Wednesday, February 13, 2013

Emile Joubert - Koue front (2007)



Emile Joubert. Koue frontLapa Uitgewers, 2007. ISBN 978 0 7993 3895 9.

Resensent: Joan Hambidge

Vir etlike jare het ’n bepaalde soort feminisme die manlike oorheersing gekritiseer en verminder, maar moderne  genderteorie het die manlike liggaam en diskoerse rondom die patriargie relevant gemaak. Emile Joubert se Koue front ondersoek manlikheid in al sy geledinge: die plat woord, banale ervaringe van seks (steek / naai), die siening van die vrou as objek of besitting, drink, groopraat , ensomeer.

Die aanvangsverhaal, ”Koue front”, gebruik die vader van machismo, Ernst Hemingway as uitgangspunt rondom ‘n uitgespoelde olifantrob. (Onbewustelik en onbedoeld aktiveer dit ‘n gedig van Breytenbach  oor Ingrid Jonker.) Die verhaal probeer om ‘n postmodernistiese analise van die skryfdaad te word met uitsprake oor teoretisering wat hoogs naïef oorkom. In navolging van Koos Prinsloo wat ‘n besondere stilis was, word werklike mense die verhaal binnegedra.

Hierdie meta-diskoers van ‘n storie-oor-‘n-storie lewer sydelings kommentaar op die funksie van skryfskole (hier Stellenbosch en Marlene van Niekerk as die hoëpriesteres!) en die Afrikaanse skrywer se plek in Afrika. (Of  herkenbare klasgenote vrede sou hê met die verwysings na hulle, is natuurlik ‘n ander vraag: soos Michiel Heyns, Deon Meyer en andere...) Die verhaal speel in op Moby Dick en natuurlik The old man and the sea – maar sonder die behendigheid van beide.

Kaptein Ahab se been is van plastiek en ons hoor Rakkertjie Rob eerder! (Terloops, die verhaal smeek om ‘n Freudiaanse analise!)

Aucamp, André le Roux, Johann de Lange word eweneens betrek in die soektog na ‘n nuwe beweging: Daar is dit dan! Die nuwe Afrikaanse retro-beweging, met ‘n titsel manlike postmodernisme. Joan Hambidge sal op haar vibrator kwyl daaroor” (p. 24). 

Is daar iets soos manlike postmodernisme?

Met die bybring van die werklikheid (vraisemblance aldus Barthes), het die uwe geen probleem nie. Maar dan moet jy jou teoretiese passies ken en ten minste kan skrýf.

Die openingsverhaal is die sterkste in die hele bundel. Die leser word verder vergas met kennis van wyn (die skrywer behartig wynrubrieke), reis na Frankryk, die lewe van ‘n “dog walker”, ‘n interaksie met ‘n rektor, seks met ‘n ander persoon op die vooraand van ‘n huwelik – ensomeer. (Daar is ‘n skamper opmerking dat Parys behoort aan Dan Roodt en Brink – wat weer ‘n rubriek van die skrywer in herinering roep oor Moltrein.)

In “Smaak” word ‘n klomp verwysings na die Franse bestaan gegee – met Amelie as dalk die onbewuste kodewoord dat dit hier om die maklik toeganklike gaan. Moenie Perec verwag nie, dus.

Alles vertel met ‘n haai-kyk-hoe-macho-is-ek. Jy lees van nat hondedrolle en seksbeskrywings van die manlike ego wat die vrou verklaar tot Objek. En natuurlik, sug, oorlogsbeserings.

Ons lees:”In een toneel lê Charlotte Rampling, jou gunstelingaktrise, sonder ‘n draad klere op ‘n bed. Sy lê op haar rug en jy word getrakteer op ‘n ongeïnhibeerde “muff shot”(p. 103). 

Met die gender-politiek van die bundel het ek vrede. Gun elke diertjie sy ou plesiertjie, maar behalwe vir die openingsverhaal, maak geen verhaal ‘n noemenswaardige indruk nie. Die einde van “Volbloed” moes skok – ek het gelag.

“Twee myl op die Collison” moes die leser eweneens ontstig. Tryna du Toit eat your heart out.

In die verhaal “Die nuwe binneland” word die leser vergas met die volgende stukkie pueriele dialoog:

“En dan is daar nog die Khoisan. Steel ons rot en kaal. Haal hulle vieslike vuil piele voor die Goewerneur se vrou uit” (p. 145).

Die verhaal getuig wel van deeglike historiese navorsing en besinning.

Daar is vreemde taalfoute, of sinne wat met “snaaks” begin. Sekerlik vreemd? Smaak en proe word verwar.

Na die belofte van Die aptyt van Anna Blow wonder die leser of hierdie bundel eweneens moet verskyn het. Behalwe as dit ‘n populistiese Ernst Hemingway met ‘n vibrator wou wees. Maar nou is die batterye páp. Nou ja, soos ons iewers lees: ‘n man hoef nie als te doen nie, maar dit wat hy doen, moet hy goed doen – kennelik was skryf nie deel van hierdie opgawe nie.

Vir Vis en Vaderland, hengelstories, onder die naam Tim Uys is dalk meer sy métier. Skoenmaker hou jou by jou lees.

Of hengelaar by jou visstok.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]