Monday, October 14, 2019

Onderhoud | Gesprek met Hendrik J Botha (2019)

1) Verduidelik jou titel.

Soos met my eerste bundel het die titel hom redelik laat aangemeld. Ek het met ‘n werkstitel, Seisoenaal, gewerk, waaroor daar in ‘n keurverslag bedenkinge was. Synde dat die bundel wat my aanbetref nie werklik oor die natuurlike seisoene gaan nie, maar ek eerder iets anders daarmee probeer kommunikeer, het ek na alternatiewe titels begin kyk. Die voorblad het ook laat beslag gekry, eintlik min of meer dieselfde tyd as die titel. Ek het my vrou gevra of ek een van haar kunswerke kan gebruik, (sy is ‘n skilder), maar ek kon niks kry wat werklik tot my wou spreek nie. Ek het haar toe gevra om die manuskrip te lees en iets te maak wat sy dink daarmee kommunikeer. Die voorblad was dus inderwaarheid dan ‘n opdragwerk. In dieselfde tyd het ‘n slotreël van een van die gedigte, “hoe die winter soms bloot voorspraak vir die lente maak” in my kop begin draai, en dit het saam met die voorblad vir my eintlik presies saamgevat wat die bundel myns insiens wou kommunikeer: voorspraak versus uitspraak, vooruitskouing versus nabetragting, lewe versus dood, voorspoed versus teenspoed, sukses versus mislukking.

Die tweeheid, miskien eerder ‘n soort “eenheid van teenstellings”, soos Herakleitos dit genoem het, en hoe onlosmaaklik hierdie teenpole reg deur ons lewe aan mekaar verbind is, en dikwels eintlik interafhanklik van mekaar is. (In welke verband die opdraggedig, "Apoptose", natuurlik ook die sleutel verskaf.)

En dan die “voorspraak”. Daar word vir almal van ons iewers in ons lewens voorspraak gemaak: deur ouers, onderwysers, vriende, wie ook al.

En iewers maak ons op ons beurt weer voorspraak vir iemand: vir kinders, geliefdes, vriende. En die “voorspraakmaker” staan dikwels nie voorop nie, maar eerder bietjie terug, amper in die skadu. (Die titelgedig, “Voorspraak” staan dan ook “non-prominent” redelik laat in die bundel.) Dis die vangnet wat ons almal iewers ondervang in die lewe, selfs dikwels sonder dat ons daaraan dink. Dan natuurlik as jy uit ‘n gelowige perspektief daarna kyk, die fundamentele Voorspraak wat daar vir ons almal gemaak is deur Jesus.

2) Jy is deel van ‘n lang galery digters wat ook dokters is. Hoe beïnvloed die mediese wêreld jou gedigte? Veral jou werk as narkotiseur waar jy dikwels met lewe en dood gekonfronteer word.

Vir my is dit ‘n logiese uitvloeisel om oor my werk (ook), te skryf. Ek “leef” poësie raak, en skryf dit dan neer. Ek spandeer tussen tien en twaalf uur, (soms langer), in my werksplek. (Ek werk deesdae minder!) Dit is logies dus ‘n ruimte vir my waar ek poësie moet “raakleef”.
Wat die dood aanbetref… “Die dood was nog altyd met ons gewees”…(dit was Len Louw se woorde).

Soos ek reeds genoem het in die eerste vraag, is die lewe en die dood onlosmaaklik aan mekaar verbind. Die enigste gegewe wat vir ons gewaarborg is by geboorte, is dat ons iewers gaan sterf, dis al wat vas staan, die res is blote spekulasie!

Soms is die dood ook noodsaaklik vir oorlewing: dis wat apoptose uiteraard beteken, “geprogrammeerde seldood”, in wese dan ook “geprogrammeerde sel(f)dood”.

My antwoord op die vraag dus: Ja, ek word dikwels met die dood gekonfronteer, ewe dikwels met die lewe, en die onderskeid tussen die twee is dikwels vaag.

En ja, dit beinvloed my gedigte. Dit doen.

3) Charles Bukowski begelei jou herinneringe aan ‘n kindertyd. Waarom juis hierdie digter?

Bukowski is ‘n digter wat ek baie lank reeds graag lees, en waarheen ek dikwels ook terugkeer. (Soms terugvlug)! Hy kommunikeer vir my ‘n melankolie wat resoneer met my. Hy was in baie opsigte ook ‘n randfiguur, die verteenwoordiger van die “underdog”, wat my aanspreek.

Dít alles praat met my, nog altyd. Maar dis veral die melankolie, dink ek.

4. Jy skryf ‘n unieke landskapsgedig waar die binne-landskap iets verklap van die buite-landskap; en andersom. Soos in “Onbewus”. Kommentaar.

Soos ek vroeër genoem het, gaan my seisoensgedigte nie werklik oor seisoene nie, net so my landskapsgedigte nie werklik oor “plekke” nie, maar oor verskillende ruimtes met hul diversiteit en tweeledigheid, (soos natuurlik ook die binne-landskap en buite-landskap tereg deur jou opgemerk). En dan natuurlik ook die fundamentele eensaamheid en die melankolie, so onlosmaaklik deel van ons. Ons beweeg siklies deur die lewe, soos seisoene: alles wat opgaan moet afkom, wat gebore word moet sterf, wat vandag sukses meebring, baar môre mislukking, en alles is onlosmaaklik verbind aanmekaar. Ook ons binne-landskap en buite-landskap?

5. Waarom praat Namibië so sterk met jou.

Ek het Namibië met die oorlog destyds die eerste keer leer ken, en ‘n lewenslange liefde vir, nee, eintlik ‘n obsessie met die land ontwikkel.

Ek keer telkens terug daarheen, veral die droër noordwestelike gedeelte, die Kaokoland. Ek voel my meer tuis in woestyne of semi-woestyne soos die Kaokoland of die Namib. ‘n Woestyn voel vir my of daar niks weggesteek is nie, of dit wat jy sien dit is wat jy kry. Amper of die landskap meer “eerlik” is. Dit spreek tot my. (Dis egter nie heeltemal waar nie, want woestyne se geheime is net meer subtiel en lê dikwels onder die sand.) Ek val egter minstens vir die illusie, telkens weer. 

Ek reis dikwels in Namibië. Op ‘n stadium in my lewe was die enigste vankansie wat ek ooit geneem het, ‘n jaarlikse pelgrimstog deur die Kaokoland, dikwels ook alleen, (wat nie ‘n goeie idee was nie; enige iemand wat die Kaokoland ken, sal vir jou sê jy moet nóóit alleen daar reis nie), maar ek het.

Ek skryf ook makliker oor “dorre streke”. Ek neem aan dit gaan maar oor mens se persoonlikheid: “dor en droog” vs “geil en vrugbaar”?

6. Die impak van die weermag en die grensoorlog het jou ook as mens (en as digter) gevorm. Kommentaar.

Meeste Suid Afrikaanse mans van my/ons generasie het die oorlog (minstens kollektief) in ons geheue. Party is meer direk daardeur beïnvloed as ander.

Vir my was dit ‘n tyd wat ek as’t ware my “onskuld verloor” het, ‘n tyd van ontnugtering, ‘n tyd van gewaarwording dat daar meer as een kant van ‘n saak is, dat alles waarmee ons grootgeword het, dit wat ons met moedersmelk ingeneem het, nie noodwendig die volle waarheid was nie. “Nothing is what it seems” is ‘n gedig in my eerste bundel daaroor. Bob Dylan se liedjie “With God on our side” (uit sy album The times they are a changing), gee ook ‘n ironiese blik hierop.

Die oorlog was egter ook goed vir my; dit het vir my ‘n lewenslange verbintenis met Namibië bewerkstellig, en dít het ‘n enorme invloed op my as mens, en veral op my as digter gehad.
Om op te som: die oorlog was sleg, en die oorlog was goed, en die goeie en die slegte is eintlik onlosmaaklik verweef… amper soos die lewe en die dood.

7. "My eie spieëlbeeld versplinter in die water".
Is gedigte ooit spieëls? Of is dit spirituele medisyne soos Darwish opmerk?

Versplintering vs. volmaaktheid of heelheid.

Teenpole, onlosmaaklik verbind.(Ek klink nou soos ‘n grammafoon)!

Ons beweeg siklies deur die lewe, in alle opsigte: wat opgaan moet afkom, wat bloei moet taan, wat lewe moet sterf.

Hoe ouer ek word hoe meer bewus raak ek van my eie imperfeksies, die krake in my mondering, my eie sterflikheid, “my eie spieëlbeeld versplinter in die water”. Maar ek leer ook vrede maak daarmee. Leonard Cohen sê: “there’s a crack in everything, that’s how the light gets in”…

Gedigte kan ook spieëls wees, (nie noodwendig altyd nie), ook nie net gedigte wat ons self skryf nie, ook gedigte wat ons lees. Soms help ‘n gedig my om iewers uit te kom, om iets ánders te sien of te beskou. Soms ook om iets van myself met “ander oë” te sien.

Is gedigte spirituele medisyne? 

Die skrywer Robertson Davies het eenmaal ‘n lesing aan ‘n klomp dokters gegee onder andere oor die gebreke in die opleiding van dokters. Hy het dit verduidelik aan die hand van die Caudaceus. Die Caudaceus is die simbool van medisyne in die Amerikaanse tradisie, (en in meeste militêre instansies se mediese korps).

Ons in Suid Afrika val natuurlik in by die Europese tradisie, waar Asclepios se staf met die enkele rotslang om gespiraal gebruik word as teken.

Hoe dit ookal sy, die Caudaceus bestaan uit die Griekse god Hermes se staf met twee slange wat daarom krul. In die mitologie lui die verhaal dat Hermes in die veld geloop het en op twee vegtende slange afgekom het. Om die geveg te probeer besweer het hy sy staf tussen hulle ingegooi. Die slange het egter om die staf gekrul en aanhou veg. Die staf hou dus sedertdien die vegtende slange in balans.

Binne ons konteks vandag is Hermes se staf die Geneeskunde, en die twee slange in konflik, die slang van Kennis en die slang van Wysheid.

Kennis verteenwoordig die medies wetenskaplike domein, en Wysheid die menslike empatiese verhouding wat daar tussen dokter en pasiënt gevestig behoort te word, en wat vir genesing net so kardinaal noodsaaklik is as Kennis.

Dis die emosionele skakel wat “slagoffer en heler” met mekaar verbind. Poësie bied by uitstek  die grondslag vir empatie.

Tydens opleiding van dokters is daar, (veral in my tyd), suiwer gefokus op die wetenskap, dus die slang van Kennis, en is die empatiese aspek van Wysheid bykans buite rekening gelaat. Volgens ‘n studie deur J.Kenneth Arneth begin mediese student hul opleiding met “empathy deficits”, en vererger die tydens hulle opleiding. 

Poësie kan dokters dus help om beter “helers” te word. Poësie omvat baie van die ideale wat dokters nastreef, dit wat Cesar Pavese noem “an absolute will to see clearly”, of miskien wat Czeslaw Milosz noem “the passionate persuit of the real”.

Ek dink dit beantwoord jou vraag of gedigte spirituele medisyne is.

8. Tom Waits en Leonard Cohen praat ook saam. Waarom die twee sinici? Ek dink hier aan die slot van “Vasbeslote”.

Ek dink ons moet oppas om Cohen en Waits te tipeer as sinici, hulle is soveel méér as dit. Eintlik dink ek hulle beide se sinisme is amper ‘n toevallige bevinding. (As dit moontlik is dat sinisme toevallig kan wees)!

Ek het grootgeword met Cohen. Hy was ‘n gerekende digter lank voor sy eerste album uitgereik is. Hy dra ‘n diepe melankolie sy lewe lank met hom saam,  en ‘n amper naïewe goedgelowigheid in mense, ‘n nederigheid en aweregse selfspot, en ‘n nimmereindigende soeke na “iets” om aan vas te hou “Since I’ve last been here, I studied deeply into the religions and philosophy, but the cheerfulness kept breaking through”… Dis die Cohen wat ek leer ken en leer aanhang het. Maar dis veral die digter…

Waits is iets anders. Hy dra iets van Bukowski in hom. Hy is aweregs, ‘n randfiguur, verteenwoordiger van die “underdog”. Hy sou groot korporatiewe instansies (soos Audi en Dorito’s) hof toe sleep vir skending van kunstenaars se kopiereg, (terwyl almal sou waarsku dat jy nie ‘n hofsaak teen sulke groot maatskappye kan wen nie). Hy sou telkens die saak wen en dan die geld aan liefdadigheid skenk. Hy sou weier dat Amerikaanse radiostasies sy musiek uitsaai, oor ‘n dispuut, (wat absoluut kranksinnig sou klink), maar dan sou hy daarna byna kultus status in Japan en Australië bereik. Die dag toe ek gehoor het dat hy vir drie maande in sy kar gewoon het, daardie dag het ek ‘n lewenslange aanhanger van hom geword.

Waits is ‘n randfiguur…, met ‘n melankoliese aura en ‘n obsessie oor regverdigheid.

Dis hoekom hy saampraat.

9. Die liefde word ‘n ars poëtika. Dink jy ‘n digter dig beter uit afstand en liefdesverdriet as tydens die geluk en ekstase? Of is dit verskillende prosesse? Die onmoontlikheid om beide te verstaan?

Verdriet en ekstase, twee kante van dieselfde munt, onlosmaaklik aan mekaar verbind. Net soos lewe en dood, voorspoed en teëspoed, feestelikheid en rampspoed. Die “eenheid van teenstellings”. Dis die kernboodskap wat die bundel probeer bring.

Dis altyd gevaarlik (vir my altans), om vanuit ‘n posisie van “rou emosie” te dig, hetsy dit oor liefde, verlies, woede, of watter ander emosie ook al is; hetsy dit uit verdriet of ekstase is. Ek dink, wag eers tot die stof gaan lê.

Oor liefde spesifiek dink ek dis makliker om meer gedistansieerd daaroor te kan dig hoe ouer ek word. Toe ek jonger was kon ek glad nie liefdesgedigte skryf nie, altans nie wat jy in die openbaar kon wys nie!

10. Jy skryf ook lykdigte – o.a. oor ‘n vermoorde jongmens soos in “Rooikappie revisited”. Watter invloed het die politiek en geweld in hierdie land op jou siening van skryf?

Ek dink die politiek en geweld beïnvloed ons almal, direk of indirek, wat in hierdie land woon. Ook ons denkpatrone en ons onbewuste, (wat natuurlik die reservoir is waaruit ons dig).

Ek skryf nie graag politieke gedigte nie, wel oor sosiale en etiese kwessies, en oor onreg. Selfs groot digters (soos Neruda), het mindere politieke gedigte geskryf, daarom probeer ek my weerhou daarvan. 

Ontluik

Laataand lê ons langs mekaar.
In die nanag raak dit koeler,
trek iemand, ek of jy,

’n duvet oor ons,
lê jy soos ’n papie opgekrul,

’n vlinder gereed
om te ontluik,

jou vlerke oop te sprei,
my silhoeët te eien,

dan amper terloops
my aan te raak.

Hendrik J Botha (Uit: Voorspraak, Naledi: 2019)


Resensie | Bun Booyens (samest.) – Fred Mouton: 50 jaar met Fred (2019)

Bun Booyens (samest.) – Fred Mouton: 50 jaar met Fred. Jonathan Ball, 2019. ISBN: 978 1 86842 972 1

Resensent: Joan Hambidge

Noem die naam Fred Mouton en almal glimlag. Vir al meer as vyf dekades is hy die spotprenttekenaar van Die Burger met meer as 10 000 spotprente op sy kerfstok.

Sopas het Bun Booyens, voormalige redakteur van Die Burger, ‘n gawe versameling uit Fred Mouton se werk geoes.

‘n Goeie spotprent gee die essensie weer van ‘n situasie of vergroot ‘n persoon se hebbelikhede. ‘n Stylgreep word, nou ja, ‘n wurg-gréép. ‘n Goeie spotprenttekenaar is waarskynlik soos ‘n digter wat met ‘n eerste lees ‘n boodskap oordra en met ‘n tweede kyk, iets meer verklap. Daar is ‘n paar klassiekes wat ‘n mens altyd sal bybly: die grappies met Deon Meyer (Bennie Griesel) se sukses. Of die gekorswel met openbare figure wat hulself aanstel. Oor rugby veral en die potsierlikhede róndom die spel, het Fred Mouton sy stuiwer in die armbeurs gegooi.

Fred is nie bitsig nie. Hy is meestal speels. Vergelyk sy werk met die grensoorskrydende tekste van Charlie Hebdo of Zapiro se satires waar daar altyd ‘n edge is. Irony’s edge (1994) is immers Linda Hutcheon se belangrike studie oor hoe ironie werk en dat dit gevaarlik kan wees as die leser of kyker jou verkeerd verstaan. Kortom, in ons gekwelde wêreld hét sekere kwessies taboe-onderwerpe geword.

Anton Kannemeyer en Conrad Botes se Bittercomix kry deesdae die wind van voor. Die agtergrond ("back drop") van die samelewing het verander en reaksies van studente op hul werk aan die UK lei tot polemiek. Moet hul werk “verwyder” word uit galerye en sillabusse omdat dit aanstoot gee? Of moet dit eerder behou word, omdat dit ‘n bepaalde tydvak se mores registreer?

Hutcheon se studie se onderskrif lui veelseggend: The theory and politics of irony. Ja, daar is teorie en politiek in die spel. Dis meer as antifrase of ‘skuus, ek bedoel die teenoorgestelde van wat jy uiter. Nee, dis eerder ‘n kombinasie van die gesegde en subtekste wat nuwe lêplekke kry in ‘n teks (hier: spotprent) kry.

Fred is ‘n goedige spottekenaar as hy van jou hou. Sy lanset word skerper wanneer dit by Zuma en kie kom.

Sy tekste het ‘n skets met kommentaar deur klein diertjies (muisies) onderaan wat die konteks help skep. 
Sy humor word tereg as kurkdroog beskou.

Op 27 Julie 1998 is daar ‘n strip van die St Jamesslagting waar die koeëlmerke in die kanselkleed (Vrede op Aarde) die irony’s egde van Hutcheon illustreer. Die skerpskutter word afgebeeld met die kruis links in die skets. Hier is hy egter wrang in sy kommentaar. Dieselfde geld die tekening van Diana.

Sy skets oor Bill Clinton en Monica Lewinsky is puik. Die ballon (met Clinton se gesig daarop) verloor lug wanneer dit Monica se hand verlaat en die kommentaar onderaan is: “As dit by vrouens kom, was Bill maar nog altyd windmakerig.” ‘n Broeklose Bill systap sy kritici (voorgestel as haaie) en op ‘n ander een hys hy ‘n vlag met vroueklere …

Bun Booyens wys daarop dat Fred Mouton se sketse met datums begelei word. Sy twee voorgangers, D.C. Boonzaier (1915 – 1940) en T.O. Honniball (1941 – 1974) het nie.

Die vergrype en versuime van Zuma, soos Booyens dit klinkend stel, het van Zuma die groot treffer gemaak vir sowel Fred as Zapiro.

Hoe teken Fred omstanders? Hy vertel dat hy eers sulke ovalerige vorms trek. Dan sit hy oë in en ‘n neus. Soms vet wange; ander kere benerige wange. En ja dis skynbaar moeilik om mooi mense te teken! 

Booyens het gelyk wanneer hy hom tipeer as ‘n voortreflike portretkunstenaar wanneer hy die Sestigers in 1973 skets.

Die boek karteer sy ontwikkeling van sy werk onder mentor T.O. Honniball tot die vestiging van sy eie styl.

Ons word herinner aan vele blapse en blopse in die geskiedenis. Soms snaaks. Soms pynlik.

Dit moet saamgelees word met Charlie Brown & Charlie Schulz, die studie oor Charles M. Schulz deur Lee Mendelsohn wat in 1970 verskyn het. Snoopy is o.a. in 1968 vereer as die humoristiese simbool vir uitstaande werk by NASA. 

Booyens se studie is ‘n wonderlike boek het ‘n uitgebreide bronnelys vir verdere lees- speurwerk.


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)

Thursday, October 10, 2019

Resensie | Thomas Deacon – Duifiedorings (2019)

Thomas Deacon – Duifiedorings. Minimal Press, 2019. ISBN 9780639808868

Resensent: Joan Hambidge

Volkspoësie het my nog altyd bekoor. Van Wyk Louw se “Klipwerk”, die verse van Boerneef, Charles Fryer en natuurlik Ronnie Belcher. En meer onlangs Pieter Fourie se drietal bundels waaronder Knapsekêrel verken die volkse.

Verder terug in die tyd het Thomas Deacon reeds hierdie soort gedig geskryf in sy debuut Sand uit die son (Tafelberg, 1989). Sy jongste bundel Duifiedorings is ’n voortsetting van sy unieke stem. Gesprekke met Louw is daar en met George Weideman aan wie hy ’n lykdig opdra. Daar is ook ’n durende gesprek met Donald W. Riekert.

Duifiedoring, Duwweltjie, Volstruisdubbeltjie, Driedoringdubbeltjie… alles name wat by my opkom.

Deacon se bundel is aards, onpretensieus met die mens wat uitgelewer is aan die genadelose natuur.

Die Noord-Kaap is die ruimte waarbinne die gedigte geplaas word: Pella, Boesmanland, die Kalahari, die Groot Gariep. Veral George Weideman het sy staning onder die sterre uitmuntend beskryf, en Donald W. Riekert het die harde, genadelose landskap ontgin in swarthake.

In die stil donkerte
van die veld roep
die kiewietjie beangs, en
God se volle maan
gaan oop
soos baie blomme

*

Die heuning drup
uit die bros geel koek
ek proe die soet in
sy sorg as hy vaderlik
met sy kort duim
die swarthaakheuning
bros kraak en in elke
porsie ag jong bye afmeet

Uit: Heuning uit die Swarthaak (1986).

Die bundel bevat die volgende afdelings: duifiedorings, spatsels, vuurklip, agtertongetjies en klitsies.

Die primordiale aspek van die digkuns kom na vore soos in “Klipwerk”. Die klip is gewoon nie net ’n klip nie, maar word ook vuurklip.

In “agtertongetjies” word die gewone mens aan die woord gestel – soos “oujan hakkelman” of “piet platvoet”.

Daar is ’n pragtige lykdig oor George Weideman opgeneem waar Deacon inspeel op sy oeuvre:

george henry weideman
(2 julie 1947 – 28 augustus 2008)

waar die son kliplangs oor oulandswêreld spring
het george henry weideman
van katstert en kanniedood
van kinkelbos en klipkersie gesing
tussen springbok en pofadder
tot by aggeneys, by onseepkans
en kenhardt verby
hoor ek sy woorde rietjiesfluit
van botterblom en bossiesgras
van bokbaaivyg en bloumelkbos
tot bitterbos
maar looplê se tyd
toe klapperbos en kankerbos
hul nagkarossies nadertrek
het george henry weideman
’n staning onder duisend sterre 
oopgetrap 

(27)

die lewe is ’n kaalvoetspoor

die lewe is ’n kaalvoetspoor
een duin áf die anner duin óór
hoor jy’ie wind op sy doedelsak speel
weg issie spoor, net’ie sand bly oor

(60)

aan die einde

aan die einde is ons maar net
verwaaide as
of ’n ingekerkerde geraamte in ’n gladgeskaafde
goedkoop hout
kanselwoorde druip heuningsoet
uitgestrekte leraarshande stuur ons weg
en groet

(38)

Maar daar is ook guitige en speelse verse. Die klankontginning is opvallend (namakkersland) en voëls wat die dag oopkwetter (43).

In “bekfluit, kos’tina en kitaar” word die lyflike ontgin:

bekfluit, kos’tina en kitaar
uitgespaar virrie nuwe jaar
kolroknooi mettie wipgatstêre
vanaand gaat sy onse manne têre

(56)

In die aangrypende “digters gaan ook maar dood” (28) word die verganklikheid van die digkuns beskryf. Uiteindelik word die gedigte tussen skulp en bamboes deur die wind gelees …

Die verse is eenvoudig is aanbod, maar dit is oëverblindery. Die klankpatrone en die toespelings op veral Boerneef se fluitjiesriet lewer bewys van ’n digter wat sy vak ken. Die môres rol soos “goudgeel soetlemoene oor die rante” praat weer met Rosa Nepgen se skitterende vertalings van Eugenio Montale se Die geel van suurlemoene skyn (Tafelberg, 1979). Die Bybel is eweneens hier aanwesig.

Hierdie digter uit Upington se wêreld dig oor die Noordweste en Boesmanland in sy debuut en ontgin die gegewe verder in sy jongste bundel.

Uit die leegheid en dorheid skep hy juis gedigte soos

My woestyn

In my woestyn 
lê elke môre
manna
op die sand
my woestyn
is elke dag
’n uitgestrekte
hand

(1989: 45)

Dit is ’n bundel met aangrypende verse wat ek letterlik in een sitting gelees het.

lente lig sy hoed
groet namakwaland se werf
gousblom in die hand

(88)

En ek lig my hoed!

*

Ander tekste is:

Sand uit die Son (poësie), Tafelberg, 1989.
Die predikasies van Jacob Oerson (poësie), Tafelberg, 1993.
Rooigrond (roman), Tafelberg, 1995.
Anderkant die Troe-troe (kortverhale), Human & Rousseau, 1999.
Deuskant die Groot Gariep (kortverhale), Lapa Uitgewers, 2009.
Maagmeisie (poësie), Protea Boekhuis, 2003.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

Polemies | Gendersake

Nou onlangs open ek ’n kunsuitstalling. By haar aankoms maak ’n vrou ’n ontoepaslike genderopmerking. Ek wys haar daarop dat ek oor ’n paar minute ’n lesing moet gee, maar sy kyk my net met ’n papmond aan.

In ons rasbewuste samelewing word genderkwessies dikwels na agter gestuur. Ons oorreageer op enige rasonregverdigheid (tereg), maar gendersake word nou bykans ’n vergete kwessie. Behalwe vir die #metoo-aanslag waar nuanses dikwels verlore raak.

Met gendersake bedoel ek gay-regte. En diegene wat buite die heteronormatiewe orde bestaan en hul brood moet verdien of krummels van die tafel opvee.

Een aand laat in ’n restaurant draai ’n vrou by die toonbank om en vra: “So what do you think, you dyke?”

Moet sy vergewe word dat sy gekletter was en dat dit ’n Sondagaand was?

Of was dit net ’n grap?

’n Paar weke terug sit ek en twee vriendinne en kuier – eweneens ’n woman-identified woman – en die kelner kom na ons en vra of ons ’n aansteker het. Want ja, die twee mense aan die oorkant het gevra of ons dykes dalk kan help. Waarop ons toe laat weet: ja, die dykes kan help.

Ek laat weet guitig: met ’n vinger bo die dyk.

Wat is ’n aanvaarbare opmerking? Waarom vind iemand dit nodig om ’n gay-persoon aan te tree met ’n opmerking soos Ek-was-altyd-so-bang-vir jou? Wat beteken dit? Dat jy nie meer bang is nie? Dalk beskikbaar is?

Die sidderende aanname is dat gay-mense gesien word asof  ons sou belangstel in elke straight persoon wat verbybeweeg.

Eleanor Roosevelt het by geleentheid opgemerk: No one can make you feel inferior without your consent. Gandhi sou ook gesê het: Nobody can hurt me without my permission.

Natuurlik makliker gesê as gedaan!

Janet Malcolm in Two lives – Gertrude and Alice (Yale University Press, 2007) ondersoek die troebel oorlewing van twee lesbiese Jodinne tydens die Nazi-regime. 

Wat is waar? En hoe het hulle dit reggekry om in Vichy Frankryk skotvry uit te stap?

En hoe het Stein “serious unpleasantness” ervaar?  Dikwels deur te babbel, te maak asof dit niks is nie (81).

Beide vroue moes sowel vooroordele oor hul Joodsheid as genderrolle bestuur.

Ons ken die anekdote van Ernst Hemingway wat in Parys besoek afgelê het aan 27 Rue de Fleurus, onbewus dat Gertrude Stein en Alice Toklas minnaresse was. ’n Rusie tussen die twee het dit aan die geskokte Hemingway openbaar. (Hy was glo ’n bietjie verlief op Gertrude…)

Ek weier om die Roosevelt/Gandhi, of die babbelroete te volg. Ek moes deur die jare ’n geweldige prys betaal vir my openlike genderkonstruksie en vir my skryfwerk (soos in Die Judaskus of Kladboek), en juis hierom verwag ek hoflikheid van mense wat met my in gesprek tree.

Ek probeer immers sjarmant wees al dink ek jou krullebol is Shirley Temple-agtig en jou parfuum ruik na ou skoen. 

Jy behoef ’n renostervoël om die luise af te pluk wat deurgaan as grimering. Ag, ag ek maak net ’n ou grappie.

Heteronormatiwiteit of ’n straight-kondisie gee nie aan jou die reg om ander te verminder of te beledig nie. Al het jy dit oënskynlik nie so bedoel nie.  Maar kom: wat presies het jy dan bedoel?

© Joan Hambidge

Sunday, October 6, 2019

Resensie | WAM Carstens & EH Raidt – Die storie van Afrikaans, Deel 1 & Deel 2 (2017 & 2019) | Christo van Rensburg – Van Afrikaans gepraat (2018)

WAM Carstens & EH Raidt – Die storie van Afrikaans: uit Europa en van Afrika. Biografie van ʼn taal. Protea Boekhuis, 2017 en 2019. ISBN: 9781485300380 (Deel 1); ISBN: 978148530683 (Deel 2)

Christo van Rensburg – Van Afrikaans gepraat. Lapa, 2018. ISBN: 978 0799384765

Resensent: Joan Hambidge

HET ONS DIE KETEL AAN DIE TUIT BEET OOR AFRIKAANS SE HERKOMS EN TOEKOMS?, oftewel, DIS NIE MYNE NIE, DIS NIE JOUNE NIE.

I           
'n Biografie oor 'n bekende persoon word vanuit 'n bepaalde blikhoek geskryf. Wanneer 'n mens 'n biografie oor Afrikaans aanpak, is dit 'n narratief waarin verskillende en dikwels teenstrydige stemme aangehoor word. Of selfs ongevraagde inligting uitgeblaker word.

'n Buitelandse akademikus het eenkeer opgemerk dat hy min tale ken waar mense so hittig en durend polemiseer oor die toekoms van 'n taal nie. (En die geskiedenis van die dubbele nie word ook in hierdie studies ondersoek.)

Wel, Afrikaans, Hebreeus en Maleisies (bahasa Melayu Malaysia) is drie tale wat binne 'n honderd jaar sigself gevestig het as wetenskaptale. Hindi en Faroëes het eweneens flink getransformeer. (In 1937 het lg. taal Deens vervang op eilande in taalonderrig. Die taal geniet amptelike status en weens 'n ryk letterkunde word dit nie bedreig deur die dominansie van Deens nie.) 

Afrikaans het hier te lande letterlik van 'n kombuistaal tot Bybeltaal tot taal-van-die-onderdrukking tot taal van bevryding tot 'n taal wat mag uitsterf of verdwyn, beweeg.

Die geskiedenis van hierdie land is een van dwarsheid en opstand. Dieselfde geld die geskiedenis van Afrikaans wat sowel 'n Europese as 'n Afrika verlede het. Die invloede van Khoi, Arabies, en wat nog, is al deur menige taalkundige uitgewys. En diegene wat dink dis net die literatore wat sterk verskil en polemiseer, is verkeerd. Hier in die bakenboeke van Wannie Carstens en Edith Raidt sien 'n mens eweneens diepgaande verskille en ideologiese onmin oor presies wáár en hoé Afrikaans ontstaan het.

Aan die een kant is daar Hermann Giliomee, 'n kundige historikus, die Gelyke Kans-polemici wat standpunt inneem teen die US se taalbeleid en aan die ander kant akademici soos Hein Willemse van UP wat weer argumenteer dat Afrikaans nie aan wittes of wit sprekers behoort nie. Of die digter Antjie Krog wat daarop wys dat tale wel uitsterf. Of die komitee aan die Universiteit van Pretoria wat Afrikaans as voertaal “weggegee” het sof dit hulle reg was om dit te besluit namens ander, of hulle dit ooit besit het; aldus Dominique Botha, die skrywer van Valsrivier.

Die Universiteit van Pretoria se onderrigtaal is nou amptelik Engels. Die Vrije Universiteit in Amsterdam het Nederlands as 'n akademiese vak afgeskaf. In die globale wêreld is Engels die taal van kommunikasie en die voertaal, ofskoon verskeie instansies moedig terugveg. Princeton Universiteit neem standpunt in en spreek sigself ten gunste van die beskerming van minderheidstale uit en Coenie de Villiers se kragtige produksie van die laaste spreker van N|uu verdien vermelding. Dit heet Ouma Katrina: die dansende taal(S. Shah & M. Brenzinger  se studie oor haar: Ouma Geelmeid ke kx’u ǁxaǁxa Nǀuu het in 2016 verskyn.)

Van Afrikaans gepraat (Christo van Rensburg, Lapa, 2018) vertel die storie van Afrikaans op 'n gemaklike, toeganklike manier asof hy 'n reisiger is. Hoe die Engelse in 1795 die Kaap ingeneem het en die mengelmoes van tale: Khoi, San, die invloed van Maleis-Portugees, Arabies, Nederlands, ensomeer, word behandel

Portugese woorde in onse taal soos bredie, tronk, kraal, tamaai, tjaal, koperkapel, muskiet ...

En Khoi het vreemd opgeklink. Dalene Matthee skryf hieroor in Pieternella van die Kaap: die taal klink soos klippertjies wat diep in 'n kleipot skud, met stukkies voëltaal tussenin (23).

II

Carstens & Raidt se twee studies is belangrike werk wat gelees moet word saam met relevante tekste wat die afgelope tyd verskyn het. Die baken bly immer J.C. Steyn se Tuiste in eie taal. Met die sub-titel: Die behoud en bestaan van Afrikaans (1980).Wyle Christo van Rensburg se boeke oor die verband tussen die Khoekhoegowab-tale en Afrikaans in So kry ons Afrikaans. En Michael le Cordeur (samesteller) se werk Ons kom van vêr. Dit is gesprekke oor bruinwees en Afrikaans. Daar is eweneens die insigryke Afrikaans ná Apartheid (red. VN Webb) wat in 1992 verskyn het. Die baanbrekerswerk van wyle Fritz Ponelis en al die woordeboekmakers is bekend. Die Afrikaans van die Kaapse Moslems deur Achmat Davids (verwerk deur Hein Willemse en Suleman Dangor en vertaal deur Danie C. Botha) verskyn in 2018.

Daar is eweneens rubriekskrywers wat die transformasie van die taal registreer, soos o.a. Gerhard van Huyssteen. Litnet plaas steeds akademiese artikels in Afrikaans in verskillende vakgebiede wat bewys daar is steeds navorsers in Afrikaans, al het Afrikaans as regstaal in ons howe verdwyn.

Die politiek oor Afrikaans, dat Afrikaans nie sal uitsterf nie omdat dit gepraat en gesing word, is egter 'n uiters naïewe en oningeligte standpunt. 'n Taal se hoër funksies moet beskerm en verdedig word. Die keiharde feite is egter dat die globalisering en anglisering van die wêreld sake dramaties verander het.

Die stroom van publikasies in Afrikaans gedy nog op die ou bestel en die sisteme van bevoorregting wat die posisie van Standaard-Afrikaans en die voorskryfmark gevestig het.

III
In Deel 1 is die fokus op die Europese verlede, terwyl Deel 2 fokus op die Afrika-geskiedenis.

Afrikaans het op drie kontinente ontwikkel: in Europa met Nederlands as basisvorm vir Afrikaans; in Afrika waar die 17e-eeuse Hollandse dialek onder die invloed van verskillende invloede, Afrikaans geword het; en in Asië met die invloed van die taal van slawe.

Afrikaans wat volgens sekere geleerdes ‘n semi-Kreoolse taal. Die invloed van nie-geskoolde Nederlands op Afrikaans word in Deel I onder die loep geneem.

Edith Raidt merk op dat Afrikaans die jongste en enigste Germaanse taal is wat in Afrika ontstaan het. Die taalkundige Ana Deumert, aan die Universiteit van Kaapstad, beweer dat Afrikaans veel langer geneem het om te ontwikkel as wat die meeste glo. Vir haar het die ontwikkeling van Afrikaans ongeveer 250 jaar lank geduur (439).

Vir die verskillende sieninge oor die ontstaan van Afrikaans en die polemieke hieroor word die leser van ‘n handige tabel voorsien (428 – 430). Dit word alles begrond met die siening dat die taalhistorikus met werklike, konkrete navorsing moet werk om ontwikkeling te kan bewys (427).  Die kreoliseringsdebat is in die sestigerjare weer gestimuleer deur die sosiolinguistiek waarvolgens die verhouding van ‘n taal en sy gemeenskap ondersoek word (431). Dit bewys, m.i. tog dat teoretiese ontwikkelinge ‘n nuwe lig kan werp op navorsing. 

In die afdeling oor Nederlands word daar beweer dat Nederlanders ‘n sterk taaltrots het. Mense verkies om tegnologies in hul taal bedien te word. Nederlands het ‘n sterk kultuur van vertaling en wanneer ‘n belangrike teks elders verskyn, is die Nederlandse vertaling dadelik beskikbaar. Die dagboek van Anne Frank is die mees vertaalde Nederlandse boek en Harry Mulisch is in meer as 30 tale vertaal. Die Vlaming Hugo Claus is op sy beurt in sowat 20 tale vertaal.

Hoe gaan die invloed van “allochtone” (vreemdetaalsprekers) Nederlands raak? In Nederland, soos hier, is daar ook opvattings oor die taal soos dat Nederlands verengels; dat Nederlands bedreig word deur Europese eenwording en globalisering; dat Standaard-Nederlands kan “verdwyn”. Van Sterkenburg spreek hierdie vrese aan, wat sterk resoneer met vrese hier te lande (400 – 401).

Die boikot teen Suid-Afrika en Afrikaans word ook aangespreek en diegene met ‘n goeie geheue sal onthou dat hierdie leser indertyd van mening was dat die Nederlanders ons versaak het. In daardie tyd, 1992 – en dit het wye reaksie ontlok – was my gevoel dat ons selfstandig ontwikkel het en ‘n aparte taal en kultuur gevestig het. (Dit was lank voor die dekoloniseringsdebatte hier te lande.)

Dit was ‘n akademiese, politieke en kulturele boikot en in 1984 is daar selfs Afrikaanse boeke uit die biblioteek van die Suid-Afrikaanse Instituut (SAI) in ‘n grag gesmyt (404). “De overval” het groot skade aangerig en onvervangbare 18e- en 19e-eeuse werke het in die slag gebly.

Dit is egter so dat Nederlands – soos met enige boikot – sigself ook skade berokken het, omdat Nederlands stadig maar seker uit skoolleerplanne verdwyn het. As jong student aan die Universiteit van Stellenbosch moes ons Nederlandse grammatika bestudeer en was ons blootgestel aan belangrike Nederlandse tekste, gedoseer deur mense, soos wyle W.E.G. Louw, wat die taal perfek kon skryf en praat. Boonop het ons die jongste uitvoerprodukte van transgressiewe tekste uit Amsterdam eerstehands ervaar. 
Die venster op Europa (vir ons) en die venster op Afrika (vir hulle) is dus toegeklap. Dis eers die afgelope twee dekades wat die herstel van bande weer plaasvind en die siening van Afrikaans as “fluistertaal” of “skaamtaal”, opgehef word. Nederlands is vir jong studente vandag moeilik, omdat hulle nie van jongs af aan die taal blootgestel is nie.

Straattaal (‘n vermenging van Engels, Arabies, Turks, Sranan Tongo, ‘n taal wat gepraat word in Suriname, asook Papiamento (die taal van Curacao, Aruba en Bonaire) word egter in die algemeen deur Nederlanders afgekeur, aldus die studie in Deel I (377).

Die hoofstuk oor die ontstaan van Afrikaans – en die rol van taalverandering is eweneens boeiend.
Ons vind onder andere Hans du Plessis se opmerking dat in 1652 het die Nederlanders en Khoi ‘n gemors van Nederlands gemaak en daardie gemors se naam is Afrikaans (425).

Taalbeïnvloeding, taalkontak, taalversteuring en taalvermenging, is uiters insigryk. Soos Du Plessis se opmerking – in navolging van Trudgill – dat Afrikaans ‘n kreolied is, maar nooit ‘n pidgin was nie (434).

Die invloed van Khoi op Afrikaans (danksy die studies van die groot navorser J. du P. Scholtz) word gesien veral in geografiese benamings en by plant- en diername voor, soos: Goudini, Hantam, Kamdebo, Karoo, Koup. Plantname: Boegoe, dagga, kanna, kambro, ganna, ghaap, noem-noem, norretjie, ens. Diername: Koedoe, kwagga, ghnoe, gogga, oorbietjie, noemetjie. Ander: Abba, aitsa, arrie, eina, hoeka, kamma/kamtig, karos, kierie.

Afrikaans is in Mei 1925 erken as amptelike taal. In 1933 verskyn die volledig vertaalde Bybel in Afrikaans en in 1937 die eerste Afrikaanse gesangbundel. ‘n Lang pad van die GRA (1875) tot Afrikaans as amptelike taal. Besonder relevant is die werk van ons ouer Afrikaanse digters (soos Marais, Totius en Leipoldt) wat steeds bakens binne die Afrikaanse digkuns bly. 

Hierdie skrywer (en leser) verkies die ou Bybelvertaling bó die on-poëtiese moderne vertaling. Gee my die dankpsalms in daardie oue, gewyde taal en soos 'n hert in dorre streke.

IV

Toe 'n voormalige dekaan my onlangs vra oor hoe die Afrikaanse departement deelneem aan “dekolonisering” was my antwoord: ons doen dit al vir 300 jaar lank. Ons het 'n eie taal, 'n letterkunde en ons doseer nie net Standaard-Afrikaanse tekste nie, maar ook Karibiese letterkunde. En Nederlands het ons weer teruggebring vir jong studente aan die UK. 'n Besoek van Adriaan van Dis is deur die studente geniet.

In Deel 2 word die geskiedenis van ons land onder die loep geneem. Uiteraard is die historiese aspek van enige land of kultuurgroep problematies en die verskillende standpunte oor Afrikaans aktiveer verskillende sieninge oor Afrikaans as 'n taal van uitsluiting versus 'n meer inklusiewe benadering en 'n uitwys van historiese vergissinge. O.a. Christo van Rensburg wat vra was die Kaap regtig Hollands? En hoe verander die sosiale veranderinge tans ons siening oor waar Afrikaans werklik begin het? Die invloed van apartheid op Afrikaans (en die persepsies tans) het die siening oor Afrikaans uiteraard beïnvloed. Die geskiedenis bewys egter dat Afrikaans nie net 'n “wit” taal of 'n taal van die onderdrukker is nie. Waarskynlik is die grootste probleem dat die meeste mense wat deelneem aan die debat bittermin gelees het oor Afrikaans en haar ontstaansgeskiedenis.

Die tabelle oor die afskaling van Afrikaans aan universiteite is tersaaklik vir die debat (774 - 776). Die kwessie van meertaligheid word bespreek en veral die politieke verskille oor taal aan die Universiteit van Stellenbosch word 'n soort toetssaak. Met 'n verwysing na Anton van Niekerk, 'n professor in Filosofie, se opmerking dat jong studente nie iets vir Afrikaans voel nie (779). Enige taaldosent sal hierdie stelling (ongelukkig moet) onderskryf: studente voel nie emosioneel oor “ons” taalverlede nie. Ander mag weer voel dat Afrikaans se uitsluiting (of onsigbaarheid in klaskamers) 'n keuse vir Engels beteken. En dat meertalige woordjies in 'n klas blote versiersuiker is. (Hiersie skrywer is wel ten gunste van meertaligheid. Hoe dit prakties in klasse toegepas kan word met 'n kurrikulum wat veeleisend is, blyk onseker te wees.)

Feit bly staan: universiteite in Suid-Afrika moet gehoor gee aan die feit dat ons in Afrika is en ook mense uit ander lande wat nie-Afrikaanse sprekers is, moet akkommodeer sonder die verlies van inheemse tale. Hierom het Engels die toevlugtaal geword (om 'n term van Van Rensburg te gebruik).

In hierdie studie word  aan bekende persoonlikhede buite die Afrikaner-binnekring ook erkenning gegee (920). Jakes Gerwel se invloed op Mandela is bekend. Hy het Afrikaanse tekste deurgegee en Gerwel se werk oor Karel Schoeman is steeds tersaaklik.

Die bekende stelling dat die geskiedenis uit die hoek van die oorwinnaar geskryf word, hou beslis nie rekening nie met die werklikheid dat verskillende blikhoeke al vir etlike dekades in die Afrikaanse letterkunde beskryf word nie. Vele stemme word aangehoor en gelees. En in Band 2 word daar geweldig baie gedoen om aan hierdie stilgemaakte stemme van eens erkenning te gee.

Oor die toekoms?

En soos Christo van Rensburg beklemtoon: entoesiasme van ons luister na liedjies in Afrikaans en reis na familie in verre lande wat Afrikaans praat, is emosionele uitsprake. Niks meer nie.

Te veel respondente het die ketel aan die tuit beet, by wyse van spreke.

Miskien het dit die hoogste tyd geword om eerder weer te kyk na 'n hiërargie van ingeligtheid? Soos om eerder te luister na Tom Maclachlan of Rufus Gouws?

In beide studies van Carstens & Raidt is daar voetnote en endnote vir bewyse en verdere navorsing.
In hierdie tyd waar minderheidstale en Afrikaans se regte verander het na vóórregte.

Afrikaans akkommodeer tans vele sprekers en skrywers: van Kaaps tot Standaard-Afrikaans; van sms-taal tot rymkletsers. Van Dorslandtrekkers tot Dwarstrekkers. Van Afrikaans in die Bo-Kaap tot by die Oranje- en Kunenerivier. Van Griekwa-Afrikaans (met Hans du Plessis se lieflike herdigtings) tot moderne digters.

Die ongelukkige relaiteit is dat Afrikaanse sprekers en skrywers die invloed van apartheid steeds beleef rondom die toekoms van die taal en in taaldebatte.

Wat 'n jammerte - die geskiedenis wys juis groter geskakeerde prentjie uit dat Afrikaans behoort het aan vele sprekers.

Al hierdie boeke is van belang vir enige persoon wat wil deelneem aan die gesprek oor Afrikaans. Dit getuig van enorme navorsing en is belangrike bakens in ons taaldebat.

Nou ja, so lank as die kind in die tjalie lê, dan praat hy net soos jy! En dat Tito Mboweni die Universiteit van Pretoria moes aanspreek oor die verlies aan inheemse tale, moet opgeteken word.