Thursday, November 28, 2013

Doc Immelman - Baarde, briewe en barmhartigheid (2013)


Doc Immelman. Baarde, briewe en barmhartigheid. Protea Boekehuis, 2013. ISBN 978 1 4853 0011 3.
Resensent: Joan Hambidge

Hierdie handvol rubrieke Baarde, briewe en barmhartigheid van Doc Immelman word op die agterblad deur Erns Grundlingh beskryf as “Namibië se eie Hemingway”. Nou ja, as dit so is, kan ‘n mens my die Emily Dickinson van Suid-Afrika noem.

Hemingway was ‘n baie spesifiek gekodeerde skrywer en hierdie enigsins lawwe uitspraak verminder nie heeltemal die bydrae van die stukke nie. Die rubriek is immers altyd róndom ‘n persoonlikheid of persona gebou. Die goeie rubriekskrywer het ‘n handtekening en kan sy leser verras. Dana Snyman se  kenteken is ‘n skeutjie nostalgie plus ‘n opsommende einde. Johan van Zyl wissel weer sy aanslag af: humor, erns, bitsigheid, nostalgie.

Hoe lyk ‘n Immelman-rubriek wanneer ons die twaksakkie oopmaak?

Helder, konkrete beskrywings soos onder meer in die aangrypende bydrae oor die dood van ‘n hond (“Eros”) en enige persoon wat diere liefhet, sal met hierdie stuk kan identifiseer. Dit is geskryf in ‘n onderbeklemtoonde sleutel en sonder fieterjasies met ‘n treffende slot.

In “Raaisels” word daar ‘n bietjie gespot met die menslike kondisie. Wat is die toppunt van eensaamheid? Wanneer jy in die spieël kyk en niemand sien nie.

“Met verkyker en verkyk” word ‘n stoutigheid met die leser gedeel. Iets waarmee hierdie geliefde rubriekskrywer kon wegkom, omdat hy dikwels intieme ervaringe met sy leser deel oor olifantjag en ander jagervarings.

Gebou rondom die ervarings en mymeringe van die storieverteller en jagter, gee die rubrieke ‘n kykie in die lewe van die skrywer. Die rubrieke is gestroop en essensieel. Daar is nie ‘n woord uit sy plek nie, omdat die rubriekskrywer gewoonlik nie meer as 900 woorde het nie.

Intelligent en onderhoudend laat hy hom uit oor die funksie en betekenis van dagboeke en hy moedig lesers aan om elke dag ervarings op te teken sodat hulle ervarings jare later betekenisvol sal wees.

Hierdie bundel is Immelman se tweede versameling rubrieke van die “meesterstorieverteller” en geliefde Namibiese skrywer. Dit vang ‘n bepaalde tydsgees vas en soos met enige rubriekskrywer sal daar bepaald aanhangers wees.  Vir diegene met ‘n knipmes en botteloopmaker. Dis ook vir jagters en sommer net vir diegene wat hou van ‘n netjies geskrewe rubriek oor uiteenlopende onderwerpe. Pretensieloos is dit. Dit volg op die vorige versameling Ruacana tot Rosh Pinah (2011).

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]

Wednesday, November 13, 2013

Annelie Ferreira - Maar Tintin in Tibet (2013)


Annelie Ferreira. Maar Tintin in Tibet. Tafelberg, 2013. ISBN 978 0 624 06323 0
Resensent: Joan Hambidge

Wat het Tintin met Tibet te maak? ‘n Strokiesverhaal met die Boeddhisme? Nou ja, ‘n reisverhaal van ‘n dominee-pa wat sy jong studenteseun optel en na Beaufort-Wes vertrek omdat ‘n messias daar gesien is.

Op die voorblad Tintin, ‘n blou Mercedes Benz-speelding. Agterop: ‘n kruis, fopspeen, hart en padteken: gaan voort.

Die boek beslaan 143 bladsye.

Dit begin met al die kwessies waaroor ons dagblad, Die Burger, sig besig hou: van George Claassen, die wetenskapjoernalis tot die weerhaan. Afrikaans, vroue as predikers en gays in die kerk, aborsie, buite-egtelike verhoudings, alternatiewe godsdiens, ensomeer.

Ons het ‘n dominee-pa en sy jong seun (derdejaar Bedryfsielkundestudent) in gesprek oor al die kwessies waaroor almal praat.

Die vertelling aktiveer Hergé se bekendste Tintin verhaal (Tintin in Tibet) wat die outeur as sy belangrikste beskou het.

In hierdie verhaal handel dit oor die jong verslaggewer wat op soek is na sy vriend, Chang Chong-Chen in die Himalajas. Sy vriend het gesterf, meen hulle, in ‘n vliegtuigongeluk in hierdie gebergtes. Tintin glo egter sy vriend het oorleef en bly onvermoeid soek na hom – met die hulp van sy hondjie, Snowy en kaptein Haddock (oftewel Kaptein Sardijn)  – en natuurlik loop hulle hul vas in die aapman, die Yeti.

Wat hierdie interteks veral tersaaklik maak, is dat Ferreira die omstandighede rondom die skryf van die boek aktiveer: dit is geskryf in ‘n tyd toe die skrywer ‘n persoonlike konflik beleef het róndom ‘n stryd met sy vrou en ‘n minnares. Op bladsye 128 & 132 word hierdie gegewe direk aangespreek (Tintin in Tibet - Wikipedia, the free encyclopedia).

*

Hierdie innerlike stryd word oorgedra na Annelie Ferreira se teks. Die dominee beleef eweneens konflik met sy vrou met wie hy nie meer genoegsame kontak het nie. Hy is ook in konflik met die moderne, veranderde wêreld. Daar is toespelings dat sy vrou lesbies is. Die jong seun beleef eweneens konflik met sy meisie.

Verhoudings in krisis dus.

Ferreira gebruik die peregrinasieverhaal, met ander woorde, die uiterlike, werklike reis wat gesinkopeer word met die innerlike reis of transformasie. Reeds die titel met sy aarselende “maar” en Tibet neem dus standpunt in teen die debatte wat tans (nog) in die NG Kerk woed: saamblyery, gays en ander kwessies.

Sy gebruik Lukas en die dominee Kruger, NG-predikant, as haar vehicles om haar boodskap oor te dra. Die messias is ‘n gestremde swart jongeling en die verskillende pole van ons gemeenskap word in hierdie vertelling ondersoek.

Gert Vlok Nel, die digter van Beaufort-Wes se  “my hart is nog te kouewater, Omo-skoon, vir die Here en Tintin om in te woon...” praat ook saam. Daar is ook verwysings na moderne songs wat die storie dra.

Hoe moet ons hierdie teks tipeer? Is dit vertelling? Is dit roman? Of is dit teologie-in-verhaalvorm?

Dit word wel as fiksie bemark, maar dit is uiteindelik sowel fiksionele teks as dinkstuk.

*

Die teks is vlot geskryf, maar sou kon baat by meer tekstuur. In die sub-genre van spirituele tekste wat as roman aangebied word, roep dit vergelykings op met Philip Roth se Everyman (2006) of hier te lande Anna M. Louw se Vos (2000).

Of Barry Unsworth se Morality Play wat in 1995 verskyn het en op die kortlys van die Booker-prys was.

Die verteller oftewel fokalisator is ‘n jong persoon en van die vrae oor lewenskwessies (soos aborsie of geboorte, die troebel verhouding met die moeder) word naïef weergegee.

Maar kyk net hoe het J.D. Salinger in The catcher in the rye (1951)hierdie probleme opgelos wat te make het met die verhouding tussen die implisiete outeur en die fokalisator/verteller. Laasgenoemde mag naïef wees, eersgenoemde nie. En dis waarskynlik hierdie balans wat steur in Ferreira se teks: ‘n mens genoegsame ironie en afstand tussen verteller en (implisiete) outeur soos Wayne C. Booth dit beskryf in The rhetoric of fiction (1961).

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van FineMusicRadio geplaas.]

Sunday, November 3, 2013

Deborah Steinmair - Wenkbrou (2013)


Deborah Steinmair. WenkbrouHuman & Rousseau, 2013. ISBN 978 0 7981 5775 9.
Resensent: Joan Hambidge

Wenkbrou van Deborah Steinmair word tipeer as ‘n raaiselroman.  Dit is die derde een in ‘n reeks wat Hettie Scholtz tereg soos volg tipeer: ’n Skrywer met ‘n goeie oog en ‘n heerlike sin vir humor”.

Kortliks word die verhaal uitstekend soos volg bemark: In hierdie roman betree die leser weer saam met die eksentrieke Aga en Jesse (met wie ons in Die Neus kennis gemaak het) ’n vreemde wêreld, dié van die amper Amish-agtige sekte in die Oos-Vrystaat. Wanneer Jesse verneem dat die kleinseun van moeder Motle, hoof van die Susters en lewenslange vriendin van haar ouma, vermis en vermoedelik vermoor is, besluit sy en Aga om daar te gaan ondersoek instel. Hulle maak kennis met die groep nonne en die patriargale Volgelinge wat leef volgens die ouderwetse geskrifte van hul menslike Herder. En, soos mens kan verwag by hierdie skrywer se unieke, heerlike vorm van speurverhaal, is dit nie lank voor hulle ’n rits rare, fantastiese ervarings beleef nie. Hulle word weer eens bygestaan deur deur die rowwejack dude, Claude. Dié slag met die verdere hulp van sy nuwe vriendin, die wit sangoma Stasi Soldatos. Satiries, lig, vars.”

Die leser word etlike sleutels gegee om hierdie boek te begryp. Op bladsy 163 word die heldin voorgestel asof sy in ‘n fotoverhaal optree en voortdurend word ‘n gebeurtenis of insident vergelyk met ‘n bekende film of reeks soos Murder she wrote of televisieproduksies soos Noot vir Noot. Daardie fotoverhale skep ‘n bepaalde leesstrategie: ‘n mens dink onvermydelik aan Mark Condor waar die bose altyd oorwin word en die karakters toneelspeel met hoofletters. Die roman eindig dan ook met ‘n ~.

In die eerste hoofstuk word wenkbroue vergelyk met Mr Bean se twee uiters beweeglike harige wurms op sy voorkop (8). En verder verneem ons ‘n wenkbrou is ‘n kommunikasiehulpmiddel. Mr Bean is die kode hier: Mr Bean goes to America (1997) is waarskynlik die waansinnige interteks in die spel met kodes en die oplos van die raaisel! Daardie rolprent waar iemand soos Burt Reynolds as Generaal ‘n kunsuitstalling open, wys presies hoe humor werk. Boonop onthou ons almal die grappe oor Reynolds se pruik. Die gelanterfanter rondom die diefstal van Whistler’s Mother en die soeke na die oorspronklike kunswerk is die raaisel wat opgelos moet word. En aan die basis van die speurverhaal – waarvan die grootste die drama Oedipus Rex – is die raaisel met die leser (of toeskouer) as speurder. 



Steinmair se boek is ‘n paper chase, ‘n verwysing na tekste en kodes. Ook ‘n ouktoriale roman met sy hofies wat die teks begelei en verpak, hoofstuk vir hoofstuk, selfs met aanhalings uit die Bybel: vir die teoretiese leser is daar via Umberto Eco se The role of the reader vele “inferential walks” te make. ‘n Mens narkotiseer* en oordryf saam met die skrywer wat kortom ook die genre van die speurverhaal parodieer. Angela Lansbury en so. En kommentaar lewer op die groot aantal speurverhaalskrywers hier te lande en die sukses van vroueskrywers binne die genre, waarvan Agatha Christie die koningin bly.

Die ouktoriale aanwesigheid dui op die skrywer wat die gegewe manipuleer en vir ons orden. Agter alles skuil ‘n outeur as regisseur. Dit vorm ook deel van ‘n reeks met karakters wat bepaalde rolle vertolk.

Hier word inisiasiesterftes, die Blou Rokke en die verdwene onskuld van die platteland belig. 

Miskien kort die roman meer tekstuur? Maar gelees binne die tradisie van die Japannese manga wil dit waarskynlik – nes Louis de Villiers se roman uit 2012, Karmapolisie ontmoet die Bokke-  die oppervlak-verhaal beklemtoon. Hieroor het ek uitgebreid geskryf (Louis de Villiers - Kaapstad Karma-polisie ontmoet die Bokke, 2012).

Hierdie skrywer is vir haar debuut Marike se laaste dans in 2011 bekroon met die Jan Rabie Rapport-prys vir ‘n debuut en met hierdie reeks verdien sy haar spore.

Sy sal bepaald ‘n paar wenkbroue lig met haar aweregse humor en debunking van ernstige kwessies. En ja, Die geheim van Nantes is ook hier: Die tantes van Nantes en al wat verwant is die veg om die besit van die plaas” wat ons neem na Al Debbo. Hierom dink ek Mr Bean is ‘n belangrike interteks!

Vir die speurende leser is daar tersaaklike heenwysings na die Bybel en allerlei relevante intertekste.

Ja, alles kom tot ruste in die teken van die tilde: ~.


* Volgens Umberto Eco, in The role of the reader, is die rol van die leser om soms tekstuele karakteriserings en gebeure aan te vul (“blowing up”, soos hy dit stel), of af te skaal, te verminder, om dit te “narkotiseer”. (Anthony C. Thiselton, Thiselton on Hermeneutics: The Collected works and new essays onAnthony Thiselton. Ashgate Publishing Ltd, 2006. p. 499)

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van FineMusicRadio geplaas.]



Sunday, October 27, 2013

Eldridge Jason - Gerook (2013)


Eldridge Jason. GerookLapa, 2013. ISBN 978 0 7993 6214 5
Resensent: Joan Hambidge

Gerook is die debuut van Eldridge Jason. Dis ‘n tienerroman wat op ‘n verrassende wyse die gevare van dwelms onder die loep neem. Tog is dit nie prekerig nie. Die skrywer vertel eerstens ‘n verhaal, ‘n storie: Cobie hou vakansie by sy ouma op Vaalberg. En hier tree die skrywer dus onmiddellik in gesprek met ander tienerromans of jeugverhale. Die jong kind wat eerstens afhanklik is van grootmense se besluite oor sy/haar lot en tweedens die ontsnapping uit ‘n rigiede skoolwêreld waarin die sensitiewe kind nie pas nie. Vaalberg, ‘n Weskusdorpie, is egter nie ‘n vervelige ruimte nie, want Cobie word gekonfronteer met die bose of kwaadwillige: te wete tik en inbrake. 

Goeie jeugverhale – soos ons weet uit daardie voortreflike jeugverhale van Barrie Hough (My kat word herfs) of Carina Diedericks se Thomas@-verhale  skep ‘n geleentheid om ‘n belangrike lewenswaarheid oor te dra. Maar dit mag nie pedanties word nie; dan sal dit gewoon die jong leser – met ‘n sterk verbeelding – afskrik. Moderne tegnologie moet eweneens aan bod kom en in hierdie verhaal is daar MXit-verwysings, Facebook en selfs ‘n verwysing na Sewende laan. Daar is ook emotikons in die teks – die jonger leser word duidelik aangespreek en die outeur weet wat hul leefwêreld behels.

Eldridge Jason gebruik suiwer Afrikaans in sy roman wat afgewissel word met “djy” en woorde soos “cool”.  In ‘n handige woordelys word begrippe wat buite die wit leser se ervaringswêreld staan,  verduidelik soos brasse (vriende), kin (meisie), gepiemp (verklik), merts (dwelmhandelaars), ensomeer. In ‘n onderhoud op Litnet erken die skrywer ook dat hy almal teen die gevare van tikverslawing wil waarsku, omdat hy presies weet wat dit behels. (LAPA-onderhoud/ Gerook deur Eldridge Jason - Eldridge Jason)

Op ‘n boeiende wyse ontgin die skrywer die moderne wêreld van inbrake, bedrog, leuens en die idilliese bestaan van Kobie in Patrys of die Maasdorp-reeks word verplaas na ‘n wêreld van gevare. Waaraan jong mense al blootgestel word, is pynlik en ontstellend.

Die outeur werk die element van verraad goed uit met verwysings na die Judasfiguur vroeg in die teks. Dat dit sy eie vader sou wees, sal werklik vir die jong leser skokkend wees; net soos die geweld en skiettoneel ontstig. Maar dit word alles goed gekontekstualiseer deur die implisiete outeur wat deur die monde van sy karakters kritiseer en waarsku teen die gevare van gulsigheid en bedrog. Om rykdom na te jaag, kan jou suur bekom.

As ‘n sosiale dokument, is hierdie teks ‘n belangrike bydrae. Trompie se onskuldige dae is getel.

As ek ‘n varkoor gooi, maak hierdie roman alreeds opslae. Dis net vaak ape wat hierdie boek nie sal geniet nie.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van FineMusicRadio geplaas.]

*

LitNet Akademies-resensie-essay: Alice Miller  Saartjie Baumann en Thomas
Joan Hambidge
2011-08-31


Carina Diedericks-Hugo. Thomas@rock-ster.net. Lapa Uitgewers, 2011. ISBN 9780799350807

“Experience has taught us that we have only one enduring weapon in our struggle against mental illness: the emotional discovery and emotional acceptance of the truth in the individual and unique history of our childhood.” – Alice Miller in The drama of the gifted child (1979:3).

I.

By die lees van Carina Diedericks-Hugo se bekende én suksesvolle Thomas@-reeks word die volwasse leser gekonfronteer met die kind in jouself. Waarom lees ek byvoorbeeld elke jaar ’n Saartjie Baumann of ’n Trompie? Dit is gemene goed dat die kind in ons nooit weggaan of verdwyn nie, en kinder- en jeugboekskrywers skryf waarskynlik self oor hul eie kindwees ten einde iets hiervan te projekteer of herstel in ’n jeugboek.

Die werk van die psigoanalis Alice Miller aktiveer komplekse prosesse rondom die verwerking van jeugindrukke en -trauma. Veral haar studie The drama of being a child kan die leser nuttig aanwend om nostalgies-idilliese tekste soos die klassieke Saartjie Baumann-reeks van Bettie Naudé te benader. In Saartjie (Perskor 1993) is Saartjie haar pa, dokter Baumann, se oogappel. Sy is in standerd vyf in Lynnekom, ’n omgewing waar almal mekaar ken en goed oor die weg kom. Sy het ’n broer Kris in matriek en ’n agtjarige boetie Apie, en die huishulp heet Lizzie. Die tuinier se naam is Jonas. Dit is dus duidelik ’n idilliese bestaan.

Saartjie is ’n figuur van liminaliteit: op die grens tussen laerskool en hoërskool. Sy kan ander naboots en almal laat lag. (Wanneer sy sing, boep-boep sy soos Bing Crosby.) Haar bekendste eienskap is haar blokspringery en haar eie reël dat die toon nie aan ’n gleuf mag raak nie, kom sy streng na. Juffrou Minnaar, haar onderwyseres, ook bekend as ou Bolla, meen dat sy kinders ken en ons weet dat Saartjie uiters briljant is, en ten spyte van die kompetisie tussen haar en Matilda Nielsen, staan Saartjie weer eerste. Sy is dus ’n intellektuele ster en gewild by alle kinders, behalwe tydelik by Matilda, wat in kompetisie met haar is. Hierdie spanning word egter in die boek opgelos wanneer Saartjie by die fliek met die hulp van Galpil (Lodewyk) haar gesteelde geld terugkry.

II.

Miller maak relevante stellings oor die ervaring van ’n mens se jeug, naamlik dat jy die unieke patroon van jou jeug moet raaksien en begryp. Dit sal jou uiteindelik beskerm teen latere onsekerhede en selfs waansin.

Om iets te begryp is dit noodsaaklik om die opposisie tussen die ouer wêreld en die hedendaagse tyd uit te werk. (Die nuwe tydvak is waarskynlik iets wat ons nog nie genoegsaam begryp nie, maar dit behoef ’n ander studie.) In Carina Diedericks-Hugo se Thomas@rock-ster.net leef die hoofkarakter nie meer in ’n onskuldige ruimte nie. Die jong leser word behalwe vir die boek ook geneem na QR-kodes wat jou lei na ’n klankgreep, video en foto; ’n spesiale MXit-kanaal net vir Thomas en vriende; ’n gunsteling-speletjie Fangs en ’n Radikale Rockfees se webblad waar jy self ’n rockster kan word en jou eie musiek kan meng. Thomas-boeke verwys na “losers” of “pel”. Die woord “sure” word gebruik en uitdrukkings “soos in glad nie”.

En die lewe suig. Die idilliese bestaan wat in ouer kinderverhale aangebied word, word in hierdie tekste geproblematiseer. Op die agterblad is daar byvoorbeeld nie net wit kinders nie, maar ook bruin en swart kinders, wat aandui dat Saartjie Baumann se wit skool verander het na ’n gemengde skool. Karen Zoid, Hannah Montana, Francois van Coke en ander, ondermyn die onskuldige wêreld. In Saartjie is daar ’n verwysing na Bing Crosby. Die harde werklikheid van die nuwe Suid-Afrika kom ook aan bod met verwysings na die impak van ’n kaping op ’n lewe. En ’n mesaanval.

Daar is onder andere kru taal in (“poepsak”, 44), en die karakters praat waarheidsgetrou. Die Afrikaans in die Saartjie-boeke is suiwer met hier en daar kindertaal (“wassiemekoliet” en “goete”, onder andere).

In die Thomas-boeke word “crushes” beleef en skoolwerk verloop nie altyd vlot nie. Thomas het ’n selfoon en daar is ’n band, die Hectic Hamburgers, wat konsert hou. Saartjie se konsert is onskuldig: sy wil geld insamel vir die Strandfonds en sy is besorg oor arm kindertjies in Indië. Saartjie is haar moeder se vreugde en las en haar vader se oogappel. Thomas het ’n pa wat die skoolhoof aanvat en met ’n siviele eis dreig oor wanoptrede en viktimisering van sy kind.

III.


 Die Sonskynklub bestaan uit Galpil, Gert, Piet, Matilda Nielsen, Apie, Bennie en natuurlik Saartjie, Lina en Anna en die kleinsus Muggie. Teenoor die Hectic Hamburgers vind ons ’n Matilda wat viool speel en meer spesifiek, die “Blou Donou”-wals. Anna doen ballet (Dans van die goue swaan) en Lina dra voor met Apie en Bennie wat grappe vertel. Saartjie skryf ’n toneelstuk, Die berugte rower word gevang. Daar is wel chaos wanneer Apie nie wil neerval wanneer hy geskiet word nie. Ons vind verwysings by hierdie konsert na Bing Crosby en Al Debbo en die grootmense geniet die kinders se kaskenades. ’n Nies verander ’n optrede in ’n geklikheid. Die ouers of volwassenes word nie duidelik geteken nie. Hulle is net ’n stille aanwesigheid wat die kinders se optredes goed vind. In die boek is daar ook ’n ingebedde spookverhaal. Muggie val in die kelder van ’n ou huis, maar Saartjie spring af en red haar. Hier word dan ook geld ontdek van die kluisenaar wat spoorloos verdwyn het en wie se geraamte nou in die kelder van die onbewuste lê. Die polisie is op hul pos en red die kinders. Wanneer die bye oom Petrus se hoenders doodsteek, omdat daar met ’n byenes gelol is, help die vader. En Apie oorleef sewentien bysteke!

IV.


Saartjie is haar moeder se vreugde en las en haar vader se oogappel. Met ’n soet glimlag raak Saartjie sorgeloos aan die slaap (111) en ons almal onthou die weerbarstige krul! Dikwels word Saartjie aangespreek dat sy haar nie soos ’n dame gedra nie (111) en in ’n debat oor die swaard versus die pen oortuig sy ons as lesers oor die mag van die pen.

Hierdie roman dui op ’n oorgang van laerskool na hoërskool (en al die onsekerhede wat dit inhou) en die skoollied is een vol heimwee en verlange (126). En die roman eindig met Saartjie se voet wat aan ’n gleuf raak en hierom moet sy weer van voor begin. Met elke uitdaging is hierdie heldin altyd ’n wenner met glimlaggende ouers wat haar liefhet én begryp.

Meer nog, Saartjie is ’n skrywer van ’n toneelstuk, en ’n heldin. Thomas is ’n rockster. Fleur dra ’n noupassende swart rokkie met stewels wat tot by haar knieë kom, terwyl Saartjie ’n wit panamahoed dra. Wanneer Thabo opmerk: “Wow. There’s a lot of people out there” (128), kan ’n mens hierdie uitspraak van toepassing maak op die verskuiwing in die romangrense. By Saartjie is daar telkens sluiting, oplossing. By Thomas is daar ’n virtuele ruimte en die internet beteken dat niks meer kan sluit nie. Die paradoksale eenheid of segment van ’n roman, aldus Culler in Structuralist poetics (1975:210), waar elke element gedefinieer en bepaal word deur sy funksionele kwaliteite of korrelasie met ander eenhede, word in Thomas@rock-ster.net oop-gemaak. Elke plot-onderdeel het ’n funksie. By Saartjie is daar selfs, wanneer sy afspring in ’n kelder, ’n sagte kol sand wat haar beskerm. Thomas word gekonfronteer met Billy Fourie wat meneer Du Toit met ’n mes gesteek het en bel self die ambulans (106). Die pa kom wel later tot sy redding.

V.
Alice Miller

Die Jodin Alice Miller is in 1923 in Pole gebore en in 2010 in Frankryk oorlede. Haar werk karteer die ingewikkelde siening van kindwees en onderwys wat sy dikwels uitwys as iets wat nie die kind se fantasiewêreld aanspreek nie. Ofskoon sy krities staan teenoor psigoanalise, is haar werk wél psigoanalities gebed. (Kritiek op Freud en Jung moet eerder gesien word as ’n ontwikkeling in haar eie denkwyse, maar sy hoort steeds tuis onder die psigoanalise as denkrigting.)

Deur die jare het ek Alice Miller se sieninge oor kindwees in my psige geïntegreer. [1] Daardie terugkeer na die jeug om pynlike ervarings van ’n displaced kind weer te besoek, het ek gedoen. Die lees van ’n Saartjie-boek neem my terug na die kind-wat-ek-was en wat wou ontvlug uit die harde werklikheid van onsekerheid oor my identiteit; die feit dat ons telkens verplaas is na nuwe ruimtes waar ek altyd die nuwe, vreemde kind was. Teenoor Saartjie wat in een ruimte vertoef, trek ons gereeld. Saartjie het in my kindgemoed iemand verteenwoordig wat alle teëstand of misverstand uit die weg kon ruim of oorwin. Sy is altyd geliefd en haar selfopgelegde blokspringery het my waarskynlik ook bekend gestel aan haar gedrewenheid. Alice Miller weet te vertel dat Picasso se Guernica oor meer handel as die Spaanse Burgeroorlog. Dit speel ook terug op ’n kinderherinnering, weliswaartraumaties, toe hy as jong kind ’n aardbewing beleef en steierende perde sien en ook die nag die geboorte ervaar van sy sussie. Buster Keaton se uitdrukkinglose gesig verraai hoe hy as kind sy pyn moes verdring toe sy ouers hom aangerand het. In beide se psiges is hierdie verwonding opgevang. Hieroor skryf sy in The untouched key wat in 1979 verskyn het.

Kinder- en jeugboeke gelees deur Alice Miller se aannames beteken dat jy as volwasse leser terugkeer na ’n ruimte van hoe jy die roman as kind ervaar het én die impak daarvan op jou gemoed toe en nou.


Saartjie Baumann is altyd in staat om enige uitdaging die hoof te bied: skoolwerk, ’n reddingspoging van ’n ander kind of ’n bye-aanval. Sy is geliefd, mooi, vee ’n weerbarstige krul weg en is boonop ’n grapjas en skrywer. ’n Mens sou waarskynlik kon argumenteer dat jong lesers op dieselfde wyse getransporteer word deur Thomas wat eweneens uitdagings trotseer, ofskoon die eise van sy wêreld groter is. Hy is immers ouer as Saartjie, maar beleef die kompleksiteite van ’n virtuele wêreld. Hy moet steelfoto’s trotseer (98), en die indringende mediawêreld van Son en Huisgenoot is bekend aan hom. CNN is ’n werklikheid soos TV en films. En MXit is ’n wyse van kommunikasie.

Die lees van so ’n boek is ’n dubbelloop-aksie. Jy is sowel kind as volwassene wanneer jy hierdie soort roman lees. Culler maak ons attent daarop dat ’n roman met mimetiese verwagtinge werk en dat die skrywer/skryfster deur taal na hierdie wêreld beweeg (Culler, p 196). Verskeie tegnieke word aangewend om hierdie spel te bewerkstellig wat in Culler se terme ’n “retorika van die verteller” is (Culler, p 197). Daarom vind ’n mens in reeksboeke dieselfde beskrywings (wat die kind laat veilig voel), maar telkens is daar nuwe uitdagings. Instinkmatig begryp die jong leser dit: sowel Saartjie as Thomas sal kom-wat-wil oorwin, as heldin of held na vore tree. En die ouer leser lees juís weer hierdie romans om daardie gevoel van “closure” te kry.

Miller se werk het selfterapie behels en die leesaksie is ’n vorm van selfterapie na genesing of helderheid. [2] Juis hoe jy geen stem as kind gehad het nie en uitgelewer is aan traumatiese of wisselvallige ervarings, kan jy dus ontsluit deur daarna terug te keer om te verhoed dat jy hierdie patrone op jou eie kinders (of studente) herhaal. [3]

Hierom is dié soektog immers vir Alice Miller die soeke na die ware self. [4]

The drama of the gifted child is ook gepubliseer as Prisoners of childhood.

Culler maak ons attent op die leeskontrak, of die oortreding van die leeskontrak (1975:214). Miskien oortree ek die leeskontrak van kinder- en jeugboeke, maar tog met ander insigte.

Bibliografie
Culler, Jonathan. 1975. Structuralist poetics. Structuralism, linguistics and the study of literature. Londen: Routledge & Kegan Paul.

Diedericks-Hugo, Carina. 2011. Thomas@rock-ster.net. Pretoria: Lapa.

Miller, Alice. 1995. The drama of being a child. The search for the true self. Londen: Virago.
Miller, Alice. 1997. The drama of the gifted child. The search for the true self. Londen: Virago.
Miller, Alice. 1997. The untouched key. Tracing childhood trauma in creativity and destructiveness. Londen: Virago.

Naudé, Bettie. 1993. Saartjie. Omnibus 1. Johannesburg: Perskor.

Vir Alice Miller se lewensloop is die Wikipedia geraadpleeg:
Wikipedia. "Alice Miller (psychologist)" - Wikipedia, the free encyclopedia. Afgetrek 29.8. 2011.

Eindnotas
1. The drama of being a child 

As jong kind bekoor die reuke
van die somerse veld my veral.
Die dam met stilstaande water,
biesies in die vlei en paddavissies spartelend,
kwakende paddas, selfs ’n slang onder ’n klip,
glimwurms, grassade en giftige vrugte, 
onthou ek helder soos ’n gedroogde boekmerk
in My Bybel skeefgedruk by Jesaja.
“Oppas vir Bilharzia,” sou my ma maan.
Bo-op die berg was daar ’n halfgeboude huis
met ’n sementpad en ’n Toegang verbode-bordjie.
Dié huis is nooit voltooi nie; niemand weet waarom nie.
Nie toe nie en ook nie nou nie.
Daardie huis, daardie onvoltooide huis,
sou my later agtervolg. In Malága
raak ek aan die growwe sement, skrik
vir ’n draad; die somerson ’n briesende koperkapel. 
Ook die dam met verrottende water soek my op
in ’n droom: vasgevang tussen daardie biesies,
roep ek om hulp, wyl water oor ’n afgrond stort.
Hoe breekbaar én skrynend is die geheue nie.
Reuke soos smake is sigbaar, skryf Neruda iewers.
’n Klein pampoentjie op my tong sing steeds
van dit wat wild en onveilig en onstuimig-vreemd proe.

Nuwejaar

Snags in ons huis langs die rivier,
daardie rivier wat elke sewe jaar 
sy onbestendige walle oorstroom,
gis die gemmerbier in die spens
langs ryp dadel- en piesangbrood.
’n Waatlemoen, spanspek, perskes
uitgepak vir die Nuwejaarspiekniek
op die groen walle van die sissende Vaal.
’n Man trek ’n knewel van ’n karp uit
en kinders gil oor ’n barber wat soos ’n slang seil.
’n Ski-boot gooi wilde esse en bierbottels bons
in die yswater langs smeulende vure.
Ma sit in ’n geblomde rok en pa met ’n blazer,
altyd die perfekte gentleman, luister na die kriekettelling
op ’n klein radio. Alles is so spiekeries.
Oom Johan, die gesondheidsinspekteur,
kla oor die munisipaliteit en Tannie Six,
nou gealzheimer, neul oor mense van kleur.
“Wees versigtig,” waarsku Ma. My suster
stap stroomop met ’n man; ek ontduik
’n jong luitenant se giftige blik. My oë vasgenael
op ’n meisie wat sonbrandolie insmeer.
Nou oorstroom die besmette Vaal nie meer
nie, en die Slegs Blankes-borde is onttroon.
En snags hoor ek die gemmerbierbottels
se doppe skiet in die spens van ons-huis-langs-die-rivier.

(Uit: Lot se vrou wat vroeg volgende jaar by Human & Rousseau verskyn.)

2. It may be considered indiscreet to open the doors of someone else’s house and rummage around in other people’s family histories. Since so many of us still have the tendency to idealize our parents, my undertaking may even be regarded as improper. And yet it is something that I think must be done, for the amazing knowledge that comes to light from behind those previously locked doors contributes substantially toward helping people rescue themselves from their dangerous sleep and all its grave consequences. - Alice Miller, The Untouched Key, Voorwoord.

3. Vir kritiek op haar werk verwys ek die leser na 'n artikel op hierdie webruimte (“An analysis of the limits of Alice Miller”), ’n artikel wat paradoksaal juis haar besondere impak beken. Daniel Mackler is die outeur.

4. My dank aan my student in Kreatiewe Skryfwerk, Juanita Louw, wat my weer teruggeneem het na Alice Miller. By die skryf van hierdie essay het ek na die Nieu-Seelandse film gekyk: My father’s den, waarin die komplekse terugkeer na die jeug verhelderend vertel word (2004, Brad McGann regisseur). Dit is die verhaal van ’n oorlogjoernalis wat terugkeer na sy huis om ’n begrafnis van sy vader by te woon. Hy raak bevriend met ’n jong skoolkind, ’n talentvolle skrywer wat wegraak. Die krag van die film is nie geleë in die speurtog nie, maar in die feit dat hy deur die jong meisie sy eie pyn met ’n moeilike jeug konfronteer. Hier is 'n videosnit uit die film:


video



[Hierdie essay word met vriendelike vergunning van Litnet geplaas.]

Sunday, October 20, 2013

Henning Mankell - A Treacherous Paradise (2013)



Henning Mankell. A Treacherous Paradise. Random House, 2013. ISBN 9781846556241
Resensent: Joan Hambidge

Henning Mankell moet geloof word om sy uitmuntende Wallander-reeks. ’n Effens verloopte Kenneth Branagh speel die hoofrol in die TV-verwerking. Die skrywer is ook ’n gevierde spanningsverhaalskrywer en sy sogenaamde atmosferiese romans wat hulle dikwels in Afrika afspeel, het hom eweneens gewild gemaak. A Treacherous Paradise is op die werklikheid gegrond.

Dit handel oor ’n verdwene vrou wat ’n bordeel in die ou Lourenço Marques bestuur en volgens argiewe belasting betaal het. Maar sy het verdwyn en om hierdie gegewe bou die skrywer sy verhaal uit.

Die verhaal is inderdaad atmosferies, die pas beweeg flink van hoofstuk na hoofstuk. Die nuttige glossarium agterin verhelder Portugese begrippe.

Hoe mense kan wegraak met net ’n dagboek of bloot ’n belastingopgawe as die enigste bewys van hul lewe, stig hierdie verhaal aan vir die werklike outeur. Vir die leser is dit die besonder aangrypende verhaal van ’n vrou uitgelewer aan die ervarings van ’n skeepsreis, die dood van ’n man en haar besluit om die skip te verlaat en in ’n nuwe ruimte haar voete te vind. Hier word Hanna Lundmark, die voormalige kok op ’n stoomskip, baas van die bordello en ontmoet sy vreemde karakters.

Stereotipes oor rasse word aangebied, maar telkens ondermyn in die snel-bewegende verhaal. Juis omdat Hanna uit ’n armoedige agtergrond kom, kan sy die ellendes van die swart mense begryp in ’n verhaal gesitueer in 1904.

Dit is ’n reis- of peregrinasieverhaal. Die uiterlike reis van die armoedige bestaan in Swede na ’n verblyf op ’n stoomskip tot Lourenço Marques word gesinkopeer met die innerlike reis. Dit is ’n boek oor ongelooflike eensaamheid en verlange na geborgenheid soos wat Hanna dit as arm kind geken het. Sy hou ’n dagboek waarin sy haar ervarings opteken.

Die kern van die verhaal is die binnespraak van Hanna: “Perhaps the big secret was the realization that you never knew what was in store for you? If you made the break and left behind everything that was known and familiar?”

Die Ana Branca en die Ana Negra word goed teenoor mekaar geplaas. Hoe sy as wit vrou verander in die nuwe wêreld en dan verdwyn.

Rassisme, kolonialisme, die geskiedenis van skeepvaart, argivale navorsing, feministiese agentskap, prostitusie – en ook psigoanalise – word goed vermeng in ’n genotvolle verhaal. Jammer die voorblad van die Suid-Afrikaanse uitgawe skep die indruk van ’n vliegtuigroman! 

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]

Marlize Hobbs - Score my ‘n gwai (2013)



Marlize Hobbs. Score my ‘n gwai. Human & Rousseau, 2013. ISBN 978 0 9981 6254 8 
Resensent: Joan Hambidge

Vir haar debuut is Marlize Hobbs bekroon met drie pryse: die UJ-prys, Jan Rabie / Rapport-debuutprys en die gesogte Eugène Marais-prys. Die tweede boek heet Score my ‘n gwai en kan as ‘n tweeluik gelees word met die eerste boek Flarde.

Hier vind ons ook flardes of skerwe van ‘n gebroke verteller wat die “naked I” aan die leser voorstel. Miesa en Siena Maamogwe is die twee vertellers. Die boek vertel die verhaal van molestering, senu-ineenstortings, lesbiese identiteit, kinderaanneming, outisme, politieke geweld en die ellendes van die ou-Suid-Afrika. Die boek is in ‘n bykans telegramstyl aangebied en die leser moet self invul wat gebeur tussen oorgange. ‘n Mens dink onwillekeurig aan William Faulkner se As I lay dying en dan natuurlik Sy kom met die sekelmaan daardie onvergeetlike, grootse biegroman van Hettie Smit met sy ek/alter ego aanbod.

Dit is egter ‘n moderne liefdesverhaal, want Miesa is getroud met ‘n Facebook-liefde, Jasmyn. Die verhaal lewer deurgaans kommentaar oor die belang van skryf en die impak wat dit het op die “ek”: as verlossing, maar ook as iets wat ‘n noodsaak of dwang word.

Die vertellende ek is dus ‘n subjektiewe “ek” met ‘n soekende identiteit. Háár identiteit is onlosmaaklik verbind aan haar antagonis, Siena wie se dood haar raak. Dog hulle verbintenis kan nie opgehef word nie en deur die vertelling in woorde word dit ook verewig.

*

Daar is sentrale passasies wat die teks oopmaak vir die leser soos:

“Wanneer Siena gaan, is my huis stil en loer daar ‘n spookkind deur die tralievensters na my. Ek kyk op in haar oë en haat die spieëls daarvan. Dit swets terug in myne: fokfokfok. Die spookkind sweef effe bo die grond soos ‘n trourok se sleep op water, ek sien die beeld in my gedagtes. Sy het nog nooit met my gepraat nie, ek het nog nooit probeer om met haar te praat nie, sy volg my net soos ‘n skaduwee, asof sy aan my enkels vasgeheg is. Al staan sy ver, bly sy naby. Al sien ek haar soms nie, is sy daar. Ek weet altyd van haar”, is ‘n sentrale passasie (p. 57).

Ook die volgende passasie is belangrik:

“Ek is 1979 skool toe. Laerskool Louwna met vyftig leerlinge en drie onderwysers. Sub A tot standard 1 was in dieselfde klas. Ek het dus vroeg reeds die volgende jare se werk geken en verstaan. Skool het my verveel, behalwe storietyd. Dit was heerlik! En Juffrou Cathy het geweet hoe om ‘n storie te vertel, sodat ons regop gesit en luister het. Sy het vir ons Brolloks en Bittergal van C.J. Langenhoven gelees. Ek onthou nou nog hoe ek in die verbeeldingswêreld daarvan ontsnap het” (p. 129).

Vir die speurende leser is hier dus interessante aspekte rondom spieëls en verbeelding. Ook rondom die konstruksie van die “ek” as persoon met geweldige uitdagings en probleme en vir wie verhale die enigste ruimte van verlossing is.

*

‘n Mens is ‘n mens deur ander mense, lui die Tswana-spreuk as motto in hierdie boek. Dit is wat die verhaal probeer vergestalt met skerp en aangrypende vinjette – soos ‘n selfmoordpoging, die jag van springhase, geweld op swart mense op plase, om ‘n paar momente uit te sonder. Vir my gevoel moes die roman (of vertelling) nog ‘n keer herskryf geword het om werklik die volle impak te kon ontgin.

Dit is jammer, juis omdat daar ‘n paar wonderlike oomblikke is wat die leser sal bybly. Ongelukkig is daar egter ook passasies of skryfsels wat so clichématig en sentimenteel – op ander kere selfs kru – is dat dit die indruk laat van “work-in-progress”.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van FineMusicRadio geplaas.]

Cas Wepener - Dubbelfoto (2013)



Cas Wepener. DubbelfotoProtea Boekehuis, 2013. ISBN: 9781869199678 
Resensent: Joan Hambidge

Literatore wat gereeld resenseer sou met groot eenstemmigheid om die ronde tafel van die literatuur kon sit: daar word tans te veel boeke gepubliseer en wie koop dit? Stap by ‘n gesogte boekwinkel in en jy vind niks wat boeiend is nie. Dit staan dalk eerder by tweedehandse boekwinkels. So ‘n jaar terug het ek vir RSG ‘n boekeprogram hanteer en ek kon nie voorbly met die swak en middelmatige boeke wat in bokse voor my deur geland het nie. Hierom bestel ‘n mens eerder via die internet ordentlike boeke. Uitgewers bely: goedkoop om ‘n boek te publiseer, duur om te bemark.

Cas Wepener se Dubbelfoto is ‘n kortkunsdebuut wat op die agterblad beskryf word as ‘n “glansende toevoeging tot die kortverhaalskat in Afrikaans”. 

Ons verneem van ‘n boeiende leeservaring en dat dieselfde storie uit verskillende oogpunte vertel word. Verder gee verhale nie sommer hulle geheime alte maklik prys nie.

Sluit dit aan by die nuwe tendens om boeke ten alle koste te bemark?

As resensent glo ek: gun elke diertjie sy meninkie.

*

Vir my was hierdie verhale bloot anekdoties, optekeninge, opgedra aan Drienie “’n storiemens”. Maar dan soek ek, wel, ‘n storie. ‘n Storie soos by Tsjekof of O'Henry. Of Alice Munro.

Die motto uit Roland Barthes se Camera lucida rig die verhale: Barthes verwys immers na die punt wat die foto moet maak en die studium of komposisie. Inderdaad speel verhale op mekaar in – o.a. die Bentwood-stoeltjie is ‘n herhalende motief in die bundel. Dit word ook afgedruk by die begin van elke verhaal.

Die bundel bly in gebreke om die diepgang van Duiwel-in-die-bos te ewenaar in die herhaling van motiewe of as eenheidsbundel.

Die eerste verhaal “Memento mori” mag dalk gekanoniseer word in De Vries se kortverhaalbloemlesing of deur Aucamp in Die blote storie behandel word.

Ongelukkig is die meeste verhale wat hierdie leser betref beslis nie ‘n glansende toevoeging tot ons sogenaamde kortverhaalskat nie. Op hierdie gebied is daar wérklike meesters en die meeste verhale is gawe vertellinge of stories, maar helaas nie groot nie.

Oor familieportrette het ons al by Aucamp iets substansieels gevind en by Koos Prinsloo iets wat jou lank bybly.

“Memento mori” analiseer die betekenis van die dubbelfoto of dubbelportret. Die verhaal “Die naakte waarheid” verpas egter die geleentheid om seksuele taboes diepgaande te ontgin. Die meeste van hierdie verhale is nog nie genoegsaam verhaal nie. Hierdie verhaal som die problematiek op: ‘n soort selfbewustheid rondom broekies-aftrek en afloer. 

*

“En tog is ons almal verbind aan mekaar deur hierdie landskap” (82), word daar opgemerk, maar dit word nie genoegsaam uitgewerk nie. Die dor land (in aansluiting by Van Wyk Louw waartoe ons behoort). Ook die verbintenis tussen lewe en dood (die sogenaamde dubbelfoto) verras nie eintlik nie.

Van platteland tot die stad; van voorgeslagte tot agterkleinkinders. Dit is waarskynlik ‘n verhalebundel vir die meer populistiese mark. Wat bepaald ‘n plek het – maar die agterblad is misleidend en die verhale is nie dwingend genoeg nie. 

Die bundel het my wél teruggeneem na Barthes se meesterlike Camera lucida (1980) en die betekenis van foto’s. La chambre Claire heet die Franse titel – en dis presies hoe ‘n vertelling moet wees. Die Engelse weergawe het in 1981 by Hill and Wang in New York verskyn.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van FineMusicRadio geplaas.]



Thursday, October 17, 2013

Nuwe bundel: Meditasies, deur Joan Hambidge

Foto: Joan Hambidge


Meditasies | Poësie
Joan Hambidge 
Human & Rousseau

In hierdie ryk geskakeerde bundel word nie alleen die konsep en konteks van “meditasies” verruim nie, maar word die gedig-as-meditasie tot ’n nuwe hoogte in Hambidge se werk gevoer, word dit ’n beduidende bydrae tot die breë Afrikaanse digterlike leksikon. Humor en satire tree dikwels op die voorgrond, en so ook besonder skerp herinneringe.

Foto: Philip de Vos

Meditasies word op 5 Desember om 17:30 bekend gestel by die Book lounge, Kaapstad . Die digter sal in gesprek tree met haar uitgewer, Etienne Bloemhof, oor die skryf van die bundel.

Friday, October 11, 2013

Mia Farrow en die familieromanse

Mia Farrow © Anwar Amro, AFP/Getty Images


In 1992 het die filmmaker Woody Allen en Mia Farrow se verhouding ontplof toe dit aan die lig gekom het dat hy ‘n verhouding het met haar aangenome dogter, Soon-Yi Previn. Ons onthou dit soos gister. Allen wat probeer om toesig oor die drie jong kinders te kry en Farrow se verbete aanvalle in die pers.

Woody Allen en Soon-Yi Previn © Scott Gries/Getty Images Entertainment)

Sy het Allen onder meer ook aangekla van seksuele molestering en dat hy die jongste dogter sou betas het. Dit het die regter verwerp – daar was volgens hom nie genoegsame bewyse vir hierdie klag nie. Tog het hy toesig aan Allen geweier. En: dit was bepaald simboliese bloedskande wat hy gepleeg het met Soon-Yi, omdat sy in die oë van die ander kinders hul suster of sibbe bly.

 
Woody Allen, Mia Farrow en Soon-Yi Previn © DMI/Time Life Pictures/Getty

*

Sopas het Mia Farrow gesorg vir ‘n joernalistieke Nagasaki toe sy in die jongste Vanity Fair beweer het dat Frank Sinatra haar voormalige eggenoot dálk die vader van Ronan Farrow kan wees. Sinatra se weduwee verwerp dit as ongetoetste snert en Farrow beweer dat sy ten tyde van haar verhouding met Woody Allen steeds ‘n seksuele verhouding met Sinatra gehad het. Die jonge Ronan tweet lustig voort en maak grappies van sy moeder se optrede met uitlatings soos dat al die kinders dalk Sintra se kinders mag wees.


In die pers verskyn daar foto’s van Ronan wat sterk op Sinatra trek (sien artikel van Aly Weisman). Wanneer ‘n mens die verskillende verhale lees wat nou verskyn, hoor jy hoe Allen uit familiefoto’s verwyder is en dat selfs video-opnames gesuiwer is. Asof Allen nooit daar was nie.

*

Met haar jongste aantyging gebeur daar iets vérregaande in die sogenaamde Freudiaanse familieromanse. ‘n Seun se identiteit word aangetas. Hy mag dalk nóú dink dis grappig, terwyl hy afgeneem word langs Hilary Clinton en ander groot celebs. Maar wat gaan hy doen wanneer hy sélf ‘n pa word?

Wie gaan die kind se oupa wees? Woody Allen of Frank Sinatra?

Woody Allen, Soon-Yi Previn en Scarlett Johansson tydens 'n spesiale vertoning van "Match Point", December 14, 2005. © Dimitrios Kambouris/WireImage.com

En waarmee is Mia Farrow besig? Waarom vind sy dit nodig om in 2013 opnuut hierdie vuil wasgoed uit te hang? Dalk weens Allen se suskes as filmmaker? Hy het immers na haar aantygings voortgegaan en waarskynlik van sy beste werk gelewer soos Matchpoint (2005), ‘n donker analise van liefdesverraad en moord. ‘n Film gekomponeer bykans soos ‘n opera met musiekverwysings na en toespelings op liefdesmoorde.

*

Hierdie geveg tussen Farrow en Woody Allen is inderdaad ‘n opera. In “Woody Allen Agonistes” analiseer Camille Paglia hul verhouding in Vamps & tramps (Vintage Books, 1994). Sy sien die kunstenaar se kreatiwiteit as voorbeeld van Dionisiese irrasionaliteit en kom in opstand teen die morele polisie wat histeries reageer op hom. Picasso, Elvis Presley, John Lennon, Madonna, Robert Maplethorpe, voer sy aan, oortree die mores van die samelewing.

Camille Paglia © Michael Lionstar

Ja, voer Paglia aan Woody Alleen se liefde vir Italiaanse teatraliteit was die “cue” vir Farrow wat sowel Madama Butterfly as die jaloerse diva, Tosca vertolk.

En vir my as filmliefhebber kan ek nooit Farrow losdink van haar briljante vertolking in Polanski se Rosemary’s baby (1968) nie. Bepaald ‘n flirtasie met die bose.

Mia Farrow in Rosemary’s baby (1968)

*

‘n Mens sou saam met Paglia kon vra: wat is hallusinasie, wat is waar? Is Dylan ooit werklik gemolesteer of het die besete Mia Medea Farrow dit in haar kop geplant? En wat se soort moeder – as Farrow dan so hoog opgee oor haar rol as matriarg – tas haar seun se identiteit tot in sy kern aan deur te beweer jou vader is dalk ‘n ander man? Dit maak nie saak dat Allen en sy seun, eers Satchel, nou Ronan, van meet af aan ‘n problematiese verhouding gehad het nie.

Met hierdie onvergeeflike optrede het sy nie opnuut weer vir Allen tot judasbok verklaar nie, maar sy het uiteindelik háárself gesnoeker as ‘n wraaksugtige, kleinlike persoon wat nie sal skroom om selfs ‘n kind te misbruik in haar onvermoeide sug tot vergelding nie. En – vra ‘n mens jouself af – is Ronan saam met Mia Farrow ook besig om saam wraak te neem met sy moeder weens sy moeilike verhouding met hom?

Wie sit agter dit alles?

Mia of Ronan?

Miskien moet Woody Allen hiervan ‘n film maak en sommer Farrow se faux-selfmoordpoging as openingstoneel gebruik met Frank Sinatra wat in die agtergrond sing “I did it my way…”

Noem die film Mama Mia Medea.

Bronne:

Maureen Orth. "Mia's Story", Vanity Fair. (Geraadpleeg 11 Oktober 2013).
Camille Paglia: Vamps & tramps. Vintage books, New York. 1994. 
Aly Weisman. "Frank Sinatra May Be Father Of Mia Farrow And Woody Allen's Son Ronan", Business Insider, 2 Oktober 2013

© Joan Hambidge












Saturday, September 28, 2013

D. J. Opperman-gedenklesing 2013

Joan Hambidge, Ronel de Goede, Lina Spies, Ingrid Winterbach, Helize van Vuuren,  
Louise Viljoen, en Marlene van Niekerk. Foto: Mariheca Otto

Donderdagaand, 26 September, het Helize van Vuuren die D. J. Opperman-gedenklesing gelewer. Die onderwerp: D. J. Opperman se laatwerk

Dit was 'n inspirerende lesing oor die betekenis van laatwerk en Van Vuuren, 'n ingeligte en deurwinterde literator,  het Opperman se "Vuurbees" op 'n briljante en sinryke wyse ontleed. Van Vuuren het deur die jare veral bekendheid verwerf vir haar kennis van rotskuns, en haar tekstuele speurtogte, onder meer rondom verwysings in Tristia en Komas uit 'n bamboesstok.
*

Die vuurbees
'n Paar punte:

Van Vuuren het belangrike aspekte van Celan se ondeurdringbare verse vir die leser "oopgemaak". Sy het Lacoue-Labarthe en Szondi gebruik om die komplekse leesproses te verduidelik.

Sy betrek Said se On late style, Adorno en Clark om laatwerk te verduidelik en Komas uit 'n bamboesstok vir die toehoorder op 'n ander manier te bekyk. By Opperman is die laatwerk egter nie pessimisties nie - hier beweeg hy weg van die pessimisme wat "laatwerk" kenmerk. Daar is egter in Dolosse egter sprake van die katabasis of afbeweeg in die hel.

Op 'n briljante wyse analiseer sy die Hertzog-prys-debakel toe Tristia bó Dolosse bekroon is en die opmerkings van Lindenberg oor lg. Hoe belaglik blyk dit na al die jare om hierdie twee tekste teen mekaar af te speel.

Sy verwys ook na Picasso en die motief van Pompeï en Dionisiese orgies, die teruggaan na neolitiese kunsvorme en die reis deur miljoene jare se geskiedenis van die mensdom  in Opperman se Dolosse


Lascaux

Ons sien ook 'n video van Lascaux en Altamira om die grottonele te verduidelik - Van Vuuren op haar beste!

Sy betrek ook Jacques Perk se gedigtesiklus oor die grottte van Han - 'n reeks waarvan D. J. Opperman beslis kennis geneem het.

Die gesprek met Blum en natuurlik,  Wilma Stockenström, word eweneens onder die loep geneem:

“Wat ek met berge gemeen het” (Monsterverse 1984:32):

Grot is ek: bewaarder van geslagte
se skreeuende gebeentes en hopies klip.
Grot ek: die berghaan se klankversterker.
Die berghaan draal. Hy sleep skalks
sy klein stompstertskadu deur my,
en met die skaduprent op my tong

stamel ek my ganse leegheid.

Opperman het inderdaad die grotte van Han besoek.

Die Laatfase by Opperman staan egter in die teken van anabasis - 'n positiewe proses.

Ook het Van Vuuren kommentaar gelewer - n.a.v. 'n besoek aan die ICLA-kongres aan die Sorbonne - oor die impak van BDE of byna-dood-ervarings.
*
Die opkoms was uitstekend en met vraetyd het die misverstane debat oor Opperman en die filosofie opnuut aan die orde gekom: Opperman -  hier het ekself en Lina Spies beklemtoon - was nie teen die filosofie nie. Hy het egter as mentor jong studente aangeraai om met hul sintuie te werk: sintuie is werktuie. Gaan lees Kannemeyer se biografie gerus vir die bewys as jy nie die voorreg had om dit in die laboratorium te hoor nie!

Opperman het immers oor etlike filosofiese onderwerpe gedig.

Dit is goed om ‘n uitstekende literator en akademikus aan te hoor by ‘n gesogte lesing.


Prof. Helize van Vuuren


(c) Joan Hambidge