Showing posts with label Isobel Dixon. Show all posts
Showing posts with label Isobel Dixon. Show all posts

Sunday, August 28, 2016

Isobel Dixon – Bearings (2016)


Isobel Dixon – Bearings. Modjaji Books, 2016. ISBN 978 1 928215 29 5
Resensent: Joan Hambidge

Met Weather Eye, A Fold in the Map en The Tempest Prognosticator het Isobel Dixon haar gevestig as ‘n gerekende digter waaroor hierdie leser al uiters positiewe resensies geskryf het. Haar vierde solo-bundel Bearings is eweneens uitstekend. Dit is ‘n bundel waarin veral die blik van buite en die blik van binne op ‘n uiters oorrompelende wyse saamgedig word. Die digter is woonagtig in Engeland, reis dikwels na verre streke, maar keer ook terug na Suid-Afrika.

Alles in die bundel werk op twee vlakke: die hier versus die nou; onthou teenoor vergeet; lewe en dood – met die digter as dubbelganger, soos beskryf in die sentrale gedig “Doppelgänger” (70) met die motto: “I have doomed to such a dreadful shipwreck: that man is not truly one, but truly two”. Die digter as Jekyll en as Hyde dus. In hierdie besonderse gedig is daar ‘n verwysing na Werner Herzog, die magistrale filmmaker, wat op sy beurt hierdie proses uitstekend verwoord het in sy verbintenis met Klaus Kinski: My Best Fiend.

Die bundel sny vele temas aan soos jeugherinneringe, die dood van ‘n geliefde vader, die reis na Japan of Egipte, en sterk politieke verse soos "Trade Matters" (34) en  "Late Knowledge" waarin die geskiedenis wat ons op skool geleer het, ontluister word (27). "Pickings" (32) verduidelik die titel; ten spyte van al ons grense en drade is die voëls vry ...

"Nouns" (54) skop jou in die maag met sy woordekonomie oor die waansin van oorlog. 'n Stad se brûe sien sy as "twisted synapses"!

Gedigte het sterk mitologiese ladings ("Finsong", 11) en in "Dream Song for John" (13) word hierdie ikoniese digter besing. "A part of Me is Gone" (14) is 'n lykdig, waarin die geliefde vader 'n teenspeler word vir die dogter. 'n Ring wat verloor word in die see in "Treasure" (18) speel in op die Faraos wat dit mag vind! "Pinball Electra" (15) neem standpunt in teen die manlike orde wat vrouens hul stem misgun. Ons vind dan ook skerp beelde in gedigte oor stilte ("don't give me your Easter Island stare", 17). Cleopatra word 'n simbool en teenvoeter vir mans se siening van vroue as onderdanig. In die kort reeks wys die digter op die argetipes van ons lewens waar dominansie so 'n gegewe word dat mense in patrone bly dink en optree. Hierom die toespeling op Gilbert & Gubar se The Madwoman in the Attic (24). Die digter probeer om die gesigslose vrou te word; die gedigte maak egter deure oop vir haar.

In hierdie ryk geskakeerde bundel gee sy kodes waarmee ons die bundel kan ontsluit. Een so 'n leeskode is die trompe l'oeil om die "wondrous and absurd" van die lewe te ontsluit (22).

Die reisgedigte is iets besonders: Egipte, Dubai, Seville, Japan, Jerusalem, Gaza ...

Die bundel bevat ook endnote wat verse met nuwe en sterker implikasies laai soos die gedig “Beyond the fragile geometry” (61) wat verwys na Nicholas Roeg se film Don’t look now (gebaseer op Daphne du Maurier se verhaal). Teks wat skuilhou agter ander tekste. Dixon het ook al meegedoen aan ‘n projek waarin Hitchcock se Psycho saam met mede-digters digterlik verwoord word. Hierdie multi-media-projek heet Psycho Poetica.

In 2013 het sy saamgewerk met die Italiaanse komponis Roberto Rusconi aan Doppelgänger, wat deur  Schubert se Der Doppelgänger geïnspireer is en aan Dark Matters vir De Materia Nigra et Obscura. In 2014 het sy met die komponis Stephen Montague The Brewdog Howls geskep. Dit is tersaaklik vir die lees van hierdie bundel waar gedigte met teenstemme geplaas word in kursief.

J. M. Coetzee en Kylie Thomas (van Open Stellenbosch-faam) prys die bundel aan. Dit is twee verdere asse waarop ons die bundel kan benader: enersyds digterlike beheer; andersyds as sosiale en politieke kommentaar.

'n Digbundel wat in my geheue 'n soort opera word met stemme en teenstemme.

'n Mens ontdek met elke herlees 'n ander dimensie!

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)

Friday, March 15, 2013

Isobel Dixon - Weather eye (2001)



Isobel Dixon. Weather eye. Carapace poets, 2001. ISBN 1 874923 56 6.

Resensent: Joan Hambidge

Die nostalgie is waarskynlik een van die belangrikste stylkenmerke van die digkuns. N.P. van Wyk Louw, Yeats, Auden is van die voorste beoefenaars van die nostalgie en in Isobel Dixon se debuut Weather eye, wat bekroon is met die Sanlam Letterkundige prys, vind 'n mens die nostalgie as 'n soort  refrein terug in bykans elke vers.

Die digter woon in Cambridge en haar verse roep 'n vergange jeug op. Tristia is geskryf tydens Louw se verblyf in Amsterdam en in Nuwe verse reeds vind 'n mens die blik terug op die jeug en ongeskonde landskap. Die digter romantiseer waarskynlik altyd die jeug soos ons dan ook lees in Dixon se openings- of programvers: dit was nie noodwendig 'n maklike jeug nie. Maar juis omdat die ouer digter terugkyk na die ouers, oor wie daar dikwels ambivalente gevoelens gekoester word, vind sy in hierdie vers 'n versoening met die jeug, die landskap en natuurlik ook die sosiale kodes van die tyd.

Dit is hierdie terugkyk wat Freud tereg as die "Besetzung" in die onbewuste beskryf het: juis dit wat die spreker maak wat sy is.

Ook die "weather eye" suggereer alreeds die veranderlike blik. Die kind versus die volwassene se interpretasie van sake. ('n Mens hoor ook die Afrikaanse woord verweerde inspeel.)

In die openingsgedig word daar dan ook verlang na die tyd toe alles gereguleer en op sy plek was. In "Fruit of the land" artikuleer sy al die elemente van die nostalgiese vers: die hier versus die daar en hoe iets sintuigliks 'n verlore lewe kan oproep:

 each small explosion in the mouth
the precious milk and honey of nostalgia

(p. 11).

In die lieflike "Plenty" (p. 13) werk sy hierdie verbande ook uit. Die afgetelde, suinige jeug waarin "each month was weeks too long" (p.13) geplaas word teenoor die sibaritiese hede. In die epifaniese gedig "Rapture"(p. 16) word die metafisiese in oënskou geneem en in "Nightwards"(p. 17) word die vertrek na die huis - met al sy vrese en gewaarwordinge - goed vasgevang.

"Four things on earth" (p. 19) artikuleer die effek wat gekko's op haar lewe. Die gekko's is volgens die Jungiaanse denkwyse 'n simbool van kreatiwiteit en in hierdie gedig word die implikasies goed beskryf. Ook die kiewietjie se spel met die melancholie word uitstekend verbeeld.

In die haikoe-agtige "valentine" (p. 27) beskryf sy die meer private emosie:

sweet fallacy the heart
this heaving muscle glistens darkly
something like a toad

Waarskynlik kan 'n mens in die skerp "Housewifery" (p. 30) die digter op haar beste sien. daar is 'n speelse verwysing na spiritualiteit, maar terselfdertyd word die samehang tussen alles beskryf en besing. Die gedig verironiseer die gegewe ('n yskas wat Om!), bely dat daar geen spiritualiteit in haar huis is nie, maar tog word die leser aan iets anders voorgestel. 'n Geval waar die gedig sy eie loop neem onder die digter se beheer uit.

Die bundel begin met 'n bestekopname van Afrika en sluit daarmee af - oor biddae vir reën, geweld, hongersnood, verkragting. "Back in the Benighted Kingdom" (p. 44) sien muskietbyte as liefdesbyte van 'n kontinent!

'n Mens lees selde 'n bundel waarin daar net afgeronde verse staan. Isobel Dixon se versameling getuig van vakmanskap en 'n eie stem. Ons vind hier 'n ryk debuut waarin die invloede goed verhul is. Dit is tereg bekroon met 'n letterkundige prys.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Monday, February 4, 2013

Isobel Dixon - A fold in the map (2007)



Isobel Dixon. A fold in the mapJacana Press, 2007. ISBN 978 1 770 095281.

Resensent: Joan Hambidge

Die digkuns van Isobel Dixon word gekenmerk deur ‘n sterk intellektuele beheer. Dit kortwiek egter nie die liriese of emosionele uitinge nie. Haar debuut Weather eye (2001) is tereg bekroon met die Sanlam- en Olive Schreiner-pryse.

Hierdie bundel word gekenmerk deur onder andere nostalgie, wat in die tweede bundel, A fold in the map voortgesit word.

Nou onlangs is Elisabeth Eybers oorlede, ‘n digter wat met die sowel/as-aanslag getipeer van word. Behorende tot die Afrikaanse èn die Nederlandse digkuns. Daar is by Eybers dan selfs sprake van ‘n tussentaal en in aangrypende verse ‘n verlange terug en ‘n gevoelige kartering van die nuwe landskap.

In A fold in the map vind die leser eweneens ‘n spanning tussen die leefwêreld van die huidige (Cambridge) teenoor die herinneringe van ‘n jeug in die Karoo. Die sibaritiese nou teenoor ‘n jeug van besuiniging en beperking. In die dorre jeug ontwikkel die kind dan ‘n enorme verbeelding en is sy as’t ware besig om die innerlike reis te begin soos beskryf in “Foreshadow” (p. 20).

Die gedigte ontstaan dan in die spanning wat geskep word tussen toe / nou, werklikheid / herinnering, ensomeer wat die teorie beklemtoon dat dit wat onder andere verlore raak tussen ‘n teks en sy vertaling, die eintlike teks is. En digter is hier deurgaans besig met ‘n andersoortige vertaling. Sy verduidelik haar kondisie aan lesers in Engeland, terwyl die verlange terug na die plek van herkoms weer praat met lesers tuis. Ons word dan deel van die innerlike odusseia waar ‘n telefoon, die kontak met die land van herkoms, beskryf word as “pain’s propaganda tool” (p. 46). Die eerste afdeling heet “Plenty” en in “Fruit of the land” (p. 7) word nostalgie eweneens geaktiveer as ‘n belangrike stylmiddel om die hede en verlede te sinkopeer.

Met die Bybel as ‘n belangrike bronmiddel vir die skep van beelde.

In “Positano” (p. 25) is daar ‘n versugting dat die ou self afgesterf kan word in ‘n gedig wat ons kan lees as ‘n variasie op die “wish you were here”.

En die gedig speel ook voortreflik in op Mister Ripley se lot.

In die afdeling “Meet my father” word die belewenisse rondom die afsterwe van die vader beleef. Daar is twee foto’s van die vader op die buiteblad: op die eerste een sit die jong kind langs die vader; op die tweede kyk die vader in ‘n tru-spieëltjie waarskynlik afgeneem deur die digter. Die gedig as spieëlteks is ‘n bekende gegewe in die literatuurteorie.

Hiermee dan die dubbelloop-aksie van die gedig: die vader is die objek van verkenning waardeur die spreker haar eie identiteit beskryf en evalueer.

Besoeke aan die hospitaal en ‘n vereenselwiging met die vader se lyding word hier oortuigend en in emotiewe taal weergegee. Die afstand wat vele van die ander verse kenmerk word hier ópgehef in die navigasie van verlies.

Dixon aktiveer dikwels ou Engelse verse en rituele wat die reikwydte van die gedigte vergroot soos in “After grief” (p. 66) en “Tear” (p. 46) met die verwysing na stigmata. Die hele tradisie van die Engelse lykdig en die dekorum wat dit vereis, word dus hier geaktiveer. Selfs Rilke se sonnette vir Orfeus met die waarskuwing dat brood en melk op die tafel die dooies mag aantrek.

In hierdie afdeling word die aftakeling van die vader, met sy eens groot aptyt vir die lewe, beskryf  en in “Struggle” (p. 52) word skip-beelde gebruik wanneer die spreker met die matrone in interaksie tree rondom ‘n besoek: die vader, eens ‘n man van aansien, is nou onder haar bevel. En in die gedig “Singsong” (p. 53) word die besoek as ‘n soort musical aangebied. Deurgaans bly die leser bewus an die impak van hierdie ervaring. Dit is telkens ‘n “fold in the map”, ‘n tegniek om ‘n kaart so te vou dat jy net die gedeeltes oopmaak wat jy benodig. Op dieselfde manier is ‘n gedig ‘n moment, ‘n oomblik waar verskillende roetes in die psige kruis.

In “Kudu Watch” (p. 30) is daar ‘n pynlike slot en waarskynlik sal die digter in komende jare hierdie pyn en woede karteer. Waarskynlik, soos dit dikwels met ouer digters gebeur, sal meer formele vorme verder gekarteer word.

Dis ‘n aangrypende en mooi bundel. 

Net een beswaar: die leser raak, soos by Gabeba Baderoon, ‘n bietjie op vir al die bedankings en loftuitinge. Dit is nie vir ‘n digter nodig om elke leser en meelewer en uitgewer te bedank nie en elke kompliment op die boek af te druk nie. Laat die verse sélf praat. Dit skep dikwels eerder ‘n leesweerstand. En beklemtoon die digter se onsekerhede. En dis onnodig.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]

Wednesday, January 23, 2013

Isobel Dixon - The Tempest Prognosticator (2010)



Isobel Dixon. The Tempest Prognosticator. Umuzi, 2010. ISBN 978 1 41 52 0161 9.

Reviewer: Joan Hambidge

Isobel Dixon published Weather Eye in 2001 and A Fold in the Map in 2007. Her new volume The Tempest Prognosticator is indeed a virtuoso collection. The poem “Usury” came second in the Ilkley Poetry Competition in 2007 judged by the poet laureate Carol Ann Duffy. There are other commendable poems and nods from the greats. J.M. Coetzee praises the sparse volume with exciting poems as “virtuoso”. Dixon has published in South Africa and in The Paris Review, The Guardian and several poems have appeared in anthologies.

The title refers to the model invented by Dr George Merryweather invented in 1850, curator of the Whitby museum. Twelve glass bottles set in a ring round a stand with a bell encircled by twelve hammers. The hammer was attached to a bit of whalebone set in the neck of one of the bottles. In each bottle was a leech, we are told in the endnote, and when a storm approached, the leeches climbed up the necks of the bottles. This action disturbed the whalebones and the bell started ringing. 

An apt epiphora for these wonderful and enticing poems with a blend of urban legend, mythology, literary references and science.

A toktokkie is described as a "shined-up desert Fred Astaire // doing his African rendition // of the old girl hunt ballet” (15). “The Inoppurtune Baboon” reveals a “sky blue arse”(16). The motto by Henry James “Cats and monkeys; monkeys and cats; all human life is there” carries a subtle Jamesian warning: show me, don’t tell me. Dixon applies this dictum in her imagery. 

In “Root verses” the speaker prays for “the peace of photosynthesis” in an awareness of the deep organic and Buddhist mystery of vegetables. In a humorous poem “You, Me and the Orang-utan” desire reflects a dream of Borneo. “A Beautifully Constructed Cocktail” (22) reflects on the poetry in the names of cocktails. “Astronomy Sonnetry” – in memory of Syd Barrett – is a whirlwind of references and a technical dance “for the lost son of Otter” (36). “Silking the Spider” (37), a personal favourite, is a homage to Louise Bourgeois the well-known French artist and on the delicate work of spiders.

A small but potent poem is entitled “Paradox”(41):

There’s no telling what
will make the heart leap, frog-
like, landing with a soggy plop.
Love startles, makes a mockery
of us, and yet we lie awake
at night and croak and croak for it.

There are intelligent feminist perspectives in “Contract” (47), “Housewifery” (50) and fascinating renditions of King Kong and Psycho.

Ruth Padel in The Poem and the Journey (2007) argues that there is no one secret to reading a poem, but to think of it as a jouney. In Isobel Dixon’s volume one is constantly reminded of the poem as a journey: references to other poems, other continents and an interesting relationship between a South African poet living in England sending her letters home: “The road // to home has yet not been made straight” (62). “Postcard from the Colonies” (12) speaks of a “2 ½ reis”.

A blou koggelmander as a mistranslation of salamander (52) reveals an interesting grappling with words. A stoep after all is net a stoep, jy weet.

It is a most commendable volume of poetry. Indeed a rich reward for the poetry reader.

valentine

sweet fallacy the heart
this heaving muscle glistens darkly
something like a toad

[This review has been published in Tonight before.]