laat verstaan sy is nie moi genoeg nie.

Slapeloosheid is die eerste gevolg wat in later jare met pille en alkohol gereguleer word.

Ons beleef die ouer Judy wat terugkyk op haar jeug. Die “Yellow Brickroad” bly haar ontglip. (Dit is tersaaklik dat Žižek  The wizard of Oz (1939) betrek in The pervert's guide to the cinema in die spel tusden fantasie en werklikheid.)

Wanneer Judy Garland ten slotte val en struikel op die verhoog, is dit letterlik en figuurlik.

Twee ondersteuners maak een aand laat vir haar 'n omelet – 'n toneel van ongelooflike, troostelose eensaamheid, maar ook 'n erkenning dat sy 'n gay-ikoon is. (Hierdie twee figure red haar ook tydens 'n show.)

In 'n onderhoud – snerpend – met 'n Britse invraer verdedig sy dat sy net vir een uur 'n ster is; die res van die tyd is sy 'n gesinsmens. Wat helaas nie so was nie. Sy was verlate tot in haar siel toe.

In 'n Londense telefoonhokkie bel sy haar dogter op. Ervaar die ruwe werklikheid dat die kinders eerder by die vader wil bly wat standvastigheid bied. 

Zellweger se hantering van hierdie nuus is volgens hierdie kyker op sigself 'n toneel wat haar besondere talent as vertolker illustreer. Aanvanklik bly sy in beheer; dan is sy ooremosioneel oor die verlating.

In haar jeug het Renée Zellweger glo in 'n kroeg gewerk. Dis duidelik dat sy hier afgekyk het mense beheer verloor oor hul lewens.

6 maande na die Londense konserttoer sterf Garland. Dis al wat die einde vir ons verklap. Ons weet egter dat sy waarskynlik 'n einde aan alles gemaak het, al word daar geskryf dat sy per ongeluk dood is aan 'n oordosis. Hierna het haar talentvolle dogter, Liza Minnelli, elke sent skuld terugbetaal maar ook met haar demone geveg.

In Short lives word Garland se lewe ondersoek. Die sub-titel lui: Portraits Of Writers, Painters, Poets, Actors, Musicians And Performers In Pursuit Of Death deur Katinka Matson het in 1980 by MacMillan verskyn.

Ek is selde gaande oor 'n film waarin 'n beroemde sanger of akteur aan bod kom. 'n Mens bly deurgaans bewus dat 'n dubbelganger is en nie heeltemal die regte mens nie.

Hier moes ek bes gee: vir twee uur lank kyk jy na RZ wat JG word.

Minnelli het ek in die tagtigerjare sien optree in Sun City. Vir my bly sy is 'n enorme kunstenaar (Cabaret) en wanneer sy sing.

Liza M is haar moeder se dubbelganger:

Over the rainbow

Die paparazzi betrap 
Liza Minnelli 
spieëlbeeld van haar ma 
reg voor die Betty Ford-kliniek.

Te laat vir possum speel, 
net betyds vir trane 
hoed in die hand (so kom mens glo reg deur die land) 
kameras kliek.

Vir drank? Vir rook? Vir dwelms?
oë koelbloedig verskiete sterre
trapsoetjie-satdig maar seker die trappe op
kliek-kliek.

Te lank moeder gespeel,
te veel pille uitgetel 
verslawing tydelik teen onthou 
‘n plakboek van verlange.


Met nog ‘n omdraaislag
val die hande wit gekneukel op         trane stol: 
“If I can make it here, 
I can make it anywhere.”

Uit: Bitterlemoene. Human & Rousseau, Kaapstad. 1986.

En uit Lot se vrou uit 2012:

Liza Minnelli unzipped

Dames en Here,
ek stel u voor aan Liza Minnelli:
GeTony, GeEmmy, GeOscar,
selfs GeGoldenGlobe
dis Liza, voorste danser,
sanger, aktrise,
aka Sally Bowles,
die dogter van Vincente Minnelli
en Judy (“Over the rainbow”) Garland.
Die lewe is ‘n kabaret, ou tjom! 
“Love hurts” sing sy oë oopgesper
saam met die Pet Shop Boys.
Vier huwelike, vier egskeidings,
vele kere geBetty Ford.
Vereffen haar moeder se skuldlas: 
“So sorry I said”.
Liza met ‘n zee,
unzipped,
zzzzzzzzzzzzzzz,
derms uitryg 
op YouTube:
skelm gekiek
oor die muur,
kapoet, wankelend.
Op die web se reklamebord
“The night Liza Minnelli
collapsed on stage”
kliek, kliek, kliek.

Hoe kinders hulle ouers voltooi of herhaal - Lacan meen ons herhaal ons ouers se simptome en foute ...

© Joan Hambidge

Monday, February 10, 2020

Polemies | Voetnoot of duisendpoot?

Linda Hutcheon in haar studie Theory of parody. The Teachings of Twentieth-century Art Forms (1985) wys op die verskille tussen parodie, pastiche, persiflage, ensomeer. In ons postmoderne en nou metamoderne leefwêreld teer tekste openlik én verhuld op ander tekste. Selfs in die modernisme (ek dink hier aan T.S. Eliot) is hierdie weefwerk aantoonbaar. Wanneer 'n skrywer 'n roman skryf oor 'n historiese figuur en 'n argetipiese roman betrek, weet die ingeligte leser: hier het ons te make met intertekstualiteit.

D.J. Opperman se "Kersliedjie" aktiveer sosiale werklikhede en Die Bybel.

Send ups (parodie) is volop. Anthony Hecht maak van Matthew Arnold se "Dover beach" 'n nuwe, skerp gedig wat hy "The Dover bitch" noem.

The Dover Bitch: A Criticism of Life
Anthony Hecht 

So there stood Matthew Arnold and this girl
With the cliffs of England crumbling away behind them,
And he said to her, "Try to be true to me,
And I'll do the same for you, for things are bad
All over, etc., etc."

Tans is daar gesprekke rondom Van Wyk Louw se tekste op die Versindaba.

Verskeie digters reageer op Louw se werk soms parodies; ander kere 'n blote pastiche - dus 'n teks wat nog aan sy voorbeeld staan.

Hier is dan 'n pastiche van ene Hanna Heimbrücke:

Voorspel, 2020

VWL

Miskien sal ek die wingerd prys
en nooit weer van hom skink
en net in 'n plastiekglas
'n bietjie Oros drink:

dus na jare se donkerte
die rekening brand die sak
en nou geen hangovers 
nie pille dop of dam:

miskien nog van my ou weë weet:
– die kroegpraatjies en die skyn:
maar uiteindelik nugterheid leer ken
en mens wil wees én rein.

Louw se vers kan hier gelees word:

Me. Heimbrücke se vers banaliseer die "koel gedagte" van die digkuns en is potsierlik-banaal. Hier is geen "woord of wonder" te bespeur  nie.

'n Bekende teks behoef nie 'n voetnoot of erkenning nie; ons ken die spel.

So alvorens 'n teks ge-poelpetater word en tot oorskryf of letterdiefstal gereduseer word, moet die leser bepaal:  wat lê tussen die esels en makriel?

Niemand gaan Quentin Tarantino in Once upon a time in Hollywood beskuldig dat hy Roman Polanski se lewe (en werk) "gesteel" het nie. Die Manson-moorde en Sharon Tate is daar, maar nuut verpak. Trouens, die bekende gegewe word op sy kop gedraai in 'n maagdraai-slot. Brad Pitt is tereg met 'n Oscar beloon vir sy uitmuntende spel.

Hierdie soort gesprek-tekste is self-bewus en self-ondermynend. Dit skep 'n tekstuele wêreld wat met 'n endnoot (of daarsonder) aanspraak maak op ingeligtheid. Die bekende kopknik.

Daar is 'n urban legend dat die endnote by T.S. Eliot se Waste land nooit vir publikasie bedoel was en 'n blote  in-grappie tussen hom en Ezra Pound was om lesers op vals spore te lei.

Soms kaap 'n skrywer iemand se lewe (soos wat Saul Bellow doen in Humboldt's gift wanneer hy die digter Delmore Schwartz se lewe fiksionaliseer), maar selfs sonder hierdie voorkennis bly dit 'n verbluffende roman.

Soms word gedigte uit ander tale oorgeneem sonder 'n erkenning dat dit "vertaal" is en dan lig die wenkbroue wel. Selfs hiér is die grense vaag en hang dit van die konteks af. 'n Klassieke Latynse of Griekse gedig word vertaal en nuut gemaak. Dis allemansgoed. Et atque mea Lesbia, odi et amo...

As 'n historiese figuur in 'n roman land en 'n Cormac McCarthy-verwysing (o.a.) speel in op die ondergrond van die teks, weet die leser wáárom. Manlike geweld is universeel dalk? Orals – VSA en hier – is dit so.

T.T. Cloete se satiriese gedig "Die kritikus" verskaf tog antwoorde:

ek fanie vanderbag
is die maatstaf
al wie groter as ek is lag
ek tot formaat af

gee my 'n storie
wat vlot lees skryf net vir my soort
en vir mý wat niks anders wil hoor nie
soos dit hoort

alle skrywers met pryse
en eregrade
al die wyse
literatore en rade

almal hoor hier is dwaas
vra my fanie vanderbag
koerantskrywer graphaas
ek het smaak met gesag

ek weet van klein en van groot
weet ek van eg en oneg
van wie vir kuns of brood
skryf wat goed is wat sleg

luister na my ek groot bee ek,
daar moet tog goeie boeke wees
sê ek fanie vanderbag groot gee ek
soos van "Die skoenmaker en sy lees"

A.P. Grové gebruik dit as 'n voorbeeld in Woord en wonder (1986 uitgawe) om die grootdoenerige, selftevrede kritikus hekelend aan die kaak te stel. Beide Cloete en Grové het vir dagblaaie geskryf, maar altyd met werklike gesag.

Elisabeth Eybers se "Dagbladresensent" (Versamelde gedigte,  2013) is ook vol in die kol:

Waar hy noukeurig aankruip knars die oes
voor die onwrikbre ywer van die vraat
wat ál wat groen en glinsterend is verwoes
en slegs 'n vaal uitwerpsel agterlaat.

Endnoot of voetnoot kan help. Vir die skaapvet, eiers en biltong wat die skrywer nederig in sy / haar teks neersit.

Maar alles het te make met 'n "irony's edge" om Linda Hutcheon weer aan te haal. Op die voorblad van my eksemplaar (1994) sit 'n meisie met haar voete wat hang oor 'n gevaarlike afgrond ...


© Joan Hambidge

Wednesday, February 5, 2020

Filmrubriek | Terrence Malick se A hidden life (2019)

I

A hidden life is die verhaal van ene Franz Jägerstätte  (vertolk deur August Diehl) in Terrence Malick se jongste film. Die storie is voorspelbaar: 'n jong Oostenrykse boer en gelowige weier om te veg tydens die WOII. Hy is 'n gelowige Rooms-Katoliek.

Die titel, weet ons, verwys na George Eliot se beroemde opmerking in Middlemarch (171 - 1872) oor al die onbesoekte én ongemerkte grafstene op aarde van mense wat hulself geoffer het vir 'n saak. Só 'n man is Franz.

En die kyker weet van meet af aan wat met hom gaan gebeur. Malick se kamerawerk is die eintlike verhaal. Daar is duidelike simbole: 'n lig wat verdof, wolke wat aanvanklik die idille weergee en later verdonker. 

Ons kyk na die film en skielik is dit donker.

Wanneer sake begin skeef loop, sit die vrou met geknoopte toue op haar skoot. Ons weet wat dit simboliseer.

Boonop stel hy die man en vrou aan die woord in 'n voice over. Agter hulle Engelse stemme hoor ons Duits. In die tronk staan daar teen die muur: Sprechen Verboten!  Ons sien hoe 'n vrou 'n appel skil en langsaam daaraan eet. 'n Skoot van bo in die tronk verklap geweldig baie. Die geweld word dikwels deur insinuasie meegedeel as blantant vertel. 'n Geslagte vark wanneer die vader in die tronk is, laat 'n jong kind gril.

Die tronke in Enns en Berlyn is die hel. Die tronkbewaarders is grusame, aaklige figure wat nie weifel om te mishandel nie. Franz se vrou word deur owerhede sleg behandel. Die priester is simpatiek, maar sy hande is afgekap.

Briewe word versend en voorgelees tussen man en vrou. Skielik met hierdie slegte nuus is ons in die donker. Asof die kamera ons dwing om na te dink ...

Die kamera fokus op die wonderskone natuur wat later onstuimig raak. Ons sien vuil naels en geel tande van 'n ou man. Tussen 1939 en 1943 word die verhaal uitgespeel in bykans drie ure. Dit begin met bekende wit-en-swart-footage van Hitler wat later selfs kleurskote bevat van hoe hy 'n jong kind in sy politieke loopbaan gebruik. Dan vrolike musiek met Hitler in kleur. Slavoj Žižek beweer dat Stalin gaande oor musicals was in The pervert's guide to the cinema bykans om sy aandag af te trek van sy booshede.

En hierdie film verwys tersluiks na The sound of music waar die einde grimmig is na die idilliese begin.

Hoe 'n hele gemeenskap teen 'n man met gewetensbesware draai en later sy vrou en kinders viktimiseer, word uitstekend weergegee.

Valerie Pachner as Franziska Jägerstätter, die eggenote van die man, se lot ruk 'n mens aan die hart. Selfs haar skoonmoeder neem háár kwalik vir haar man se besluit. Die bure is mislik. Die klein gemeenskap verwerp haar en selfs met 'n kerkbesoek, is die kinders aaklig met haar drie dogtertjies.

Sy sukkel om te oorleef en sy en haar suster ploeg met 'n koei. Haar buurman steel haar beet.

Bruno Ganz vertolk die rol van die Regter. Hy probeer alles in sy vermoë om Franz te oortuig om sy sienings te laat vaar, maar dit slaag nie.  Die einde is doodstraf.

Hy was laas in Wings of desire (Wim Wenders se voortreflike film) so goed! Hierdie rol speel in op sy vertolking as die professor in The reader.

'n Argetipiese verhaal van hoé mense se vrese werk en die implikasie van outsiderskap. Die grootste karakter in hierdie film is die kamera wat fokus op ligene teen 'n boom. Hiermee word gesuggereer dat die bome ouer en wyser is as mense.

Die klankbaan is verruklik. Kerkklokke, Bach, Beethoven ...

Erna Putz, die biograaf van Jägerstätter was diep geraak deur die spiritualiteit van die film. Juistemint. Malick het immers Days of heaven en The tree of life gemaak.

Teen die slot fokus die kamera op 'n berg en 'n waterstroom en die vrou wat opmerk dat hulle weer sal ontmoet. Eendag.

Dit is 'n stadig-bewegende film wat baie geduld opeis. Maar dit is bepaald die moeite werd. En dit resoneer met ons geskiedenis waar jong mense in 'n grensoorlog gesterf het.

II

Hierdie film werk met bekende gegewens. Die kyker weet presies hoe sake gaan afloop. So dit nie hier om die wat nie, maar die hoe. Hoe word die film vertel sodat dat die kyker enduit geboei bly; veral in 'n film wat lank is, want die moderne filmkyker wil vinnig kyk en 'n oplossing kry.

"Works are created by works, texts are created by texts, all together they speak to each other independently of the intention of their authors ..." Aan die woord hier is Umberto Eco in sy klassieke analise van Casablanca, opgeneem in Faith in fakes wat by Secker & Warburg in 1986 verskyn het. Dit heet "Casablanca: Cult movies and intertextual collage".

En presies dit is wat die kyker ervaar wanneer 'n mens kyk na A hidden life. Jy sien die argetipes en intertekste na ander oorlogfilms.

Eco meen dat 'n kultusfilm juis tot gevolg het dat 'n mens net gedeeltes onthou. Jy breek ("unhinge") dit van die oorspronklike narratief.

Die dinamiese en statiese motiewe in A hidden life is opvallend. Die natuur, ten spyte van siklusse, sal altyd daar wees. Die geskiedenis verander en die kyker weet dat hierdie film inplisiet kommentaar lewer op goedheid en spiritualiteit.

Jung se kollektiewe onbewuste word geaktiveer: ons keer terug na die aarde waaruit ons spruit. Stof tot stof.

Casablanca, aldus Eco gebruik al die argetipes. En dieselfde geld A hidden life

Politiek, geskiedenis, familie, liefde, dood, verraad, opoffering kom aan bod. Die man kan in A hidden life die opoffering maak, want sy vrou glo dat hy die regte besluit maak ten spyte van die ellende wat die meebring.

Eco verwys na die metasemiotiese kultuur van vandag. A hidden life wil verby hierdie tekensisteme beweeg en argetipes ontbloot en jou onbewuste onrustig maak.

Sou jy bereid wees om standpunt in te neem teen onregverdigheid al sou dit geen duit aan die geskiedenis maak nie soos die Regter vir Franz waarsku?

© Joan Hambidge

Sunday, February 2, 2020

Resensie | Marc Tritsmans – Die singende wêreld (2019)

Marc Tritsmans - Die singende wêreld (uit Nederlands vertaal deur Daniel Hugo). Naledi, 2019. ISBN: 978-1-928518-25-9

Resensent: Joan Hambidge

Die singende wêreld  van Marc Tritsmans het verlede jaar by Naledi verskyn. Dis 'n bundel met vertalings deur Daniel Hugo.

Wat 'n wonderlike verrassing is die ontdekking van hierdie digter nie. 'n Boek oor die see en voëls en bome en die planete – en 'n besinning oor presies wat ons hier maak.

Reeds in die openingsgedig konstateer die digter dat hy 'n “oudmodiese kompas” in sy kop huisves en dat niemand sonder plekbepaling werklik kan bestaan nie. En dan neem hy sy leser op 'n fassinerende reis oor hoé hy homself hiér op die ondermaanse beleef.

Bekende konstellasies

ek is ’n man uit die noordelike halfrond
en wil nie my noorde van my laat afrokkel nie
waarskynlik deel ek tog iets met die duiwe

huisves ek ’n oudmodiese kompas in my kop
want waar ek ook al neerstryk begin ek in die donker
vasberade soek na bekende konstellasies

fluister stemme van verre voorouers – jagters
reisigers? – dringend in my oor dat niemand
sonder plekbepaling werklik kan bestaan nie

my voete wil altyd weet waar hulle hul presies
bevind: beveilig en geaard ook al dwaal ons
almal stuurloos te midde van ontelbare heelalle

Die leser vind sowel die oorspronklike gedig as die vertaling deur Daniel Hugo met 'n nawoord deur Yves T'Sjoen, van die Universiteit van Gent, waarin hy nuuskierig is oor hoe Afrikaanse lesers op hierdie gedigte gaan reageer. Wel: hierdie leser vind Die singende wêreld  'n pragboek. 

Dis gedigte wat oënskynlik maklik "lyk", maar vernuftig inmekaar pas. Die metriese -en klankpatrone pas by die gemaklik, oënskynlike praataanslag. Die digter gebruik dikwels personifikasie moeiteloos - een van die moeilikste tegnieke wat maklik 'n gedig kan beduiwel - om die spanning tussen mense en natuur aan te stip. Die son word (soos) 'n moeder; die liggaam kry kos soos 'n hond. En hierdie gedig "Die liggaam praat (ook vir 'n keer)" (31) gee 'n belangrike geheim weg van hierdie bundel waar alles tweeledig en dus op twee vlakke tegelykertyd afspeel.

En dan ook goed om die oorspronklike met die vertaling te vergelyk.

Gewoonlik die kenmerk van 'n geslaagde gedig juis hierdie vermoë om twee dinge één te maak.

Die mens se lot as onbenullig kom telkens na vore. Nou onlangs is daar 'n nuwe planeet ontdek en liefhebbers van programme soos Sterre en planete weet hoe klein en ontersaaklik ons "klein en silwerige planeet" maar is.

En dit "Zoem en gons" skryf hy:

die onstuitbare vliegwiel van die lewe stel vir ons dommes
wat eens gedink het ons is die heersers van die heelal
totaal willekeurig en onontrafelbaar al die bakens vas

In "Draers van lig" dig hy tereg:

oor die geboorte van verre newels en sterre
wat vandag, noudat ons oë hulle vir die eerste keer
mag sien, nogtans lank reeds gedoof verdwyn het

Boonop is ons almal irrelevant en eenmalig, meen hy in "See":

want ons het almal die lewe kortstondig eensellig
beoefen, dit toe as vis en amfibie uitprobeer
om ten slotte as mens op droë grond gespoeg te word

T'Sjoen beklemtoon die epifaniese moment en liminaliteite in sy digkuns. Die dagsoom impliseer breuke: "Epifanieë stel ons in staat om anders te kyk. Hulle bied in ’n efemere oomblik insig in die hoëre, die gans andere, die sublieme."

Daar is geen swak vers in hierdie bundel nie. Die leser lees met verstomming agter die tegniese beheer aan soos in die geval van Benno Barnard wie se Die trouservies
my ook geboei het. (En die tegnieke word verdoesel, nes die binneryme.)

Die digter spreek ekologiese kwessies aan nes onse Martjie Bosman en Johann Lodewyk Marais. Soos by hulle word dit gedigte wat dans en sing. Sommige gedigte herinner aan die gesprek met die natuur in Stil punt van die aarde deur Johann de Lange en Hennie Nortjé se In die skadu van soveel bome.

"Saadstorting" is 'n belangrike gedig waar die digter gekonfronteer word met 'n beukeboom se plantaardige klimaks.

De wetten van de zwaartekracht was sy debuut in 1992 en ek gaan beslis alles lees wat hy geskryf het. Komrij het sewe van sy verse in sy Nederlandse bloemlesing opgeneem - al 'n aanduiding dat hierdie ou guru baie gedink het van Tritsmans.

Dis 'n bundel vir George Claassen én predikers. Vir gewone lesers én poësieliefhebbers. Nog 'n bundel wat die vertaalskat vir Afrikaanse lesers verruim met dank aan die vertaler en Naledi.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)