Etienne van
Heerden. Asbesmiddag. Tafelberg Uitgewers, 2007. ISBN 978 0 624 04575 5.
Resensent: Joan
Hambidge
Die tradisie van
die kampusroman is geweldig lank: The Groves of Academe van Mary McCarthy in
1952, die imposante The Dean’s December van Saul Bellow in 1982, The Human Stain van Philip Roth in 2000, die
kluif David Lodge romans soos Thinks in 2001…
Al hierdie
romans neem posisie in oor die akademie. Oor rassisme, oor seksisme, oor
politieke probleme en die akademie se onvermoë om dit op te los. Of daar is ‘n
sensitiewe dekaan wat standpunt inneem of ‘n dosent wat na afwesige swart
studente as “spooks” verwys en in die warm water land.
In Etienne van
Heerden se jongste roman, Asbesmiddag, word ‘n skrywer aan die woord gestel. En
die leser sien die wêreld van die kreatiewe, skeppende, fiksionaliserende
skrywer – Sebastiaan Graaff – aan die woord. In interaksie in ‘n haarsalon (die
pragtige voorblad aktiveer dit) op Stellenbosch. Hier tree hy in gesprek met ‘n
ryk magnaat (herkenbaar en nie herkenbaar nie), die werkers in die salon en die
eienaar. ‘n Verhouding met ‘n jong
student en ‘n Universiteit in die stad word eweneens beskryf.
Die boek
problematiseer wat lesers dink hulle weet watter impuls ‘n skrywer voortdryf om
‘n roman te skep en die menslike hebbelikheid om ‘n roman te relativeer tot ‘n
herkenbare insident / mens / situasie. Van Heerden speel voortdurend ‘n spel
met sy leser: wanneer is ons binne-in die roman wat bedink word en wanneer is
ons net in die “fabula”?
Die moderne
masjinerie van die universiteitswese kom skerp onder kritiek. Vergaderings,
agendas, en nogmaals beplannings met die refrein dat die kreatiewe persoon hier
te lande, anders as in Nederland, geminag word. Die moderne universiteitswese
as ‘n ‘besigheid’, word die teiken van die skeppende kunstenaar wat paradoksaal
erkenning gee in die laaste woorde aan die UK wat wel kreatiewe skryfwerk as ‘n
navorsingsuitset erken.
Die skrywer
erken sy oedipale konflik met instansies. Hy moet homself teen iets afweer. Sy
jong student maak hom af as uit die oude doos – sy op haar beurt is besig met
‘n grafiese roman en sy beskou sy
aanhalings – veral uit Flaubert – as lagwekkend.
Flaubert is wel
‘n tersaaklike verwysing: bekend om sy gedugte navorsing, sy stapels papiere en
dokumente wat nagespeur het om dikwels net één beeld te gebruik, beklemtoon dat
die skryfproses op andersoortige navorsing gebaseer is.
Wat is waar? Wat
is wolhaar?
Oortree die dosent die kodes van die etiese navorsingskomitee indien hy ‘n jong student as navorser in donker hole instuur?
Het ‘n MA-student in Kreatiewe Skryfwerk gelyk wanneer hy opmerk dat hy nie sielkundige raad behoef nie, maar wil leer skryf?
Is die verbintenis tussen die vader en die magnaat ‘n “toevallige” verbintenis met die Karoo-wêreld in die werklike outeur se romans vanaf Toorberg?
Die verhouding met die vader wat ‘n soort Fellini-agtige vuurspuwer en later ringmeester in ‘n sirkus word, aktiveer die enorme verbeelding van Die Skrywer wat ‘n lesing gee oor die skrywer-as-moordenaar.
Die verhouding met die dooie moeder – wat die skrywer wil agterlaat - , die fortuinverteller, die onderwêreld e.d.m. sluit weer aan by temas in In stede van die liefde, ‘n ongelooflike komplekse roman wat uitvoerig bespreek is op litnet (seminaarkamer: In stede van psigoanalise).
Pinard het Flaubert openbaar vervolg oor sy roman. Gaan lesers hulself “herken” in hierdie roman?
Julian Barnes se
Flaubert’s Parrot (2002) word vermeld as duidelike interteks. En die leser word
baie sleutels gegee via Bellow, Roth, Atwood oor die komplekse verhouding
tussen lewe en werklikheid, selfs in die sogenaamde realistiese roman.
Dit is
uiteindelik ‘n metaroman wat self-refleksief op sigself inbuig en kommentaar
lewer op die verglydende en verskuiwende verhouding tussen kuns en werklikheid.
Relevante debatte soos die invloed van die internet / smse / eposse op ons
denke, die vermoeiende Picasso-in-Afrika-kwessie, skryfkursusse aan
universiteite, die rol van die ekonomie, verlies aan betekenis en implikasies
in vertalings, die skrywer as solo-navorser versus groepsnavorsing in die
wetenskappe (wat weer geproblematiseer word deur die ruim erkenningslys o.a.
aan Paul Murray, ‘n historikus), stad versus platteland, die Afrikaanse letterkunde
as melancholiese literatuur, die rol van die kanon en geskiedskrywing èn
uitkomsgerigte onderwys, is van die temas wat in hierdie roman “behandel” word.
Die boek is
behendig aanmekaar gesit. Met ‘n diepgaande, tweede lees, ontdek ‘n mens
verwysings na die skrywer se oeuvre en die lot van die moderne letterkundige.
Hoe doseer ‘n mens ‘n Nederlandse sonnet byvoorbeeld in ‘n moderne klaskamer?
(Terloops: die verwysing na Auden op bladsy 50 is foutief. Dit moet lees “For
poetry makes nothing happen” in die huldeblyk aan W.B. Yeats).
Is die einde
vergesog met Guiseppe?
En Mister Deejay Gucci X?
Wie is die grootste dief / misdadiger? ‘n Skrywer of ‘n magnaat?
En die werkstitel “Die knoopkameel” slaan terug op Salambô!
“Op weg na Nooitgedacht”, so sal ‘n studie oor hierdie roman waarskynlik heet. Of dalk “Vergedacht”?
En dan moet jy Boccacaio se Decamerone ook betrek. En die Russiese Formaliste se “ostranenie”.
[Hierdie
resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]