M.M. Walters. Satan
ter sprake. Protea Boekehuis, 2004. ISBN 1 86919 0513.
Resensent: Joan Hambidge
Ons ken Dante se Inferno
en Milton het reeds in sy imposante digkuns die geding met Satan gevoer.
Ons dink hier aan Paradise lost en Paradise regained. Binne die Afrikaanse
letterkunde is daar eintlik ‘n “geding met God” aanwesig: sover terug as Totius
tot verby Van Wyk Louw en Sheila Cussons, I.L. de Villiers en T.T. Cloete.
Natuurlik, met Cussons ‘n Rooms-Katolieke en dikwels Boeddhistiese stem binne
die oorwegend Protestantste opvatting oor die Goddelike.
M.M. Walters is ‘n bestendige digter en ‘n voorste
satirikus binne die Afrikaans digkuns en sy jongste bundel, Satan ter sprake, gee dan ook ‘n
aweregse blik op die “geding met God”. Want om oor Satan te skryf, beteken dat
jy ook óór en mét God praat.
In ‘n sentrale vers soos “Lugbrug” word daar dan
standpunt ingeneem teen die religie – in wese alle religieë - : "En elkeen is sy
eie lugkasteel vol drome”. Dit is dan verse van die ongeloof (Daniel Hugo) en
die meewarigheid van elke religieuse standpunt word ontmasker met hul
onverdraagsaamheid en gevoel van ons-is-beter.
In die eerste vers, die programgedig, word Satan aan die
woord gestel en word die bundel se toonaard aangekondig: soms tong-in-die-kies,
soms erg krities in hierdie metafisiese personderhoud met Satan. Predikante
bied volgens hom die beste kabaret “met hul preekstoelpakaters”. Satan maak dan
ook beswaar teen sy afwesigheid, teen die feit dat mense hom in mottegif verpak
en tot ‘n ongewenste familielid verklaar het. Hy verset hom teen die siening dat hy die “bose reus van die mitemakers”
geword het. Immers is die logika van die predikante nie altyd bo verdenking
nie. ‘n Sterk, satiriese vers wat op retoriese beginsels werk, ofskoon die
gedig vir my smaak skerper, poëties kon wees.
Die bundel ondersoek op ‘n intellektuele wyse alles oor
“die bose reus van die mitemakers” en so gelees, wil die digter sterk standpunt
inneem teen die metafisika wat ons verblind en verdom, volgens hom. Maar die
digter skep ‘n persona telkemale waaragter hy skuilhou. Die gedigte skep dan
ook ‘n interessante paradoks: die toegewyde dekonstruksie van die
mitologie/metafisika/ geloof bring ‘n nuwe denkwyse na vore. Overgesetsynde,
die agnostikus is dikwels minder onrustig as die ateïs wat wil ontken en
kritiseer.
In die 34 verse (“Klip in die bos”) word daar ongemaklike
teologiese vrae gevra en die onlogika van die geloof uitgewys. Inderdaad.
klippe in die bos.
6
Die ganse geslagsregister word gegee van Josef
wat geensins betrokke was by die bevrugtig nie.
Maar dié van Maria, enigste familielid, word verswyg.
Vanwaar dié logika van die evangelies?
23
Toe bekyk God sy twee maaksels
en erken tevrede dat die joppie “goed” was.
Hoe strook dit met die uitjaag agterna –
het hy nie geweet wat sou volg nie?
In “Treursang op die verdwyning van ‘n vorstehuis” word
‘n uiters siniese blik op Jesus gegee wat “helse hit” kon wees met “live show”.
“Resensie” maak onder andere van die Rut-verhaal ‘n
hygroman wat in die goddelike bloemlesing opgeneem is. “Enuma elish…” neem weer
standpunt in teen God wat sy seun laat kruisig het en in moderne tye na
Valkenburg verwys sou word.
Dit is gedigte wat teen my geloofsiening ingaan en ek
beoordeel dit net as gedigte. Soms is dit skerp, navrant in die uitwys van
teenstrydighede (geloof helaas berus nie op redelike bewysvoering of logika
nie), in skerp metaforiek. Dikwels is die gedig nog té veel betoog en té min
vers. Maar vir wat dit wil wees, is dit ‘n bundel wat non-gelowiges sal behaag
en waarskynlik menige predikant sal aanstig om hierteen te preek.
‘n Vers soos “Desmond the Great” sal waarskynlik ook nie
Tutu behaag nie.
‘n Bundel waar ongeloof ‘n nuwe geloof word. As D.J.
Opperman gemeen het dat kuns boos is, dan weet die opgeleide poësieleser ook
dat alles sekerlik in die digkuns besê mag word.
Dalk is die mens se behoefte aan ‘n ander wêreld ‘n
droom, ‘n “vlietende vergissing” soos Walters opmerk in “Ken julself 1”, maar
dieselfde geld die digkuns! Om egter in ‘n teologiese argument of polemiek
betrokke te raak, was nie die opdrag vir die boekresensent nie.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Volksblad geplaas.]