Saturday, July 30, 2016

Reisjoernaal. Wenen | Terugkeer: Lost in translation


Oostenrykse Nasionale biblioteek © Ken Kaminesky

Die reis vanaf Wenen tot in Kaapstad is 27 uur as jy al die oplaai en aflaai met pendeldienste by tel.

Vir oulaas reis ons deur Wenen en ek versoek die man om stadig te ry sodat ek vir oulaas die skoon, oorrompelende stad kan besigtig. Mooi geboue. Gaan die vlug vertrek of nie? Die Air France-staking maak alles onseker. Daar is ’n e-pos van my reisagent wat troos dat dat daar ’n 90% kans is dat ons wel op tyd sal vertrek. Die eerste vlug is met 20 minute vertraag, maar ek hou moed.

Die groot tas is ingelaai. Deurgestuur tot in Johannesburg.

In Parys is dit weer lang ente stap, maar gelukkig na al die trappe klim in Wenen, kom ek gou by die bestemming. Vir oulaas rook in die rookhokkie.

“Kom rook saam met die stoutes,” nooi ’n man gul. Die sigarette-bak lyk soos ’n Dali-kunswerk.

Ek kyk na die kaart van Wenen en trek met ’n swart pen strepies. Hier was ek; daar sou ek nog wou wees.

Die Innere Stadt was hoofsaaklik die vertoefplek met oopbus-toere na die omstreke. Maar die kongres was eerste prioriteit. ’n Opwindende, leersame kongres.

Uiteindelik stap ons in. Die gewone veiligheidsmaatreëls in die vorm van ’n speelse video met dansende jong meisies volg. ’n Parodie van die ernstige aanwysings.

Dan die stem van die kaptein: “Welkom aan boord. Weens die stakings, het ons min personeel aan diens en dus sal die diens minder flink wees. Ons het ook beperkte ...”

Nou ja. Dan volg ’n toebroodjie en ’n kerrieslaai. (Brekfis is ’n kaasbroodjie en joghurt en ’n appelmoes.) Wyn en bier is daar. Maar dit vorder alles stadig. Stakings is stakings. En van die puik kos op Air France is daar nie nou sprake nie. Ek kla nie. Bly in Zen-modus.

Ek kyk na Youth met Michael Caine en Harvey Keitel. ’n Parodie van hoe ’n film gemaak word en die ellendes van oudword, liefdesverraad, en ja: dat jeug vermors word op die jeug. Paul Dano is skitterend as die akteur wat vies is oor mense hom herken vir die verkeerde rol as ’n robot en wanneer hy dan Hitler “speel”, besef ’n mens opnuut hoe skitterend hierdie man is, wat ek laas in War and peace gesien het. 

Die ouer aktrise herken ek nie; genugtig! Jane Fonda stuur haarself so hemelhoog op dat ’n mens net kan bewonder. Dan kyk ek ’n dokumentêr oor Peggy Guggenheim: Peggy. Sy het Jackson Pollock ontdek, onderhou en binne die moderne kunswêreld van New York gepromoveer toe niemand in hom geglo het nie. Haar verhouding met mans, haar jeug, haar neusoperasie wat misluk het, haar huwelik met Max Ernst word eerlik vertel op bande wat ontdek is. Daaromheen is daar onderhoude met gesiene kunskenners wat die modernisme verduidelik. Haar gewoonte om haar tong uit te stoot soos ’n akkedissie word in enkele kameraskote weergegee. Haar huis in Venesië het ek besoek en vanselfsprekend is die Guggenheim in NY ’n gunsteling-plek. Edmund White praat uitstekend oor haar werk en hoe sy agter die skerms kunstenaars raakgesien het.

Ons eie Pretty Yende is in Air France-tydskrif. Ek onthou hoe ek haar die eerste keer as ’n jong student aan die UK hoor sing het by Angelo Gobbato se afskeid en toe het hy voorspel dat sy nog ’n groot ster sal word.

“Asem is alles wanneer jy sing,” verklap sy. “Jou asem lei jou. Dit is wat jy moet beheer.” Ook waar van die digkuns, dink ek.

Dis drie vm. Ek drink ’n glasie melk en presies 9.10 land ons. Deur paspoortkontrole. Hoe lekker om in Afrika te wees.

“Was your trip good, Mama?”
“Very, very good.”
Hy tjap my paspoort.
’n Gawe swart man help my om die doodskis op te laai, in te tjekkereer en nous dit Kaap toe.

Weer deur die kontroles. Laptop uit, sak deur, baadjie deur, selfoon deur ...

Oor ’n driekwartuur vertrek ons. Die pad is lank en swaar.
Ek wag geduldig. Besluit om koffie te drink en raak verdwaal in e-posse. ’n Jong swart man klop my op die skouer.
“Kom, ons gaan nou vertrek.”

Die vlug is halfleeg en SAL maak op vir die stroewe kos op Air France met ’n heerlike vislunch wat ek verorber met ’n glasie water.

Die pendeldiens gooi my af en omtrent halfvier stap ek in my koue appartement in. Sms die geliefdes en gaan slaap. Na Wenen se 32 grade is die koue Kaapstad ’n bietjie wreed op die sinne. Ek sorg dat ek dadelik in die bed klim. Gooi ’n stapel klere in die wasmasjien en droom van Wenen.

Skrik wakker. Gooi nog ’n duvet oor die bed. Sekere stede verlaat ’n mens bepaald moeiliker as ander.

Afskeid

Daar is sekere stede (soos geliefdes) wat mens moeilik verlaat.
Deur hulle word mens geteister deur ’n vlugvertraging
van herinnering of verlies aan jou enigste paspoort
tot nuwe ervarings liefde of ’n belangrike afspraak.

Daar is sekere stede (soos geliefdes) wat mens swaar verlaat.
Oor hulle draai die vliegtuig vir oulaas te lank
vir ’n panoramiese blik of keer selfs terug weens die weer
van hul veranderende emosies – net om mens wéér in die steek te laat.

Daar is sekere stede (soos geliefdes) wat mens nooit verlaat
weens willoosheid, herinneringe of ’n onverwagse coup d’etat.

Montevideo

(Verdraaide raaisels. H&R. 1990).

Hierdie stad en kongres sal lank in die gemoed bly draal. In die nag laai ek foto's af van die kongres met kollegas.

Die lekker brekfis in die Rathauspark hotel, die etes in San Giovanni ’n blok van die hotel, die Votivkerk en die Freudpark - dit alles sal ek mis.


En die Freud-museum.


© Joan Hambidge

Wednesday, July 27, 2016

Reisjoernaal. Wenen | ICLA-kongres (Deel II)


“Daar is ’n punt wat ek wil huiswaarts keer,” sê ’n kollega.
Ek dink aan Dolf van Niekerk se Skrik kom huistoe. Inderdaad.

Vanoggend ontvang ek ’n e-pos van Air France: staking ...

Ek voorwaarts die e-pos vir my reisagent en versoek ’n ander roete.

Maar oor sokke sake (soos my Ouma sou seg) is ek gewoon Zen. Go with the flow. Dit is soos dit is.
Erich Fried

It is nonsense
says reason
It is what it is
says love

It is calamity
says calculation
It is nothing but pain
says fear
It is hopeless
says insight
It is what it is
says love

It is ludicrous
says pride
It is foolish
says caution
It is impossible
says experience
It is what it is
says love

(Vertaal deur Anna Kallio)

Ek beluister lesings by die ICLA off the beaten track. Ek kyk altyd na groeperinge wat buite my vakgebied of navorsing val. So word ’n mens bekoor. ’n Man uit Ierland praat oor diereregte en comics (en Derrida): die animaux versus die animot. Hoe ons aanneem dat diere nie emosies het nie en hoe Grant Morrison dit “herskryf”.

Grant Morrison

In die komiekstrip is daar altyd ’n protagonis en antagonis en die twee opposisies benodig mekaar. Die komiekstrip as genre is ’n hibriede vorm: dit verwys na ernstige tekste, maar heraktiveer dit op toeganklike wyse. Dit is ook transnasionaal (een van die nuwe buzz woorde) wat politieke kommentaar op ’n indirekte wyse lewer. Dikwels word die historiese en die mitologiese saamgesnoer in ’n nuwe vorm.

Die “performative character” van gender word vanuit alle kante belig. ’n Briljante lesing oor S&M analiseer die kodes in hierdie verbintenis. So leer ons dan dat die beroemde Robbe-Grillet se vrou, Catherine, ’n dominatrix was. Foucault, Pasolini, Deleuze word toegepas om die magsbasisse van hierdie diskoers te ontbloot waar wedersydse respek en toestemming die basis vorm van die “kontrak”.

In ’n paneel oor Jiddisj sien ons hoe Jiddsij ook die taal van ontwapening word. Deur hierdie minderheidstaal word daar in tekste gesubverteer en in kodes gepraat.

Lili Elbe

Transgressing translation / translating transgression: Tom Hooper se The Danish girl, die beroemde film oor Lili Ilse Elvenes, beter bekend as Lili Elbe, word die posisie van die transseksueel ondersoek. En wat is ’n liggaam?, vra ’n ander spreker. Kan jy iemand verkrag op Facebook? Is daar iets soos “online violence”? Is mense “transphobic” wanneer hulle so ’n persoon op die internet gewaar en dan kommentaar lewer?

Eddie Redmayne in The Danish Girl

Inderdaad het die virtuele ruimte ons hele siening van self, taal, morele posisies verander.  

Tussendeur skryf ek twee verhale vir ’n boek oor liefdesverhale met ’n twist. Nommer een: “Die ongedanste dans” en “Stad van drome”. In albei verhale is Freud die subteks vir my verhale. My hotel is klipgooi van sy huis.

Freud standbeeld in Hampstead, VK

Smiddae sit jy met kollegas, out en nuut, en gesels oor die lesings wat jy gehoor het.

En jy sit by een van die mooiste universiteite ter wêreld met ’n borsbeeld van Sigmund Freud op die binneplein.

Flemming Rose by die kantore van Jyllands-Posten, Denemarke

Jy verneem via e-pos dat die TB Davie Memorial-lesing aan UCT gekanselleer is. ’n lesing oor vryheid van spraak word on-vryheid van spraak.

Kollega Benatar maak geldige punte oor die kansellering van Flemming Rose van die Jyllands-Posten. (UCT/ A blow to academic freedom - Opinion |Politicsweb. Besoek 27 Julie 2016) 

Die cartoons van Mohammed sou glo aanstootlik wees en aanleiding gee tot geweld. Maar deesdae kan enigiets aanleiding gee tot geweld. Selfs kunswerke is toegedoek, omdat dit aanstootlik sou wees.

Akademiese vryheid in die knyp

Soos Benatar dit klinkend stel:

"It is unsurprising that Mr. Rose’s unrepentant publication of the Mohammed illustrations makes him a controversial figure. However, it is precisely such a person who is a barometer of how much freedom of expression we enjoy. Everybody is willing to tolerate some speech. The real test of freedom of expression occurs when people are asked to tolerate the speech of those whose ideas they do not like. On that test, the University of Cape Town has shown that it does not have the robust commitment to freedom of expression that it says it has."

Derek Jarman

In ’n lesing oor Shakespeare in ’n moderne era (Derek Jarman se The tempest  uit 1979 versus Paul Mazursky se The tempest uit 1982) lewer kommentaar, sydelings, op vryheid-van-spraak en hoe regisseurs met oertekste werk. En Jarman dekonstrueer Shakespeare as gay man. Toyah Wilcox, die beroemde sanger, maak ook ’n kameeverskyning in hierdie film. (Toyah Willcox - Wikipedia, the freeencyclopedia.)

Gender en Shakespeare. Mans in die moderne film wat met mekaar dans.

Neo-sensuur (die SAUK-slagting) en die on-intellektualisering van ons universiteite lyk van vanuit die Weense perspektief ontstellend. Net soos die dalende rand jou knyptang.

Maar ag: nou gaan ek luister na ’n lesing oor die eudaimoniese (“human flourishing”) wat in ons moderne lewe so afwesig raak.

Niks is meer soos dit was nie ...


© Joan Hambidge