Zandra Bezuidenhout. Aardling. Protea Boekehuis, 2006. ISBN 1 86919 128 5.
Resensent: Joan Hambidge
Daar is verskillende maniere van poësie
beleef en skryf. Om te dink dat alle digters op presies dieselfde wyse
funksioneer, is ‘n dwaalleer. ‘n Mens hou dikwels van ‘n digter se “stem”, of
jy kan dit nie verduur nie. Antjie Krog
se Verweerskrif, om ‘n bundel uit te
sonder, bewys hoe lesers dink dat die digkuns bedoel is om oor die “skone” te
handel, die “mooie”...
Daar is ook ‘n verskeidenheid van
vrouestemme in Afrikaans aan die werk, tans.
In Aardling
word verskillende fasette van vrouwees ondersoek. Hierom is die gedig “Falliese
vrou” ‘n sentrale vers in die bundel. Dit betrek Clarissa Pinkola Estés se Women who run with the wolves, ‘n
Jungiaanse studie van 1992, waarin verskillende argetipes van vrou-wees, beskou
word. Hier is dit veral die aardling, die digter wat praat in konkrete terme
oor die lewe in sy sinrykheid en teenstrydighede. By Pinkola Estés is daar die cantadora of storieverteller aanwesig:
hier is die vertellinge oor die jeug, die moeder, grootmoeder, die dood,
seksuele ontwaking en digterskap.
Daar is vier afdelings: In stof;
Deurreis; Tot Stof; Gees wat die Pinkola Estés-dimensie verder ondersteun.
Die gesprek met die moeder – in Kristeva
se terme aktiveer die baarmoederlike digterlike taal – en die erkenning van ‘n
geslag singende vroue, word hier in die gedig gestulp. “Voetbaldans,
Somerset-Wes” beklemtoon eweneens die sterk identifikasie met die vroulike,
soos eweneens in ‘n gesprek met Judith Herzberg. En in “Gedagtig aan Praag”:
In kafees speel viole mazurkas en
tzardas,
gedagtig aan vroue: glansendes,
dansendes,
wat glim soos die koepels van Praag (p.
37).
Daar is deurgaans ‘n spel met die
invloed van die digkuns, soos in “Deurreis” wat gelees kan word as ‘n ars
poetica; so ook “Aragnoïde”, kommentaar op die postmodernistiese netwerke
waarvan geen digter kan ontsnap nie. So moet “Woordende woord” saamgelees word
met Van Wyk Louw en Johann de Lange, se “Wordende naak”, waarvan eersgenoemde
twee sterker staan, veral met die fletse slot (opdrifsels).
Woordgevoeligheid en –spel lei dan ook
tot ‘n twakkerige slot soos:
Die insig en die sin begin
waar ons sin
onsin word (“Brief aan die Korinthiërs”, p. 69).
Of in “Wisseling” word die
voor-die-hand-liggende spel met lig en skaduwee uitgewerk, sonder ‘n
verrassende nuwe insig vir die leser. In “Voor-lente” lees die psigoanalitiese
leser ‘n onbedoelde glip van die tong tussen “ongepoets” en “draadprieel”,
veral omdat die gedig tot (oor)barstens toe gevul is met implikasie. En wat is
die punt van “Moderne Psalm”? Vergelyk dit met Totius of T.T. Cloete en die
leser wag op die dénouement.
In “Misa Tango” lees ons:
Deur die dans, my God,
hoor U die voetval van die aarde.
As ons u ritmies nader,
kom deur die klop
‘n skare in beroering.
In so ‘n mis se drif
gryp ons U polse was, wieg
tot U gedagtenis. (p. 59)
Hierdie soort dansmusieke bly by die
eerste impuls en word nie iets meer nie.
Wanneer daar vanuit die konkrete beweeg
word, is die verse sterk, oortuigend. Die metafisiese verse is egter nie
intellektueel oortuigend nie; dit kom dikwels nie verby die betogende of
prekerige nie. Die ingeligte leser is in iedere geval dikwels bekend met die
groter prentjie.
Vir ‘n tweede bundel is daar waarskynlik
ook te veel lopers en verse waarin die digter selfingenome is met ‘n taalspel
en nie die gedig vir sigself laat praat nie, maar ‘n handvol gedigte is
ontroerend en goed. Veral jeugseksualiteit – waar onthou en ervaring één word –
en die speelse “Teksture van hier”, staan beslis uit.
As tweede bundel breek dit nog nie
heeltemal die glasplafon nie. Tog is daar waardering vir die ongeskonde
jeugstem. Die digter is met haar debuut met die Ingrid Jonker-prys bekroon in
‘n tyd toe die poësie-oes uiters skraal was.
En die voorblad is beslis nie Protea
Boekehuis se beste nie. Ek hou meer van die Hollandse voorkoms as die
“sewenties”-aanslag.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Volksblad geplaas.]