Monday, April 25, 2016

Ilse van Staden – Goeie dood wat saggies byt (2016)



Ilse van Staden – Goeie dood wat saggies byt. Protea, 2016. ISBN 978-1-4853-0547-7

Dit is ’n unieke verhaal, hierdie een.

Dit vertel, na my wete, vir die eerste keer in Afrikaans hoe ’n jong vroueveearts aan Onderstepoort studeer en hoe persoonlike ervarings in die tradisioneel manlike arena haar lewe raak. Só beskou, is dié roman vir genderteoretici wat die omkering van genderpatrone, -voorskrifte en -stereotipes ondersoek van enorme belang.

Van Staden is ’n gerekende digter wat tans in Australië woon. Haar Watervlerk is in 2004 met die Eugène Marais-prys bekroon. Hierdie boek is dus haar romandebuut. Op die voorblad van die roman is daar ’n hond met slagtande ontbloot. Dié ­parateks (of buiteteks) wil alreeds die gevaarelement van die roman aktiveer.

Alle diereliefhebbers behoort hierdie boek te lees. Wanneer ’n dier by die praktyk land, affekteer dit die veearts.

Hoekom kan ons nie meer praat van “vrek” nie? As jy as kind ’n geliefde troeteldier aan die dood moes afstaan, kom jy in opstand teen die woord “vrek”... Eerder doodgaan.

Boonop is daar al vele boeke geskryf oor hoe diere, veral katte, jou depressie kan besweer. En diere word mensemaats; hulle begelei en beskerm. In hierdie roman word die veearts se emosionele reaksie op siekte bespreek. Die dier is ’n pasiënt.

Afwisselend word daar na Hilda (die hoofkarakter) se opleiding gekyk – wat dikwels nie aangenaam is nie – en haar ervaring in die praktyk met ’n vroulike baas wat sake anders ervaar as sy.

Die digtershand tree in wanneer die skrywer vertel van die sielkundige mondering wat die veearts moet aantrek wanneer sy ’n siek dier besoek of ’n koei wat nie kan kalf nie. Onthutsend die grappe wat mans vertel wanneer hulle iets ervaar wat pynlik is; die koei wat kalf gaan binnekort ’n steak wees. Maar grappe is ’n manier van jou beskerm teen pyn of emosionele ­ervarings.

Oor die liefde en die dood skryf Ilse van Staden so ontroerend. Die geliefde is soos ’n latente infeksie wat weer opvlam.

Wat die dood betref, skryf sy dat daar ’n kompartement in Hilda se siel ontstaan het waar sy die dood hanteer: iets soos ’n gepantserde, klankdigte kamer met notas teen die mure.

Die boek word ’n meesleurende romandebuut genoem. Die teks werk met outobiografiese gegewens. Vir die speurende leser sou van hierdie merkers ’n interessante gegewe wees om die gedigte ook anders te benader met hierdie teks as ’n soort dagboek.

Dit is ’n verslag van ’n sensitiewe persoon wat in die manlik gedrewe wêreld van die wetenskap en veeartsenykunde haar gevoelens weergee oor die liefde, oor verliese en veral oor displacement.

Die verteller kom bitter gou agter hoe die teorie verskil van die harde werklikheid van in die praktyk staan. Ondankbare diereliefhebbers neem regstappe teen die reeds gespanne veearts wat leer dat dit in hierdie bedryf om sowel mense as diere gaan.

Dooie honde, leer hierdie veearts, bly boonop byt in die gewete en knaag aan die selfbeeld.

Dit is ’n vertelling wat die gemoedelike James Herriot-vertellings, soos All Creatures Great and Small (1972) op sy kop keer en ’n ander blik gee op Gerald Durrell se ervarings wat al as dry wit en crisp beskryf is.

Die slot tref jou ietwat onverwags, maar die vertelling – as jy weer na die parateks en die subtiele kodes oor onmag en displacement kyk – moet hierop afstuur . . .


Kladboek? Dagboek? Semi-outobiografie? Die slotwoorde sluit weer by die titel aan wat die komplekse verhouding tussen lewe en dood in hierdie vrou se gemoed behandel.

Die teks resoneer ook met JM Coetzee se Disgrace en die dood van die hond. Net ontstellender en komplekser daar verwoord.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)

Saturday, April 16, 2016

Joan Hambidge - Wyn in ’n digtersland

Chileense wynlande, waar kos, wyn en digkuns se paaie kruis.

Chili se wyn is verruklik. In Santiago de Chile, in die dakswembad van die hotel The Singular, bely ’n Brit weer hoe gaande hy is oor pinotage wat hy in die Kaap ontdek het. En ja, hoe goed ons wyne is. Zandvliet Shiraz, Anura, Meerlust, ag te veel om op te noem, seg hy. En Raka!

Met my besoek aan Chili het ek die wyn uit die Matetic-streek ontdek. En die vreugdes van pisco ervaar, wat die hittige weer kon troef.

Die Rosaria-vallei, waar die Matetic-landgoed geleë is, beslaan sowat 16 000 ha.

’n Uur ná my aankoms in La Casona vertrek ons op ’n wynproe-ekspedisie. Wat ’n ervaring om die gids te hoor praat van organiese wyn en hoe hulle dit volgens die siklusse van die maan en die son maak. En allerlei kruie en doepas wat in die grond geberg word. Alles gebaseer op Rudolf Steiner se antroposofiese beginsels waarvan biodinamiese landbou bepaald ’n belangrike aspek is.

In dieselfde tyd lees ek ’n artikel oor die digkuns van TT Cloete en hoe alles in hierdie digter se digkuns saamhang.

Aan ons word verduidelik hoe alles op die plaas werk. Elke druif word deur die werkers met die hand gepluk. Hierna word wel van gesofistikeerde masjinerie gebruik gemaak om wyn te maak. Steiner het immers gepoog om ’n soort sintese tussen die natuur en die wetenskap te vind.

Om so ’n plaas te begin moet jy by die voorskrifte van die internasionale raad hou. Een seun het glo sy pa oorreed om hom met die finansiering te help toe hy nie sy graadstudie kon voltooi nie. Die suksesverhaal is nou bekend!

Die EQ-wyne (die EQ staan vir equilibrium) is uitstekend.

Die 2015-sauvignon blanc het ’n tropiese smaak, en die 2013-chardonnay is in Franse eik verouder; maar nie oordonderend nie. Baie subtiel neus jy die Franse afkoms.

Ek was nooit gaande oor pinot noir nie, maar hier sluk ek my woorde. Soos hulle indertyd gesing het: “Dis rond, dis vol, dis tralala!”

Die wyne hier in die San Antonia-vallei het al ’n hele paar pryse losgeslaan en staan hul plek vol in die wêreld onder die wyne van die 100 beste organiese plase.

In die Casablanca-vallei word uitmuntende wit wyne geproduseer.

Verder is die verskil in temperature verantwoordelik vir die uitstekende wyne. Die grond is granietagtig met ’n kleigrond-bolaag.

Ons sommelier, eintlik dégustateur de vins, weet waarvan hy praat. Hy knik instemmend dat ’n mens rooi wyn bepaald eers ’n bietjie moet afkoel om kamertemperatuur te bereik.

Die twee Amerikaners, uit Philadelphia saam met my, is kloekmoedig oor al die wyninligting.

“Praat jy Afrikaans?” vra hy. Ek is verbaas oor sy kennis van Afrikaans as ’n semi-Kreoolse taal.

“Praat jy Afrikaans?”

Ons gesels verder oor die Kroasiërs en die Italjaners wat hier in Chili die wynlandbou 
ontwikkel het.

Tale, soos wyne, leen ’n bietjie hier, steel ’n bietjie daar en kry uiteindelik ’n eie identiteit vanweë die grond, die temperatuur, die weer en die kundigheid (en liefde) van die wynmakers wat ’n passie hiervoor het.

Voor La Casona is ’n lieflike tuin wat amper in die vorm van ’n labirint is. Elke kamer het ’n wynnaam. Ek gaan tuis in Merlot. Die Yanks is in Pinot Noir.

Die kos is verruklik. Ek eet die eerste aand pylinkvis gestop met calamari. Die voorgereg is ’n bokmelk-omelet. En ’n gratis bottel syrah is deel van die emblemata van verrukking.

In die tuin is ’n voëltjie. Geluksalig is hy.

Die kelner lyk op ’n haar (of eerder kaalkop) nes Pablo Neruda. Ek is immers hier om die huise van Neruda, self ’n wynliefhebber, te besoek. Boonop is die kelner van Valparaíso. Elke smulgereg verduidelik hy met liefde en kundigheid.

Die oggend eet ek ’n groot hardgekookte eier vir ontbyt.

“Hierdie eiers smaak anders. Dis van ons werf, en hulle eet die beste oorskietkos. Wees gewaarsku: Dit is geweldig ryk.”

In die tuin is ’n voëltjie. Geluksalig is hy. Ek dink opeens aan TT Cloete wat soveel lieflike 
verse oor voëls geskryf het en mis hom opnuut geweldig. Hy wat ons herinner het daaraan dat Neruda geskryf het dat Chili deur ’n digter gemaak is.

God die digter

Chili is deur ’n digter gemaak – Neruda

daar is meer poësie in die
sneeuvlokkie
as in die letterkunde en baie meer poësie
in die miskruier in die toktokkie
in die meteorologie en entomologie
in die moremis en in die bergpiek
die horison wat in die hemel wegraak
in die rooswolk is daar baie meer
liriek
die aarde is deur ’n digter gemaak

(Uit: Driepas, Tafelberg: 1989)

Buite die warm La Serena word die wynstokke met nette bedek om die suikerinhoud te beheer. Dit voel en lyk nes onse De Doorns. ’n Hitte wat alle pretensie uit jou brand.

Ons vertrek na die Aba pisquera op die gewone staptog deur die wynlande, die vate en ’n verduideliking van hoe pisco sedert 1921 in die Elqui-vallei vervaardig word.

In Vicuña drink ek mango-pisco. Smaak na teer, ek lus nog meer! ’n Klein veldmuis hardloop oor die koel teëls.

Hierdie mense bemark hul pisco’s in Kanada, die VSA, Switserland, Japan en China.


Ek hoor dat die distilleerproses ongeveer 12 tot 24 maande in koperpotte duur. En suiwer water help uiteindelik om die alkoholvlakke tot by 40% te kry! ’n Geduldige, langsame proses, nes die digkuns.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Die Burger)

© Joan Hambidge

Thursday, April 14, 2016

Joan Hambidge - ‘n Nota by ‘n Johann de Lange-gedig (2016)


Vrae

En was ek ‘n boek, verslete
& my rug swak,
sal jy nog soms ingedagte
blaai deur die strofes
van my bestaan,
verbrokkelende beelde herroep,
vergete verwysings na jouself
tussen die vergeelde blaaie soek
of ‘n vers dalk weer lees
omdat dit sin gemaak het tóé?
Sal jy hoor hoe ek vertroud
ritsel onder die liefkosings
van jou hande?

Van die baie blaai
sal ek plek-plek
sommer vanself oopval,
my vir jou oopvou
teen die lig.

Hierdie gedig staan opgeteken in Johann de Lange se debuutbundel Akwarelle van die dors.

Op die eerste vlak lyk dit na ‘n liefdesgedig waar die spreker (die “ek”) sou wou voorstel as ‘n boek, en meer spesifiek, ‘n digbundel. Die verwysing na die strofes (stanzas/kamers) van die bestaan aktiveer die digbundel-beeld. Die boek is verslete, vol vergete verwysings na die geliefde en die blaaie is vergeel. Hierdie vergeelde, verslete boek sal plek-plek (van die baie lees!) sommer vanself oopval (oopvou) teen die lig.

Die ek-spreker praat met ‘n jy. Wie is daardie jy? Is dit die geliefde wat aangespreek word? Of dalk ook die vader wat deur De Lange se ryk, geskakeerde oeuvre beweeg, daardie vaderfiguur oor wie hy ambivalent voel?

Ander het die vader vergeet, maar hy nie, skryf hy. En ofskoon hy bely dat hy hom vergewe het vir sy abandonment (versaking), is dit duidelik dat die teken in sy onbewuste een is van totale alleenheid, eensaamheid. Die vader se vertrek deur sy selfdood op 16 Mei 1975 word geaktiveer in die eerste Pa-gedig, wat heet “Pa”. Dit staan opgeteken in Akwarelle van die dors.

Die motto uit Sexton aktiveer die woede en pyn van die ontnugterde spreker  (All My Pretty Ones - Poem by Anne Sexton).

Sy gebruik die woord jinx in die eerste strofe van “All my pretty ones” om hierdie houvas te beskryf:

Father, this year's jinx rides us apart
where you followed our mother to her cold slumber;
a second shock boiling its stone to your heart,
leaving me here to shuffle and disencumber
you from the residence you could not afford:
a gold key, your half of a woolen mill,
twenty suits from Dunne's, an English Ford,
the love and legal verbiage of another will,
boxes of pictures of people I do not know.
I touch their cardboard faces. They must go.

*

Beide digters se ouers regeer vanuit die graf en in Lacaniaanse terme is die teken in die onbewuste die vader-figuur wat die kind beheer. Die dood behoort tot die dimensie van die Real (die Réel) en dit is vervleg met die Verbeelde (Imaginaire) en Simboliese (Symbolique) dimensies. Soos by Freud se ego, id en superego is hierdie triadiese dimensies saamgesnoer in één. Ellie Ragland skryf insigryk hieroor in Essays on the pleasures of death (1995, 199).


Freudiaanse Besetzung, oftewel investissement/cathexis is by sowel Sexton as by De Lange aanwesig.

So beskou, is die gedig “Vrae” dus meer as ‘n liefdesgedig. Dit is ‘n aanklag en versugting. Die slotstrofe:

Van die baie blaai
sal ek plek-plek
sommer vanself oopval,
my vir jou oopvou
teen die lig.

Dit is ‘n uitroep na die vader (die nom-du-père), ‘n versugting dat hy moet lees en kennis neem van al die pynlike verse wat die digter al oor hóm, die vader, geskryf het.

"The libidinal qualities", skryf Ragland op bladsy 182," produced by the gaze, the voice, and so on, are repressed as 'objects' that give rise to unary signifiers marked by a primary jouissance - an attachment to reminiscences of oneness. These signifiers bind the outer world to a seemingly 'inner' void in one single stroke. This minimal Borromean structuring of a signifying chain constitutes what we call 'mind' in a series of triadic units. And since one of these units - the real - infers constant loss, which, in turn, produces anxiety, people use language to seek the emotional comfort of closing out the real".

So gelees, is ‘n “konvensionele” liefdesgedig gelaai met sterk en driftige boodskappe van die onbewuste wat vir Lacan soos ‘n taal gestruktureer is en ‘n begeerte is tot die Ander.


Bibliografie
De Lange, Johann. 1982. Akwarelle van die dors. Kaapstad: Human & Rousseau.
De Lange, Johann. 1986. Snel grys fantoom. Kaapstad: Human & Rousseau.

Ragland, Ellie. 1995. Essays on the pleasures of death. From Freud to Lacan. New York: Routledge.

© Joan Hambidge