Sheila Cussons. Versamelde Gedigte. Tafelberg Uitgewers, 2006. ISBN 0 624 04392 4.
Resensent: Joan Hambidge
Dit is nie aldag dat ‘n versamelbundel
van ‘n Afrikaanse digter in Afrikaans verskyn nie. Trouens, dit bly ‘n
gebeurtenis in enige taal op aarde. Toe Elizabeth Bishop se versameling verskyn
het, was daar groot vreugde. Die versameling van Cussons is ‘n belangrike baken
in die Afrikaanse digkuns, omdat die grootse bydrae van hierdie digter nou
volledig ge-evalueer kan word.
Dit is egter jammer dat hierdie
gebeurlikheid met soveel ellende gepaardgaan. Die digter Daniel Hugo het tereg
reeds op die groteske spel- en taalfoute gewys. En voordat ‘n mens enigsins wil
begin met ‘n her-evaluasie van Cussons se werk, net dit: die suinige Nawoordjie
is waar die uwe wil begin.
Wanneer ‘n digter van hierdie formaat
saamgebondel word, dan wil ‘n mens ‘n deeglike, oorwoë essay ter hand neem. Dit
gebeur helaas nie.
Dit is ‘n spaarse, fletse getjommel wat
die digter nie waardig is nie. Boonop weet die ingeligte leser ook dat Johann
de Lange die verlore manuskrip by NALN ontdek het toe hy begin werk het aan sy
MA-verhandeling oor Cussons. Danksy die hulp van Erika Terblanché is die
manuskrip teruggevind – iets wat in alle waarskynlikheid die digter, Cussons
moes ontstig het, hierdie verlore boek.
De Lange het verse uit notaboeke
oorgeskryf en die bekende krabbelskriffie het sy taak uiters moeilik gemaak.
Verder het die digter glo terselfdertyd aan ‘n gedig gewerk in meer as een
notaboek, wat sake verder gekompliseer het.
My ergste beswaar is teen die feit dat
ons hier ‘n essay wou sien oor die belangrikste motiewe in Cussons se werk met
‘n kort biografiese nota. En soos wat ander teksversorgers doen: presies
aantoon wat het nuut bygekom. Edisiewetenskap is tans ‘n ernstige bedryf in die
letterkunde en samestellings moet met groot sorg en verantwoording geskied.
Of jy plaas geen essay nie – soos in die
versamelbundels van Opperman byvoorbeeld – of jy plaas ‘n ordentlike,
uitgebreide verantwoording oor tematiek, motiewe, simboliek en ‘n ordentlike
lewenskets. Dit mag dalk as ‘n verrassing kom, maar hierdie versameling gaan
onder meer deur studente gelees word.
Waarom is bepaalde keurders gebruik?
Het slegs Botha van die verse
getranskribeer of bestaan daar ook bydraes van De Lange?
Ons verneem dat daar aanvanklik besluit
is op ‘n volledige restourasie van Cussons se oeuvre (om dit te plaas in die
chronologie en konteks soos wat sý dit verkies het), maar volgens gerugte wat
die rondte doen, wou die uitgewer nie hieraan byt nie.
Waarom nie? Omdat dit te veel werk sou
wees?
Watter nuwe aspekte is presies hier
aanwesig? Vertel vir die leser meer.
Dit is onrusbarend dat sowel Amanda
Botha as Tafelberg uitgewers in alle tale swyg. Hoekom is daar nie in debat met
Daniel Hugo getree nie? Sy resensie het alreeds op 2/10/06 op Litnet verskyn (Sheila Cussons: Versamelde gedigte).
Wat is setfoute? En wat is
transkribeerfoute? Of wat is gewoon slordigheid?
Hugo verwys tereg na die grootste
probleem wat die leser in die oog staar wanneer die dikke 672 bladsye oopgemaak
word: wat kom uit die ongepubliseerde manuskrip Dekade 1943 – 1953 en wat is weggelate gedigte uit die reeds
gepubliseerde bundels? En dit, meen ek, is die belangrikste knoop van die
bundel. Voor ‘n bundel gepubliseer word, beland daar talle gedigte op die vloer
wat jare later tog wel publiseerbaar lyk in ‘n ander konteks.
Ubi? Quis? Quid?
Hugo het beslis gelyk wanneer hy die
punt maak dat nie net “bona fide”-navorsers belangstel in die datum van
publikasie nie. Alle lesers wat in die ontwikkeling van ‘n digter belangstel, wil
dit weet!
Wysigings wat aangebring is bly ‘n
raaiskoot. Watter hoofletters, aksente? Waar is ‘n slotreël verander ensomeer.
In Daniel Hugo se gevleuelde woorde: “Die belangstellende leser wat nie al
Cussons se digbundels besit nie, sal nooit weet wat presies verander is nie.
Volgens die reëls van die edisie tegniek is sulke ongegeërgde omgang met
variante totaal taboe”.
Hugo kontesteer ook die begrip
voltooiing wat Botha aanstip. Wat van die Engelse vertalings wat ‘n nuwe vers
beteken?
En ja, die keurders Petra Müller, George
Louw en Wium van Zyl se keuse is nie ‘n absolute nie. In ‘n keuse wat Heilna du
Plooy, Charles Fryer, ekself saam met T.T. Cloete onderneem het vir ‘n keuse Die baie ryk ure het my attent gemaak
op al die probleme rondom keuses.
Die minste wat ‘n mens van Amanda Botha
in hierdie stadium verwag is om as Cussons se letterkundige eksekuteur te
antwoord op die kanttekeninge en kritiek. Of dan moet die uitgewer tot die
stryd toetree. Hulle swye gaan beslis nie sake regstel nie. ‘n Groot digter se
nalatenskap is ernstige skade berokken met setfoute, onverantwoorde
inlatings/weglatings.
Kom Riana Barnard: speak in the mike!
Dit gaan hier nie om ‘n persoonlike aanval of
vendetta nie, maar ‘n belangrike letterkundige probleem.
Dit is immers die digter wat vir ons die
volmaakte debuut Plektrum gegee het,
die grootse Die swart kombuis, van
die grootste religieuse verse soos “Christ of the burnt men” . Die gesprek met
Van Wyk Louw wat bly natril, is eweneens belangrik in hierdie bruisende,
wonderskone, oorrompelende digterskap. Sheila Cussons is een van my
allergunstelingdigters in Afrikaans. Die kans dat daar in ons leeftyd ‘n
verantwoordbare versameling met ‘n ordentlike nawoord sal verskyn, is nul.
Die Afrikaans digkuns is alweer
onberekenbare skade aangerig.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Volksblad geplaas.]