Friday, February 15, 2013

Joanne Fedler - The dreamcloth (2005)



Joanne Fedler. The dreamclothJacana Media, 2005. ISBN 1 77 009 101 7.

Resensent: Joan Hambidge

Van die grootste skrywers op aarde is Joods: Saul Bellow, Bernard Malamud, Chaim Potok, Philip Roth - noem maar op. Die verwikkelde geskiedenis van die wandelende Jood en die paranoïa in die psige is onder meer terug te vind in die films van Roman Polanksi. Wanneer ‘n mens sy memoirs lees, weet die leser die grusaamheid van die jeug moes uiting vind in ‘n film soos The pianist. ‘n Mens dink aan Jerzy Kosinski se The painted bird met sy (half)outobiografiese aanslag en die tragiese selfmoord van die skrywer. 

Joanne Fedler se The dreamcloth skryf teen die agtergrond van hierdie ryk en komplekse geskiedenis van die Jiddisje mens. Sy begin onder andere ook met ‘n Jiddisje spreuk: God save us from having one shirt, one eye and one child”. Langs my bed lê Leo Rosten se The Joys of Jiddish, ‘n woordeboek-cum-naslaanboek oor Jiddisj, grappe, folklore ensomeer.

Die vertelling word aanvanklik gesitueer in Sarajevo, Bosnië met ‘n vroulike verteller wat met die deur in die huis val, soos bekend in openlike feministiese literatuur: herinneringe onder andere aan post-orgasmiese versugtinge en die soort kos wat sy wil eet. Dan volg die leser die bewussynstroom waarin sy teruggevoer word na passievolle liefde – teen die agtergrond van die gewelddadige Bosnië met sy raskwellinge (“ethnic cleansing” wat ‘n nuwe woord in die Engelse woordeskat geword het). Die verteller gee dan ‘n verkragtingservaring weer. Haar spesifieke ideologiese oortuiging word van meet af aan vir die leser duidelik. En sy bely: Intimacy always left her bereft” (p. 16) – hierom dat sy na ‘n sekservaring moet sy eet. Enersyds seks en geweld; andersyds seks en kos.

Die vertelling verloop vlot en van Bosnië is ons in Tel Aviv wat soos volg beskryf word: 

“Israel has a crackle and edge to it as if there is a charge of God’s electricity flowing through its veins” (p. 19). Daarna word die jeugjare in die suiderland beskryf.

Ofskoon die roman uiters vlot geskryf is, kan ‘n mens nie die hinderlike gevoel ontkom van die geclichéerde, sal ons nou maar skryf, lughaweroman nie. Og die geboorte met die Kaïnsmerk en die wit haardossie in die swart koppie; die swart man wat op ‘n vliegtuig wil weet of die vrouekarakter al met ‘n swartman geslaap het; die vele, eintlik te veel Hebreeuse en ander taalverduidelikings. Elke oomblik is ‘n vinjet gelaai met simboliese oomblikke sodat die skrywer as’t ware oor haar voete val. Omdat alles só hooggestem is, verloor die verhaal sy impak.

En dit is jammer, want dié Fedler het bepaald talent. Sy kan vertel, maar sy het waarskynlik te veel populistiese romans gelees en ‘n mis ook ‘n skeur in die vertelling, by wyse van skrywe. Die boek is uitasem van al die vertel en ‘n mens dink onwillekeurig aan J. Hillis Miller se bekende essay “Reading as eating” waarin hy meen dat die lees van ‘n roman soos ‘n spyskaart daar moet uitsien. By wyse van spreke, het Fedler se boek te min voor- en nagereg. Alles is te swaar gelaai. En ‘n roman wat eindig met ‘n versoek om “Over the rainbow” te sing?

En die kleed word boonop ‘n “Braille of lace” genoem (p. 348). “Africa just has a history of things going wrong” (p. 346); swartmense mag dalk nie reg wees vir demokrasie nie en Jode dalk nie tuis in Suid-Afrika nie en vele ander holgesegdes en idees bevolk die roman. 

‘n Goeie redakteur sou kon help terugsnoei en die roman kon gered het. Mooi oomblikke is daar bepaald.

Die skryfster is ‘n voormalige regsdosent, ‘n vroueregte aktivis, tans woonagtig in Sydney. Die boek wil dus in gesprek tree met Joodse letterkunde, feminismes en ekspatriaat-literatuur. En hierom is dit vir enige genderteoretikus is ‘n relevante teks wat verskeie leesmoontlikhede openbaar.

Joanne Fedler is o.a. die skrywer van die provokatiewe en belangrike teks Ideological Virgins and Other Myths: six principles for legal revisioning saam met Ilze Olckers, die belangrike genderteoretikus èn regsgeleerde. Hierdie roman is ‘n bietjie “Fedler on the roof”.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]