Chris Lombard. Driemaster. Protea
Boekehuis, 2004. ISBN 1 86919 047 5.
Resensent:
Joan Hambidge
In
sy bundel Driemaster ondersoek die
digter Chris Lombard die lot van die enkleing en alleenreisiger. Dit is verse
oor verlange, verworpenheid, die gevoel dat die lewe ‘n soort ‘verspeelde
lente’ is, sonder kinders en die geborgenheid van die gesin. Maar dit is juis
die krag van die digterlike blik: dat hierdie buite-toestand tot digterlike
winste aanleiding gee. In die manjifieke slotvers “Take off” word die lansering
van ‘n vuurpyl gelykgestel aan die seksuele ontdekking en ervaring. Dit word
ook op ‘n slim wyse ‘n spel met die digproses: die efemere teenoor die
durendheid van skryf.
Die
tyd stroom onverhaalbaar
uit
Dalihorlosies se slap beslag
(“Oponthoud”, p. 52)
word bykans ‘n refrein in
hierdie bundel.
“Oujaar”
moes myns insien die programgedig gewees het vir hierdie bundel: die
“enkelmaster” wat eens kortstondige geluk ervaar het in die Witsandnag se
volmaanvloed.
“Epitaaf”
oor Sergei en Ekaterina Gordeeva wie se sierskaatsverhouding gefnuik word deur
sy ontydige dood, kan ook gelees word as ‘n ars poetica: die gedig ontstaan
juis weens die kortstondigheid van die waarneming of aanraking.
Die
uitstaande “See-siklus” wys die digter op sy beste – veral die vers oor die
seeperdjies en die seekat as ‘n ploert wat paring vrees! - terwyl die verruklik
distigon, “C’est la vie” die genadelose uitlewering aan ander se afwysing
beskryf.
In
hierdie bundel slaan die titel dan ook op die posisie tussen verlede en hede
wat in die gedig, as ‘n soort versoenende derde ruimte versoen word.
Die
bundel bevat dan ook drie afdelings. Daar is die gevoelige waarneming, die
melancholiese toonaard so kenmerkend van Lombard se digterlike aanslag. Ook
word die verse gekenmerk deur fyn vormbeheer en knap beeldkonstruksies. Die
digter is ‘n “skommelaar van die woord” wat uit die “wondverweer se ink” kyk na
‘n wêreld waar oues gesteur word deur die jonges se ge-“rave”.
Hier is nie ‘n
narcissistiese selfbeheptheid nie, omdat elke ervaring op ‘n groter
lewenservaring of –waarneming geprojekteer word soos ons lees in “Sterrereën”.
Daar is bepaald ‘n eie optika te bespeur, om die digter se eie woorde te
gebruik: in “Swerwer op familiebesoek” weet hy sy meetsnoere het buite die familieverband
geval.
Wat
beslis vermelding verdien is die raak beskrywings van lewe in Bosniese kampe en
die vers “Sorrento, 1902” waarin die leser met die kennis van die geskiedenis
se afloop die slot as ironies ervaar:
En
boonop kan die son oor hulle Ryk nooit sak.
“Klemverskuiwing”
waarin die teenstelling tussen woord en syfer uitgewerk word, kan ook as ‘n
toespeling op die lot van die digter gelees word, wat hom besig hou met die
orakelkuns. “By ‘n Duitse jeugopvoering” lewer versigtig verslag van sensuele
begeerte en hoe die mooi jong seun uitgelewer gaan word aan ‘n onsimpatieke
wêreld. Die latere “Querelle” speel hierop terug en ons sien en hoor Jean Genet
en Fassbinder. En “Vreemdelinglegioene” aktiveer “the love that dare not speak
its name”.
Ook
die kuberruimte van die erotiek word hier benoem in ‘n vers en een van my
allergunstelinggedigte is die vertaling van Raymond Asso se gedig “Piaf oor
haar Légionnaire”.
Heerlik
ironies-satiries (‘n groot vaardigheid) is “Wenke vir die entrepreneur”
Die
voorblad van die landskapkunstenaar, Strijdom van der Merwe, “Rooi katoendoeke
rondom telefoonpaal” is uiters treffend op ‘n belangrike bundel van Protea
Boekehuis. ‘n Letterkunde benodig die bestendige bydraes van ‘n digter soos
Chris Lombard wat die alleenreis, die enkelmaster, die blom van die vleiroos en
boonop die “iris van erbarming” so treffend kan beskryf. Die millennium het
goed gedraai.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die
Volksblad geplaas.]