Jaco Fouché. 2
Dae in Mei. Umuzi, 2007. ISBN 978 4152 0039.
Resensent: Joan
Hambidge
‘n Roman oor
alkoholisme. Dit is basies waaroor Jaco Fouché se roman 2 dae in Mei handel. Alkoholiste Anoniem in Belville.
‘n Volwasse
onderwerp van ‘n jong skrywer wat die interaksie tussen ‘n
drinker-wat-probeer-ophou en Elna, die hoof van AA, word weergegee. Robert,
Elna, Jim.
Die foltering, die leuens, die verwoeste lewe wat agter die persoon lê, word in die vlotvertelde roman weergegee.
Op die buiteblad staan daar die outeur ‘n vakman is wat jou hart ongesiens kan breek. Dis ‘n bietjie sentimentele praat oor ‘n roman wat júís op ‘n on-sentimentele wyse ‘n problematiek probeer aanspreek. In vergelyking met sy tydgenote soos Jaco Botha (Miskruier) en Tom Dreyer (Equatoria) is hier ‘n bepaalde volwassenheid aanwesig wat nogal imponerend is vir so ‘n jong skrywer.
Die skadukant en leuens waaronder die alkoholis gebuk gaan, word goed verwoord. Dit is immers soos ons almal weet, ‘n siektetoestand en nou onlangs het ek selfs ‘n Jungiaanse analis, ene Linda Leonard, ‘n belydenis hoor maak oor haar verlede. (Een van haar tekste heet The wounded woman). Die deurbraak om uit verslawing te beweeg, het haar op ‘n ander kreatiewe roete geplaas. Die belangrikste aspek van hierdie roman – behalwe vir die vlot en onderhoudende vertelling – is die gedeeltes waar daar by implikasie kommentaar gelewer word op die skryfproses. Hoe die kuns as’t ware terugspeel op die lewe. (“Maar die kuns ploeg op sy beurt weer materiaal in die lewe in”, bladsy 71) maak van die stuk vertelling dus ‘n konstruksie.
Ons word immers herinner daaraan dat dit twee dae in Mei is. Gebeur daar soveel in twee dae? Kan ‘n mens ooit werklik getrou die lewe “naboots”? ‘n Dag in die lewe van, vind ons by Russiese skrywers en James Joyce het in Ulysses één dag probeer weergee. Maar dit bly altyd ‘n voorstelling en dit is onmoontlik om ‘n representasie weer te gee. Trouens, ‘n volledige afdruk sou vervelig wees. Dus hier, waarsku die skrywer die leser, dat ons besig is met ‘n artefak. ‘n Soort meta-kommentaar, as u wil.
Die swerfboek
waaruit Jim lees, is On the road van
Jack Kerouac. ‘n “Racy”, vinnig-geskrewe kultusteks, enig in sy soort.
In die erkenningslys word daar eweneens verwys na die literatuur van die AA.
In my bespreking gebruik ek woorde soos “vlot”, “goed geskrewe”, “onderhoudend”, ensomeer. Dit kan ‘n mens uiteindelik alles van hierdie roman sê.
Dit is egter nie ‘n boek waaroor ek so hoog gaan opgee as Koos Kombuis wie se Raka – die roman vir my meer om die lyf gehad het.
‘n Mens lees dan aan ‘n vlotgeskrewe roman oor die wanhoopstoestand van alkoholiste wat elke dag as ‘n klein oorwinning beleef.
Fear and loathing in Las Vegas se pendant is dit.
Nog minder het dit die versnelde pas van ‘n Beat-teks.
Wanneer ‘n mens die onderhoud van Jaco Fouché op Litnet lees, dan besef jy wat die skrywer wou doen, en wat uiteindelik hier tot uiting kom, is twee dinge.
‘n Verdienstelike teks, beslis ja.
Maar ook ‘n bietjie vervelig.
[Hierdie
resensie word met vriendelike vergunning van Fine Music Radio geplaas.]